Hy beteuel sy humeur. Dié is, soos Rhona al opgemerk het, deesdae besonder kort, en juis omdat hy ietwat skuldig voel, nog korter as gewoonlik. Maar hy doen sy bes. “Ek wou jou bel, maar ek was so aan die gang …”
“Sondag ook?”
Hy kners op sy tande. “Rhona, asseblief, luister …”
“Ek dink nie ek wil hoor nie, De Waal. Tot siens.”
Die telefoon klik in sy oor en hy plak dit aan sy kant neer. Hy sit vervies en tob, spring dan op. Sy sekretaresse kyk hom half snaaks agterna. Iets byt haar baas deesdae, dis seker.
Hy tref Rhona saam met haar pa in die koelte van ’n boom op hul parkagtige grasperk voor die huis aan. Hy sien dat sy aanstaande skoonpa se oë waaksaam op hom gerig is. Isak de Villiers is nie blind vir sy kind se foute en tekortkominge nie, maar sy ís sy enigste.
“Ek is jammer oor hierdie naweek,” val hy ook met die deur in die huis. “Dit kon nie anders nie.”
“Jy kon darem net gebel het, De Waal,” sê sy aanstaande skoonpa en wil opstaan. “Verskoon my. Ek wil nie inmeng nie. Dis ’n saak tussen julle twee.”
De Waal keer hom egter. “Nee, sit asseblief, oom Isak. Dis ons almal se saak. Ek wil hê oom moet by wees. Ek vra weer om verskoning dat ek nie laat weet het dat ek nie dadelik kon terugkeer nie, maar ek was werklik baie besig.”
Rhona se oë is baie koel. “Só besig dat jy totaal van die Luckhoff-troue vergeet het.”
“Die …?” Hy klap sy vingers. “O, gits, ja! Die Luckhoff-troue! Dit was Saterdag. Ek hét totaal daarvan vergeet!” Hy sug, en oom Isak moet sy glimlag terugdwing. Dis selde dat De Waal soos ’n stout skoolseun lyk. Hoe kon hy die Luckhoff-troue vergeet het? Dit was die geleentheid van die jaar op die dorp!
Rhona sien egter niks wat haar kan amuseer nie. Haar wenkbroue lig en sy vervolg steeds sarkasties: “Ja, skat. Jy moes inderdaad baie belangrike sake gehad het …”
“Goed, Rhona. Moenie dit invryf nie. Ek veronderstel ek moet weer ’n keer om verskoning vra.”
Hy verduidelik kortliks van die ongeluk en dat hy tant Miemie gehelp het om alles gereël te kry.
“Ek het nie geweet jou tant Miemie het ’n dogter nie. Eienaardig dat jy nog nooit voorheen van haar gepraat het nie,” sê Rhona ontevrede.
Oom Isak kyk aandagtig na De Waal. Hy kan sien dat die jonger man ietwat ongemaklik lyk. De Waal aarsel voordat hy antwoord. Sy stem klink bot toe hy sê: “Dit was tot hiertoe nie nodig nie.”
“O? Maar nóú is dit nodig?” Haar stem waarsku hom dat hy versigtig moet trap.
“Ja. Nou is sy verlam en blind. Ek moes tant Miemie gaan help en ek is van plan om hulle ook in die toekoms te bly help. Dis ’n punt wat jy baie duidelik moet verstaan, Rhona. Ek kan hulle nie nou in die steek laat nie.”
“Dit begryp ek,” stem oom Isak saam. “Dit sal niks meer as erkentlik van jou wees om dit te doen nie.”
De Waal kyk hom dankbaar aan. “Dankie, oom Isak.”
Rhona pers haar lippe opmekaar. Soos altyd is haar pa aan De Waal se kant. Sy weet sy behoort De Waal te bewonder en te respekteer vir sy medemenslikheid, maar sy voel hy oordryf die saak. “Hierdie … e … dogter … Hoe oud is sy?”
“Karina moet nou vyf-en-twintig wees.”
“Karina? Is dit haar naam?”
“Ja.”
Oom Isak frons. “Maar waar het ek …? Dit was nou die dag in die koerant. Onthou jy, Rhona? Ons het gelees van die model Karina Oosthuizen wat in ’n ongeluk betrokke was.”
De Waal knik onwillig. Hy sou verkies het dat hulle liewer nie tant Miemie se Karina en die model Karina met mekaar verbind het nie. Maar nou het hy geen keuse nie. “Dis dieselfde persoon.”
Rhona se oë vernou. “Jy bedoel … dáárdie Karina en jou tant Miemie se Karina is een en dieselfde persoon?”
“Dis wat ek gesê het.”
“O …”
Ook oom Isak kyk stip voor hom op die gras. Dit is darem eienaardig dat De Waal nooit van haar gepraat het nie.
Rhona byt haar onderlip peinsend vas. Sy vind dit meer as eienaardig. Sy onthou die foto wat by die gesig was en sien weer die pragtige meisie duidelik voor haar. Al die tyd ken De Waal haar baie goed, het saam grootgeword. En dis na háár wat hy die afgelope tye so skielik heen verdwyn en wat hy beskryf as “sake”. Hoekom was hy so geheimsinnig daaromtrent?
Dis oom Isak wat eerste die stilte verbreek. “Sy was ’n pragtige mens. Dit is ’n swaar slag.”
“Sy is nog steeds pragtig. Daar het geen letsels oorgebly nie, behalwe dat sy blind is en die gebruik van haar bene verloor het.” Hy kyk na Rhona, sien haar peinsende blik op hom, maar sy het skielik niks te sê nie. “Verstaan jy nou, Rhona?”
“Ek … probeer. En nou?”
“Wat bedoel jy?”
“Wat nou?”
Hy frons weer. “Wel, sy sal seker maar terugkom huis toe. Waarheen sal sy anders gaan?”
“Ek sien. En dan?”
Hy kyk haar skerp aan. “Ek begryp nie, Rhona. Dan sal ons maar moet wag en kyk wat die toekoms oplewer. Dis al.”
“Ons? Wie is ons, De Waal?” Toe hy haar net aankyk, vervolg sy sag, haar oë deurdringend: “Is ek ook een van die ons? En is ons huwelik ook iets wat sal moet wag?”
Hy lyk weer ongemaklik. “Jy moet begryp, Rhona, dat ek op hierdie oomblik nie in die regte gemoedstemming is vir … wel, ’n trouery nie. Probeer tog verstaan. Dis so goed asof dit my eie suster is met wie dit gebeur het. Ek is ontsteld en bekommerd. Gee my kans dat dinge eers ’n bietjie meer normaal is voordat … voordat …”
“Ons oor ons troudatum praat?”
“Wel, ja.”
Oom Isak knik weer begrypend. “Ek kan dit verstaan, Rhona. Dis ’n vreeslike ding wat gebeur het. ’n Mens moet eers oor die skok kom. Ek ken haar glad nie, maar ek is tot in my wese geskok om te dink dat daardie pragtige mens nou blind en verlam is. Ou seun, as daar iets is waarmee ek kan help, moet jy praat.”
Weer voel De Waal ’n warmte in sy hart teenoor hierdie man. Isak de Villiers het, ten spyte van sukses, sy balans in die lewe behou en ’n mens gebly.
Rhona is steeds vreemd stil toe hy later groet. Hy is dankbaar dat daar nie ’n tirade was soos hy verwag het nie, maar tog waag De Waal dit nie om sy geluk te ver op die proef te stel nie. Daar was nog ’n punt wat hy wou ophaal, maar vir eers laat hy dit maar.
Hy voer egter daardie punt sonder sy verloofde se medewete verder. Hoewel hy weet dat hy betrap gaan word en ’n verduideliking sal moet gee, gaan hy voort met sy planne. Sy sekretaresse vertel daardie middag agter haar hand dat die baas se troue seker nie nou meer ver is nie, want hy gaan nou begin huis bou. Die hele middag het hy op die foon geboer na bou-aannemers en dies meer.
Daardie nag, terwyl Karina rusteloos in haar hospitaalbed lê, haar blinde oë brandend teen die swart duisternis, sit De Waal by sy lessenaar met pen en liniaal. Daar word strepe en halfmane getrek, dit word fronsend betrag en dan weer uitgevee, oorgetrek, en hy merk nie op dat dit reeds lank ná middernag is nie.
Maar die glimlag om sy lippe weerspreek die frons van konsentrasie op sy voorkop. Hy het die lewe lank laas so geniet soos vannag. Dit gaan ’n besonderse huis wees. Iets unieks. Sonder dat hy dit werklik besef, is hy besig om sy droomhuis, soos hy dit al die jare in sy gedagtes gehad het, te teken. Net – daar is nou nêrens trappe nie. Die mure het geen skerp hoeke nie, maar is gerond. Die hoofslaapkamer het ’n buitedeur wat op die breë privaat stoep uitgaan met ’n lieflike uitsig