Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susanna M Lingua
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624080961
Скачать книгу
Duque sê sy: “Sien jou dan later, Diago.”

      Dis ’n vreemde, stil Ronelle wat nou langs doma Maria in die motor sit. Sy wil liewer nie waag om iets te sê nie, want per slot van rekening is die ou dame Diago se tante, en netnou sê sy dalk dinge wat die ouer vrou mag aanstoot gee. Derhalwe hou sy haar gedagtes vir haarself, maar binne-in haar kook dit van bittere onvergenoegdheid. Sy gaan nou dadelik inpak en saam met haar vader na Johannesburg vertrek. En as sy eers in Johannesburg is, sal Braca haar nie weer sien nie!

      So sit Ronelle en planne prakseer totdat die voertuig voor haar tuiste stilhou. Sy bedank die ou dame beleef vir die uitstappie, sê tot siens en stap die huis haastig binne toe die swart motor deur die hek verdwyn.

      In die huis vind sy haar vader druk besig met die verpakking van flessies en eienaardige glasbuisies. Hy groet haar met ’n breë glimlag en verklaar diep tevrede dat sy harde arbeid darem eindelik resultate begin oplewer.

      “Ek hoor dat Pappie oor ’n uur Johannesburg toe vertrek?” sê-vra sy met ’n sagte stem en ’n verwytende blik.

      “Nie oor ’n uur nie, oor ’n halfuur, meisiekind,” help hy haar reg onderwyl hy onverpoos met die pakkery voortgaan. “Die Duque het my verseker dat sy vliegtuig om twaalfuur gereed sal wees om my na die lughawe te neem …”

      “En wat van my? Moet ek alleen in hierdie verlate uithoek van Mosambiek agterbly?” Sy sluk, voel die trane warm agter haar ooglede brand, en gaan voort: “As Pappie Johannesburg toe gaan, gaan ek saam. Ek weier om alleen hier te bly.”

      “Maar jy gaan nie alleen hier bly nie, my liewe kind,” paai haar vader geduldig. “Jy en doma Maria gaan in die kasteel bly totdat ek terug is.”

      “Maar waarom kan ek nie saamgaan nie?” dring sy aan.

      “Omdat daar nie vir jou plek in die vliegtuig is nie, Ronelle,” verduidelik haar vader nog steeds geduldig. “Kyk, ek besef dat jy omgekrap voel omdat jy ’n week of wat in die kasteel sal moet woon. Maar jy kan ook nie vir ewig in vyandskap met Diago lewe nie, my liewe kind. Om die waarheid te sê, ek dink dit was besonder vriendelik van hom om my sy vliegtuig aan te bied. Nee, ek vrees jy sal jou dié keer na die onvermydelike moet skik, want ek sal nooit toelaat dat jy alleen hier in die huis bly nie. Diago was ook vriendelik genoeg om voor te stel dat jy en doma Maria julle intrek in die kasteel neem. Dus is dit nie ’n geval dat ek hom om die guns gevra het nie. Nee, ek voel heeltemal gerus in die wete dat jy tydens my afwesigheid veilig in sy sorg sal wees. Die man het ’n merkwaardige sin vir verantwoordelikheid.”

      Met ’n verslae uitdrukking op haar gelaat staan sy en toekyk totdat haar vader die laaste flessie versigtig verpak het. Toe lui die telefoon en professor Dekker stap haastig na sy studeerkamer om die oproep te beantwoord.

      “Dit was Diago,” kondig hy aan toe hy weer by Ronelle aansluit. “Die vliegtuig is gereed en alle reëlings vir die vlug is getref. Ons kan dus onmiddellik vertrek.”

      Met groot versigtigheid word die doos met die flessies en buisies na die motor geneem. Dan gaan haal professor Dekker die tas wat Lena vroeër vir hom gepak het en is hy gereed om te vertrek.

      “Ek sal die motor vir jou by die kasteel laat, Ronelle,” sê hy, stop haar ’n klompie note in die hand en groet haar dan met ’n vaderlike kus.

      Ronelle is so verslae dat sy slegs kan sê: “Voorspoedige reis, Pappie.”

      Met ’n bleek, verwese gelaat staar sy haar vader se motor agterna totdat dit deur die hek verdwyn. Toe kyk sy na haar polshorlosie en merk dat dit nou eers kwart voor twaalf is. Werktuiglik plaas sy die geld in haar handsak. Toe tref dit haar meteens dat sy nou heeltemal alleen is op hierdie vreemde dorp, tussen vreemde mense wie se taal sy nie eens verstaan nie en van wie sy slegs twee persone ken – doma Maria en die Duque.

      ’n Lang ruk staar sy stil na die hek waardeur haar vader se motor verdwyn het. Toe oorval ’n intense gevoel van verlatenheid haar en sy sak net daar op die rusbank neer en begin snik asof haar hart wil breek.

      Met haar gesig in haar hande verberg, snik Ronelle so verdrietig dat sy nie eens bewus is van die motor wat voor die deur stilhou nie, of van die lang, breedgeskouerde gestalte wat die stoep betree, en by die aanskoue van soveel verdriet meteens in sy spore vassteek. Al waarvan sy tans bewus is, is die hopelose posisie waarin sy haar bevind, die eindelose pyn diep in haar hart en haar gemoed wat tot oorlopens toe vol is.

      Etlike oomblikke staar die Duque met ’n bleek, strak gelaat die wenende meisie aan. Toe beweeg hy haastig na die bank, neem stil langs haar plaas en sê met ’n vreemde skorheid in sy andersins mooi, diep stem: “Señorita, moet asseblief nie so verdrietig ween nie. Sê vir my, waarom is jy so verskriklik hartseer?”

      Hy wag ’n rukkie en toe Ronelle hom nie antwoord nie, neem hy haar betraande gesiggie teer tussen sy twee hande en lig dit op. Hy staar stil na die neergeslane oë, betraande gesiggie en bewende lippe.

      Toe vra hy weer met ’n baie teer stem: “Waarom is jy so bitter hartseer, pequena – kleintjie?”

      Ronelle is so verdrietig dat dit selfs haar wrewel jeens die Duque oorskadu; daarom laat sy hom met ’n vreemde gelatenheid begaan, want haar gemoed is nog te vol om ’n woord uit te kry.

      Die edelman bring ’n wit sysakdoek te voorskyn en droog haar trane saggies daarmee af, kompleet asof sy ’n baie klein, hartseer dogtertjie is. Maar die trane bly oor haar wange stroom, ofskoon haar snikke nou meer gedemp is.

      Met ’n onpeilbare uitdrukking op sy gelaat steek hy die sakdoek terug in sy sak, sit dan stil terug op die bank en wag dat haar snikke moet bedaar.

      Toe dit uiteindelik gebeur, verlaat hy die stoep en keer na ’n rukkie terug met ’n glasie wyn in die hand. Met sy gewone waardigheid neem hy weer langs die hartseer meisie plaas, neem haar hande van haar gesig af weg en versoek haar sag, besorg om die wyn te drink.

      Soos ’n outomaat gehoorsaam Ronelle en ledig die inhoud van die glasie. Toe maak sy met ’n dik stem verskoning, kom orent en stap die huis binne. Sy begeef haar reguit na die badkamer, waar sy haar gesig met koue water afspoel en haar voorkoms opknap. Daarna keer sy terug na die stoep, waar die Duque nog steeds geduldig op haar sit en wag.

      Hy kom terstond orent, buig sjarmant en nooi haar beleef om te sit – kompleet asof hy die gasheer is en sy die gas. Ronelle voel so hopeloos ontdaan van alle emosies dat sy Diago se uitnodiging werktuiglik gehoorsaam.

      ’n Verdwaalde sug ontsnap uit haar bors toe sy weer op die bank plaasneem. Die jongman neem ook stil langs haar plaas, bied haar ’n sigaret aan – wat sy bedank – en steek dan self een aan.

      ’n Kort rukkie rook hy in stilte, toe draai hy na haar en vra sag, dog besorg: “Waarom het jy so bitterlik geween, señorita? Was dit uit teleurstelling en frustrasie omdat jy ’n paar dae in die Cervantes-kasteel moet woon?”

      Daar is intense weemoed in haar pragtige oë wat die vertes instaar toe sy knik en met ’n moeë stem sê: “Ten dele, ja. Maar u, wat blykbaar nog nooit enige menslike swakheid ervaar het nie, sal seker nie verstaan as ek sê dat ek hopeloos verlate en ankerloos voel op hierdie vreemde dorp, alleen tussen vreemde mense wie se taal en gewoontes ek nie verstaan nie … En nou moet ek ook nog my intrek in ’n vreemde woning neem.”

      Die ligte aanraking van die Duque se hand op haar skouer laat Ronelle haar gesig huiwerig na hom draai.

      ’n Kort oomblik hou sy oë hare stil gevange. Toe kom sy stem sag en bedaard: “Almal is nie meer vir jou vreemd nie, señorita. Jy ken darem al vir tia Maria en vir my. En as jy my dinee eergisteraand bygewoon het, soos jy veronderstel was om te doen, sou jy al die vooraanstaande inwoners van Braca ontmoet het en sou jy nie nou so bitter vreemd gevoel het nie. Maar ek sal persoonlik daarvoor sorg dat jy tydens jou verblyf in die kasteel met die gemeenskap van Braca kennis maak. Ons sal ook almal trag om jou tuis en gelukkig te laat voel. En wat ons taal betref … Wel, dit sal jy tydens jou verblyf in die kasteel gou aanleer. Jy sal ook vind dat ek en tia Maria nogal besonder gewillige leermeesters is.”

      Hy verwyder sy hand van haar skouer en druk die sigaret