“Wat het jy haar aangedoen?” vra hy bars, moord in sy oë.
Hatsjepsoet gee een van haar seldsame glimlaggies.
“Ek het haar niks aangedoen nie. Vra haar liewer wat het sy jóú aangedoen!”
Hy frons verward en kyk dan op die meisie in sy arms af, ’n vraag in sy oë wat Elmarie nie kan verontagsaam nie.
“Hoessein! O, Hoessein, vergewe my! Vergewe my!”
Sy hande gly na haar skouers en hy ruk haar van hom af los, sy oë soos gloeiende kole.
“Wat bedoel jy? Hoekom moet ek jou vergewe? Elmarie, jy het hulle tog nie vertel nie!”
“Sy het.” Hatsjepsoet swaai met haar hand in die rigting van die wagte. “Gryp hulle!”
Nooit sal Elmarie die uitdrukking in Hoessein se oë op daardie oomblik vergeet nie. Eers is daar verbystering in hulle te lees, toe ontnugtering en teleurstelling en toe ’n kilheid wat haar hart soos ’n swaard tref.
“Jy het my verraai!”
Elmarie kan net magteloos haar kop skud, terwyl dit voel of die wêreld om haar tot stilstand gekom het. Want op hierdie oomblik besef sy die eerste keer wat hierdie man werklik vir haar beteken en dring die afgryslike wete tot haar deur dat sy hom vir ewig gaan verloor. Laat hy dan alles wees wat Hatsjepsoet haar vertel het, hy bly nog die man wat sy liefhet. Hy het haar vertrou. Sy het hom haar woord gegee en sy het dit verbreek.
Sy kyk nou van Deon na Hoessein. Wat dit ook al was wat sy vir Deon Rabie gevoel het, dit kan nie vergelyk word met wat hierdie vreemdeling in haar wakker gemaak het nie. Dis of sy skielik haar tong terugkry.
“Hoessein, ek het haar nie vertel nie! Ek het haar nie vertel waar die hangertjie is nie!”
“Maar sy het jou gewantrou! Sy het my geglo toe ek ’n klomp leuens aan haar opgedis het! En sy sál my nog vertel waar die hangertjie is, dit kan ek jou verseker!”
“Ek sterf liewer!”
“Ons sal sien.” Hatsjepsoet kyk haar met uitdrukkinglose oë aan. “Ons sal sien of jy nog so seker van daardie feit sal wees wanneer jou geliefde Hoessein se liggaam krul en draai in die rooi offervlam! Bring hulle!”
Hulle word weggelei, elkeen met ’n wag aan die sy. Tevergeefs probeer Elmarie nou Hoessein se blik vang. Dis of hy haar oë doelbewus ontwyk. Sy gesig is strak en sy sien fyn sweet op sy voorkop blink, sy hande in magtelose vuiste gebal. Langs haar stap Marcelle, ’n Marcelle wat ’n oomblik lank die vryheid en lewe voor haar gesien wink het voordat die deur in haar gesig toegeklap is. Agter haar is Deon. ’n Deon wat skielik nie meer omgee wat verder gebeur nie, ’n man wat alle hoop verloor het.
’n Paar minute later bereik hulle ’n saal wat Elmarie nou vir die eerste keer sien. Dis ’n ontsaglike plek met ’n ontsaglike beeld aan die verste punt. Dis Amen, hoofgod, wat met siellose oë na hulle staar, maar vir die groepie gevangenes lyk dit asof sy oë gulsig op hulle gerig is. Rondom hulle val die mense in aanbidding op die vloer neer en die priesters vergader voor die heilige altaar waar die vlammetonge hemelhoog lek, gereed om die offer aan Amen te ontvang.
Hoessein bied geen weerstand toe hy vorentoe gestamp word nie.
6
Met ’n yskoue hart sien Elmarie hoe Hoessein byna struikel. Die volgelinge wat ’n oomblik gelede nog in biddende afhanklikheid voor die groot god Amen neergeval het, het opgestaan en kyk die toneel voor hulle verward aan.
Wesenloos staan die twee susters en Deon Rabie en toekyk hoe twee priesters die plek inneem van die twee wagte aan weerskante van Hoessein om hom verder geleide te doen teen die trap op wat na die altaar lei. Die altaar is ’n groot ronde bak wat deur die god vasgehou word en waaruit rooi vlamme na bo lek en ’n onaardse gloed oor die gedrogtelike steengesig gooi.
Elmarie volg die fors gestalte met beangste oë. Gaan hy dan geen weerstand bied nie? Gaan hy sonder teëstribbeling toelaat dat hulle hom in daardie gloeiende hel ingooi? Sy sidder en haar hande wring krampagtig inmekaar. Dit mag nie gebeur nie! Dit mag nie! Hulpsoekend kyk sy om haar rond, maar al wat sy sien, is Marcelle en Deon se vreesbevange gesigte en die aanbidders wat in vervoering is.
Hatsjepsoet stap vorentoe en draai dan om toe sy reg onder die altaar kom, haar gesig na haar volgelinge gekeer. Sy strek haar hande omhoog.
“Kinders van Egipte, Nektanebo is ’n verraaier!” roep sy uit. “Hy wou die heilige Amen beroof van sy skatte! Amen eis dat hy aan hom geoffer word sodat hy die verraaier se siel vir ewig tussen sy hande gevange sal hou! Hy moet sterf!”
Soos rollende donder beier dit deur die groot saal. Die volk is tevrede. Hatsjepsoet se woord is vir hulle genoeg. Onvoorwaardelik aanvaar hulle dat Nektanebo ’n verraaier is en vir hom wat teen die grote Amen sondig, is daar net een straf: Sy ka sal vir die eeue wat kom, gevange gehou word in die gloeiende kole in die offerbak tussen Amen se hande.
“Hatsjepsoet!”
Elmarie se stem skril bo die gedonder uit en in die lewelose oë van die Egiptiese koningin kom daar ’n lig van oorwinning. ’n Oomblik aarsel Elmarie nog.
“Hatsjepsoet, ek sal jou die skarabee-hangertjie gee in ruil vir Hoessein se lewe!” roep sy uit.
Op die boonste treetjie ruk Hoessein tot stilstand en kyk na onder. Sy blik brand op die blonde meisie.
“Moenie ’n gek wees nie, Elmarie! Sy sal jou enigiets belowe, maar sy sal dit nie nakom nie!”
Elmarie kyk na hom op en haar oë smeek.
“Dis al manier om jou te red, Hoessein!”
“Die skarabee-hangertjie is meer werd as my lewe – of joune! Ek belet jou om te praat!”
Sy laat haar kop sak. Wat Hoessein ook al sê, sy kan nie toelaat dat hy sterf nie! Hoeveel die skarabee-hangertjie ook al werd is, dit kan vir haar nie meer werd wees as sy lewe nie. Hatsjepsoet het intussen stadig nader gekom en terwyl die singende gebede van die priesters op die agtergrond huiwer, kyk die twee vroue mekaar vas aan.
“Wel?”
“Ek sal jou sê waar die hangertjie is, maar dan moet jy Hoessein vrylaat … ons almal.”
“Goed. Maar jy moet eers sê waar die hangertjie is.”
“Nee. Jy moet hulle eers vrylaat. Ek wil eers die versekering hê dat hulle veilig is voordat ek ’n woord sal praat.”
Hatsjepsoet huiwer terwyl sy die meisie opsommend aankyk. Dan gaan haar mond oop om in te stem, maar op daardie oomblik weergalm rou gille deur die saal en sy swaai om. Elmarie se kop ruk omhoog, haar oë wydgerek. Voor Amen se gesig hang daar ’n dik rookwolk wat die gevangene en twee priesters heeltemal verberg. Stadig begin die digte rookkolom wegtrek en agter die newels kan die verbysterde skare net een man sien staan. Daar is geen teken van die twee priesters nie.
Elmarie voel haar bene onder haar lam word. Hoessein lewe nog – of is dit sy gees wat daar staan? ’n Doodse stilte het oor die groot saal neergesak.
“Kinders van Egipte,” praat die stem skielik, “van duisende jare gelede af het die gode hul merk op diegene gesit wat hul volk moes lei – die merk van die skarabee. Ek staan hier voor Amen en as ek ’n verraaier was, sou hy my al vernietig het! Dáár staan jul verraaier!” Sy vinger wys direk na Hatsjepsoet. “Sy vertel julle sy is Hatsjepsoet, opgestane mummie van duisende jare gelede, maar dis ’n leuen! Sy is ’n vrou van vlees en bloed net soos julle …”
“Dis ’n leuen! Moenie na hom luister nie, kinders van Egipte!” roep die vrou woedend uit.
“As jy dan Hatsjepsoet is, moet jy die merk van die gode aan jou liggaam dra,” kap hy skerp terug. “Toon ons die skarabeeteken en ons sal glo dat jy Hatsjepsoet is!”
Die skare se oë het van die man bo by die offerbak na hul koningin gedraai. Die eerste keer ervaar hierdie vrou