“Hoe weet jy hoe hy lyk as jy heeltyd jou rug op hom gedraai het?” vra Martie nuuskierig. “Het jy oë in jou agterkop?”
Arabel is ’n oomblik van stryk en verander vinnig die onderwerp. “Jy en Tess is ewe erg. Dink die son skyn uit al wat broek dra. Is daar nie iets nuttigers om julle mee besig te hou nie?”
“Nie wat ek van weet nie,” grinnik Martie. Sy steur haar nie aan die suur kyk wat sy van Arabel kry nie. Een of ander liefdesteleurstelling, nou loop sy draaie om mans. En die aantreklike nuwe kaptein is blykbaar nie ’n uitsondering nie. Tess sal bly wees, want dis minder kompetisie vir haar. Sy het dadelik haar wimpers vir hom gefladder en haar kleim afgesteek.
Arabel wag tot die laaste minuut voor sy aan boord gaan, totdat sy seker is die vlieëniers is veilig in die stuurkajuit. Sy kontroleer die kroegvoorraad en kleinkas; maak seker dat die BBP-sitkamer op die boonste dek netjies en die toilette volledig toegerus is. Toe die passasiers opdaag, wys sy sitplekke aan, deel koerante uit en bedien vrugtesap. Maar sy doen alles werktuiglik, soos ’n robot wat geprogrammeer is.
Dis nie ’n geval van net die volgende sewe dae moet oorleef nie. Haar toekoms by Jakaranda-lugdiens is ter sprake. Dis hoekom sy Berna probeer voorberei het dat sy moontlik kan bedank. ’n 747-makrostraler is te klein vir haar en Henning. Soos die eenslaapkamerwoonstel in Langebaanweg. Hulle het gedurig baklei. Oor alles gestry, gewoonlik tot hy die rusie kortgeknip het deur haar om te dop en te soen … Dan het sy met alles saamgestem en hom alles vergewe. Hy was ’n wonderlike minnaar. Romanties, sensitief en passievol. Maar hulle kon nie hulle hele lewe lank net op ’n wolk van hartstog en lyflike genot bly sweef nie.
Daar was te veel buitefaktore wat spanning veroorsaak het. Henning het Impalas gevlieg, as lid van die Rooi Arende, die prestige-vliegspan, toe daar skielik tydens ’n roetinemediese toets bevind is dat hy 5/6-visie het. Hy kon perfek lees, selfs die fynskrif; TV kyk, rekenaarwerk doen – alles sonder ’n bril of kontaklense. Maar op die nabootser, op kunsmatige nagvlug, was sy visie 5/6 en dit het hom gediskwalifiseer vir die Arende. Dit was ’n skok, en vanselfsprekend was Henning gestres.
Maar dit was nie háár wêreld nie en sy het nie werklik begrip gehad nie. Sy was heimlik bly omdat hy tydelik gegrond was en oorgeplaas is na die vliegskool se instrukteursafdeling. As instrukteur sou hy van agt tot vyf kantoorwerk doen en naweke tuis wees. Mahogany pilots, oftewel lessenaar-vlieëniers. Sy was bly, maar hy was gefrustreerd en uit sy plek. Hy het hom onttrek en haar vermy; gevoel hy is ’n mislukking en sy vliegloopbaan is verby. Dit het ’n negatiewe uitwerking op hul daaglikse omgang en hul huwelik gehad.
Sy het gedink afleiding sal help; as hulle meer uitkom, gaan fliek of uiteet of vakansie hou … Maar sonder die ekstra inkomste uit lugskouvertonings was daar nie geld nie, nie eens genoeg vir hul daaglikse uitgawes nie. Sy het haar studie opgeskop en gaan werk soek. Sy was jonk, sonder ervaring of kwalifikasies, en al werk wat sy kon kry, was by ’n apteek. ’n Sesdagwerkweek en bitter lang ure.
Saans was sy gedreineer. Permanent moeg en prikkelbaar, en sy’t haar man afgeskeep. Sy kon nie kook nie. Die kos was elke aand ’n mislukking – óf ’n pappery, óf gebrand. Sy het ’n peperduur resepteboek gekoop, maar niks daaruit geleer nie. Henning het probeer help, maar hy het min tyd gehad en nagte deur geswot. Dit het hom geïrriteer dat sy nie kon huishou nie en so onprakties was. Hy het die volkleur-resepteboek deurgeblaai en neergesmyt. Hoe de joos kon sy steurgarnale en brinjal-pastei aanpak as sy nie eens ’n basiese eier kan bak nie?
Die koffie-fiasko in die kafeteria was maar net die begin, dink Arabel. Haar kop gaan uithaak en sy gaan weer dom goed aanvang. Die oonde te warm stel en die aandetes verbrand, of vir die hartlyer koolsuurgas gee pleks van suurstof. Net toe sy begin dink sy is oor die egskeiding en dalk moet sy uit haar dop kruip en arme Peet ’n slag bel.
Hoekom het Henning Reynecke nie vervlaks tussen die kangaroes en bloekombome gebly nie? Haar lewe was goed georden, en nou het hy alles van voor af kom omkrap. Sy wil nie weer by Henning betrokke raak nie. Die gevoel wat sy eens op ’n tyd vir hom gehad het, het saam met die blink resepteboek in die asblik beland. Al wat van die vuur oorgebly het, is ’n ashoop vol seer herinneringe en negatiewe assosiasies.
Sy haat hom omdat sy hom so liefgehad het, probeer sy haar emosies ontleed en die maalkolk van teenstrydighede in haar binneste regverdig. Rym dit, of is sy mal?
Arabel sorteer die DVD’s en help die kelners in die kombuis. Sy hou aan uitstel en ander peuterwerkies doen, totdat Tess naderhand na haar kom soek.
“Hoekom doen jy nie jou vertrekaankondiging nie? Het jy vergeet, of moet die arme passasiers maar self uitwerk hoe hoog en vinnig en lank hulle na Mauritius gaan vlieg?”
Arabel hou haar skielik besig met ys uithaal. “Ek het nie nou tyd nie. Wees ’n engel en gaan kry asseblief gou die data in die stuurkajuit.”
Tess laat haar nie twee maal nooi nie en Arabel voel sommer kwaad – vir haarself, vir Henning én vir Tess, wat eers parfuum aansit voor sy die trap op trippel stuurkajuit toe. Wat de joos gee sy om as Tess hom wil beïndruk? Sy kan Henning op ’n skinkbord present kry. Sy sal gou genoeg haar fout agterkom as hy in een van sy macho-buie is.
Tess bly lank weg. En toe sy uiteindelik van die boonste dek af terugkom, is dit met blink oë en bloesende wange. “Bella-bel?” vra sy, in dieselfde uitasemstem van vroeër. “Hoor jy die klokke?”
“Klokke?” Arabel frons. “Watse klokke?”
“Kerkklokke en orrelklanke, sjampanjeproppe en klinkende glasies.”
“Gaan jy iemand se strooimeisie wees?”
Tess is gegrief. “Ek gaan die brúid wees, vriendin!”
“Veels geluk! Mag daar nog vele meer wees en kinders by dosyne, almal soos tant Koek se hoenderhaan. Het jy die vlugdata gekry?”
“Ja.” Tess oorhandig ’n nota met ’n ry syfers daarop geskryf. “Jy vra nie wie die bruidegom gaan wees nie?”
Arabel wil nie weet nie. “Jy het nie nou tyd om te trou nie,” skerm sy. “Julle moet ’n drankbediening doen, dan aandete en dan koffie. Miskien sal daar later, tydens die fliek, ’n kans wees …”
“Toemaar, spot maar,” verwyt Tess. “Ons is nie almal so abnormaal soos jy, met ysblokkies in ons are nie. Party van ons is van vlees en warm bloed gemaak. Hoor wat ek vir jou sê: Ek het vandag my droom-man ontmoet. My trou-man!”
3
Arabel kyk na die nota in haar hand.
3 uur 10 min. 890 km/h. 11 200 m.
Henning se handskrif. Netjies en akkuraat uiteengesit. In die ou dae sou die presiesheid op haar senuwees gewerk het. Maar sy het verander. Ouer geword. Volwasse geword en noukeurigheid leer waardeer. Die meeste kapteins rammel die inligting af, tussen gesprekke met die beheertoring deur. ’n Mens moet fyn luister en probeer onthou, of vir ’n herhaling vra. Bedagsaam van Henning, erken sy teësinnig. Of dalk was die moeite spesiaal vir Tess, omdat hy gedink het sy is verantwoordelik vir die aankondigings.
Arabel hou haar dom. “Is dit Jaco? Julle sal ’n mooi paartjie maak voor die kansel.”
Tess kyk haar aan asof sy van lotjie getik is. “Jaco? Is jy laf? Hy is so opwindend soos gister se weervoorspelling. Ek praat nie van hom nie, ek praat van Henning Reynecke! Ek het nooit kon droom Kangeroo Jacks lyk só nie … Absoluut die mooiste bekvelder wat ek al ooit gesien het!”
Dit begin Arabel irriteer. “Hy’s nie ’n Aussie nie. Hy kom van Stellenbosch af.”
“Putsonderwater, of waar ook al … Maak nie saak nie. Het jy sy oë gesien? Onthou jy wat ek van Picasso en my blou periode gesê het? Syne is ’n kruis tussen seegroen en hemelsblou, met sulke lang, syerige wimpers. Roetswart. Amper meisie-oë, as dit nie was vir daardie macho mond en sexy lyf nie.”
“Tess!” protesteer Arabel. “Die arme