Heldin uit die vreemde. Rykie van Reenen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Rykie van Reenen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624078449
Скачать книгу
well filled with books, is placed between the two windows. A writing table is in a cosy corner where one can write without being disturbed. Opposite the window is a large chiffonier. The piano is in another corner. In summer white curtains lined with green gauze are put up, which give the room a green and pleasant air. In winter warm crimson ones appear again, and very comfortable the room is when the curtains are drawn and a bright fire glows in the grate.”

      Gaan ’n mens met Maud trap op, kom jy in die skoolkamer bo. “It has a pleasant window looking on the meadows, rather sombre just now. The little window in the corner looks out on the stable yard, where there is much goings on. The bookshelves have just been put up. They are well filled not only with our lesson books but also many other interesting books. By the side of the bookcase is the piano. Opposite the large window is the escritoire. Where the door stands, the corner of the room is cut off. This and the beams give the room a quaint look. The room has a green air for the table cloth and curtain and drugget are mostly green.

      “Along the passage on the next floor is our governess’ room from the window of which we have the best view. On the same floor are the servants’ room and the little lumber room.

      “Downstairs on the first floor, all opening on one passage, are the white room, so called because it used to have a great deal of white dimity about it, the red room and a dressing room for our visitors, mamma’s room and papa’s dressing room.

      “Downstairs again are all the kitchen premises. There is a pleasant and shady garden around the house. It is a very good size, plenty of Flowers and Vegetables in their seasons. There are four fields and we have two cows, two pigs and hosts of pets.

      “In this pleasant little abode which I have tried to describe I have spent fourteen happy years.” Die datum is 4 Februarie 1873 en langsaan het die goewernante geskryf: “Pretty Well. But do not make corrections.”

      So danig “little” klink die pastorie miskien nou ook nie. Maar as ’n mens dit vergelyk met Oupa Henry se groot Hadspen House in Somersetshire, of Uncle Arthur-hulle se buiteverblyf Charlton House, naby Bristol, dan was St. Ive se rectory maar ’n drieverdieping-pophuisie.

      Dit is van ’n besoek aan hierdie Uncle Arthur en die liewe Aunt Mary-hulle dat een van die sprekendste vertellinge oor klein Emily oorgelewer is. Omdat eerw. Hobhouse en sy vrou dikwels ter wille van sy gesondheid na die warm suide van Europa en die Riviera moes gaan om te oorwinter, het die kinders by meer as een geleentheid daar gebly. Toe Emily sewe was, was hulle weer daar. Sy was toe ’n ernstige outjie wat plegtig vir haar ma-hulle geskryf het: “I shall try to be a sensible child now that I am seven years old.” Op 14 Februarie daardie jaar kry Maud, Emily en Blanche toe ook elkeen die gebruiklike St. Valentine’s-kaartjie, wat daardie dae in Engeland net so ’n vaste instelling was as die Kerskaartjie. Oor Emily s’n het die twee ander dogtertjies en hul oppasster gekraai van plesier. Maar Emily het nie mooi geweet of dit so snaaks was nie. Op hare was ’n hennetjie wat kordaat op ’n werf rondloop en onderaan het gestaan: “Where-ever I am, I will always be missus.”

      Die kaartjie was nie ver verkeerd nie. Vra vir ou Tom Barrett. “You ’ad to go ’er way,” sê hy. “She was the boss!”

      Twee

      Geleidelik het dit in die gesellige rectory van St. Ive stiller geword, en leër. Die skaduwee waarvan klein Rennie se dood die eerste teken was, het al dieper en somberder daaroor geskuif.

      Toe Emily sestien was, is die goeie ou tuinier Tom Gane dood – vir die kinders ’n groot slag, en die eerste keer dat die dood iemand naby hulle wegneem. Die volgende jaar is Blanche, die suster net jonger as Emily en die mooiste van hulle almal, oorlede aan tering, of soos dit op ’n ou grafsteen by die kerk staan “the cough”: dit het sy waarskynlik opgedoen toe sy vir Anna Williams, wat ’n teringlyer was, in haar armoedige huisie gaan sit en lees het – mense het toe nog nie besef dis iets aansteekliks nie. Drie jaar later, na ’n verskriklike lyding, sterf die vrolike Ma Hobhouse. Jare daarna, sou Emily later vertel, was dit of pyn nog in die huis bly rondspook het. Haar vader het ook die volgende jaar baie ernstig siek geword en moes vas verpleeg word. Dit het hoofsaaklik op Maud en Emily se skouers gekom, want Carrie was al uit die huis en getroud, Alfred was wêreld-in – hy sou uiteindelik in Nieu-Seeland boer – en Leonard was op Oxford.

      Met hulle twee het Maud en Emily ook die gemeentewerk behartig, maar in 1889 is Maud getroud – met die Hebblethwaite-kêrel op wie haar vader eers so teë was – en die volgende ses jaar was Emily en haar sieklike ou vader alleen daar in die groot, grys huis.

      Oubaas Hobhouse het al stiller geword, al meer in homself gekeer. Emily sê sy het die onderwerpe van gesprek eintlik gerantsoeneer, dat hulle darem iets met mekaar te geselse kon hê by iedere maaltyd: met ontbyt oor wat in die koerant staan, oor kerksake met middagete, en so voort.

      Haar vader kon naderhand net uitgaan as sy hom in die ponietreppie uitry. En Sondag vir Sondag moes sy hom voetjie vir voetjie aan haar arm oor die straat neem na die konsistorie oorkant, en ná die diens weer daar gaan haal en huis toe bring.

      Miskien in dié tyd was daar die episode met ou Tom se aansienlike broer, die jong mynwerker John Barrett. Die hele dorp het vol gelê van die storie: Miss Emily gaan met John Barrett trou, o, het julle gehoor? Miss Emily gaan met John Barrett trou! Maar Marianne Hockey het haar kop geskud en gesê: Dit wil ek nog sien. Op ’n dag het oubaas Hobhouse vir John laat kom en drie uur lank onder vier oë met hom in sy studeerkamer gepraat. Wat agter daardie geslote deur gebeur het, weet niemand nie. Al wat die dorp wel gehoor het, is dat John Barrett kort daarna vort is na Amerika, soos soveel ander Cornwalliese mynwerkers wat in die ystermyne van Minnesota ’n beter heenkome gaan soek het.

      En Emily? Die gevoel van daardie eensame jare kon sy dwarsdeur haar lewe soms nog op haar voel toesak. Dan hoor sy weer die wind huil, en sy sit alleen in haar bokamer, en die ou groen leunstoel oorkant gryns haar leeg aan, en die horlosie tik-tik, tik-tak die lang ure om en kyk na haar met sy leë, meedoënlose gesig. Presies so beskryf sy dit in ’n brief ’n halwe leeftyd later. Dit was om van mal te word.

      “Ek weet uit eie ervaring hoe dit ’n mens amper waansinnig kan maak om geen kans te hê om jou ideale uit te lewe nie, en om te voel hoe die jare verbygly en met hulle jou jeug en jou beste kragte meevoer, totdat jy met angs dink jou lewe sal net drome bly en jy sal nooit ’n kans kry om te wys wat jy kan dóén nie . . .”

      Oubaas Hobhouse se laaste, pynlike siekte het voortgesleep. In 1894 is daar nog ’n hele grootheid gemaak van sy jubileum in die gemeente en al die kinders, buiten Alfred, was nog vir oulaas ’n keer saam. Toe, eindelik, teen die einde van Januarie 1895, op ’n guur dag, ysig, en met die sneeu en ryp dik op die heinings en uitgetrapte paadjies van St. Ive, is die stroewe, goeie ou heer sy rus in. Emily was heeltemal alleen oor.

      Lank, aan die skraal kant, mooi, met die fier, regop Hobhouse-houding (vertel almal wat haar geken het) met waterpas en baie blou oë en lang, ligte hare, wat sy wel agtertoe weggekam het, maar waarvan sy die krullerigheid nooit heeltemal kon klop nie sodat sliertjies soms sagweg by die ore losgekom en jonk en vroulik haar gesig omraam het.

      Gesag lees ’n mens in die karaktervolle foto van haar in haar vader se sterfjaar. Maar die oë is eensaam. Die lippe sluit ferm. Moed sien jy in daardie mond; lewensblyheid nie.

      Wat nou vir haar? Eindelik was sy vry. Maar waarnatoe? Sy was vier-en-dertig jaar oud, amper vyf-en-dertig. En as tipiese vrou van haar tyd en stand, omtrent heeltemal sonder formele geleerdheid. Vir meisies van vandag wat klas vir klas saam met seuns skoolgaan, saam met hulle die universiteit besoek en vir wie omtrent elke loopbaan onder die son teenswoordig ooplê, is dit amper onmoontlik om te besef hoe gekniehalter ’n meisie van die Victoriaanse tydperk was. Hoe het Emily met haar wakker kop nie haar broers en veral vir Leonard beny, wat hul goed geleerde tutors of privaatonderwysers gehad het en later na goeie skole of selfs ’n universiteit kon gaan nie. As kinders het die Hobhouse-dogters, soos almal van hul stand, natuurlik hul goewernantes gehad, privaatonderwyseresse wat ingewoon het. Maar dié, met die uitsondering van een, was maar self vroue met skraps geleerdheid.

      Lees, reken, bietjie opstel-skrywe, vat-vat aan geskiedenis en aardrykskunde. Verder, het daardie tyd se