Dog die edelman se stem is baie ernstig en streng toe hy weer sê: “Ek vrees hier op Braca gaan sulke manewales jou nie as klein sondetjies toegereken word nie, maar as ongehoorde oortredings. En ek wil nie eens dink aan wat die gevolge daarvan gaan wees nie … Nee, jy sal moet uitskei daarmee …”
“Kom, Diago,” lag sy hom heerlik uit, “moet jou nie oor sulke nietige ou dingetjies ontstel nie. Vergeet daarvan en laat ons liewer oor iets anders gesels … Sê vir my: Aangesien Braca nie oor ’n bioskoop beskik nie, is hier darem seker die een of ander klub of saal waar ’n mens kan gaan dans, of is dans ook hier in jou koninkryk verbode?”
’n Geamuseerde glimlaggie speel nou om die Duque se lippe. Hy kyk Ronelle bespiegelend aan en antwoord vriendelik, bedaard: “Nee, dans word nie hier verbied nie, pequena. Trouens, daar word elke Saterdagaand in die hotel gedans en elke Kersaand en Oujaarsaand hier in die kasteel.”
“Wel, ek moet sê dit klink interessant,” laat sy meer geesdriftig hoor. “Dan sal ek en André darem Saterdae kan gaan dans.”
“Dit sal nie nodig wees om te wag totdat André hier is nie,” laat hy bedaard hoor. “As jy baie graag wil gaan dans, sal ek jou self Saterdagaand neem. Maar dan moet jy my toelaat om jou môre ’n geskenkie aan te bied in die vorm van ’n mantilla, vir môreaand se dinee hier in die kasteel.”
’n Honderd tergduiweltjies dans in Ronelle se oë toe sy gemaak ernstig sê: “Ek vrees ek kan dit nie toelaat nie, Diago. My ouers het my geleer om nooit ’n geskenk van ’n vreemde man aan te neem nie. Is dit werklik nodig dat ek môreaand ’n mantilla moet dra, of probeer jy nou maar net om ’n respektabele dame van my te maak?”
“Ek probeer niks van dié aard doen nie,” maak hy ernstig beswaar teen haar aantygings. “Sonder jou klein sondetjies is jy heeltemal respektabel genoeg. Maar ek laat geen dame saans aan my tafel toe sonder ’n mantilla nie, en dit geld ook vir jou, Ronella. Terloops, ’n mantilla is hier deel van ’n dame se dineedrag, indien jy dit miskien nie weet nie.”
’n Oomblik kyk sy die man stil, berekenend aan. Dan is die duiweltjies terug in haar oë toe sy sag sê: “Dan sal ek noodgedwonge vanaand saam met Carmelita moet eet, en môre, sodra die winkels open, vir my ’n mantilla moet gaan koop. Ek veronderstel my vader het sy motor se sleutels by jou gelaat.”
Die Duque knik bevestigend met sy nat, glansende hoof. “Ja, hy het,” sê hy. “Jy sal dit in my studeerkamer op die lessenaar vind. Ek sal tia Maria vra om jou môre na die winkels te vergesel. En dit is ook nie nodig dat jy vanaand saam met Carmelita eet nie, Ronella. Tia Maria sal jou met plesier van ’n mantilla voorsien.”
“Nou ja,” sê sy toe sy rats orent kom, “dit is seker ook nie betaamlik vir ’n dame om so lank met ’n halfnaak man by ’n swembad te sit en gesels nie, nè? Ek sal moet gaan kyk waar my duenna haar bevind en waarom sy dan nie haar oog oor my kan hou nie.”
Vir die eerste maal sedert sy Diago ontmoet het, hoor sy hom hartlik uitbars van die lag toe sy omdraai en wegstap. Sy glimlag vir hom oor haar skouer, wuif met haar hand en kuier stadig in die rigting van die kasteel.
“Hm, nogal nie ’n onaangename vent nie,” gesels sy saggies met haarself onderweg na die kasteel. “As ’n mens hom net kan genees van sy pynlike preutsheid … Maar is dit moontlik? Hierdie knaende nougesetheid skyn die kern te wees van die konvensies en gebruike waarin hulle opgevoed is. Dit is deel van hul daaglikse lewe, deel van hul eie persoonlikhede … Nee,” besluit sy op lange laas, “aan Diago is daar geen salf te smeer nie. Miskien sou daar nog hoop vir hom gewees het as hy nie die hoof van sy adellike familie was nie … In elk geval, aan my is daar ook geen salf te smeer nie. Aangesien ek ’n gas hier in sy kasteel is, sal ek voorlopig voldoen aan sy wense sover dit my pas. Maar ek weet nie so mooi of hierdie mantilladraery goeie werk gaan afgee nie …”
Ronelle bestyg die treetjies na die voorstoep en vind die ou dame, daar waar sy rustig in ’n leunstoel sit, met ’n pragtige uitsig op die swembad en die kleedkamers …
So, dink sy geamuseerd, dan het my duenna tog haar oog oor my gehou!
Maar van daardie gedagte laat sy niks blyk nie, sy sê slegs vriendelik toe sy regoor die ouer vrou plaasneem: “Ek het gedink u rus nog, doma Maria. Dit was inderdaad onvergeeflik van my om u so alleen in hierdie doolhof van gange en vertrekke te laat. Ek sal stuipe kry as ek alleen hier moet bly.”
Haar woorde lok ’n sagte laggie by die aangesprokene uit. Dog al wat sy sê, is: “Jy is net betyds vir koffie, señorita –”
“My naam is Ronelle, doma Maria,” val sy die ou dame met ’n mooi, vriendelike glimlaggie in die rede. “U kan my gerus ook maar op my naam noem. Diago doen dit wel.”
’n Diensmeisie stoot die koffietafeltjie versigtig tot langs die ouer vrou en ’n paar minute later sluit Diago by hulle aan – nou weer ewe deftig in sy vleklose, wit, tropiese drag geklee. Hulle geniet koffie en beskuitjies.
Daarna draai Ronelle na die ou dame en sê met ’n lewendige vonkeling in haar oë: “Doma Maria, sal u omgee om ’n entjie saam met my te gaan ry? Ek gaan gewoonlik hierdie tyd van die dag strand toe en ek sien geen nodigheid waarom ek hierdie uitstappies nou moet staak nie. Dis so heerlik buite. Kyk net hoe woelig word die golwe en hoe pragtig wit skuim hulle kruine.”
“En waarom kan Diago jou nie vergesel nie, Ronella?” antwoord die ou dame haar met ’n weervraag.
Die aangesprokene skud haar hoof liggies, kyk die spreekster aan en verklaar met ’n sweem van ’n glimlaggie: “Nee, dit sal nooit deug nie. Glo my, ek wil nie graag onbeleef wees nie, maar ek vrees Diago sal net my hele uitstappie bederf. Hy is nog te geneig om my om elke hoek en draai tereg te wys en te bestraf.”
Die ou dame kug in haar hand, wend ’n ernstige poging aan om ’n glimlaggie te bedwing en sê gemaak sedig: “Maar, Ronella-kind, waarvan praat jy nou? Jy gaan tog seker nie die een of ander onbehoorlike ding aanvang nie?”
Weer skud Ronella haar hoof. “Hoegenaamd nie,” antwoord sy goedig. “Trouens, ek vang nooit onbehoorlike dinge aan nie, maar vir Diago sal dit wel onbehoorlik wees. Alles wat ek doen, is in sy oë onbehoorlik, en ek gaan nie my uitstappie laat bederf met ‘Ronella, dis onbehoorlik vir ’n dame om teen rotse uit te klouter,’ of ‘Ronella, ’n welopgevoede dame loop nie in die publiek kaalvoet in die water nie …’ ”
“Is jy seker dit is al wat jy op die strand wil gaan doen, pequena?” kom dit skielik van Diago, wat al die tyd met ’n skewe glimlaggie na haar relaas gesit en luister het.
“Wat anders kan ek daar gaan maak, behalwe om te swem?” sê-vra sy en voeg met ondeunde spot daaraan toe: “En dít, het jy mos vanmiddag al vertel, is ’n onbehoorlike ding om te doen.”
“In daardie geval sal ek jou persoonlik na die strand vergesel,” bied hy vriendelik aan en kom ook sommer dadelik orent.
Hy bied haar sy hand aan en trek haar liggies op uit die stoel. Toe stap hulle geselsend weg na waar sy motor voor die deur staan.
Etlike minute later spoed die Duque se lang sportmotor vinnig in die rigting van die strand, met Ronelle gelukkig en tevrede langs hom.
By die strand aangekom, skop sy haar skoene sonder enige seremonie uit en draf die brekende golfies uitbundig tegemoet. Sy voel soos ’n uitgelate kind met die sagte seebries in haar hare en die sout smaak op haar lippe.
“Kom nader, Diago!” roep sy bo die ruising van die see uit. “Ons gaan nou ’n entjie met die strand langs stap tot by daardie klomp rotse,” sê sy weer toe hy by haar aansluit.
Soos ’n sorgelose kind kuier sy al met die vlak water langs terwyl Diago ’n tree van haar af op die droë sand stap. En telkens weerklink haar laggie helder oor die strand wanneer ’n klippie of ’n verdwaalde seediertjie tussen haar tone verstrik raak.
Toe hulle eindelik die rotse bereik, klim Ronelle so vlug soos ’n dassie bo-op ’n lang, plat rots en gee dan ’n sprong na ’n ander rots