“Maar, Pappie, daarvoor het ek ook ’n oplossing,” val sy hom sameswerend en met ’n sfinksagtige glimlaggie in die rede. “’n Mens kan tog nie bedags by die hospitaal wees en terselfdertyd weet wat by sy huis aangaan nie. En as ’n man dan nog … e … wel, ’n ongehoorsame dogter het, kan hy kwalik vir haar dade aanspreeklik gehou word, nie waar nie? Ek herhaal, my ou paps, laat die Duque maar aan my oor. As hy nie van my rondlopery hou nie, sal hy en sy sekretaris my beurtelings moet vergesel. En ek is oortuig daarvan dat hulle nie langer as ’n week met my sal kan tred hou nie. Dan sal hy hopelik sy fout insien en hom nie verder aan my kom en gaan steur nie … Dis waar, ek gaan die man nog laat les opsê! Dit is nie altemit nie.”
Ronelle verheug haar by voorbaat as sy dink hoe lekker sy die konserwatiewe edelman gaan laat ronddraf. Maar waarmee sy nie rekening hou nie, is dat genoemde edelman geen swakkeling is nie, maar ’n man uit een stuk en dat sý moontlik die een is wat gaan les opsê!
Sy merk nie die skeptiese glimlag om haar vader se mond nie en vrolik, geselsend skink sy vir hulle twee toe die diensmeisie die teegerei langs haar op ’n tafeltjie neersit.
Onderwyl hulle tee drink, gesels hulle oor die navorsingswerk waarmee haar vader tans besig is en sy hoor dat hy soms Johannesburg toe gaan vir spesiale toetse en ontledings wat nie hier gedoen kan word nie aangesien Braca nie oor ’n laboratorium beskik nie. Sy is ook verbaas om te hoor dat hulle nog etlike maande hier op Braca sal moet vertoef.
“Maande …!” roep sy verbaas uit. “Maar ek sal my morsdood verveel op hierdie dooie ou plekkie, Pappie!”
“Genugtig, Ronelle, jy moenie so neerhalend van Braca praat nie, kind,” vermaan die vader weer goedig. “As jy die dorp en sy inwoners eers leer ken het, sal jy nogal van die plek hou. Die natuurskoon is onoortreflik en die mense besonder vriendelik en gesellig. Jy moet net weet hóé om met hulle om te gaan. En as jy graag hulle guns wil verwerf, my ou dogter, moet jy jou paslik by hulle gebruike bepaal –”
“En daarby bedoel my ou paps natuurlik dat ek sonder versuim vir my ’n duenna moet aanskaf wat my hand elke oomblik van die dag kan vashou,” val sy hom laggend, skertsend in die rede.
“Ek dink dit is nogal nie ’n slegte idee nie,” terg hy saam.
“Berge val op my, heuwels bedek my … Kom, Pappie, laat ons liewer strand toe stap. En laat my asseblief vroegtydig weet wanneer Pappie nou heeltemal verportugees het, sodat ek dadelik Johannesburg toe kan laat vat!”
Vrolik, skertsend stap vader en dogter ’n paar minute later af strand toe, onbewus van die bure se oë wat hulle belangstellend volg.
Die hele gemeenskap ken die professor al en almal koester groot respek en agting vir die besadigde Suid-Afrikaner. Nou bewonder hulle weer sy beeldskone dogter wat vanoggend uit die buiteland gearriveer het, waar sy twee jaar studeer het. Trouens, hulle weet reeds alles in verband met Ronelle, want in so ’n klein gemeenskappie versprei nuus gewoonlik soos ’n veldbrand. Selfs die feit dat Ronelle vrye toegang tot die saal se orrel het, is reeds aan die meeste inwoners bekend.
Die gety is vinnig besig om in te kom. ’n Koel, verfrissende bries stoot van die see se kant af oor die dorp.
“Ek sal darem seker elke oggend hier kan kom swem, Pappie, of swem die mense in hierdie geweste nie?” sê-vra Ronelle onderwyl haar oë verlangend tuur oor die wit kruine van die golwe, tot daar gunter waar ’n skip stadig op die horison verbyvaar.
“O, hulle swem ook,” antwoord die vader bedaard, “maar nie hier nie. Die kleedkamer is ’n entjie hoër op, maar dit wil my voorkom of die strand slegs ’n swemplek is vir mans. Trouens, ek het nog nooit ’n enkele vrou hier in die water gesien nie en ek dink dat ’n Portugese vrou stellig nie toegelaat word om in die openbaar te swem nie.”
Hierdie verklaring van haar vader laat Ronelle ’n rukkie met ’n ernstige frons nadink.
Dan sê sy meteens ietwat weerbarstig: “Wel, ek is nie ’n Portugese dame nie en ek gaan my baie beslis nie deur hulle konvensies en gebruike aan bande laat lê nie. Ek kom môreoggend swem. En as hierdie ou nasie nie gewoond is aan ’n vrou in hulle midde nie – ek bedoel nou wanneer hulle swem – sal hulle van môre af maar mooitjies daaraan gewoond moet raak.”
“Wel, ek weet nie wat die Duque daarvan sal sê nie, en ’n mens wil ook nie onnodig moeilikheid veroorsaak nie. Ek stel dus voor dat jy liewer soggens na die mans hier kom swem, en moet tog in hemelsnaam nie hier in een van jou talle bikini-swempakkies kom swem nie. Ek glo nie die Duque sal daarmee genoeë neem nie.”
“Ag, toggie, al weer die Duque. Die man gee my ’n pyn,” laat sy ietwat gesteurd hoor en trek haar mond op ’n plooi.
“Of hy jou ’n pyn gee of nié, ou dogter,” help die oubaas haar geduldig reg, “die man bly heerser van sy koninkryk en sy woord is wet in hierdie kontrei. As jy my raad wil volg, sal jy jou sonder argumente by hierdie mense se gebruike bepaal. Ek sê jou eerlik, Ronelle, ek wil nie graag met die Duque oorhoops lê nie. Hy lyk inderdaad of hy onverantwoordelik kan raak as ’n mens hom werklik die hoenders in maak, sy waardigheid en fynbeskaafdheid ten spyt. Hierdie Latyners is ’n warmbloedige nasie wat nie vir die duiwel sal stuit nie, en die Duque is ’n perfekte voorbeeld. Ek het al self gesien dat hy geen ongerymdheid in hierdie gemeenskap duld nie. Maar kom, ek dink ons moet liewer nou teruggaan. Dit word laat en ek wil nog voor ete die een en ander afhandel.”
Daardie aand kruip Ronelle maar vroeg in die bed omdat haar vader na ete in sy studeerkamer gaan werk het. Tot laat lê sy aan die Duque en al sy eienaardighede en dink, en sy wonder selfs ’n oomblik of sy haar nie maar om haar vader se ontwil soos ’n kluisenares moet gedra nie. Sy sal nie graag wil sien dat haar vader weens haar toedoen by die preutse man in die moeilikheid beland nie. En tog kan sy haar ook nie met ’n kluisenaarsbestaan vereenselwig nie … Nee, die man sal maar net daaraan gewoond moet raak dat sy anders is as die dames van hier rond en dat sy aan ’n vrye en ongebonde lewe gewoond is.
Slaap oorweldig haar eindelik en toe sy die volgende oggend ontwaak, toon haar polshorlosie dat dit al byna tienuur is.
“O, wêreld, Pappie sal aanstons hier wees om my na die saal te neem, en hier lê ek nog steeds in die vere!” roep sy gedemp uit en vlieg uit die bed. “Mensig, dat ek sommer die eerste dag so skandelik verslaap,” gesels sy met haarself onderwyl sy bad en aantrek. “Dis seker hierdie warm klimaat wat my so vas laat slaap het. In elk geval, ek sal my moet roer as ek nog ontbyt wil geniet voor ons ry.”
Ronelle het egter net tyd om te bad en aan te trek, toe hou haar vader voor die deur stil. Sy moet in aller haas ’n paar musiekboeke bymekaarskraap. Gelukkig stel haar vader voor dat hulle eers tee drink, dus kry sy die geleentheid om haar innerlike met tee en beskuitjies te versterk.
Dis byna halfelf toe hulle eindelik na die saal vertrek. Haar vader lyk haastig en Ronelle besef dat hy ongeduldig is om terug te wees by sy glasbuisies, kieme, proefkonyne en virusse. Dis ’n sonde dat die Duque hom so in sy werk steur.
Hulle ry nie eens drie minute nie, toe hou hulle voor ’n indrukwekkende gebou stil. Ronelle kyk hom vraend aan en dan verduidelik hy ongeërg: “Die saal is langs hulle kerk geleë, gevolglik moet ons by die kerk se hek ingaan aangesien dit die enigste ingang na die saal is.”
“Ek hoop hulle hou nie hierdie tyd van die dag kerk nie,” sê sy en kyk half onseker na die groot, stil gebou.
“Toemaar, jy sal niemand steur nie,” glimlag die oubaas bemoedigend. “Kyk, daardie gebou aan die linkerkant van die kerk is die plaaslike skool. Hierdie straat is die hoofstraat en ook die sakesentrum van Braca. Die poskantoor en winkels is almal in hierdie straat geleë, selfs ’n dameshaarkappery.”
Die oubaas merk die verbaasde uitdrukking in Ronelle se oë en gaan ter verduideliking voort: “Hierdie mense is nou wel nougeset en konserwatief, maar baie beslis