Heldin uit die vreemde. Rykie van Reenen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rykie van Reenen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624078449
Скачать книгу
en Blanche was in hul lewe twee kwartale op kosskool. Dit was ’n private plek en die ou weduvrou daar het so met die kos afgeknyp dat Emily siek geword het en hulle is, met Blanche se ernstiger siekte toe ook nog, gou weer daar weg.

      Florence Nightingale, met wie Emily nogal dikwels in een asem genoem word en wat net ’n halfgeslag vroeër as sy geleef het, het ’n keer onder die skuilnaam Cassandra ’n bitter stuk geskryf oor die frustrasies wat daar in die Victoriaaanse gemeenskap op ’n intelligente meisie van haar stand gewag het. Daar is sy, barstens vol drome en ambisie, maar, sê sy, “the Anglican church told me to go back and do crochet in my mother’s drawing room or if I were tired of that, to marry and look well at the head of my husband’s table.”

      En as daar nou nie ’n “husband” was nie?

      Emily het haar posisie in oënskou geneem. Wat kon sy word? ’n Verpleegster? Te oud om te begin, buitendien was dit nog nie ’n gerekende beroep vir ’n fatsoenlike meisie nie. Universiteit? Daarteen was haar jare ook, sowel as haar stuk-stukkerige geleerdheid. Gemeentewerk was al waarin sy werklik geoefen was: sy sou onder die behoeftiges gaan werk, het sy besluit. Maar tog nie langer ingehok hier in die ou nou wêreldjie van St. Ive se klein gemeente nie.

      Sy het nog altyd, het sy gesê, daarna gehunker om wye uitgestrekte stukke wêreld te omhels en groot massas mense; gedroom dat sy hulle tot goedheid bekeer (“dit het toe nog vir my beteken bekering tot die Anglikaanse Kerk”) en hulle ook wat lewensomstandighede betref, ophef.

      ’n Ou droom om eendag onder die uitgeweke Cornwalliese mynwerkers in Amerika te gaan werk, het weer in haar wakker geword. Het sy, hoe vlugtig ook al, John Barrett se opgewekte jong gesig voor haar gesien? Hoe ook al, die vrou van haar vader se ou vriend, biskop Benson, het namens haar in aanraking gekom met biskop Whipple van Minnesota, in Amerika, en veertien dae ná haar vader se dood is Emily vort uit St. Ive.

      Vir oulaas het sy nog omgekyk na die ou rectory waar vir haar soveel jare van frustrasie en eensaamheid opgesluit gelê het. “Hierdie plek sal my nooit weer sien nie,” het sy gesê; en woordgehou. Die stof van St. Ive het sy daardie Februariedag in 1895 vir goed van haar afgeskud.

      En nou die groot avontuur van Amerika! Mary Scourey, dogter van die hoefsmid op St. Ive, gaan saam as hulp en bediende vir haar. Mary is verloof aan ’n boerseun van St. Ive wat daar in die Nuwe Wêreld vir hom en Mary ’n toekoms gaan soek het. Vir ’n jaar boek sy haar in, sal sy by Miss Emily bly, daarna gaan sy na hom.

      Ruwe wêreld vir die fyngebore en beskermde pastorienooi is dit om haar in te waag! Kimberley in sy diamantstormloop-dae, Barberton en Ou-Johannesburg toe die goudkoors hoog geloop het in hierdie delwersdorpe: daar’s vir jou Minnesota van daardie dae! “Look out for stray bullets!” sê ’n waarskuwing in ’n plaaslike koerantjie van daardie wilde weste. En die Yanks met hul breë tongval sê uit die hoek van hul hardgebakte monde: “We jest set up Minnesota against the rest of the worrrrld, and all the planets, and coolly offer ter back her with any odds you may choose t’ offer, see?” Die British of wie ook al moenie dink hulle kan hulle iets kom vertel nie. Allermins Engelse oujongnooiens met opheffende bedoelings, ha!

      Emily moet haar oë ’n paar slae knip dié Augustus 1895 toe sy aankom op haar bestemming: Virginia in Minnesota. Die myndorp lê in die hartjie van ’n donker boswêreld. Toe sy die wêreld so kyk, is sy baie lus en spring net daar om, terug huis toe. Haar plan was eintlik eers om ’n bietjie te reis en die wêreld deur te kyk. Maar sy moet kom kry dat sy klaar geëien is as welsyns-, of liewer kerkwerkster vir Virginia. En wel net onder haar eie kerk se mense. En die tweede skok: in die betrokke ystermyn-gemeenskap is daar mense van omtrent elke bedinkbare nasionaliteit in die wêreld, maar, goed getel, skaars vyftig Cornishmen uit haar eie kontrei.

      Nou ja, sê sy aan biskop Whipple, sy sal die werk vir twaalf maande aanpak, maar net op voorwaarde dat sy onder die hele gemeenskap kan werk. Sy het nog nooit kon voel dat jy jou goeie dade net vir jou eie klein groepie moet hou nie. Afgesien van koorafrigting vir haar eie kerk, wil sy onder almal werk.

      Die storie van haar verblyf in Virginia lees ’n mens in die pak lewendige, interessante briewe aan haar suster Maud, mev. Hebblethwaite, aan haar broer Leonard-hulle, aan haar geliefde Aunt Mary.

      Sy bly met die aankom in die vuil ou losieshuis, sit aan tafel saam met ruwe mans, kan die beroerde kos amper nie gesluk kry nie. Die volgende dag trek sy dankbaar in haar huisie in waar Mary haar goedjies uitpak, haar bed opmaak met lekker skoon lakens saamgebring van St. Ive.

      As die winterson vroeg tussen die bosse wegsak, merk sy die elektriese lig werk nie (elektrisiteit is goedkoper as om lampolie na die afgeleë plek aan te ry) en sy klim maar vroeg in. Sy’s g’n halfuur in die bed nie, of sy sien in die dowwe straatlig wat deur haar venster val dat die plek wemel van goggas wat sy in haar fyne lewensdag nog nie gesien het nie.

      Mary!

      Genugtig, Miss Emily, dis weeluise!

      Vlieg uit, val in haar klere, vlug vervaard terug na die losieshuis toe – so was Virginia se intrapslag!

      Maar sy’s haar ma se kind, sy rol haar moue op en sy pak die wêreld. Sy’s immers gewoond om karnallies kort te vat op St. Ive. Die drank en die dobbel eerste. Sy kan niks begin nie, sê sy vir die mense van die vyf verskillende kerkgenootskappe daar, voor daar nie ’n ontspanningsaaltjie staangemaak word met boeke en plek om musiek te maak en so voort nie. Daarsonder kan jy nie dink om die manne uit die stuk of veertig kroeë te hou nie, sê sy pront vir die kerkmense. Nie een van die predikante het dit tot dusver durf waag om teen drankmisbruik te preek nie; hulle is doodbang hulle verloor ’n lidmaat en hul salaris hang af van hul lidmaattal. Nou kyk hulle vir Emily met groot oë aan waar hulle die aand almal op haar uitnodiging in haar huisie bymekaarkom. Wil jy glo, sê hulle.

      “Liewe aarde,” skryf Emily verontwaardig vir Maud, “dit lyk my ek is al mens hier wat my mond durf oopmaak.”

      En van ’n kant af wil sy skoonmaak.

      “Dis vir my duidelik,” skryf sy, “vóór die korrupte toestand in die dorp nie in ’n mate opgeruim, die kroeë beperk en die dorpsbestuur saamgestel word uit eerlike manne nie, kan daar nie veel hier gedoen word nie, en sal die kerke so leeg bly staan as wat hulle vandag staan.”

      Sy gaan ’n Cornishman wat maagkoors het in die dorpshospitaaltjie opsoek, en kom af op ’n haglike toestand. Die dokter, wat eintlik ’n tandarts is, is skoonveld. Daar’s net die ou Sweedse handlanger. Dié lê en slaap, ná die vorige nag se fuifparty so uit soos ’n kers, op een van die beddens in die onderste saal. Een man, ook ’n Sweed, wie se been in ’n mynongeluk vergruis is, sê sy bed is ’n ronde maand laas opgemaak. Hy kan nie staan nie, hy moet hom so half sleep na die wasplek treë ver van sy bed af. In die boonste saal lê ses maagkoors-gevalle op ’n ry: ’n Noor, ’n Skotse Kanadees, ’n Sweed, ’n Fin, ’n Oostenryker en ’n Switserse Duitser. Hul klere en hul beddegoed is deurnat van die koorssweet, die dronk ou verpleër was die hele dag nooit naby hulle nie.

      Emily doen vir hulle wat sy kan, droog hul kussingslope uit, trek die lakens reg. En dan . . . gaan staan sy en sy sing vir hulle. Vir elkeen, sover sy kan, in sy eie taal. Die Switserse Duitser straal as sy afsluit met ’n Duitse lied van Mendelssohn.

      ’n Engel uit die hemel, dink hulle, is hierdie pragtige blonde vrou met die sagte hande en die silwer stem! En baie gou is dit in Virginia duidelik: Miss Emily kan dit tussen die wildste klomp skobbejakke inwaag, g’n vinger sal ooit teen haar opgelig word nie. Ander mense loop almal met rewolwers.

      Sy bly ook nie net op die dorp nie. Sy en Mary loop myle ver die bos in. “Juffrou, u kan nie daar in nie,” waarsku manne wat sy op die rand teenkom. Maar sy druk deur, “having by this time learnt,” skryf sy vir Maud, “that what is impossible to an American is not to an Englishwoman.” Daar’s hy!

      Sy besoek ’n kamp van vyftig manne wat heelwinter daar diep in die bos werk, tot die lente toe. As sy voor so ’n gehoor staan, sit hulle volkome vasgenael en drink elke woord in. “Ek kon ure lank gepraat het as ek wou,” sê Emily. En dan sing hulle saam. Of sy sing vir hulle. En waar sy kan, laat sy hulle die matigheidsgelofte aflê en die beloftebrief teken.