Heldin uit die vreemde. Rykie van Reenen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rykie van Reenen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624078449
Скачать книгу
om op hierdie manier die allergrootste eer wat daar in Suid-Afrika is, te bewys aan die anderlandse vrou wat in hierdie land nooit vergeet mag word nie.

      Toesprake kan maar vervelig wees. Die staan, vandag, sal lank wees. Maar na die toesprake wat op hierdie dag gemaak word om aan Emily Hobhouse eer te bewys, luister ook die honderde kinders en jong mense met groot oë. Dis ’n naam wat in hierdie land feitlik ’n towerwoord is. Van die land se grootste manne praat hier oor haar en elkeen praat diep uit sy hart uit.

      Genl. Hertzog is nie self hier nie. Hy het ’n kabelgram gestuur uit Engeland. Daar woon hy die Rykskonferensie by wat, juis in hierdie sterfjaar van mej. Hobhouse, vir Suid-Afrika ’n groot stuk van die vryheid en selfregering sal terugwin wat die Boererepublieke ’n kwarteeu tevore moes afgee. Mev. Steyn moet terugdink aan ’n brief wat sy net na hierdie bitter vrede van Emily gekry het. Toe maar, het sy gesê, eendag nog sal die Boere die taak wat hulle met wapens in hul hande begin het, sonder wapens voltooi. “And so I too believe: Alles zal reg kommen,” het sy geskryf en haar naam geteken as “your people’s firm friend”.

      Aan die woord nou oor hierdie vriendin van sy volk, kom dr. D.F. Malan. Hy is die Unie se minister van binnelandse sake. Hy is ’n beroemde redenaar en indrukwekkend klink dit as hy in sy forse preekstoelstem sê:

      “Ons dorpe, ons skole en ons dogters” – hy kon nog nie weet van ons duikbote nie – “sal tot in die verre nageslag haar naam dra.

      “As iemand dit ooit vir ons volk was, dan was Emily Hobhouse dit: ’n engel van vertroosting, die vertolker van ons weedom, ons voorspraak voor die wêreld, die versorger van ons hongeriges, die heler van ons wonde, die moeder van ons moederloses . . .

      “Emily Hobhouse was een van ons in die diepste en volste sin van die woord. Sy was ook een van haar eie volk. Daarom kan sy wees soos niemand anders nie, ’n mag tot versoening, ’n skakel van verbinding, ’n hoeksteen in die gebou van ’n groot en verenigde Suid-Afrikaanse nasie,” sê dr. Malan.

      Na hom praat genl. J.C.G. Kemp. Nou is hy die Unie se minister van landbou. In die Anglo-Boereoorlog was hy een van die Boere se waaghalsigste generaals, in 1914 ’n prominente Rebel. Hy sien vandag weer voor hom die verwoesting van die oorlog, met vroue en kinders herbergloos uitgedryf op die vlakte. Maar aan die ander kant, onthou hy, was daar ’n Emily Hobhouse en “as Suid-Afrika nie dankbaar is vir ’n vrou soos Emily Hobhouse nie, dan is Suid-Afrika werklik nie werd om ’n groot volk te word nie,” sê hy vurig.

      Dr. N.J. van der Merwe, pres. Steyn se skoonseun, praat as ’n seun wat self in die konsentrasiekampe was . . . een, sê hy, wat self sy moeder en suster op ’n ossewa en saamgehok met ander in ’n oop steenkooltrok sien ly het, en in die hitte en koue van ’n beltent in die kampe. Hy is een van die seuns wat aldag rondom die rantsoentafel gewag het om die hongerrantsoene te ontvang.

      “As herinnering aan daardie dae ’n wrok teen Engeland in my hart laat opkom, dan is daar een naam wat dit weer laat sak: Emily Hobhouse,” sê hy.

      Laaste aan die beurt kom genl. Jan Smuts. Die Transvalers en Vrystatertjies onder die kinders kry lag vir sy regte Swartlandse bry, sy Boelandse uitspraak en hoërige stem. Maar van almal wat vandag hier praat, was hy mej. Hobhouse se grootste vriend. Vandat sy hom in 1903 ontmoet het, was hulle tot haar dood vriende – al kon sy baie keer baie skerp met hom verskil en al het sy hom baie keer kwaai die kop gewas. Van die lekkerste en lewendigste briewe van die vele wat sy geskryf het, was gerig aan hierdie “dear oom”. Hy praat baie mooi oor haar. Jy kan sien hy was vir haar lief.

      Hy praat van die oorlog toe soveel van die jong blanke bevolking, wat nog altyd vir hierdie land so kosbaar was, uitgewis is, en hy sê: “Dit was in daardie donker uur van ons land dat Emily Hobhouse op die toneel verskyn het. Ons het alleen gestaan in die wêreld, verstote tussen die volkere, die kleinste nasie teenoor die magtigste ryk op aarde. En toe is ’n klein hand, die hand van ’n vrou, na ons uitgesteek. In daardie donkerste uur, toe dit gelyk het of ons nasie gedoem was tot uitwissing, het sy soos ’n engel verskyn, soos ’n gesant uit die hemel – en die vreemdste was: dat sy ’n Engelse vrou was.

      “Dit was wel beskik vir beide die onmiddellike krisis en die latere geskiedenis van Suid-Afrika dat hierdie groot taak deur ’n Engelse vrou verrig sou word . . .”

      Omdat hy haar so goed geken het, roer hy twee dinge aan wat baie na aan haar hart was en wat sy seker graag hier by haar graf sou wou gesê gehad het. Hy doen dit, sê hy, “in die taal van Emily Hobhouse”:

      Hy beklemtoon eers die “power and profound influence of women in the affairs of the world. The life of Emily Hobhouse was a striking instance of this power. Here was a great war, in which hundreds of thousands of men were engaged, in which the greatest Empire on earth was exerting all its force. And an unknown woman appears from nowhere and presses the right button and the course of our history in South Africa is permanently altered. She becomes the great symbol of reconciliation between two closely kin people who should never have been enemies . . .”

      In die tweede plek onderstreep hy dat vaderlandsliefde nie blind mag wees nie. Emily was “an Englishwoman to the marrow, proud of her people and its great mission and history. But for her patriotism was not enough. When she saw her country embarked on a policy which was in conflict with the higher moral law, she did not say: My country right or wrong. She wholeheartedly took our side and in doing so rendered imperishable service, not only to us, but to her own England and to the world at large . . .”

      Nou is die toesprake verby. Die kinders versit effens voet. Die koor sing. Ds. C.W.M. du Toit van die Gereformeerde Kerk doen ’n gebed. Ds. A.J. Malherbe, bejaarde moderator van die N.G. Kerk, spreek die bekende plegtige woorde van die begrafnisformulier uit oor die kissie wat nou in die nis ingeskuif word. Langs hom laat iemand vyf spierwit duiwe uit ’n mandjie los – simbolies, om die boodskap te bring na elk van die vier provinsies en Suidwes. Dadelik daarna word nog ander mandjies met duiwe ook oopgemaak.

      MER beskryf dit . . . “die wind waai fyn en vang die predikant se woorde op soos hy praat van die ewige lewe, en die duiwe stroom ook uit, ver bo ons koppe, en neem ons gedagtes met hulle ver, ver weg. En toe ons so staan en kyk na hulle, dreun die drie skote van die treursaluut uit . . . Alles was verby.”

      Aan Emily se lieflingsneef Oliver Hobhouse in England skryf genl. Smuts kort daarna ’n brief van net enkele sinne: “It was a great occasion,” sê hy. “We buried her like a princess.”

      Dié Emily Hobhouse, wie was sy?

      Een

      Emily Hobhouse, om haar by haar huis te gaan haal, is op 9 April 1860 op die dorpie St. Ive in Cornwallis in Engeland se suidwestelike uithoek gebore . . . die St. Ive sonder die s, vier myl van die markdorp Liskeard en in die buurt van destyds se primitiewe loodmyne, waar die meeste van die dorp se mans gewerk het. Moenie fout maak en deursteek na St. Ives mét die s aan die wilde kus van Cornwallis nie. Dáár het sy later van tyd die huisie gekoop met die geld wat die Afrikaanse vroue halfkroonsgewys ná die oorlog vir haar bymekaargemaak het. Maar gebore is sy gebore op St. Ive. Haar pa, die latere aartsdeken Hobhouse, was ’n halfeeu plus een jaar lank predikant, of soos die Engelse sê, rector van die grys Anglikaanse klipkerkie oorkant die groot grys pastorie met “die grootste rhododendronbos in Cornwallis” voor die deur. Die eerste vyf-en-dertig jaar van haar lewe het sy hier deurgebring.

      Honderd jaar ná Emily se geboorte kon ’n mens nog in sy donker huisie met die oop vuurherd op St. Ive ou Tom Barrett raakloop, ’n reus van ’n ou strooikop-Cornishman met ’n groot twakbruin snor en ’n baie-blou blou oog onder ruie blonde wenkbroue. Hy is ’n afgetrede konstabel wat vir Miss Emily en haar familie geken het of hy hulle gemaak het. Sy oudste suster was wasvrou daar by die pastorie. Selfs op agt-en-tagtig jaar het die galante ou rakker nog iets van die sjarme wat daardie broer John van hom moet gehad het oor wie die hoë Miss Emily self eentyd glo erg was – al was hy maar ’n mynwerker en boonop jare jonger as sy.

      As die predikant weg is wat die besoekers uit Suid-Afrika na hom gebring het, vat ou Tom hulle eenkant tuin toe na sy stookketeltjie. Hy tap vir hom en vir elke besoeker ’n bekwame dop, en as hy ’n slukkie weg het, raak sy tong los.