Ena Murray Keur 13. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624082125
Скачать книгу
is niemand nie.”

      Ook hierdie saal is iets uit die mitologie.

      Reg voor hulle is dit verlig. ’n Beeld van ’n vrou, Isis oftewel godin van die natuur, staan met een hand omhoog voor hulle. Hulle sluip digby haar voete verby. Die agterste deel van die saal is plek-plek in duisternis gehul. Net aan die verste punt brand ’n enkele fakkel wat sy lig oor ’n groot beeld gooi – Osiris, god van die dood. Wasige wierook omswewe die eensame gestalte. Eindelik laat hulle ook hierdie saal van lig en skaduwees agter en bevind hulle in ’n volgende gang vol fantastiese beelde en voorwerpe.

      “Hierdie museumsaal bevat skatte waarvan die waarde nie in geld bereken kan word nie. Sien jy daardie beeld – die kopstuk van ’n vrou? Dis die een waarvan ek jou vertel het wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Duitsland verdwyn het. Dis die kopstuk van koningin Nefertiti. Die kopstuk en kraag om haar hals is van gepokerde goud en met veelkleurige glas, lasuursteen, groen veldspaat, albas en obsidiaan ingelê,” vertel Hoessein terwyl hulle tussen die menigte kosbare voorwerpe deursluip. “Hierdie ding wat soos die omhulsel van ’n mummie lyk, is die sarkofaag van een van die Ramses-farao’s uit die tydperk van die Nuwe Koninkryk. En in daardie vierkantige goue kis met die Egiptiese tekeninge en hiërogliewe daarop was die sarkofaag met die mummie daarin neergelê.”

      Elmarie het van haar vrees vergeet. Nooit in haar lewe het sy gedroom dat haar oë sulke wonderlike dinge sou aanskou nie. Hier staan ou Egiptiese koetse, rusbanke, stoele, kleipotte met groot handvatsels en nog baie ander vreemde voorwerpe, almal stilswyende getuienis van ’n roemryke verlede. Skielik wonder Elmarie of dit so verkeerd van hierdie mense is om te wil behou wat hul voorvaders bereik het, om te wil besit wat werklik hul erfenis is.

      “Ek begin verstaan hoekom hierdie mense so fanaties in hul strewe is,” laat sy saggies hoor en Hoessein knik.

      “Ja, maar tog is dit ’n strewe wat gedoem is tot mislukking. Hulle sal en kan nooit bereik wat hulle beoog nie. Dit het ook noodsaaklik geword dat hierdie droom vernietig word, want in hul fanatieke strewe gee hulle nie meer om wie hulle vernietig en op watter wyse nie.” Hy begin weer beweeg. “Ons kry nou die woonkwartiere en die selle waar Deon en Marcelle gevange gehou word. Van nou af sal ons dubbel versigtig moet wees. Wagte en slawe is oral rond.”

      “Is hulle werklik slawe?”

      “Nee. Hulle vervul net die poste as slawe omdat dit ’n kenmerk van die ou tyd in Egipte was, maar eintlik is hulle dweepsieke volgelinge van die skarabee-kultus.”

      Elmarie kyk hom ’n oomblik skerp aan. Hoessein praat asof hy nie een van hulle is nie. En tog is hy! Hy het self erken dat hy Nektanebo is. Hy is een van die leiers van hierdie organisasie in sy hoedanigheid as raadgewer van die vrou wat aan die hoof daarvan staan. Ook hý is op soek na die skarabee-hangertjie! Sal sy ooit hierdie man begryp?

      Hulle het reeds die woonkwartiere, soos Hoessein dit genoem het, betree. ’n Groot, leë saal vorm die middelpunt daarvan. Uit hierdie saal lei deure in alle rigtings. Die saal is leeg in vergelyking met die ander waardeur hulle reeds is, maar langs die mure staan rye sarkofae hulle met uitdrukkinglose gesigte en aanstaar.

      “Is hulle almal vol?” vra Elmarie fluisterend en beweeg onwillekeurig nader aan Hoessein.

      “Ek weet nie. Party, weet ek, is eintlik geheime deure. Een van hulle lei na die selle.”

      Hy het skaars klaar gepraat of, as bewys dat hy die waarheid gepraat het, gaan die deksel van ’n regopstaande sarkofaag oop en ’n slaaf maak sy verskyning. ’n Hand skiet blitsvinnig na haar uit en druk haar teen die muur vas. Hulle staan roerloos. As die slaaf nou rondkyk, sal hy die twee beweginglose mensegestaltes op die punt van die sarkofaaggalery sien. Maar hy is blykbaar haastig. Hy verdwyn vinnig by ’n ander sarkofaagdeur in. Elmarie voel ’n sweetdruppel langs haar slaap afrol en ’n bewerige lamheid sak oor haar liggaam toe. Maar Hoessein het reeds weer haar hand geneem.

      Doelgerig sluip hulle op ’n sarkofaag amper in die middel van die ry af. Elmarie voel ’n siddering deur haar gaan. Sê nou maar hy maak die verkeerde een oop en hier staan ’n mummie voor hulle? Dit voel vir haar asof sy kan gek raak van vrees. Sal hulle ooit by die selle uitkom – en as hulle daar uitkom, moet hulle langs dieselfde pad terug?

      Dis toe Hoessein sy hand uitsteek om die deksel oop te maak, dat die sarkofaag skielik oopgaan. ’n Eindelose oomblik van volkome stilte gaan verby. Die wag staar hulle verstom aan. Dan, voordat hy tyd het om te herstel, skiet Hoessein se hand uit en sluit staalharde vingers om die lugpyp om die uitroep wat op sy lippe vorm, te stuit. Eers toe die liggaam slap raak, laat hy die moordende greep om die man se strot skiet en sleep hom deur die donker opening na binne. Hy wys dat Elmarie hom moet volg. Sy is nog nie behoorlik binne nie, of hy trek die deksel agter haar toe. ’n Flou verligte gangetjie strek voor hulle uit. Behoedsaam sluip hulle vorentoe.

      ’n Paar minute later bereik hulle ’n draai in die tonnel. Met sy vinger op sy lippe wys hy dat sy roerloos moet bly staan. Dan sluip hy nader na die hoek. Die twee wagte voor die deur van die sel staan bewegingloos op hul pos. Hy huiwer en staan weer terug.

      “Daar is twee wagte. Ek dink nie jy moet verder saamgaan nie,” fluister hy. Sy wil protesteer, maar hy trek haar in die rigting van ’n donker kol in die muur. ’n Kort, smal gangetjie raak sigbaar en ná ’n paar treë kom hulle in ’n vertrek uit. Dis oorvol van allerhande voorwerpe, almal stukkend. Dis duidelik dat dit die rommelkamer is.

      “Bly hier. Wanneer ons verbykom, sal ek jou kom haal.” Hy sien die naakte vrees in haar oë en trek haar vinnig teen hom vas. “Vertrou my nog net ’n klein rukkie, Elmarie. Ek is trots op jou. Jy was tot dusver baie dapper.” Hy trek sy wysvinger teer oor die mooi geboogde wenkbroue en dan soen hy haar lank en innig. In haar desperate vrees klou sy aan hom vas, wetende dat haar enigste hoop by hom lê.

      Die volgende oomblik is hy weg en Elmarie kyk wantrouig om haar rond. Tussen die klomp rommel sien sy ’n paar sarkofae. Sy ril. Natuurlik sal hierdie goed nie hier neergegooi wees as hulle nog die kosbare gebalsemde lyke van voorvaderlike mummies bevat nie, betig sy haarself tot kalmte, maar sy slaag nie heeltemal daarin nie. Net die gedagte dat hierdie mensvormige doodskiste wel eenmaal die oorskot van mense bevat het, gee haar hoendervel. Hoessein is skaars ’n paar sekondes weg en reeds voel dit vir haar soos eeue. Sy neem op ’n omgeslane kruik plaas, haar gesig na die deur. Sy wag gespanne, haar ore gespits. Die rommelkamer is in skemerdonkerte gehul, want die enigste lig is die flou skynsel van die fakkel wat in die gang brand. Die deurmekaar rommel om haar voete gooi groteske skaduwees teen die mure om haar en in die flikkerende lig lyk dit amper asof hulle beweeg.

      Daarom skenk sy nie veel aandag toe sy een keer omkyk en ’n beweging by een van die regopstaande sarkofae opmerk nie. Sy kyk stip daarna terwyl haar hartklop ’n oomblik verstil het. Dan sien sy die dansende skaduwees teen die mure en sug verlig. Weer betig sy haarself. As sy haar verbeelding vrye teuels gaan gee, sal Hoessein haar rasend mal hier aantref wanneer hy met Marcelle en Deon verbykom; ás hy terugkeer …

      Sy draai terug, al haar aandag toegespits op die gang voor haar. En agter haar swaai die sarkofaagdeksel geluidloos wyer oop. ’n Oomblik staan die spierwit gestalte roerloos. Van sy kop tot by sy tone lyk dit asof hy in wit verbande toegedraai is. Net drie swart gate sit waar die oë en mond is. Die volgende oomblik tree hy uit die sarkofaag en begin met uitgestrekte hande vorentoe beweeg in die rigting van die niksvermoedende meisie. Skielik stamp sy voet teen ’n kruik. Hy ruk tot stilstand.

      Elmarie swaai om, haar oë wydgesper van skrik. Haar mond gaan oop, maar geen geluid kom deur haar keel nie. Haar gelaat verbleek totdat dit net so wit is soos die gestalte voor haar. Die twee hol gate staar haar roerloos aan, die hande nog uitgestrek. Elmarie staan vasgeplant. Haar oë vertel haar dat dit ’n mummie is wat voor haar staan. Haar verstand vertel haar dat sulke dinge nie bestaan nie. Met oë gesper op die wit gestalte voor haar wat stadig weer nader begin beweeg het, begin sy onbewustelik retireer. Dan voel sy iets teen haar rug aandruk en haar hande tas desperaat teen die muur agter haar. Haar bors dein op en neer en in haar nek klop haar pols wild in haar kuiltjie. Sy wil desperaat om haar rondkyk vir hulp, maar dis of sy gehipnotiseer is deur die hol, starende oë wat al nader beweeg.

      Dan, wanneer sy