Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susanna M Lingua
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624080961
Скачать книгу
Velira Cervantes, my ou paps,” versoek sy belangstellend. “Dit klink mos vir my al of hy die moeite werd is om te ken!”

      Haar vader lag weer saggies en wonder heimlik wat Ronelle gaan sê nadat sy persoonlik met die Duque kennis gemaak het.

      “Wel, hy was onlangs drie-en-dertig jaar oud en is nog nie getroud nie, ou dogter,” begin die oubaas. “Nogal ’n uitstekende vangs vir enige jong dame, weet jy?” spot hy liggies en loer tersluiks na haar, maar Ronelle se gelaat is baie ernstig en dis duidelik dat sy met groot belangstelling luister.

      “Hy is natuurlik by uitstek hoflik en sjarmant, maar soms ook bitter aanmatigend,” hervat hy. “Ek glo dat die man stellig veel eerder sy lewe sal prysgee as om sy trots en tradisie te laat vaar. En dis nogal eienaardig, maar op die een of ander manier kry hy gewoonlik sy sin met almal. Hy is wyd belese en fyn opgevoed, maar glo my, hy het ’n wil en ’n sin van sy eie en hy laat hom ook nie maklik beïndruk nie. Niemand sal dit natuurlik waag om ooit met hom swaarde te kruis nie, want hy is heer en meester van Braca.”

      “Wel, ek moet sê, hy klink vir my glad nie aangenaam om te ken nie,” kan sy nie help om te sê nie en om ’n onverklaarbare rede voel sy teleurgesteld in die man.

      “O, jy sal hom nog wel ontmoet,” verseker haar vader haar weer. “En dan sal jy self begryp waarvoor ’n mens jou inlaat indien jy teen sy wense dwing. Die man is eenvoudig onversteurbaar, as jy kan begryp wat ek bedoel. As hertog is hy ook die hoof van sy adellike familie met al sy wye vertakkinge, derhalwe is sy woord by hulle wet. Hierdie dorpie, Braca, is deel van sy landgoed wat kilometers aaneen na die binneland toe strek. Ek sê jou, die man ken nie die einde van sy skatte nie.” Frans Dekker glimlag meteens ondeund, blik sy dogter aan en vervolg terglustig: “Die dames verafgod hom natuurlik en doen alles in hulle vermoë om hom te behaag. Maar ek vrees jy sal in jou spoor moet trap vir die Duque. Hy verdra geen bogtery van ’n mens nie. Ek wil jou ook vroegtydig waarsku dat hy, en hierdie hele gemeenskap, pynlik nougeset en konserwatief is. Hulle gebruike en konvensies is baie verskillend van ons s’n, derhalwe vrees ek dat jy dalk ’n aardige opskudding hier gaan veroorsaak.”

      “Bedoel Pappie nou met my moderne kleredrag, of met my moderne uitkyk op die lewe?” wil Ronelle laggend en met ’n honderd tergduiweltjies in haar fraai oë weet.

      Sy het klaar besluit dat sy en hierdie vername Duque nooit langs een vuur sal sit nie – en wat haar betref, is sy ook glad nie gretig om met die man kennis te maak nie. Laat hy gerus oor sy eie mense heers en koning kraai. Sy wat Ronelle Dekker is, sal haar nie deur hom laat beïndruk nie. Sy koester ook geen planne hoegenaamd om haar leefwyse om sy onthalwe te wysig nie. Sy het niks met sy konvensies te doen nie, derhalwe sal sy haar gang gaan sonder om haar aan die adellike Duque te steur.

      “Ek bedoel albei, Ronelle,” glimlag die oubaas goedig en gaan onverstoord voort. “Ek vrees jy sal jou hier na omstandighede moet skik, ou dogter, anders gaan jy sake vir ons albei bitter onaangenaam maak. Ek is nou wel nie in die Duque se diens nie, maar ons bevind ons nietemin op sy eiendom. Derhalwe moet ons sy wense respekteer. Hy het my ook al dikwels hulp verleen in verband met my werk. Trouens, hy het selfs ’n deel van die plaaslike hospitaaltjie tot my beskikking gestel, waar ek ongestoord met my werk kan voortgaan.”

      Hierdie woorde van haar vader laat Ronelle ’n oomblik lank nadink. Toe vra sy weer: “Waar woon ons, Pappie? In ’n hotel?”

      Die oubaas skud sy kop en antwoord bedaard: “Die hotel is slegs vir toeriste bedoel en ons twee is mos nie toeriste nie. Ek is hier om ’n teenmiddel te vind vir die vreemde siekte wat onder die inwoners uitgebreek het, daarom is ek in ’n gerieflike huis naby die hospitaal gevestig.”

      Hulle ry deur die stil dorpie met sy warm, lomerige atmosfeer wat lang gape by ’n mens uitlok. Daar is maar min verkeer en slegs ’n paar mense op straat te sien, behalwe die paar mans wat op die sypaadjie by ’n kafeetafel onder ’n kleurryke sambreel sit.

      Etlike oomblikke later hou die voertuig stil voor ’n netjiese wit huis met hoë mure, en wat half versteek is agter tropiese sierbome, rankplante en ’n menigte vrugtebome …

      ’n Eienaardige mengsel, dink Ronelle, maar sy vind die omgewing nietemin verfrissend en interessant. Die veranda strek rondom die huis en is volkome omsluit met gaasdraad wat beskerming bied teen muskiete en ander insekte en kruipende ongediertes.

      “Stap solank binne en maak jou tuis, meisiekind,” versoek haar vader onderwyl hy wag dat die motorbestuurder Ronelle se bagasie na binne neem.

      Dis eers toe sy en haar vader later hulle gebruiklike elfuurtee op die stoep geniet, dat Ronelle die allerbelangrikste vraag aan hom stel.

      “En wat gaan ek bedags met myself aanvang in hierdie verlate ou dorpie met sy bekrompe gemeenskap, Pappie? Ek merk hier is nie eens ’n orrel of ’n klavier in die huis nie.”

      Die oubaas kyk haar berekenend aan, maar voordat hy haar vraag kan beantwoord, hou ’n lang, roomkleurige, vaartbelynde sportmotor voor die deur stil en ’n lang, breedgeskouerde, donker man klim uit die voertuig, klap die motordeur toe en kom fier, trots en waardig na die huis toe aangestap.

      Die man is onberispelik geklee in ’n vleklose wit somerspak, waarvan die baadjie lyk asof dit aan sy skouers gegiet is, en wat sy glansende, raafswart hare treffend aksentueer …

      Inderdaad ’n indrukwekkende, gedistingeerde figuur, flits dit deur Ronelle se gedagtes. En dan moet sy ruiterlik erken dat hy beslis die aantreklikste man is wat sy nog ooit die eer gehad het om in lewende lywe te aanskou. Sy hou van lang, donker mans, en hierdie een het beslis ’n baie mooi gevormde neus – ietwat aristokraties – effens hoë wangbene, ’n mooi karaktervolle mond en ’n ken wat van ’n sterk wil en deursettingsvermoë getuig … inderdaad ’n mooi, sterk gesig.

      Ronelle voel hoe haar hart meteens onstuimig begin klop by die gedagte dat sy maklik op hierdie man sal kan verlief raak.

      Dog, tot haar grootste ontsteltenis, hoor sy haar vader saggies onderlangs sê: “Ons vername hertog. Dis sy gewoonte om persoonlik met elke vreemdeling in sy koninkryk kennis te maak. Jy is dus geen uitsondering op die reël nie, al is jy my dogter. Ek raai jou aan om jou beste voetjie voor te sit indien jy sy guns wil verwerf.”

      Slegs ’n kort oomblik is Ronelle hopeloos van stryk. Maar dan kry sy dit eintlik sag uit: “Hy kan vir my part met ’n enkelkaartjie maan toe vlieg, Pappie. Hy moet net sê as hy my nie hier wil hê nie. Ek kan my altyd in Beira gaan vestig tot tyd en wyl Pappie se taak hier afgehandel is.”

      Die vader word egter nie die geleentheid gegun om daarop te antwoord nie, want die Duque stoot alreeds die gaasdeur met ’n netjies versorgde hand oop. Die oubaas kom hoflik orent en nooi die edelman vriendelik na binne.

      “So, dan is jy al terug, my goeie vriend,” voeg die Duque hom vriendelik toe, op goeie Engels, dog met ’n merkbare aksent. “Die boot was dus nie laat nie. Ek is bly dat alles so goed vir jou verloop het en dat die jong señorita nou veilig onder jou eie dak en beskerming is.”

      Hy tree vlugtig nader aan Ronelle, buig galant en groet haar met ’n warm glimlag wat haar hart weer dadelik onreëlmatig laat klop – tot haar eie ergernis, natuurlik.

      “Bom dia, señorita Dekker,” hoor sy hom met iets soos warmte in sy stem sê. “Welkom op Braca. Ek vertrou u het ’n aangename reis gehad. U lyk inderdaad sprankelend, hoegenaamd nie uitgeput of vermoeid nie.”

      “Aangename kennis, señor Duque,” groet sy, nog ietwat verward. Maar dan ruk sy haar reg en vervolg met ’n stralende glimlaggie: “Dankie, ek het ’n besonder aangename reis gehad en elke oomblik daarvan geniet. Trouens, ek is lief vir reis. Ek was nog altyd ’n rustelose siel en glad nie huislik nie.”

      Sy oë, wat nou haar hele persoon met ernstige belangstelling waarneem, is donker, skerp en deurdringend. Hy glimlag en lyk uiters sjarmant, maar terselfdertyd waaksaam.

      “Wil u nie sit nie, señor Duque?” nooi sy beleef en voel hoe haar hande liggies bewe. Sy het nooit kon droom dat sy die adellike diktator van Braca so gou sou ontmoet nie! Die man het inderdaad ’n vreemde uitwerking