Die goudkewers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174831
Скачать книгу
sy kop terwyl hy die brief met ’n honger drif lees. ’n Brief waarin hy met respek aangespreek word. Waarin daar vermeld word dat hulle sy talent as uitsonderlik kan beskryf. Dat hulle hul uiters geëerd sal voel indien hulle uitgewery verantwoordelik mag wees vir die druk van sy debuutbundel! Karl laat sak die brief en bedek sy gesig met sy hande. Daar is iemand, mense op hierdie ondermaanse planeet wat tog dink dat daar iets in hom steek.

      “Karl?” half onseker raak sy hom aan. “Dis uitstekende nuus, hoekom maak dit jou treurig?”

      Uiteindelik neem hy sy hande weg. “Onverwags, dit is so onverwags, prinses. Ek weet nie wat om daarvan te dink nie!”

      Sy glimlag voordat sy orent kom. “Ek verstaan,” sê sy, byna lighartig. “Ek gaan jou vader se toestemming vra om ’n bottel sjampanje oop te maak. Ek dink hy sal ten volle saamstem dat dié geleentheid sjampanje regverdig!”

      Karl beweeg sy hande foutloos deur die laaste rondo voor die finale. Dié aand is in sy geheue gegraveer, want daardie aand, sy vroeëre bedruktheid ten spyt, is hy twee maal nuwe hoop gebied. Daar was vir hom ruimte as digter, en Deborah was terug by hom. Hy het skielik geweet dat hy die rondte gewen het; miskien sou hy haar kon terugwen, want hy weet nou dat hy nie meer gevaar loop om haar af te staan aan Malloy nie.

      * * *

      Net soos elke Vrydagmôre ná die Kettings, vergesel Deborah vir Kurt huis toe. Sy merk met onrus dat haar skoonvader besonder uitgeput lyk. Dis asof die las van die myne se verlies daagliks swaarder op hom rus. Kurt is egter nie enig in sy kommer nie. Ná die sluiting van die Orion-myne het drie ander myne gevolg, en die paniek oor Johannesburg se lot het skielik ’n epidemie geword. Dit kom ná die pessimistiese mynverslag van die geoloog Edward P. Mathers, waarin hy gewaarsku het dat die lot van die Oos-Transvaalse delwerye ongetwyfeld ook vir Johannesburg sou tref indien daar nie ’n dramatiese deurbraak kom om die goud te verfyn nie. Die swak gehalte van die erts en die kompleksiteit van die herwinningsproses het dit bykans onmoontlik gemaak vir die mynbedryf om enige wins te maak.

      Mathers se beweringe het soos ’n veldbrand versprei en die nuwe immigrante, wat in die laaste jare in hul honderdtalle die stad binnegestroom het, het mekaar nou weekliks by die koetshalte vertrap om sitplek – of selfs staanplek – op die oorvol koetse te kry. Almal wou weg uit die verdoemde stad waarvan die lewensbloed, goud, nou onreduseerbaar geword het.

      “Deborah …” onderbreek haar skoonvader haar gedagtegang.

      Sy draai haar kop weg van die koetsvenster, waardeur mens die eerste groen skynsel van lente oor die veld kan waarneem. Sy word opnuut getref deur Kurt se uitputting. Dis asof hy skielik jare verouder het, en sy gelaatskleur is ongesond grys.

      “’n Week gelede, toe ek my aandele in Struben se Confidence Reef op die mark gesit het, was jy daarteen, het jy gepleit dat ek dit moet oordink. Hoekom?”

      Verleentheid kleur Deborah se wange liggies. “U as my leermeester, meneer Mannheim, het my geleer dat mens net in uiterste gevalle in ’n dalende mark verkoop, of miskien as jy die aanstigter was van die tydelike onstabiliteit. Daardie dag was daar vir my ’n onnatuurlike paniek – die mark het wel getuimel, maar dit was vir my asof dit ’n gesimuleerde val was.” Sy sien hoe hy frons en voel skielik verleë. “U sal sekerlik rede hê om my te beskuldig van irrasionaliteit, van ’n tipies vroulike waarneming. Dit was daardie dag miskien ook voorbarig van my om u –”

      “Nee! Ek het jou verlede week daaroor aangepraat, maar jy het bewys dat jy reg was en ek verkeerd om nie na jou te luister nie. Ek verstom my nou oor my eie stiksienigheid. Ek soek nie verskoning nie, maar dit is waarskynlik die pandemonium van die laaste paar weke wat nou aan my begin vat. Jy het miskien ’n vermoede, maar ek twyfel of jy die volle omvang van my benarde posisie besef.”

      Kurt verwag nie ’n antwoord nie, hoe sou sy weet? Deborah het nog nie ten volle insae in sy sake nie – ’n voorsorgmaatreël indien sy hulle sou verlaat. Tog vrees hy nou genadiglik nie meer daarvoor nie. Die gevaar, glo hy, is vir eers verby. Kurt tuur met somber, onsiende oë na die verbysnellende landskap buite die koetsvenster. Sy gedagtes is benouend. Sou hy besig wees om oud te word, sou ouderdom sy oordeel benadeel? Hierdie jong vrou het ’n week gelede ’n voorspelling gemaak dat die Confidence-aandele weer gaan styg. Hy kon dit nie glo nie, nie ná die spulletjie reeds in so ’n chaos was nie. Hy het teen sy eie beterwete presies gedoen waarteen hy Deborah gewaarsku het. Hy het sy paniek die oorhand laat kry en sy aandele laat loop. Vandag is haar redevoering reg bewys. Daar was ’n skielike en onverklaarbare nuwe belangstelling in die aandelemark. Deur sy oorhaastigheid het hy ’n groot verlies gemaak – iets wat hy nou allermins kan bekostig. Nie dat dit hom ’n arm man maak nie – daarvoor sorg sy buitelandse bates en sy aandele in die Krupp-wapenfabriek. Nietemin dwing omstandighede hom nou om kapitaal uit Europa die land binne te bring om te verhoed dat hy van sy myne verloor. Hoe haat hy dit nie om te verloor nie!

      Kurt draai sy kop terug na Deborah. “Vertel my daarvan … Was dit ’n soort aanvoeling?” Hy glimlag stroef. “Wat noem hulle dit – vroulike intuïsie?”

      Deborah glimlag maar skud haar kop. “Wel, miskien speel intuïsie tog wel ’n rol …”

      Sy verduidelik aan hom hoe sy gedurende die laaste paar stormagtige weke begin aantekeninge maak het van wie die manne was wat prominent opgekoop en verkoop het, en wie volgens haar mening die paniekverkopers uitgebuit het.

      “Ek het agtergekom dat dit altyd dieselfde persone is wat self, of deur hul makelaars of klerke, opkoop. En indien hulle die dag teenwoordig is, is daar altyd ’n radikale verandering tussen die Kettings. Ek kon dit telkens fisiek voel, dit is soos … soos statiese elektrisiteit.” Benjamin Rosenberg se gesig flits deur haar brein. Sy is oortuig daarvan dat hy tussen die Kettings bie en aankoop volgens Kit se instruksies. So was daar ook ’n hele paar ander wat vermoedelik optree as makelaars vir die ware kopers.

      “Dis nie buitengewoon dat die groot aandeelhouers hul jongens as skildmanne gebruik nie,” sê hy fronsend.

      Deborah bly ’n wyle stil. Haar teorie is grotendeels gegrond op blote agterdog, maar haar vermoede is dat ’n sekere groep manne, onder wie Kit en waarskynlik Mac ook, ’n konsortium gestig het wat juis nou inklim terwyl myne en mynaandele vir ’n appel en ei weggegee word. Dit dui vir haar daarop dat iemand ’n plan het wat miskien die onmoontlike situasie van die onreduseerbare riwwe kan oplos. Waarom anders sou enigiemand by sy volle verstand opkoop in die mark van ’n stad wat gevaar loop om vir goed in ’n spookdorp te verander?

      “Meneer Mannheim …” begin sy weer half ongemaklik. “Ek het ook agtergekom dat die kêrels wat hulle oor die laaste weke veral toegespits het op opkoop – en ’n mens kan daardie manne op jou een hand tel – belanggestel het in een blok aandele of ’n hele myngebied. So was dit verlede week met die Welverdiend-rif se aandele en toe ook met Confidence … Maar waarom dié se aandele vandag juis op die mark bulletjie geword het, is vir my duister. Waarvan ek persoonlik oortuig is, is dat daar opgekoop word volgens ’n plan en dat daar ’n klandestiene konsortium agter alles is wat die situasie uitbuit.”

      “Tot watter nut, wie kan baat by aandele in ’n mynstad wat leegloop? Binne ’n jaar of twee groei daar dalk gras in die strate van Johannesburg!” roep Kurt bars uit. Maar haar woorde het ’n nuwe onrus in hom aangewakker. Indien daar tog iets steek in Deborah se bewerings, dan beteken dit dat iets onderduims aan die gang is. Hoekom weet hy nie daarvan nie? Hy maak ’n punt daarvan om altyd op hoogte te wees van wat aangaan – daarom is hy steeds die magtigste man in die stad. Hy het wel laat slap lê toe Karl siek was. Kan dit wees dat daar tóé iets gebeur het?

      “Kon jy enige van die persone, hetsy die makelaars of werknemers, koppel aan enige van die ou mynmanne?” vra hy gemaak kalm.

      Deborah knik huiwerig. Sy gaan hom nie van Rosenberg sê nie, want dan moet sy Kit se naam noem, en sy is nog te rou om enigiets oor hom te sê. “Ja. Die prokureurs Liebermann en Schultz tree byvoorbeeld op vir J.B. Taylor. Ek weet nie of u opgemerk het nie, maar mens sien hom deesdae nooit meer persoonlik by die Kettings nie, ook nie meneer Robinson nie, en –” Sy steek vas. Indien sy Mac se naam sou noem, sal Kit vanselfsprekend ook opduik. “Daar is vier opsetpersone wat voortdurend