Maar hierdie gedagte hou sy vir haarself en sy antwoord ietwat afgetrokke op sy vraag van so ewe: “Ek vrees ek het ’n ontsettende hoofpyn, señor. Maar dit is werklik niks om ontsteld oor te voel nie. Sover ek weet, het niemand in my familie nog ooit aan ’n hoofpyn beswyk nie, en ek is ook nie van plan om die eerste een te wees nie.”
’n Sweem van ’n glimlaggie pluk-pluk aan die edelman se streng mondhoeke. Maar hy bedwing hom en verklaar besorg: “Jy moet maar dadelik gaan rus, señorita. Ek sal aanstons vir jou ’n paar hoofpynpille saam met jou kamermeisie stuur. En onthou asseblief, as daar iets is wat jou hinder … of iets waaroor jy wil praat, sal ek altyd gereed wees om dit te bespreek.”
Sy bedank hom beleef. Toe los hy haar arm, plaas sy hand liggies onder haar elmboog en lei haar sonder meer na die hoofingang van die fabelagtige kasteel.
Die son skroei moorddadig oor hierdie deel van Afrika, maar binne-in die kasteel se ruim, weelderige vertrekke is dit verfrissend koel.
Hulle betree ’n sitkamer wat luisterryk met antieke meubels gemeubileer is. Die pragtige paneelmure is met massiewe skilderye behang. Kosbare ornamente op groot antieke blompotte, gevul met kleurryke blommerangskikkings, versier die vertrek, waarvan die hele vloer met ’n wynkleurige Persiese mat bedek is. Die swaar fluweelgordyne is van dieselfde kleur as die mat en ryklik met goue fraiings en tossels versier.
Op ’n oulike bankie wat met blou satyn oorgetrek is, sit doma Maria rustig op hulle koms en wag. Sy groet Ronelle met ’n vriendelike “Bom dia, señorita,” en nooi haar dan ewe vriendelik om by haar op die bankie te kom sit.
Maar die Duque laat dadelik van hom hoor deur besorg te sê: “Ek vrees die señorita is ietwat vermoeid en sy het ook ’n ontsettende hoofpyn. As u haar na haar kamer sal vergesel, Tia, kan sy dadelik gaan rus. Ek sal toesien dat haar bagasie na haar kamer geneem word en dat middagete vir haar in die bed bedien word.”
Maar hiervan wil Ronelle niks weet nie. “Señor, asseblief, ek voel regtig nie lus vir middagete nie,” bedank sy beleef. “As u nie omgee nie –”
“Maar ek gee beslis om, señorita,” val hy haar bedaard in die rede. “Soos jy self vroeër gesê het, is ’n hoofpyn nie lewensgevaarlik nie, derhalwe sal jou kamermeisie jou aanstons met ’n ligte maaltyd en ’n glas vrugtesap bedien.”
Ronelle tel tot tien en hou haar in.
Maar toe sy en die ou dame ’n rukkie later alleen in haar weelderige slaapkamer is, draai sy haar onverwyld na die ouer vrou en verklaar met ’n bleek gelaat: “Wel, die hemel alleen weet hoe lank ek dit onder dieselfde dak as señor Diago gaan uithou. Ek dink hy is absoluut onmoontlik en hopeloos onuitstaanbaar. En as hy dink ek gaan hom toelaat om my lewe te regeer, misgis hy hom totaal met my. Hy mag nou wel die hoof van sy adellike familie wees, maar hy is baie beslis nie mý hoof nie! Hy besit hoegenaamd geen outoriteit oor my nie en ek gaan geen bevele van hom neem nie … Verbeel jou, as hý sê ek moet eet, dan móét ek eet! Die man kan gaan doppies blaas. As ek nie wil eet nie, sál ek nie eet nie. En ek wil sien of hy my gaan dwing om te eet!”
“Dit behoort nou lekker koel op die balkon te wees. Ons kan gerus ’n paar oomblikke daar gaan ontspan, señorita,” stel die ou dame voor, met ondeunde pret in haar donker oë.
Sy stoot die dubbelglasdeure oop wat op ’n lang balkon uitlei, wat weelderig met lowergroen potplante, rottangstoele en ’n paar rottangtafeltjies versier is, en nooi Ronelle vriendelik om te sit.
Toe hulle albei gemaklik sit, vervolg sy in ’n gesellige luim: “Neem nou my raad aan en moenie jou so ontstel nie, señorita. Jy gaan jou net onnodig siek maak. Diago is gewoond daaraan om sy sin met alles te kry. Hy is gewoond daaraan dat sy woord wet is en dat sy mense hom gehoorsaam. Moenie eens probeer om die onmoontlike aan te durf nie. Niemand het nog ooit met hom swaarde gekruis en die beste daarvan afgekom nie, derhalwe is dit veel beter om hom as ’n vriend te hê.”
“U lyk … wel … Verskoon my dat ek dit sê, donna Maria, maar u lyk inderdaad geamuseerd. Is dit miskien die penarie waarin ek my hier in die kasteel bevind wat u so amuseer?” vra Ronelle versigtig, dog ook effens onthuts.
“O nee, glad nie,” glimlag die ou dame verontskuldigend. “Maar ek sal jou vertel wat my regtig amuseer … Jare gelede het ek ’n dametjie geken met net sulke mooi kastaiingbruin hare en groen oë soos joue. Sy het ook net so ’n opstandige en stormagtige geaardheid gehad soos jy. Sy was ’n paar sentimeter langer as jy, en byna net so beeldskoon. Sedert ek jou die eerste maal gesien het, herinner jy my ontsettend baie aan haar; trouens, ek sien Diana elke oomblik in jou herlewe, señorita. En glo my, daar was slegs een persoon wat haar kon tem … die man met wie sy later getroud is!” Die ou dame sug, kyk Ronelle met sagte oë aan en glimlag. Dan hervat sy: “Ek was baie lief vir en geheg aan Diana. Haar skielike heengaan was vir ons almal ’n geweldige skok.”
Die ou dame bly meteens stil en dit noop Ronelle om versigtig te vra: “Was … Diana ’n inwoner van Braca?”
“Diana, señorita, was my jongste suster en ook Diago se moeder,” antwoord doma Maria met ’n glimlaggie. “En nou wonder jy blykbaar hoe dit moontlik is dat ’n Portugese dame rooi hare en groen oë kon hê? Wel, ek sal jou vertel. Diana het haar besonderse kleur hare en oë van ons moeder, wat ’n Engelse dame was, geërf …”
Die volgende oomblik is daar ’n sagte klop aan die deur. Op die ou dame se uitroep: “Binne!” gaan die deur oop en ’n jong Portugese meisie maak haar verskyning met Ronelle se middagete op ’n skinkbord. Oombliklik vlam die rooikop se oë weer diep ontstoke.
Doma Maria merk dit en sê haastig: “Dit is jou persoonlike kamermeisie, señorita Ronella. Haar naam is Carmelita en sy kan selfs ’n bietjie Engels verstaan en praat ook.”
“In daardie geval behoort ons goed met mekaar oor die weg te kom,” glimlag Ronelle suur, kom stadig orent en haar oë flits ’n slag oor die keurig gedekte skinkbord. “Die inhoud van jou skinkbord lyk besonder smaaklik, Carmelita,” voeg sy die kamermeisie met ’n stroperige stem toe. “Maar ek vrees ek is nie honger nie, dus kan jy die skinkbord maar terugneem.”
“Verskoon my, señorita,” begin die meisie huiwerig, versigtig, “maar señor Duque het gesê –”
“Asseblief, spaar my ’n relaas van wat jou señor Duque alles gesê het, Carmelita,” val Ronelle die meisie sag in die rede – onbewus van die lang, witgeklede gestalte wat so pas sy verskyning vanuit sy kamer, langs hare, op die balkon gemaak het – en vervolg, steeds met ’n sagte, bekoorlike stem: “Moet asseblief nie so ongelukkig lyk nie, Carmelita. Jou señor Duque behoort te weet dat g’n ordentlike mens met ’n ontsettende hoofpyn middagete kan nuttig nie. Neem nou asseblief jou skinkbord weg –”
“Plaas maar die skinkbord hier op die tafeltjie, Carmelita, en dan kan jy gaan. Die señorita sal aanstons eet,” klink die Duque se stem meteens agter Ronelle op – mooi, diep en bedaard soos altyd. Hy wag egter totdat die kamermeisie die deur agter haar toegetrek het, en vervolg dan sag, onverstoord: “Sit asseblief, señorita, en laat my toe om jou die hoofpynpille wat ek saam met Carmelita vir jou gestuur het, aan te bied.”
Met pynlike waardigheid tree hy in die rigting van die tafeltjie waarop die skinkbord nou pryk, neem die glas water en die twee pille, buig sjarmant en bied dit ewe bedaard vir Ronelle aan.
O, hy is ’n waardige, verfynde, goedgemanierde en beskaafde duiwel! dink Ronelle met smeulende oë. Hy is so onversteurd, kalm en bedaard, maar laat sy nou net weier om daardie pille te neem … O, hy is onuitstaanbaar!
Diago bly langs haar staan totdat sy die pille geneem het en plaas dan die glas terug op die skinkbord. Daarna neem hy die servet op, vou dit oop en bedek die inhoud van die skinkbord sorgvuldig daarmee. Toe trek hy vir hom ’n stoel langs Ronelle s’n en neem sonder meer plaas.
“Ek