Wegloopwinter. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078333
Скачать книгу
en ’n melksjokolade, en kry op die koop toe drie sente kleingeld uit.

      2

      Die oliering en veral die sjokolade lawe hom. Maar toe hy klaar met eet is, haal die eensaamheid hard asem in sy nek. En dreig om van voor af ’n honger kol op sy maag oop te slaan.

      Manuel staan die drie sente wat hy oorhet langs die hoop koerante by die ingang van die groentewinkel teen mekaar en klink, en wonder wat hy daarmee kan koop wat sal troos.

      Drie los toffies? Dit hang af of die meisie agter die toonbank is, of die man. Hý wou al ’n vorige keer nie.

      Maar toe Manuel ingaan, is sý daar, en sy tel die drie vierkantige toffies af op die toonbank. Toe hy die geld uit sy klam broeksak haal, kry hy meteens die reuk van die winter. En dit laat hom dink aan Alexander.

      Dis ’n hele dag wat hy oop het vir hom! Dit is wel nie ’n Woensdag nie, kwel hy hom ’n oomblik, maar daar is niks verkeerd met probeer nie.

      En toe hy eers dink aan die herdershond, vergeet hy van die koue en van die nat, en kom die brandsoet smaak van die sjokolade wat hy geëet het weer terug op sy tong, sodat hy sy tande hoorbaar skoon suig om niks daarvan verlore te laat gaan nie.

      Hy kry dit reg om al drie toffies ongeëet in die sak van sy reënjas te steek, vir later.

      Vir die eerste keer in dae voel Manuel gelukkig.

      Maar hy het ver om te loop om by Bollihope-singel te kom – die hele Hoofweg, van Observatory af, tot by Mowbray, en nog verby.

      In Rosebank draai Victoriaweg regs uit, berg se kant toe, en eers ’n hele ent verder moet hy weer regs, en dan links, om in sý straat te kom.

      Gelukkig is hy, waar dit die tyd aangaan, ryk. Tienuur in die môre laat ’n groot hap van die dag oor.

      Hy loop naby die rand van die sypaadjie langs, en aan die straatkant van elke lamppaal verby. Hy moet fyn trap, en keer, en af en toe gryp om die koue nat lyf van ’n paal, om nie in die straat te beland nie.

      Hy tart hulle uit. Julle wil my keer, sê hy, sonder stem, vir alles wat in sy pad kom. Maar julle kan nie.

      En toe gee hy hom oor aan sy gedagtes en hy herkou die geluk wat hom getref het die dag toe hy dié plek ontdek het.

      Dit was die eerste keer toe hy gedros het van die skool.

      ’n Meubelwa het hom opgelaai tot by die hospitaal. Daar het hy ingeval in ’n tou studente wat duimgery het universiteit toe. ’n Kombi wat tapyte vervoer, het hom en drie van hulle opgelaai. Hy het van hulle gehou en hard vir hulle grappe gelag, en saam met hulle by Mostert se Meul afgeklim. Maar toe het hulle hom skeef begin aankyk, en hy het, voordat iemand ’n vraag kon vra, die straat gekruis. Hy het sy hande in sy sakke gesteek, en “Catch a falling star” gefluit, en afgedraai in Rhodeslaan, asof hy op pad was huis toe.

      By party van die huise het die geur van gebraaide uie en middagetes hom ontstel. En om sy aandag daarvan af te kry, het hy ’n raaiselspel met homself gespeel: As Ek Hier Moes Gewoon Het, het hy homself gevra, In Watter Huis Sou Dit Gewees Het?

      Dit was moeilik om een huis uit te sonder bo die ander, want almal was indrukwekkend.

      Daar was ’n paleis met ’n hoë rooi teëldak en ’n dakkamer, wat sý kamer sou wees. En langsaan, onder hoë akkerbome, was daar ’n platdakhuis met ’n wit ringmuur rondom, en ’n traliehek waarop daar swart druiweblare en ’n yster-druiwetros was. Hy kon die turkooisblou water van die swembad sien, en wit opblaasstoele wat soos vet mense ronddrywe op die water.

      Toe hy in Bollihope-singel kom, het hy nog nie ’n keuse gemaak gehad nie. Hy het op die straathoek gaan staan, en die moontlikhede op ’n afstand beskou. Dit was tóé dat hy, reg voor hom, die jong hondjie agter die sparhoutheining sien sit het.

      Kom, het sy oop bek gelag, ek wag vir jou.

      Manuel het sy soebat verstaan, en gesien dat hy ook alleen is.

      Dít is My Huis, het hy hardop gesê, en nooit daarna weer oor sy besluit getwyfel nie. Al het hy toe nog nie eers na die huis self gekýk nie.

      Hy het by die hondjie gekniel, en gesien dat dit ’n herdershond was. Soos syne sou gewees het, as hy ’n hond gehad het. Want dit is een van die slimste en beste soorte, het hulle by die demonstrasie van die polisiehonde se werk gesê.

      Die hond het so na aan hom kom staan as wat die houtheining hom toegelaat het, en die punt van sy neus tussen twee pale probeer deursteek. Sy stert het bly swaai.

      Manuel het vir hom gelag.

      Hy het twee van sy vingers langs mekaar tussen die afskortings ingekry. Met hulle het hy die silwerbruin hare op die hond se neus gevryf. Vir wat dit werd was.

      Maar die hond was daaroor bly, en het sy dank met tjankgeluidjies betuig.

      Eers tóé het Manuel na die huis gekyk.

      Dit was van rooi bakstene gebou, met diefwering voor elke venster, en ’n ketting en ’n slot aan die tuintafel wat dit aan die boom op die gras geanker het. Bly weg hier sou ’n gepaste naam gewees het, soos die huis daar met saamgeperste lippe gestaan het.

      Maar die boom was ’n mooi groot jakaranda, en die gras was dik en baie groen.

      Die hond het sy vingers begin lek, en Manuel het die posisie van sy hand verander, sodat elkeen van sy vingers ’n beurt kon kry. Toe het hy met hom op en af gestap, en die feit dat daar ’n heining tussen hulle was, geïgnoreer. Die hond het al die tyd langs hom gebly. En toe Manuel hom toets, en maak asof hy wegloop, het hy getjank.

      Manuel het ’n knop in sy keel gekry, en hom daaroor geskaam. Hy het langs die hond gaan sit, en die hond het by hom, met die heining tussen hulle, gaan lê.

      Hy het die tuinier aangestap sien kom, en hom gegroet toe hy nog ver was. “Dit is ’n pragtige hond dié,” het hy hard gesê, en gevra: “Wat is sy naam?”

      “Alexander,” het die tuinier geantwoord.

      “En joune?”

      “Williams.”

      Punt.

      Manuel kon om sy lewe te red nie aan iets dink om te sê nie, en hy wou so graag die oomblik uitrek. Toe hy al wanhopig was, het die tuinier self die oplossing verskaf:

      “Dit is ’n opregte Alsatian, ’n duur hond,” het hy gesê, “dis amper jammer hier is nie kinders om met hom te speel nie. Jy kan sien hoe verlang hy na maats.”

      Manuel het sy woorde uitgesoek.

      “Ek sien,” het hy gesê, “dit is jammer.”

      En toe wag hy ’n rukkie voordat hy sê:

      “Ek gee nie om nie, ek sal partykeer met hom speel – as jy wil.” Williams het nie gevra waar hy woon nie. As hy dit gedoen het, sou Manuel ’n leuen moes uitdink.

      Dit het Williams nie lank geneem om te besluit nie.

      “Dit is nogal ’n plan,” het hy gesê, “veral as jy dit altyd Woensdae maak. Dan kan jy vandag begin.”

      “Ek soek nie betaling daarvoor nie …” het Manuel sag gesê.

      Of Williams hom gehoor het, het hy nooit agtergekom nie, want hy het aangegaan om te verduidelik:

      “Woensdae speel meneer en mevrou Ospovat rolbal. Of, as dit reën, speel hulle brug. Hulle is Woensdae van elfuur af nooit by die huis nie.”

      “Sal hulle dan nie wil hê ek moet nie?” het Manuel gevra.

      Williams het onseker gelyk. “Ek weet nie,” het hy geantwoord, “hier kom nooit kinders nie.”

      Dit was Februarie, vyf maande gelede.

      Manuel het so gereeld gegaan as wat hy Woensdae kon, en dit was nie altyd maklik nie,