Heldin uit die vreemde. Rykie van Reenen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rykie van Reenen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624078449
Скачать книгу
she went and tend’ the blinkin’ Boers! And that was that!” snuif hy ergerlik en slaan op die knie van sy verbleikte blou broek.

      Ook nog daardie tyd op St. Ive kon ’n mens kennis maak met voëltjie-fyn Miss Ethel-Annie Bennett, onder in Hady’s Row. Haar ouma Hockey het nog as huishoudster saamgekom toe Mr. Reginald, Emily se vader, hom in die verre jaar toet, vóór daar nog ’n pastorie of iets was, kom vestig het op hierdie dorpie waar die varke toe nog sommer los in die morsige modderstrate rondgeloop het. Miss Ethel-Annie se moeder Marianne was naaister in die Hobhouse-huishouding en die een wat die meubels moes blink hou.

      Of Miss Ethel-Annie nog vir die Hobhouse’e onthou? Liewe genade, sê ’n latere predikant van St. Ive, sy gee ’n mens nooit kans om hulle te vergeet nie! In haar oë sal daar nooit weer ’n pastoriegesin wees wat kan hoop om kers vas te hou by die Hobhouse’e nie. Klas, dis wat hulle gehad het, vra vir Miss Ethel-Annie.

      Later van tyd toe haar ma dood was en haar ou vader sieklik en al die kinders al uit die huis, het die gemeentewerk omtrent alles op Emily se skouers gekom. Die hele dorp was vir haar op hul pasoppens. As jy net sien daar kom Miss Emily aan – ou Tom loer kamma skrikkerig straat af – dan is dit woerts-warts, haastig die baadjie vasknoop, vinnig ’n skoon voorskootjie voorsit. “Miss Emily’s comin’, look out!”

      Van hoek tot kant het Emily daardie dae te voet deur die gemeente geloop, selfs tot daar bo aan die boonste end by Pensilva en die ruwe mynklomp, om daar huisbesoek te doen en te reël wat daar te reël was. So ’n lekker los loop, uit die heup uit, het sy gehad. “Thomas Barrett, en waar was jy Sondag?” sal sy jou voorkeer as jy stokkies gedraai het vir die kerk.

      Koorleidster van die dorp was sy. Sy het self ’n mooi, soet stem gehad – nie so van nature mooi soos haar suster Maud s’n nie, en ook nie die orrel van ’n stem wat haar oudste suster Carrie gehad het nie, maar nietemin ’n goed geoefende stem. St. Ive se koor was iets om te hoor. Elke Sondag was die kerk kant en wal vol. Nie oor die rector se preke nie. Hy was ’n goeie man, die regverdigheid self, maar “God rest his soul, ’e couldn’t preach much”. Ewig aan die omblaai in sy prekeboek was hy. Maar Miss Emily se koor, ja, daarvoor het die mense gekom. En as daar ’n nuwe intrekker op die dorp is, en Miss Emily sien hom op straat, dan sal sy sê: “Thomas, ek sien ’n vreemde seun onder in die dorp vanmôre. Bring hom bietjie huis toe?” In die klein musiekkamertjie waar Emily met die dorpsjongmense musiek gemaak het – klavier, viool, fluit, fife, enige ding buiten die konsertina – het sy dan voor die klavier gaan sit. As dit blyk die nuwe ou kan sing – “in five minutes’ time he was up in the choir”.

      Die Young Men’s Friendly Society het sy ook gelei. Op allerhande maniere het sy hulle daar besig gehou en uit kwaaddoenery.

      ’n Bronsknopie op die lapel het ’n lid van die vereniging gekry as hy, soos so baie van hulle gemaak het, in anderland ’n beter heenkome gaan soek het. Daaraan kon hulle mekaar altyd uitken, sê ou Tom. Selfs as hulle onder Miss Emily se oog uit was, het haar invloed hulle nog bygebly.

      ’n Mens is mos maar altyd ’n stukkie van jou ma en ’n stukkie van jou pa. Van haar vader, die stil, streng ou kerkman – wat tog darem sy stil laggie kon lag en van wie ’n familielid so mooi gesê het: “his soul was gentle” – van eerw. Hobhouse het Emily gekry haar sterk regverdigheidsin en eerlikheid, haar selfdissipline, haar pligsbesef en, as die waarheid moet uit, ’n breë streep koppigheid ook.

      Die Hobhouse’e was vooraanstaande mense met ’n besef dat voorregte ook verpligtinge meebring. Haar oupa was ’n prominente openbare figuur, regsadviseur van die Britse Tesourie, permanente ondersekretaris van die Departement van Binnelandse Sake, Hoofstaatsargivaris, of soos hy geheet het: Keeper of the State Papers. Haar Uncle Edmund het ’n gesiene biskop geword.

      Haar vader se jongste broer, Uncle Arthur, die dierbare man, was regsadviseur vir die Britse regering in Indië, en later baie jare lank lid van die Britse Geheime Raad, die opperste regsliggaam in die ryk. Geen wonder Miss Ethel-Annie het respekte vir die Hobhouse’e gehad nie. ’n Stil teregwysing van hul swygsame ou predikant was vir St. Ive se mense erger as die ergste skrobbering van iemand anders.

      Emily se ma was ’n Trelawny, ’n ou-ou familie wie se voorsate Kelte was wat deur die Saksers en Normandiërs na hierdie uithoek van Engeland verdryf is. In die elfde eeu het hulle al ’n kasteel gehad by Treolone aan die Cornwalliese kus, baie naby die dorpie Bude waar Emily as kind soveel strandvakansies deurgebring het.

      Die Trelawny’s was van oudsher dus ’n stroomop klomp, so Radical van politiek as wat die Hobhouse’e konserwatief was. Emily se oupa, sir William Trelawny, was Radical Parlementslid vir Oos-Cornwallis. Een van haar voorsate was een van die sewe Anglikaanse biskoppe wat nie wou kopgee voor die Rooms-Katolieke Jakobus II nie en toe in die Tower of London opgesluit is.

      Nou nog sing Cornwallis en trouens Engeland die liedjie hieroor met sy refrein:

      “And shall Trelawny die?

      Twentythousand Cornishmen

      will know the reason why!”

      ’n Trelawny laat nie met hom mors nie, ’n Trelawny laat hom nie gesê nie, en sterk het die Trelawny-bloed in Emily se are geloop – gelukkig vir ons.

      Haar ma was lewendig en gesellig, met ’n prettige humorsin – nie danig mooi nie, maar dis ’n goedige, praktiese gesig wat ’n mens op haar foto sien, met die mooi blinkbruin hare van die Trelawny’s en ’n paar skerp, wakker oë. Met die energie en welwillendheid waarmee haar klein postuur aanmekaar gesit was, het sy in die dorpslewe van St. Ive ingevaar toe sy met Reginald Hobhouse trou: sy’t sop gekook vir die armes (vyf gelling op ’n slag, vertel Miss Ethel-Annie), sy’t eenkeer selfs haar flennie-onderrok uitgetrek om vir ’n ou bedel-asem by die deur te gee.

      Daar was geld in haar familie. Toe sy kom, is die groot pastorie gebou waar al die Hobhouse-kinders gebore is.

      Die eerste was ’n dogtertjie, klein dood, en toe kom ’n seuntjie wat sy vader se naam kry: Rennie. Die ingetoë Reginald het heeltemal uitgeblom oor dié kind. Toe hy op ’n jaar of drie sterf, was dit of iets vir goed in die rector van St. Ive toegeskroei het: daarna kon hy nooit weer heeltemal sy hart vir iemand wyd oopmaak nie. Hy het in homself gekeer. Sieklik – hart? – kon hy die geraas van die kinders nie om sy ore verdra nie. Sjjjtt, Papá rus, is ’n frase waarmee die Hobhouse-kinders grootgeword het.

      Tog was dit lekker in die ou grys pastorie toe Emily klein was. Daar was ses kinders wat gelewe het – Carrie, wat geheet het na haar moeder, Caroline, Maud, Alfred, Emily, Blanche en dan klein Leonard, die slim witkoppie wat in later jare een van Emily se grootste steunpilare en raadgewers sou word. Hulle had ’n baie liewe ou oppasster, Hannah Gane, wie se man, ou Tom Gane, in die tuin gewerk het.

      Ma Hobhouse was, hoewel reeds nege-en-dertig toe Emily gebore is, ’n regte maat vir haar kinders. Saans het sy vir hulle hardop stories voorgelees of vertel. Duits, Frans, Italiaans, alles was sy magtig.

      ’n Keer toe eerw. Hobhouse, soos so dikwels, ongesteld was, het ’n ouerige vrygesel gekom om met die preek- en gemeentewerk te help: St. Aubyn Rogers was sy naam, en die kinders was op hom verdold. Hy kon so sedig aan tafel sit anderpad kyk en dan ’n ghoen van ’n hou met ’n broodpilletjie skiet. En hy was so handig met houtwerk: konynhokke, kruiwaentjies, hoepels het hy vir hulle gemaak – vir Emily nog haar eie spesiale hooivurkie. Sy en hy het ure lank pluimbal gespeel, tot ou eerw. Hobhouse se kop seker omtrent gebars het van die getik-tak, tik-tak, tik-tak. Old Rodge, sê Emily, was haar eerste liefde – en niemand was ooit weer heeltemal só lief vir haar nie, het sy geglo.

      ’n Mens kry die gevoel van die atmosfeer van die pastorie as jy ’n opstel lees van Emily se suster Maud wat sy geskryf het toe sy veertien was. Miss Ethel-Annie het al die jare die ou skoolskryfboek bewaar waarin dit staan.

      Sy skryf oor Our Rectory:

      “Our Rectory” – hoor nou – “is not very large or very pretty but just holds us conveniently, leaving one room for visitors. There are three sitting rooms besides the schoolroom and study. The drawing room has three windows, one a bow-window with a south aspect. This recess holds