“En ek, señorita,” val hy haar sag, dog beslis in die rede, “sal jou ook nie vergewe indien jy weier om van my aanbod gebruik te maak nie. Ek besef dat die goeie señor professor maar min tyd tot sy beskikking het om jou oral heen te vergesel. Maar ek kan soms tyd maak. En indien dit werklik vir my ongeleë is, sal my sekretaris, die getroue José, jou met genoeë bystaan … Verstaan ons mekaar nou, señorita?”
Ronelle knik en antwoord met ’n mooi glimlaggie: “Ek waardeer u vriendelikheid baie, señor Diago. Maar wat my vader daarvan gaan sê, weet ek nie so mooi nie. Hy is nie iemand wat graag van ander se vriendelikheid misbruik maak nie. In elk geval, sodra André, my broer, hier is, en dit is oor twee weke, sal ek u nie langer tot las wees nie.”
“Vertel my ’n bietjie meer van die jong señor, André,” versoek hy belangstellend. “Hoe oud is jou broer, señorita?”
Hy bring die voertuig voor die Dekkers se woning tot stilstand en help Ronelle hoflik en sjarmant uit die motor.
Dog dit is eers toe hulle albei op die voorstoep plaasneem dat sy na sy vraag van kort tevore terugkeer. “My broer is sewe jaar ouer as ek, señor Diago –”
“Dan moet hy drie-en-twintig jaar wees, want jy lyk nie ’n dag ouer as sestien jaar nie,” val hy haar met ’n goeie glimlaggie in die rede.
“U vlei my, señor,” antwoord sy geamuseerd. “Ek was alreeds ’n jaar gelede mondig, en André is nege-en-twintig jaar oud.”
“Is die jong señor André net so gekompliseerd soos jy, of beskik hy oor die gelykmatige temperament van die goeie professor?” wil hy belangstellend weet.
Ronelle kyk die man ondeund aan en begin saggies lag. “Ek vrees André is ook maar ’n mengsel van albei, hoewel hy tog in ’n mate baie na my vader aard – juis daarom het my vader gedink dat hy ook in die medisyne sou studeer. Maar André het ons almal baie mooi laat verstaan dat hy graag ’n landbougraad wil verwerf en daarna wil gaan boer. Vandag is hy ’n vooruitstrewende boer en volkome gelukkig op sy plaas in die Laeveld.”
“En vind jy sy plaas in die Laeveld ook so dood soos die Dooie See, señorita?” vra hy ewe onverwags.
“Señor!” roep sy ietwat verbaas uit. Toe begin sy meteens saggies lag en kyk hom met guitige oë aan. “U gaan my daardie onbesonne woorde seker nooit vergewe nie, nè?”
“Miskien … eendag, señorita,” glimlag hy goedig. “Eendag wanneer jy my volkome oortuig het dat jou gevoel en mening oor hierdie stil en rustige dorpie van my verander het.”
Hierop antwoord Ronelle egter nie en byna dadelik kondig die Duque aan dat dit tyd is vir hom om te gaan en dat hy alreeds langer vertoef het as wat hy aanvanklik bedoel het.
Ronelle vergesel hom tot by sy motor.
Toe kyk hy ’n paar oomblikke diep en ernstig in haar fluweelsagte oë en sê dan ietwat kortaf, byna onpersoonlik: “Gaan asseblief na binne en bly weg uit die son.” Hy buig sjarmant. “Adeus, señorita.”
“Adeus, señor Diago,” groet sy effens verward terug toe hy in die voertuig klim. Sy sien hoe hy met sy donker, adellike hoof in haar rigting knik en dan vinnig wegtrek.
“Nou wat het ek weer gesondig dat die man my meteens so kortaf en onpersoonlik aangespreek het?” vra sy haarself saggies af met ’n peinsende uitdrukking op haar pragtige gelaat. “Die hele tyd was hy besonder gaaf en vriendelik en toe ewe skielik so kortaf, asof … asof ek hom op die een of ander wyse te na gekom het. En tog, ten spyte van sy onpersoonlike woorde was hy nogtans begaan oor my welsyn!”
Hierdie vreemde edelman is vir Ronelle nou inderdaad ’n raaisel. Sy besluit egter dat hy hom óf vir haar vererg het óf ’n temperamentele vent is. Maar met laasgenoemde feit kan sy hom nie vereenselwig nie, dus is hy seker maar die herrie in vir haar.
“Ronelle, ou dogter,” waarsku sy haarself, “jy sal vir hierdie man baie versigtig moet wees. Hy mag nou wel fynopgevoed, beskaaf en sjarmant wees, maar moet hom in hemelsnaam nie onderskat nie. Daardie skerp, deurdringende oë van hom lyk of hulle vuur kan spoeg as sy toorn billik ontstoke is … Ja, dit lyk inderdaad of hy ’n duiwel kan wees as hy kwaad is. Moet dus nie met die man se humeur lol nie!”
Diep in gedagtes versonke stap Ronelle die huis binne.
3
Ronelle is kwalik ’n halfuur tuis, toe maak haar vader sy verskyning vir middagete. Die tafel is reeds gedek en hulle gaan sommer dadelik aansit. Hy vra haar belangstellend uit na die oggend se gebeure in die saal en kondig dan so ewe terloops aan dat die Duque hulle genooi het om vanaand saam met hom in sy kasteel te eet.
“Daar sal glo nie veel gaste wees nie,” verduidelik die oubaas. “Slegs die lede van sy vernaamste familie en ’n paar vooraanstaande inwoners van Braca.”
“Die familie,” vra Ronelle en kyk haar vader belangstellend aan, “woon hulle saam met die Duque in sy kasteel, of woon hy alleen in daardie fabelagtige plek?”
“Diago woon alleen, meisiekind. Maar ’n tante en ’n niggie van hom kom glo een van die dae van Lissabon af om by hom te kom kuier. Daar is selfs sprake onder die personeel van die hospitaal dat Diago dalk aan die niggie verloof gaan raak. Jy sien, die bruid wat jare gelede deur sy vader vir hom gekies is, het glo ’n paar jaar gelede aan die een of ander aandoening beswyk; daarom dat die man nog steeds ongetroud is, en dit ten spyte daarvan dat hy die hele wêreld al deurreis het. Maar volgens hulle tradisie van edelliede mag hy nou nie meer lank ongetroud bly nie. En dis glo daarom dat die adellike niggie en haar moeder nou hierheen kom. Hy wil haar natuurlik eers deurkyk. Ek verstaan hy is die eerste Duque in die geskiedenis wat op drie-en-dertigjarige leeftyd nog ongetroud is.”
Die oubaas gaan saggies aan ’t lag, kyk Ronelle ondeund aan en vervolg terglustig: “Gister het ek gevrees dat hy dalk ’n ogie op jou het. Sy moeder het mos ook kastaiingbruin hare gehad en ek verstaan dat hy ’n besonder sagte plekkie in sy adellike hart koester vir daardie spesifieke kleur hare.”
Ronelle se hartlike lagbui weergalm klokhelder deur die vertrek. Sy vee die lagtrane uit haar oë, kyk haar vader nog steeds vol lag aan en verklaar dan spottend: “Toemaar, Pappie, jy het verniet jou hart op die Duque geplaas as toekomstige skoonseun. Die man sal nooit droom om my die hof te maak nie. Eerstens is ek te ver benede sy stand – ons het mos nie adellike bloed in ons are nie – en tweedens sal ek nooit ’n geskikte Duquesa vir die nougesette Duque kan wees nie. Ons sal soos kat en hond baklei en daar sal nooit vrede in ons huis, ek bedoel, in ons kasteel wees nie. Ek vrees die man sal my meer slae as kos gee en ek is maar lig teen sy gestalte van byna twee meter. Hy sal my met een klap skoon van die aarde af vee … Nee, Pappie, jy moet maar liewer van die Duque as ’n moontlike skoonseun vergeet. Hoe lyk dit, is daar nie ’n aantreklike doktertjie in die hospitaal wat minder vernaam is as julle adellike Duque nie?”
“O ja, daar is een,” spot die oubaas saam. “Armando de la Vega is nogal ’n neef van ons gewilde Duque. Maar jy sal hom stellig vanaand by Diago ontmoet. Glad nie ’n onaardige kêrel nie en hy koester ’n heilige ontsag vir sy neef, die Duque. Maar so is dit maar met almal hier op Braca gesteld. Almal koester ’n heilige ontsag vir Diago, behalwe die oudste lid van sy familie – ’n ou tante van hom wat in die huis hier langs ons woon. Nogal ’n uiters diplomatiese ou dame, dié tante van hom.”
“Het Pappie haar al ontmoet?” wil Ronelle geïnteresseerd weet. Die ou tante klink vir haar nogal na ’n interessante dame.
“O, ek het Diago se hele familie wat hier op Braca woon al ontmoet. Sy ou tante hier langsaan het haar ook al dikwels oor my ontferm en kom loer hoe dit met my huishouding gaan. Uiterlik lyk sy presies soos die Duque, trots en hooghartig, maar innerlik is sy ’n doodgoeie ou siel met ’n taamlik sagte plekkie in haar hart vir haar medemens. Hulle noem haar tia Maria.”
Geselsend geniet hulle die maaltyd en dan moet die professor weer na die hospitaal toe vertrek.
Ronelle