Wegloopwinter. Rona Rupert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rona Rupert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078333
Скачать книгу

      Rona Rupert

      Wegloopwinter

      Tafelberg

      Opgedra aan die kinders van die Osler-sirkus, wat dié boek geïnspireer het

      1

      Manuel leun met sy rug teen die voordeur nadat hy dit sag agter hom toegetrek het. Hy staan asof hy verwag dat sy ma hom sal terugroep.

      Haar stem peul deur die windskrefies om die deur, en deur die gat in die bolig waar ’n blou hoekruit uitgeval het.

      Meneer Morgenbesser se rooiwit snor sal afval as dit hóm tref, dink hy, en luister.

      “Altyd môre, môre,” sê sy. “Wanneer is dit môre, meneer Morgenbesser? Waarvan moet ék lewe?”

      “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word,” antwoord hulle loseerder en sy stem waai die verflenterde blare wat weke al op ’n hoop lê en vergaan, deurmekaar.

      Of was dit die wind?

      Manuel voel hoe sy hare roer op sy kopvel.

      Netnou kry hulle my hier, waarsku hy homself, en hy laat hóm ook van die nat wind van die stoep af waai. Hy vlug tussen ’n leë garage en ’n ontruimde fietswinkel deur, en verby ’n ander holoog-buitegebou wat een nag probeer brand het.

      Die vuur was dood voordat die brandweer gekom het.

      “Te treurig om eers te brand,” het sy ma gesê.

      Hy en sy en Carlos het deur die kombuisvenster na die spooklig van die vlamme staan en kyk.

      Toe het Carlos gesê:

      “Ek sal sorg dat ek eendag vér hiervandaan woon.”

      Sy ma het haar vir hom vererg, en gesê:

      “Smartie!”

      Maar Manuel het hom voorgeneem om in sy broer se guns te probeer kom, sodat hy hom sal wil saamneem.

      Nie dat hy dit al reggekry het nie, veral nie vandat Carlos agtergekom het hy draai stokkies nie.

      Toe hy in Collingwoodweg kom, draf hy nie meer nie. Hy stap totdat hy by die spoor is. Daar draai hy links, en by Observatory-stasie kruis hy die voetgangeroorgang. Hy hou met Stasieweg aan totdat hy in Laer Hoofweg kom. Eers toe is hy gerus.

      Hy voel die drif van die stadslewe tril in die teer. Hy ruik dit in die dieseldampe van die busse en van die vragmotors, hy hoor dit in die oggend-gedreun van die verkeer, in die fluit van die treine, in die neonklank van elke sirene.

      Manuel stap met ligte voete verder. Totdat die motreën reën word, en hom weer klein krimp. Die waterdruppels loop van sy kuifpunte, teen sy slape, en langs sy wange tot binne-in die kraag van sy donkerblou plastiekreënjas. Wat te lank is.

      Enige jas wat pas oor sy skouers, en wat kan vasknoop oor sy maag, is te lank.

      Hy háát dit. Hy haat homself, omdat hy so vet is.

      Sy ma het belowe om die jas korter te maak, toe hulle dit gekoop het. Vier weke gelede. Maar wat weet sy van skoolseuns wat “Fat Clown!” roep, en fluit, en wegkruip agter heinings, sodat jy nooit heeltemal seker is wie wás dit nie? En óf dit was nie.

      Manuel kan sy soutbitter afkeer van die skool próé. Dit gee hom ’n kol op sy maag wat soos honger krampe gee. Eet is al wat daarvoor help.

      Sy maag besluit oor sy roete verder.

      En om net solank aan die lewe te bly, dink hy in besonderhede, asof hy dit weer ’n keer belewe, aan die ontbyt wat hy en Carlos ’n uur gelede geëet het: twee snye brood met druiwekonfyt, ProNutro, ’n glas melk. Maar troos is dit nie.

      Toe hy by die Hoofweg kom, hou hy links, dit is die pad na die naaste supermark.

      Ondervinding het hom geleer hoe om gou ’n paar sente sakgeld in die hande te kry as hy dit dringend nodig het, soos nou. Hy sien ’n straatblok verder die vensters van ’n winkel wat vol geplak is met geel stroke waarop in rooi die winskopie-aanbiedinge van die week geskrywe staan: PILCHARDS 19c lees die een die naaste aan hom.

      Hy soek nie verder nie.

      Hy wag met sy hande in sy broeksakke by die ingang. (Só lyk sy jas ook nie so lank nie.) En toe hy in die weerkaatsing van die oop deur ’n vrou met twee groot sakke waaraan sy swaar dra na sy kant toe sien aankom, draai hy om, en loop, terwyl hy in glad ’n ander rigting kyk, met vooraf beplande akkuraatheid in haar vas. Maar versigtig, sodat hy rats die een pak by haar vang, en die ander keer, en terselfdertyd verskoning maak:

      “Sorry, Lady,” sê hy, “I am so sorry! Can I help you carry them to your car?”

      Partykeer, as hy gelukkig is, kry hy dit reg om nog te struikel ook voordat hy sake onder beheer het.

      Hy laai met groot gebaar haar kruideniersware vir haar in haar motor (’n sportmodel waaraan hy hom vinnig verkyk) en hy komplimenteer haar: “I like your car,” sê hy. En hy wonder of hy nou dalk te ver gegaan het. Maar sy bied hom ’n tiensentstuk aan, wat hy met paslike teësin aanvaar.

      “You are too kind,” sê hy.

      Die volgende kans kom voordat hy hom daarop ingestel het.

      Toe die sportmotor wegtrek, sien hy ’n vrou met ’n baba onder een arm en ’n groot bruinpapiersak onder die ander die straat na sy kant toe oorsteek. Maar voordat sy nog náby die sypaadjie is, begin die klam bruinpapier skeur. Hy sien hoe sy die sak teen haar vasdruk en probeer keer. Hy sien hoe die baba begin spartel. Sy sien hom nie eers aankom nie.

      Hy vang die sak net binne die wit lyn van die parkeerplek wat nog leeg is. Of hy stuit ten minste die spoed waarmee dit besig is om uitmekaar te skeur, sodat die een botteltjie babakos na die ander op die teer uitkantel, maar sag, sodat daar van breek nie sprake is nie.

      Manuel red die laaste klompie goed in die sak van val toe hy daarmee op sy hurke gaan sit met die klam papiersak in die skoot van sy jas. Hy kyk op na die vrou wat langs hom haar baba styf in haar arms vashou, asof hý ook besig mag wees om te disintegreer.

      “Oe!” sê sy, “jy het my lewe gered.”

      En sy glimlag met hom.

      Manuel voel heeltemal lam.

      Sy kon my suster Jenny gewees het, dink hy, en sy was verlede jaar in standerd agt, voordat sy uit die skool is.

      “Jy reën nat,” sê hy vir haar. En hoor eers die jy toe hy dit klaar gesê het.

      En vir die eerste keer vandat hy dit het, tref dit hom dat ’n lang reënjas ’n voordeel ook het.

      Hy tel die punt van die een voorpant op, asof dit ’n voorskoot is, en pak die agt botteltjies babakos daarin, en die heel deel van die bruinpapiersak met die goed wat daarin is, en hy dra dit so agter haar aan onder die afdak in, uit die reën uit.

      “Waar is die motor?” vra hy, asof hy die oudste van die twee is.

      “Ver,” sê sy.

      “Dit maak nie saak nie,” sê Manuel, “ek sal die goed bring.”

      En hy loop in die reën agter haar aan tot by die systraat waar sy haar verweerde stasiewa geparkeer het.

      Sy gespe die baba in sy motorstoeltjie en toe pak hulle Manuel se reënjas leeg: die babakos, sjampoe, ’n witbrood, margarine, ’n bottel kookolie, ’n pakkie koekies en piesangs.

      “Baie, baie dankie,” sê sy weer, en klim in. Haar hare krul en klou aan haar natgereënde wange vas, en Manuel wens meteens dat sy ’n bietjie wil vertoef.

      Maar toe sy die motor aanskakel, werk die masjien dadelik. Sy steek haar hand na hom uit.

      “Gaan koop asseblief vir jou iets warms.”

      En sy laat ’n twintigsentstuk bly in sy hand.

      Manuel kyk haar agterna totdat die verkeer die motor insluk, en toe slaan die honger hom.

      Hy sou die twintig sent graag vir altyd wou bêre, maar as hy dit doen, en nie onmiddellik