“Wat dink jy van die Ierse dobbelaar se nuwe kantore?” probeer hy haar op haar gemak plaas.
Sy kyk op en sê sonder veel entoesiasme: “Dis deftig, baie mooi ingerig, daarby ook die uitsig oor die stad …”
Deborah kyk weg: Die liefde en besorgdheid in Kit se donker oë laat haar byna besluit om van haar sending te vergeet. Hoe moet sy begin? Sy het alles uitgewerk gehad in haar kop. Sy sou reguit met hom praat, op die man af. Dan sou sy uitloop en dit sou verby wees. Maar nou is alles anders as wat sy haar voorgestel het.
In die ontvangsvertrek was ’n massiewe bos rose met ’n banier by wat gelees het: Welkom in Kit Malloy se empire! Sy weet maar te goed daardie blomme en verwelkoming is vir haar bedoel. Die blink opgewondenheid toe hy haar tegemoetgeloop het … sy kon die brandende verlange in hom voel toe hy haar aanraak. Dit het ysere inspanning gekos om nie in Kit se arms te versmelt nie, om nie toe te gee aan die honger van haar liggaam nie. Sou dit saak maak? Al was dit net hierdie een keer? Al sou dit die heel laaste keer wees, sou sy dit vir altyd in haar geheue kon vertroetel. Tog het sy nie, want sy wis maar te goed sy sou nie weer die moed bymekaar kon skraap om hom te vertel nie.
“Wat is dit, Deborah?” vra Kit sag, sy gesig nou onleesbaar. “Ek aanvaar dat dit wat jou hierheen gebring het, nie noodwendig goeie nuus gaan wees nie?”
Sy knik. Nou moet sy praat, dink sy, maar haar lippe is stram.
Uiteindelik klink haar stem vreemd en heserig op: “Ja, Kit, en die gedagte aan die pyn wat dit jou sal veroorsaak, maak dit vir my die moeilikste …”
“Pyn? Watse pyn?” Hy dwing haar blik om syne nie weer te ontwyk nie.
“Ek kan Karl nie verlaat nie, Kit, en ek sal jou ná vandag moontlik nie weer sien nie … Wel, nie weer alleen soos wat dit was toe …” Sy sluk swaar.
Sy is na aan trane, merk Kit. Hy wil haar so graag vertroos, haar verseker dat niks ooit tussen hulle sal staan nie, wat die ellendige spul Mannheims haar ook al wysgemaak het. Niks sal hom van haar laat afsien nie. Hulle hoort bymekaar!
Daar is ’n sagte klop aan die deur. Dis natuurlik Benjamin Rosenberg met die ellendige koffie wat hy bestel het. “Kan ek vir jou koffie aanbied?” vra Kit. Hy kom orent toe sy haar kop skud en loop na die deur om Rosenberg weg te wys. Dan maak hy die deur toe en staan op ’n afstand na haar en kyk. Daar is iets anders aan haar, iets wat hy nog nooit tevore gesien het nie. Vrees! besef hy met ’n skok. Deborah is bang vir hom!
“Ons sal nie weer gesteur word nie.” Hy kom nader en gaan sit oorkant haar, en daar is nou ’n ligte frons van ergerlikheid tussen sy oë. “Hoe ek ook al probeer, kan ek nie verstaan wat jy met die onsinnighede bedoel wat jy pas kwytgeraak het nie. Ek het jou lief en jy weet dit en niks kan dit verander nie. Karl Mannheim se siekte het sake vertraag, maar –”
“Kit, ek is swanger.” Die woorde is uit. Sy sien hoe sy kop ruk asof sy hom ’n hou toegedien het. Hy staar in ongeloof na haar, skud dan sy kop. Sy moet klaarmaak, dit wat sy begin het verbykry, dit sal die genadigste wees vir albei van hulle.
“Swanger?” spring hy haar voor. “By Onderkopjes het jy my onder die indruk gebring dat –”
“Ek weet.” Hierdie keer ontwyk sy nie sy blik nie. “Dit is moeilik om te verduidelik, maar dit was nie ’n leuen nie, Kit. Vroeër wás dit platonies, streng volgens ooreenkoms, maar toe … Dit wat gebeur het …” Sy huiwer, soek na woorde, sien die kilheid wat sy gesig nou verander in ’n klipmasker, en haar moed begewe haar byna. Maar sy gaan dapper voort. “Dit was nie soos met jou nie … ons saamwees nie. Ek het dit nie aan jou genoem nie omdat … omdat ek dit wou vergeet, Kit. Ek wou dit uit my geheue wegdink … Ek het dit amper reggekry, tot gister toe ek uitgevind het dat ek ’n kind verwag. Syne. Karl Mannheim se kind.”
“Het Mannheim jou verkrag, Deborah?” Kit vra dit so dodelik stil dat ’n koue rilling langs Deborah se ruggraat afgly. Kit se oë verhard skielik. “Antwoord my, Deborah!”
“Ek kan nie, Kit. Asseblief, moenie meer vrae vra nie. Hoe minder ek daaroor hoef te praat, hoe draagliker maak jy dit vir my.”
“Waarom sal ek dit vir jou draagliker maak?” In sy woede kom hy orent. Hy voel asof hy haar orent kan pluk om die waarheid uit haar uit te pers. Dan was sy tog saam met Mannheim! Dan het die agterbakse klein stront tóg sy sin gekry. Hoe? Het hy haar dronk gemaak? Of was dit soos hy dadelik vermoed het – ’n verkragting? “Ek móét weet, Deborah!” sê hy afgemete.
Sy kyk stadig op. Hy merk aan die lig in haar oë dat sy eie woede hare aangesteek het. Haar bleek wange verkleur van ergernis.
Sy staan op, kyk hom strak aan. “Goed, as jy moet weet. Dit was die aand met jou terugkoms, toe jy nie alleen vir my nie, maar ook vir Karl in die openbaar verneder het. Voorheen het Karl nooit aan my geraak nie, nie meer as wat ’n broer aan ’n suster sou raak nie, maar jy met jou blatantheid, jou gespog oor wat jy met my bereik het, het Karl gekwets. Hy het geweet dat ek jou liefhet, en steeds liefgehad het nadat ek die tyding ontvang het van jou dood, maar hy het nie geweet dat … dat ek en jy saam was nie. Dit het hom blind gemaak van woede …” Sy sug, voel skielik asof sy jare ouer geword het. Ouer as die man voor haar, en baie ouer as Karl Mannheim, wat in elk geval nooit soos ’n volwasse man sal optree nie.
“Dan wás dit dwang, verkragting!” roep hy uit.
“Karl het opgeëis wat hy geglo het hom ook toekom. Aanvaar dit so.”
Hy sak in die stoel neer, sy kop in sy hande. Met ’n gevoel van mislikheid besef hy sy eie skuld. Hy is vir hierdie gemors verantwoordelik.
Deborah sien dit, en dis asof haar liefde en medelye vir hom haar uitmekaar ruk. Met die uiterste selfbeheersing weerhou sy haarself daarvan om by hom te kniel en sy kop teen haar bors vas te hou … Maar dan sal alles weer van voor af begin, en dit mag nie. Sy tel haar retikule op.
“Totsiens, Kit,” sê sy saggies. Loop net weg, dink sy. Draai jou rug op hom, moenie omkyk nie, Lot se vrou het in ’n soutpilaar verander …
“Deborah!” Kit se wanhopige kreet laat haar vassteek kort voordat sy die deur bereik. Toe sy omdraai, is Kit reeds orent. Met lang treë bereik hy haar en neem haar hande in syne. “Deborah, kyk na my! Wat de duiwel maak dit saak! Trou met my! Ek is bereid om die kind ook te neem, dit ’n huis te gee … Ons kan weggaan, ek het wel nog een groot transaksie om af te handel, maar dit sal nie meer lank duur nie. Dagvaar Mannheim vir ’n egskeiding – my prokureur sal môre die hele ding aan die gang sit! Komaan, Deborah, wil jy dat so iets vir die res van ons lewe tussen ons staan?”
“Dit sal in elk geval vir die res van ons lewe tussen ons wees, Kit, verstaan jy dit nie? Jy wil kinders hê, kinders van jou eie. Waar gaan hierdie kind van Karl inpas?”
“Hy is joune ook,” mompel hy skor. “Joune, alles wat jy is, wat joune is, sal ek eer en respekteer. My liefste Deborah, asseblief …”
“Moet dit nie moeiliker maak nie! Jou prokureur kan ’n siviele egskeidingsgeding aan die gang sit, maar die kerk, jóú kerk, sal dit nooit aanvaar nie, ek het dit reeds aan jou gesê. Dit was daardie dag by Onderkopjes vir jou van groot belang. Jy wil stabiliteit hê, respek van die gemeenskap vir jou en jou kinders … dis wat jy gesê het. Om jou daarvan te beroof en jou van jou geloof te vervreem, en daarby nog op te saal met ’n kind waarvoor jy niks voel nie … Dis te swaar ’n las op enige verhouding. Dit sal nie uitwerk nie.”
Kit word verwonderd bewus van ’n ou wysheid wat Deborah uitstraal. Dis asof sy blonde meisiekind hom in haar lewenservaring verbygesteek het. Sy maak haar retikule oop en neem ’n koevert daaruit.
“Ek het amper vergeet hiervan,” sê sy stil. “Dis die oordragkontrak van jou grond, Kit. Neem dit …”
“Nee!” Hy vat die kontrak en haar handsak by haar, maak die handsak oop en sit die kontrak weer daarin terug. “Onderkopjes is joune! Ek het dit aan jou geskenk. Noem