Hulle lag albei so effens. Leen Thirion se eienaardigheidjies word erken en aanvaar, hoewel sy altyd nog ’n effense randfiguur was. Nida moet versigtig wees met wat sy sê, want sy weet haar ma luister uit die eetkamer. “Gaan sien hom dan net, Dewald. Sy bagasie is nog op die stasie. Hy sit in die verlate huis. Tussen die vlermuise, soos Boel sê.”
“Het Boel hom gebring?”
“Ja.” Uit lojaliteit teenoor die vreemdeling vertel sy nie op welke wyse hy by Boel beland het nie. Dat hy die pad deels te voet wou aflê, klink na onsin.
“Goed. Ek sal hom maar vir ete gaan haal, en die saak bespreek.”
“Ag, ek weet Jane dra swaar, Dewald.” Jane Venter het ’n handvol kinders en pas boonop haar moeilike skoonpa, Oom Ou-Deew, op.
“Sy moet tog kook. En hy bied vir ons ’n oplossing deur sy koms. Anders was koshuis ons kinders se voorland.”
“Gaaf dan.” Sy is meer as verlig. “Ek wou hom genooi het, maar …”
“Ek verstaan.” Hy lag weer effens, maar sonder venyn. “Ons kan vir hom ’n gasprimus leen. En Jane kan vir hom ’n bietjie suiker en koffie en ’n paar snye brood of beskuite saamgee. Dit kan hom tot môre aan die lewe hou.”
“Ag dankie, Dewald. Ek het gevoel hy behoort sulke goedjies by oom Gert te koop, maar ek wou die man ook nie voorsê nie. Hy lyk ontwortel.”
Nida spoel haar hande sommer in die kombuis af. Die kraan loop net effentjies. Arno moet weer die sementdammetjie vol pomp sodat die druk kan styg. Maar Arno dink net aan lusern.
Toe sy die eetkamer binnegaan, is die prentjie presies soos elke dag. Deur ’n skreef in die toegetrekte gordyne val die lig onseker op Arno se ietwat te kort hare. Leen sny dit self, en só dat dit lank kan hou.
Slegs een helfte van die tafel is gedek, omdat hulle net drie is. Reg oorkant Arno sit haar ma, altyd op dieselfde plek, sodat sy haarfyn kan sien wat haar seun se behoeftes is.
Nida groet en trek die leë stoel by die kop van die tafel uit. Vlugtig dink sy daaraan dat, sedert haar pa se dood, haar ma of Arno immers by die kop van die tafel moes gesit het. Maar haar ma het dit anders bepaal.
“Ons het maar begin. Dit het geklink of jy vir Dewald bel.”
“Ja, Ma.”
“Dit klink of dit oor die nuwe meneer is.”
“Ja. Hy het gekom.” Sy voel meteens steeks om te vertel, voel hoe die sweet haar vel prikkel in die skemer, bedompige vertrek.
“Die kos het nou afgekoel, en hier is ’n los vlieg ook wat my al my dae gee. Ons het maar aangesit toe dit kwart oor raak. Arno wil bietjie skuins lê en dan gaan hark.”
“Dis ook so warm vir kookkos. Ma kan gerus partykeer net koue vleis en slaai maak.”
“My hande is baie vol, en jy weet groente is skaars.”
“Dis nie ekstra moeite of koste nie, Ma. In plaas van die kool en wortels en tamaties te kook, kan Ma maar net slaai daarvan maak.” Nida voel verbaas oor haar eie prikkelbaarheid. Gewoonlik is sy gelykmatig en neem sy genoeë met alles ter wille van die vrede. Miskien probeer sy vanmiddag deur die bril van ’n vreemdeling kyk, en sien sy die versteendheid raak.
“Ek is nou maar gewoond aan stowekos,” sê Leen Thirion. “Mens kom ook verder daarmee.” So praat die vrou wat nie werklik suinig is nie, maar wel ekonomies tot op ’n speld se kop. Wat haar trouring eerder in sy fluweelbedjie gebêre het as om dit te laat verslyt met die harde alledaagse werk. Meermale kleintyd het Nida gevra of sy daarna kan kyk, en moes dan hoor: “Net kyk, en weer bêre.”
“As ek nou vandag klaar gehark kry, kan ek môre pres,” sê Arno. Hy is totaal onbewus van die voorafgaande klein stryd. ’n Drang ontwaak in Nida om die venster na buite oop te maak sodat vars lug kan binnekom, al trek daar ook geen luggie nie. Maar Leen sal sê sy maak inkomplek vir die hitte en vlieë. Daar is nie oral gaas nie, net by die agterdeur.
“Ek en Boel het hom gaan aflaai,” sê sy.
Die onmiddellike teensin wat op die smal, sonverweerde vroulike gesig verskyn by die noem van Boel Meyer se naam, verdwyn net so vinnig toe die res van die mededeling deurdring. Die bruin oë wat op ’n tyd mooi was maar nou verskuil lê tussen ’n netwerk van te vroeë plooitjies, flikker op.
“Waar het julle hom dan toe gekry?”
“Ek weet nie waar Boel juis aan hom gekom het nie,” snoep Nida haar ma.
“Het jy vir Boel gesien?” skrik Arno wakker vir die feite. “Het hy nie gesê of hy klaar gepres het nie?” Hy koop nie graag sy eie implemente nie. Hy help Boel eerder en wag dan met verbloemde ongeduld sy beurt af.
“Wag, Arno, ek wil net by Nida hoor. Jy sê hy is nog jonk?”
“Nee, ek het nie so gesê nie.”
“Maar is hy?” Ongeduld begin deurslaan en Nida raak moeg vir die speletjie.
“Ja, Ma, hy is nog jonk.” Maar hy dink oud, of hy het ’n verdriet weg. Dit sê sy weer nie hardop nie.
“Getroud?”
“Ek kan mos nou die man so uitvra nie, Ma,” antwoord Nida skerp. “Hy het alleen gekom.”
“Is dit nou so erg? Jy kon hom mos tog maar gevra het of hy getroud is.”
“Waarna lyk dit, Ma?” sien Arno dit nogal in.
“Hy sit sonder iets daar bo teen die rant,” sê Nida moeg. “Ek wou hom vra vir ete, maar ek was bang vir die moeite vir Ma.”
Leen Thirion trek haar dit nie juis aan nie, want natuurlik sou dit moeite wees, maar moeite is ’n vrou se lot en lewe. “Jy moes hom gebring het,” maan sy. “Hier is die skenkelbeen nog, en party mense is baie lief vir die skenkelbeen.”
“Dalk is hy nie,” weerlê Nida moedswillig. Sy weier om haar verbasing te toon oor hierdie ongebruiklike gasvryheid. “Dit moet ook langer gekook wees, Ma, die vleis moet van die been af val.”
“Die huis se skoonmaak het my ingehaal, ek het te laat kos opgesit.” Leen sê dit nie, maar vuurmaakhout vir die Dover word al hoe skaarser, en gas vir die gasstoof kos geld en moet aangery word.
“Ek dink ek stuur vir hom ’n bord kos op,” hou die ouer vrou vol. “Arno kan dit gou met die bakkie vat.” Arno het, benewens sy afgeleefde lorrie wat net vir lusern gebruik word, darem ’n bakkie in lopende toestand.
Nida kyk nou inderdaad verstom na haar ma, onrustig byna. Sy reken dat sy deur die plan sien: vir Nida aan die onderwyser afsmeer, haar so van Boel af wegkry.
“Dis nie nodig nie,” sê sy dan. “Dewald sal hom gaan haal vir ete.”
“Het hy vir seker gesê hy sal?”
“Ja, Ma.”
“Dewald kan gerus kyk dat die skoolhuis ’n foon kry. Maar dis ook weer waar, ’n spandabelrige onderwyser, of ’n merrie soos wat hier was, kan die skoolraad bankrot bel.”
Dis glo een van die redes hoekom die vorige juffrou, die “merrie”, haarself op langverlof gesit het, onthou Nida. Geen foon nie, en die ongerief van alles. Senuwees ingegee. Die skoolkinders kon nie eers hard omblaai nie, dan skrou sy op hulle. Dis die meeste skoolsiek wat sy kinders nog ooit was, het Dewald gelag. Op die ou end het sy half gedros voor die einde van die jaar, met groot verleentheid en ’n geskarrel tot gevolg.
Die owerhede het skynbaar gereken dis goedkoper om haar onbepaald weg te stuur as om haar te laat repareer of om die hele Driekolk weg te stuur, want teen daardie tyd, sê Dewald, het al die ouers en kinders aan hulle senuwees gely. Senuwaitis, noem hy dit.
“Jy sê jy weet nie of Boel al klaar gepres het nie?” begin Arno weer.
“Jou