Trompie Omnibus 6. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798176637
Скачать книгу
ction>

      

      Trompie

      Omnibus 6

      Trompie die sakeman

      Trompie die rebel

      Trompie die waaghals

      Topsy Smith

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle!

      As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie …”

Trompie die sakeman

      1

      Trompie die sakeman

      Trompie sit op ’n bankie in die tuin. Langs hom staan ’n bruin papiersak wat regop gehou word deur die gewig van al die lekkers wat daarin is. Die vyftienjarige sproetgesig steek sy hand elke paar sekondes ingedagte in die papiersak, haal ’n lekker uit en prop dit dan vinnig in sy mond.

      Hy doen dit feitlik outomaties. Sy oë is stip op die grond voor hom gerig. Trompie sit al kouende en kyk hoe die miere werk.

      ’n Halfgekoude lekker lê voor hom op die gras en die miere wemel om die taai ding. Hulle probeer om die onmoontlike te doen – om die lekker na hul gaatjie in die grond toe te stoot. Dan gee hulle uiteindelik moed op en begin droë stukkies gras na hul nes toe aandra.

      Al die miere werk. Almal lyk besig en haastig. Trompie is skielik dankbaar hy is nie ’n mier nie. Die goed is gans te bedrywig en hulle werk heeltemal te hard.

      Die lewe is deesdae glad nie sleg nie, dink Trompie terwyl hy kouend sit en glimlag. Hy en sy vriende, Rooie, Blikkies en Dawie, het vir ’n verandering oorgenoeg geld. Hulle kan soveel lekkers koop as wat hulle wil – en hulle doen dit ook.

      Die vier vriende het in ’n fliek gespeel. Trompie het nogal een van die hoofrolle vertolk en toe ’n duisend rand as vergoeding daarvoor gekry. Dawie het vierhonderd rand gekry en Rooie en Blikkies elkeen driehonderd.

      Trompie moes die meeste van sy geld in die bank sit. Sy pa het daarop aangedring; hy is nie verniet ’n bankbestuurder nie. Deesdae praat Trompie gereeld met trots van al die geld wat hy in die bank het. Dit is nie sommer enige ou wat met so ’n stewige bankbalans kan spog nie.

      Rooie, Blikkies en Dawie se ouers het ook daarop aangedring dat hulle die grootste gedeelte van hul geld spaar, maar elkeen het darem iets uitgehou om homself mee te bederf – Rooie met toffies, Blikkies met kougom en Dawie met suiglekkers.

      Trompie tel nou hoeveel geld hy nog oor het nadat hy by die kafee was. Hy en sy drie vriende het vergeet om vanoggend voor skool lekkers te koop en toe was hulle pouse sommer lelik omgekrap. Hulle het almal geld gehad, maar kon nie lekkers koop nie.

      Trompie het net daar besluit om iets aan die saak te doen. Hy het ’n vergadering van die Boksombende belê – ’n amptelike vergadering, nie in die vervalle ou waenhuis buite die dorpie nie, maar hier in die Toeriens se tuin. Hy wil, soos hy sy vriende meegedeel het, oor “groot goeters” praat.

      Trompie staan op en stap met die tuinpaadjie af na die voorhekkie toe. Hy gaan kyk of sy manskappe nog nie aankom nie.

      Soos gewoonlik hang Trompie se hemp agter by sy broek uit, sy kouse lê op sy skoene en sy pet sit windmakerig skeef op sy ongekamde boskasie. Sy hande is diep in sy broeksakke. Die een hand hou sy beursie vas en die ander een die bruin papiersak waarin die lekkers is. Hy loop en skop na klippies in die paadjie.

      Toe Trompie by die hekkie kom, maak hy dit nie oop nie. Nee, hy los die goed in sy broeksakke en klouter op die hekkie. Hier sit hy nou amper soos ’n bobbejaan op ’n paal en kyk in die straat af om te sien of iemand al aankom. Hy gewaar niemand nie, haal die papiersak met lekkers uit sy broeksak en prop vinnig nog een in sy mond.

      Ja-nee, dink die Boksombende se Grootkaptein terwyl sy kakebene op en af beweeg soos hy die lekker kou – die lewe is glad nie sleg nie. Hy het lekkers en hy het geld om nog meer lekkers te koop – en dis nog net ’n paar weke skool, dan het hulle tien dae vakansie. Hy en sy vriende gaan ’n baie lekker tyd hê.

      Trompie sit nog so op die hekkie en kou en peins oor die lewe toe hy skielik ’n lang, uitgerekte fluit hoor. Dit is ’n hoë noot, afgewissel met ’n lae een – die Boksombende se sein. Hy verskuif die lekker in sy mond sodat dit onder sy tong rus. Dan fluit hy op dieselfde manier terug om sy manne te laat weet hy wag hier en hulle moet opskud.

      Rooie, Blikkies en Dawie kom om die hoek aangestap. Hulle loop nie vinnig nie. Hulle kou lekkers. Rooie en Blikkies is so oud soos Trompie. Dawie is twee jaar jonger. Die vier seuns is in dieselfde klas hier in Kwaggaberg se beroemde hoërskool. Hulle is al vriende vandat hulle op laerskool saam in graad vyf was.

      “Haai,” groet die drie feitlik gelyktydig toe hulle naby Trompie kom.

      “Haai,” groet hy terug.

      Trompie sit op die hekkie met ’n frons op sy voorkop. Die frons moet wys hoe hard hy dink.

      Rooie, Blikkies en Dawie staan langs die hekkie. Hulle kyk al kouende na Trompie.

      Hy sug swaar om te wys hy peins oor “groot goeters” en omdat hy dink dit sal nog meer indrukwekkend lyk, stut hy sy ken op sy vuis. Dit is mos hoe daardie bronsbeeldjie, Die Denker, in sy pa se studeerkamer lyk. Sy vriende moet goed verstaan hy dink diep. Hy plooi sy voorkop sommer nog meer.

      Hierdie denkende houding het egter nie die gewenste uitwerking op Trompie se manne nie.

      Rooie wys met ’n vuil vinger na Trompie en vra verveeld: “Wat makeer die ou?”

      “Hy’s seker siek,” sê Dawie.

      “Van te veel lekkers eet,” sê Blikkies lui terwyl hy die stukkie kougom waaraan hy kou met sy duim en wysvinger ver voor hom uitrek. Wanneer dit lyk of dit enige oomblik gaan breek, los hy die een punt wat nie tussen sy tande vasgeklem is nie en ryg die lang stuk kougom weer met sy tong by sy mond in. Dan kou hy smaaklik verder.

      Trompie is sommer vies. Hierdie spul het g’n verbeelding nie. Hy sit hier en dink aan maniere om met die geld wat hulle het nog meer geld te maak en hulle staan en wonder of hy siek is. Trompie spoeg die lekker waaraan hy gesit en kou het met ’n boog uit – die ding is tog al amper op – en sit nog een in sy mond.

      “Waarvoor wag ons?” vra Dawie en sy ondeunde oë vonkel. “Het jy nie gesê jy wil vergadering hou omdat jy kastig groot goeters het om te sê nie?”

      “Ek het, ja,” snou Trompie hom toe. “Dis waaroor ek hier sit en dink – die groot goeters.”

      “O,” sê Dawie, “is dit wat jy doen? Ek dag jy sit en trek sulke lelike gesigte omdat jy ’n pyn op jou maag het van al die lekkers.”

      “Ek trek nie lelike gesigte nie!” Trompie kyk kwaai na Dawie. “My voorkop is op ’n plooi omdat ek oor ernstige dinge dink. Dis hoe ’n mens lyk as jy oor ernstige dinge dink!”

      “O,” sê Dawie met ’n gemaak onskuldige gesig.

      “Ja,” sê Trompie en wikkel sy sproetneus op en af om te wys hy is nou omgekrap. “Probeer jy miskien snaaks wees, hè?”

      “Nee,” sê Dawie en skud verbaas sy kop, maar sy wakker oë blink nog steeds ondeund. “Hoekom sal ek nou probeer snaaks wees?”

      “Huh,” sê Trompie net en sit weer soos die beeldjie in sy pa se studeerkamer.

      “Sê maar vir ons wanneer jy die groot goeters klaar uitgedink het,” sê Blikkies en rol die kougom nou uit sy mond om sy vinger op.

      Trompie besluit om liewer nie hierop te antwoord