Wegloopwinter. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078333
Скачать книгу
hy ná skool moes bly, of vir sy ma ’n boodskap moes neem of inkopies doen en hy hom nie daaruit kon loswikkel nie, was hy die hele week in ’n slegte bui.

      Niks anders het hom al ooit so goed laat voel as Alexander nie, as hy rasend word van opgewondenheid net omdat hy hom sien. En Williams is met hom nie suinig nie. Hulle kan loop waar hulle wil, en op die gras en om die huis speel soos hulle wil.

      Omdat die sypaadjies in dié deel smal is, stap Manuel nou in die straat. Hy voel hoe die reën presies en reëlmatig op hom val, soos ’n kraan wat ’n vlek drup op dieselfde plek in die wasbak, sonder ophou.

      Hy is moeg toe hy uiteindelik die tralies van sy Bollihope-singelhuis sien. By die hoek fluit hy sy fluit vir Alexander, en wag vir die begroeting.

      Maar daar is geen teken van lewe nie, en geen Alexander langs die heining nie.

      Hy loop tot naby die voorhekkie, en bly daar staan.

      Dit moet seker so elfuur wees, reken hy uit, en hy voel skielik onseker. Van die oggendprogram by die huis wat hy so goed en so sleg ken, weet hy niks nie.

      Hy fluit Alexander se fluit weer ’n keer, en weer sonder sukses. Hy voel hoe die huis vir hom frons, en hy wonder hoekom, totdat hy besef dat al die gordyne dig toegetrek is, en dat elke venster op knip is.

      Hy hoor die stilte sluip oor die leiklipteëls op die dak. Maar weier om daarvan kennis te neem.

      Hy word roekeloos, en roep: “Alexander!”

      Die reënroggel in die geut koggel hom terug.

      En toe fluister Angs in sy oor: Alexander is dood. Of anders woon hulle nie meer hier nie, hulle het die huis verkoop, en is weg vir altyd.

      Manuel voel hoe hy meteens moeilik asemhaal.

      “Ek gaan kyk,” sê hy hard, en stap die paadjie na die ingang van die huis op.

      3

      Die ysterhek skree toe hy dit oopstoot, asof hy dit seergemaak het. Maar Manuel se vrees dat hy Alexander verloor het, maak hom daarvoor doof. Hy is so betrokke by sy eie gedagtes dat die spoke van meneer en mevrou Ospovat waarmee hy al vyf maande saamlewe, nie eers vir hom ba! sê toe hy sonder blik of bloos om die huis loop, oor die sonstoep, en linksregs kleispore op die blink rooi teëls bosseer nie.

      Die huis slaap aan die noordekant ook, merk hy, met nie ’n enkele kamer wat deur ’n venster na hom kyk nie; al die gordyne is toe, en die rame is op slot.

      En nie net die rame nie, ook die binnehek wat lei na Williams se kamer. Hy klop teen die houtbalke wat loer toelaat, maar wat nie veel geluid oplewer nie.

      Pop-pop-pop-pop klop sy kneukels aan die hout van die hek en die klank klink vir hom ook maar soos die drup van die geut, net sagter.

      Hy sê vir homself, en oortuig hom daarvan, dat Williams daar móét wees, en dat hy nou radio luister, soos hy altyd doen as hy vry is – en partykeer wanneer hy veronderstel is om te werk ook.

      Die deur en die venster is net toe omdat dit reën. Wat verwag jy?

      Hy hét Williams al so, vooroorgebuk en diep ingedagte, half versmoor in sigaretrook, op sy bed kry sit.

      En terselfdertyd verwens hy die omstandighede wat hom die vorige week vir strafwerk ná skool laat bly het. As hy gekom het, het hy nou miskien geweet.

      Daar Is Niks Aan Te Verander Nie, Manuel Fernandez, spreek hy homself aan, Jy Sal Maar Oor Moet Klim.

      Dit is makliker gesê as gedaan. Fisieke waaghalsigheid is ’n eienskap wat Manuel sy broer Carlos baie beny, miskien meer as enigiets anders. Want hý is daar arm aan. Hoër as die sitplek van ’n stoel is vir Manuel hoog. Carlos is anders. Hy loop op die rand van die dak en kyk skaars na sy voete.

      Dit kos Manuel moed om te besluit om oor die hek te klim. Maar toe hy probeer, is die vastrapplek vir sy voete te ver van die vashouplek vir sy hande af, en hy kom skaars van die grond af op.

      Dit is seker so beplan deur meneer en mevrou Ospovat, dink hy, ingeval iemand dalk probeer oorklim.

      Maar hy is meedoënloos met homself. Hy stap terug stoep toe, en sleep-dra daarvandaan ’n stoel nader, ’n wit gaatjiesdraadstoel wat swaar en sterk is en wat bly stáán, selfs toe hy op die leuning trap.

      En só kom hy op sy hurke bo-op die hek, waar hy vassteek. Die afstand grond toe lyk meteens duiselingwekkend ver en gevaarlik.

      “Williams! Williams!” roep Manuel. Hy hoor hoe leeg die weerklank is wat na hom terugkom. Sy hande begin sweet.

      Spaar Jou Asem, sê hy vir homself.

      Hy wikkel sy twee voete in twee van die gleuwe bokant die boonste dwarsbalk van die hek in. Hy kan nie die feit meer ignoreer dat hy op een of ander manier weer daar sal moet áf nie. Sy vingers klou op lewe en dood aan die houttorinkies wat weerskante van die hek opsteek.

      Hy maak seker dat sy voete nie vassit in die afskortings nie.

      Maar hy het nie die moed om net maar halfpad regop te kom sodat hy kan spring nie. Hoe anders kom hy op die grond?

      Toe begin hy tel: Een, twee, – en hou op.

      Hy haal diep asem, en begin weer oor.

      By twee kom hy half orent, en lig sy arms, en toe hy drie sê, spring hy. Maar Manuel het vergeet van sy lang plastiekreënjas wat agter hom aan die verkeerde kant van die hek afgehang het toe hy hom voorberei het vir die sprong.

      Dit voel vir hom asof hy die slinger van ’n groot horlosie is. Hy vlieg vorentoe, en terug, en toe skeur die synaat van die jas en dit klink soos ’n tak wat kraak.

      Manuel verloor sy selfbeheersing en gil: “Help!”

      En hy tref die grond soos ’n bloekomstomp wat met ’n dreunsaag afgesaag is.

      Toe hy die grond ráák, probeer hy nog om op sy voete te land, maar sy linkervoet laat hom in die steek, en vou heeltemal na die verkeerde kant toe, sodat hy val. En toe hy hande-viervoet kruip soos ’n kind, en die een oomblik nog dink: Ek is bly niemand sien my nie, skrik hy hom die volgende oomblik lam, nie vir sy stukkende knie nie, maar vir die linkerpyp van sy grys flanel-skoolbroek wat in repe oor sy knie hang.

      Hy voel hoe sy keerhand brand, en toe hy teësinnig daarna kyk, sien hy dat dit nerf-af is, van die kneukels tot by die pols.

      Hy bly ’n paar tellings so bobbejaanstaan, half asof hy wag om heeltemal uitmekaar te val, soos ’n glasruit wat deur ’n klip getref is en tyd nodig het om te splinter.

      Maar toe niks gebeur nie, maak hy maar sy stukke bymekaar, en staan terneergedruk op. Of hy probeer. Want hy kan nie op sy linkervoet trap nie. En terwyl hy so, verras deur die pyn, teen die vullisblik leun, sien hy Alexander se kosbak in die kruiwa staan, vuil en vol blare en stofreën, verlate, asof daar in ’n jaar geen hond met sy gulsige warm tong lewergegeurde hondekos uit opgelek het nie.

      En dit laat hom sy selfbeheer verloor.

      Hy spring op sy regterbeen tot by Williams se kamer, en klop, op maat van die kloppende pyn in sy linkervoet. Eers ignoreer hy die blinde oog waarmee die sleutelgat na hom kyk; later kan hy nie meer nie. Hy skud die knop versigtig, om mee te begin, maar later hard, asof hy die deur uit sy kosyn probeer kry, en hy weet dat hy dit sou geskop het ook, as hy ’n voet daarvoor oorgehad het.

      “WAT DINK JY MISKIEN DOEN JY?” vra ’n stem by die hek.

      Dit tref Manuel soos ’n sarsie geweervuur, in sy rug, in sy hart.

      4

      Deur die houtsparre van die hek sien hy ’n polisieman staan. En hy sien homself, soos hý hom moet sien: vasgekeer in ’n hok, op heter daad betrap.

      Op heter daad van wat?

      Wie sal hom glo?

      “Maak oop,” sê die Stem, “die grendel sit aan die binnekant.”

      Manuel hink na die