Wegloopwinter. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078333
Скачать книгу
die Stem ontmasker.

      En toe Manuel opkyk, en die dienaar van die gereg in die ligkring van sy eie glorie, blink knope, blink skoene, reg voor hom sien staan, klop die pyn in sy voet oorverdowend.

      Hy hoor bo die geraas in sy ore die nóg harder stem sê:

      “Bêre maar jou toneelspel vir later.”

      Maar toe brand sy smeltdraad uit, en Manuel Fernandez skakel af. En die eerste wat hý daarvan weet, is toe hy in ’n mis na homself begin soek, en dieselfde Stem hom soos ’n bloedhond agtervolg:

      “Hy moes seergekry het toe hy oor die hek gespring het; ek het hom net betyds gekeer toe hy val,” sê hy. Dit sou Manuel hom maklik nog kon vergewe. Maar toe praat hy verder:

      “Hy is nie eintlik ’n lightweight nie, ek het amper my rug gebreek toe ek hom hierheen gedra het.”

      Van woede is Manuel dadelik nugter. Hy knip sy oë ’n paar maal. En toe besef hy dat hy op die rooi teëlstoep lê, en dat daar vier ander mense om hom staan, twee polisiemanne, en twee seuns.

      “It was he,” sê een van die seuns, en hy wys na Manuel, “he told us to do it.”

      “Keep your information for when you are asked,” sê die tweede polisieman.

      Maar die ander seun, die een met die masels op sy wange, kon net sowel die wenk nie gehoor het nie.

      “Honestly, Sir,” sê hy, “I promise you, if he had not bullied us, we would never have done it.”

      Manuel trek homself regop, sodat hy sit.

      “Wie is hulle?” vra hy.

      “Antwoord as daar met jou gepraat word,” sê die Stem, “moenie vrae vra nie.”

      Hy dink hy is my baas, dink Manuel, en gehoorsaam.

      Maar dit spyt hom dadelik. Want Oliekop, wat die eerste was wat hom beskuldig het, gebruik die gaping sonder aarseling:

      “It was he,” sê hy weer, “he told us to do it.”

      Soos ’n pop wat net een sin kan sê as jy die toutjie trek. “You’ve said that,” sê die tweede polisieman.

      Manuel kyk vir die eerste keer met aandag na hom.

      En hy weet dadelik dat sý rang hoër as die Stem s’n is. En terwyl hy na hom kyk, ontmoet die man hom met sy oë, grys oë, agter ’n bril.

      “Het jy pyn?” vra hy.

      Manuel wens hy het geweet wat om te antwoord: één sin wat alles sou sê wat hy hét om te sê, en wat na die waarheid sal klink. Maar hy weet nie wáár om te begin nie, of eers waar die begin ís nie.

      En dit is meteens vir hom van die grootste belang dat dié man hom nie moet verag nie.

      “Net my voet,” sê hy. En binne-in hom roep hy: help my! net vir hom om te hoor.

      Die man kniel langs hom, en voel aan sy enkel.

      “Ons sal netnou hierna laat kyk,” sê hy. “Maar eers moet jy vir ons verduidelik hoe dit gekom het dat julle drie geld vir die blindes kollekteer sonder dat julle die reg het om dit te doen. En miskien kan jy dan ook verduidelik wat van die geld geword het.”

      “Thank you, Sir,” sê Maselwang, “can we go now?”

      “Stay where you are!” antwoord die man wat nog altyd langs Manuel kniel.

      Manuel kry meteens verskriklik koud. Hy hoor hoe sy tande rittel op die woorde wat, selfs vir hom, onoortuigend klink.

      “Ek weet regtig nie waarvan meneer-hulle p-p-p-praat nie.”

      Hy verwag om uitgelag te word.

      Oliekop begin dadelik weer met: “It was he …”

      “SHUT UP!” sê die Stem sy eerste twee Engelse woorde.

      Die man langs Manuel verduidelik, geduldig, asof hy oor niks ontsteld is nie: “Húlle sê” – met ’n buiging in sy stem by die “hulle” wat Manuel duidelik hoor – “hulle sê dat jy hulle omgepraat het –”

      “He bullied us –” sê Maselwang.

      “– dat jy hulle omgepraat het om die geld te kollekteer, en dat jy die geld gehou het.”

      Manuel sien homself op ’n smal bedjie agter ’n ystertraliedeur lê. Wát is daar wat hom uit die tronk sal hou?

      “Meneer het geen rede om my te glo nie,” sê hy, “maar ek het nog nooit iemand anders se geld gesteel nie. Ek hét nie geld by my nie, meneer kan maar kyk.”

      Die ander twee begin gelyk teëpraat.

      Toe slaan die Stem se derde Engelse woord hulle protes met een veeg dood:

      “SILENCE!”

      “Kyk wat is in die kêrels se sakke.”

      “Waar sal ek begin, Sersant?” vra die Stem.

      “Besluit maar self.”

      Manuel is meteens honger.

      Hy soek na sy sak om te voel of die toffies nog daarin is, en ruk van skrik toe die Stem sê:

      “Hou jou hande waar hulle is.”

      En toe begin hy stelselmatig eers Manuel se sakke leegmaak.

      Manuel kyk saam met die ander hoe die een armsalige ding na die ander op die tafel gerangskik word.

      ’n Vuil sakdoek, ’n dosie vuurhoutjies, ’n voordeursleutel aan ’n stukkie tou (hy en Carlos het elkeen een) en drie toffies.

      Niemand lewer kommentaar nie.

      Manuel belowe homself dat hy in die vervolg ordentlike goed in sy sakke sal ronddra.

      Toe is dit Maselwang se beurt.

      Uit sy sakke haal die Stem genoeg kleingeld om die oesterskulp op die stoeptafel halfvol te maak. En allerhande ander goed: ’n lelike knipmes, sigarette, ’n groot bos sleutels, en ’n sakboekie.

      Die sersant neem die boek by hom aan.

      “Is die name van die mense by wie julle gekollekteer het hierin?” vra hy.

      Maselwang het nors geword. Hy antwoord nie.

      “Are these the names?” herhaal die sersant.

      Maselwang knik. En toe kyk hy stip na sy nat skoene.

      Oliekop se sakke is net so interessant: meer geld, ’n mes wat ’n skeermes aan die een kant het, sigaretaansteker en sigarette, en nog ’n boekie.

      Die sersant blaai daarin.

      En toe fluit hy van verbasing:

      “Dan het julle nie net vir die blindes gekollekteer nie!” sê hy. “Dís nou interessant; ek sal graag by die polisiekantoor meer hiervan wil hoor.” Manuel hoor hoe skerp sy stem geword het, en hy is dankbaar dat dit nie met hóm is wat hy praat nie.

      Maar sy verligting duur nie lank nie.

      “En ons sal jóú ook maar moet saamneem,” sê die sersant vir hom, “want jy het nog nie verduidelik waarom jy in die gesluite binnehof van ’n huis – van ánder mense se huis – by die bediendekamer probeer inbreek het nie.”

      5

      Manuel se linkervoet laat glad nie toe dat hy daarop trap nie.

      “Haak jou arm om my nek, en gebruik die ander voet,” sê die sersant, “die motor staan voor die hek, ons moet daarnatoe.”

      En toe praat hy harder, met die Stem wat voor hulle uitstap met die ander twee aan weerskante van hom.

      “Klim agter in. Hy moet voor sit, met sy enkel.”

      By die polisiekantoor is hulle weer op drie bene die gebou in.

      “Goeiemôre,