Wegloopwinter. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078333
Скачать книгу
uit, maar kry vir Willemse by,” sê sersant Kroukamp.

      Hy lei Manuel in ’n kantoor in met sy naam op die deur. Daar help hy hom tussen die hout-armleunings van ’n stoel in wat voor sy lessenaar staan. Toe hy die venster agter hom toeskuif, voel Manuel soos ’n veroordeelde. Hy kyk na die suinige almanak wat bo die lessenaar hang – dieselfde prentjie vir al twaalf die maande: Tafelberg, van die see se kant af geskilder, en nie eers baie mooi nie.

      “Verskoon my,” sê sersant Kroukamp, en verdwyn. Manuel bly maar so soutpilaar sit totdat die sersant – amper dadelik – weer terugkom, en skuins op die lessenaar vóór hom kom sit.

      “Ons begin voor,” sê hy, “by jou naam.”

      “Manuel Fernandez.”

      “Jou ouderdom?”

      “Veertien – amper.”

      “Wanneer?”

      “Die drie-en-twintigste September.”

      “En in standerd –?”

      “Ses,” sê Manuel.

      “Waar werk jou pa?”

      “My pa is dood.”

      Die hek het ’n lint uit die synaat van sy reënjas geskeur. Manuel rol dit om sy vinger, en kyk nie op nie.

      “En jou ma?”

      Dit is ’n vraag wat Manuel moeilik beantwoord. Wat behóórt hy van sy ma te sê? Op die ou end sê hy maar net die nodigste:

      “Sy werk by die Spot-Off-droogskoonmakers, van tienuur in die oggend af, tot vyfuur in die middag; sy maak die klere heel wat skeur, en werk die knope aan wat afbreek.”

      En hy wonder: sal hulle haar nou laat weet? Of laat kom?

      “Waar woon julle?”

      Manuel wens hy kan Bollihope-singel sê, en keer homself byna nie betyds nie. ’n Grap is ’n grap, maar nie as jy met ’n sersant van die polisie praat nie.

      “In Blakestraat 3a,” sê hy.

      “Het jy broers en susters?”

      “Een broer en een suster.”

      “Wat kan jy my van hulle vertel?”

      Manuel kyk op. Oor Carlos kan hy lank praat. Hy is beter as enige ander mens wat hy ken, so goed soos die beste.

      “My broer is sestien, en in standerd agt, hy is kaptein van sy klas.”

      Manuel wag om uitgevra te word, sodat hy dié man van Carlos kan vertel. Hy sal niks uitlaat nie. Hy sal hom vertel van sy broer se breë skouers en van sy sterk spiere. Hy sal hom vertel hoe Carlos homself elke aand toesluit in hulle kamer, en agter die toe deur oefeninge doen, sodat die vloerplanke in die gang daarvan tril. Dan moet Manuel in die kombuis sit en wag, totdat hy klaar is. Maar dít sal hy nie sê nie.

      Dalk sal hy vertel dat Carlos nie blou oë het soos hy nie, maar donker oë, en ruie wenkbroue, en dat hy al skeer. En dat sy hare krul, en dat hy dit laag in sy nek dra, nét so lank as die langste wat die skool toelaat, en nie ’n sentimeter korter nie, en hy kom daarmee weg.

      Maar sersant Kroukamp blaai die blaai op Carlos om, en vra:

      “En jou suster?”

      Manuel is traag om te antwoord. Hy buk af en ryg die veter van sy linkerskoen los.

      Dit help vir die pyn.

      Toe hy weer regop sit, wag die sersant nog geduldig.

      “Sy is ’n jaar ouer as Carlos, haar naam is Jenny.” Sy en ek lyk na mekaar, sou hy kon sê, want sy het ook vaal hare en blou oë, maar sy is mooi skraal, nie vet soos ek nie. En ek verlang na haar, sy het altyd vir my tyd gehad.

      Maar hy sê dit nie.

      “Is sy nog in die skool, of werk sy al?”

      Manuel sien die vraag soos ’n moeilike bal na hom toe aankom, en hy wéét dat hy dit nie netjies sal kan vang en aangee nie. Die lelike woorde wat sy ma en Jenny na mekaar gegooi het die week voordat sy weg is uit die huis, weerklink nou nog in sy ore. En hy hoop nog elke dag as hy op straat is hy loop haar iewers raak. Want vandat sy kort voor Kersfees verlede jaar weg is, het hulle haar nog nie weer gesien nie.

      “Sy … sy is al uit die skool uit, sy werk nou in Johannesburg in ’n rokwinkel.”

      Manuel weet nie waar hy die leuen so maklik vandaan gehaal het nie. Hy wens dit was waar. Wie sê dit is nie?

      Sersant Kroukamp antwoord nie. Manuel wens hy wil iets sê.

      Hy haal ’n pakkie sigarette uit sy sak, en skud een vorentoe, totdat dit ver genoeg uitsteek vir hom om by te kom. Sy vingers is kort, maar hulle is breed en sterk. Hy steek die sigaret met ’n vuurhoutjie aan, wat hy agterna doodwaai en in die asbakkie gooi.

      Toe die sigaret al brand, ruik Manuel nog die swael.

      “Woon julle drie alleen in die huis – jy en jou ma en jou broer?”

      Manuel knik ja met sy kop, maar bedink hom:

      “Nee,” sê hy toe, en toe die sersant lyk asof hy vir hom wag om verder te verduidelik, sê hy:

      “Daar is nog meneer Morgenbesser, die loseerder.”

      “Is hy lankal by julle?”

      “Ja,” sê Manuel, “al van die begin van die jaar af.”

      En hy probeer dink aan iets wat hy van meneer Morgenbesser kan sê, maar kry niks nie. Hy onthou net sy rooigrys snor, en die manier waarop hy snags keel skoonmaak nadat hy gehoes het.

      “Waarom was jy nie vanoggend in die skool nie?”

      Dié vraag slaan Manuel, al hét hy geweet dit gaan kom.

      Hy dink aan al die ekskuse wat hy al deur die loop van die jaar aangebied het.

      Hy begin om die geskeurde stuk van sy reënjas deur een van die knoopsgate te ryg, en hy luister na die brommergeluide wat die verkeer in die straat teen die toe kantoorvenster maak.

      “Eintlik was ek op pad daarheen,” sê hy toe, “ek bedoel, toe ek opgestaan het, was ek …”

      “Ons het jou ver van die huis en van die skool af gekry,” sê sersant Kroukamp sag.

      “Dit was oor die hond,” sê Manuel, en hy kan homself meteens nie keer nie, want dit tref hom soos ’n skoot koue water dat dáárdie raaisel nog onopgelos is.

      “Ek verstaan nie.”

      “Hý woon by Bollihope-singel 6,” sê Manuel, “en sy naam is Alexander. Hy is ’n opregte herdershond – hy lyk nes dié wat die polisie gebruik. En ek gaan altyd Woensdagmiddae daarheen. Dan laat Williams – dis die tuinier, hy sorg vir Alexander – my toe om met hom te speel, en om met hom te gaan loop. Hy ken my al goed, al sien ek hom nie baie nie.”

      “Ek weet,” sê sersant Kroukamp. “Hulle is wonderlike diere. En toe?”

      Manuel glimlag met hom. Hy voel asof hy ’n groot kompliment gekry het.

      “En toe wou ek vanoggend net gou weer gaan kyk hoe dit met hom gaan. Maar daar was niemand nie, en ek wou in die agterplaas na Williams gaan soek, ek was séker hy moet daar wees …”

      Die telefoon lui.

      Toe sersant Kroukamp die gehoorbuis optel, klop iemand aan die deur. Hy roep, met sy hand oor die gehoorstuk: “Kom in!”

      ’n Baie jong konstabel met bakore dra ’n skinkbord met tee en melk en suiker en ’n koppie en ’n piering daarop die kantoor in. Hy sit dit op die lessenaar neer.

      “Bring nog ’n koppie, asseblief,” vra sersant Kroukamp.

      Die konstabel antwoord binnensmonds: “Ja, goed, Sersant.”

      Manuel laat sy kop op