“Trou met my?” het hy geskree.
Sy kon niks uitmaak nie. “Wát?”
“… trou?”
“Met wie?”
“My! Wie anders? Sal jy?”
Sy het dieper onder sy arms ingewikkel, haar oë toegemaak en gefluister: “My engel, my lief … Ek dag jy vra nooit.”
“Wát?”
“… natuurlik, want jy is my alles en –”
Hy was gefrustreerd. “Ek kan niks hoor wat jy sê nie!”
“… en ek het onmiddellik geweet jy is die man vir wie ek my lewe lank gewag het.”
Hy het haar net daar gelos, in die middel van die dansbaan, en hulpeloos sy hande in die lug gegooi. “Die belangrikste vraag van my lewe, en ek kan verbrands nie hoor wat die vroumens antwoord nie! Arabel, moenie allerhande ander stories praat nie, daar sal later genoeg tyd daarvoor wees. Asseblief, sê net ja of nee. Sal jy of sal jy nie?”
Sy het ja geskree so hard en duidelik as wat sy kon, en ingeval hy nie gehoor het nie, omtrent haar nek gebreek soos sy haar kop op en af geknik het. En toe ’n duim-op-teken ook gemaak, vir die wis en die onwis.
Die soen wat hy haar gegee het, was anders as die mond-tot-mond-asemhaling en oneindig lekkerder. Dit het langer aangehou as op die strand, totdat die ander studente om hulle begin fluit en tel het. Die wonderlikste aand van haar lewe …
Arabel kom stadig terug na die hede, al die pad van Clifton na Mauritius. Sy druk haar kop onder die kussing in. Hoe kon iets wat so vreeslik mooi was so vreeslik verkeerd geloop het? Hoe het dit gebeur? Was dit die beknopte woonstel, die 5/6-visie, die resepteboek of die lang ure in die apteek?
Sy moes harder aan hul verhouding gewerk het. Sy het hom verstoot toe sy hom moes nader getrek het. En al wat oorgebly het, is griewe en verwyte. Dis hoekom sy Henning wil vermy. Want as hulle by mekaar kom, gaan daar weer misverstande en struweling wees.
Sy wonder waar Tess is. Hoekom het Madeleen gebel en nie sý nie? In die verlede sou Tess wou weet wie dié kastige vriende is en hoekom Arabel nie by die visbraai was nie. Nou is sy so opgeklits met die wonderlike nuwe kaptein dat sy haar nie aan haar beste vriendin steur nie.
“Vat hom vir jou, Tessie,” sê Arabel hardop. “Maar moenie by my kom huil as hy belangstelling verloor en nooit daar is as jy hom nodig het nie. As hy na die ander kant van die aardbol verdwyn en nie eens genoeg omgee om jou verjaarsdag te onthou nie.”
Sy prop die telefoon uit en hang ’n kennisgewing aan haar deurknop dat sy nie gesteur wil word nie. Sy slaap tot elfuur, dan bel sy kamerdiens en bestel jogurt en lemoensap. Sy bad en verf haar toonnaels – ’n skel karmosynrooi om haar op te beur.
Hoekom is sy depressief? ontleed sy haarself. Henning kan saam met twintig ander meisies swem of dans of snorkel, hulle vashou en soen, of wat hy ook al deesdae met meisies doen, dit traak haar nie.
Om by haar tone te pas, trek sy ’n nuwe wit kniebroek aan, ’n posbusrooi top en platformsandale wat haar langer laat lyk en selfvertroue gee. Sy sê: “Bonjour, comment allez-vous?” vir die hoteljoggies en stap by die voordeur uit.
Gisteraand se taxibestuurder kom hoopvol nader, maar sy skud haar kop en kies ’n kronkelende voetpad af see toe. Die palmbome staan geboë teen die wind en daar is min vakansiegangers op die strand, maar Arabel gee nie om nie. Sy hou van die wind en sy’s nie lus vir mense nie.
Sy kies koers Curepipe se kant toe, verby die vissersbote en ’n ou skeepswrak wat al ’n leeftyd lê en verweer. Hier is ’n breuk in die koraalrif en die see is ’n onstuimige loodgrys. Dis hoogwater en die brandersproei proe sout op haar lippe. Dit pas by haar luim. Sy skop haar sandale uit en loop agter die krysende meeue aan, tot die wind koud raak en sy beskutting soek in een van die visserskuilings. Sy gaan sit op die sand, met haar kop gestut teen die bamboesstellasie terwyl sy onsiende oor die golwe tuur.
Sy weet nie hoe lank sy daar gesit het nie, toe ’n skaduwee oor haar voete val. “Hallo,” groet ’n stem.
Haar asem ruk in haar keel. Sy het netnou in die verte die lang figuur met die windverwaaide donker hare oor die strand sien aankom en gedink die man lyk bekend. Dis iemand wat soos Henning lyk, maar dis nie hy nie, het sy haarself wysgemaak. Dit kan nie hy wees nie, want hy is besig om te snorkel saam met Tess en Madeleen-hulle.
Hy kom sit langs haar. “Hoe gaan dit met jou?” Arabel voel of sy in ’n dwaal is. Sy draai nie haar kop nie. Sy is bang as sy na hom kyk, verdwyn hy. “Goed, dankie,” antwoord sy asof hy ’n wildvreemde is. “En met jou?”
“Beter, noudat ek jou uiteindelik opgespoor het.” Sy moes geweet het hy sal die inisiatief neem en ’n ontmoeting afdwing. Dis vreemd dat hy dit nie al vroeër gedoen het nie. Dis nie in Henning se aard om dinge aan die toeval of noodlot oor te laat nie.
“Ek het jou gisteraand gebel,” sê hy. “Verskeie kere, en vanoggend weer.”
“Ek was uit.”
“Saam met wie?”
“Vriende.”
“Manlik of vroulik?”
“Dis my saak.”
Hy hou verskonend ’n hand op. “Jammer. Jy’s reg, dit het niks met my te doen nie.”
Die stem klink soos in haar drome ná die egskeiding, toe sy haar kort-kort verbeel het sy hoor Henning se stem by die voordeur of langs haar bed. Maar hierdie is nie ’n hallusinasie nie, en dis ook nie dat sy nog deur die slaap is van die pille wat sy gedrink het nie. Dit ís hy. Ná ses jaar …
“Op Johannesburg-lughawe het ek vroeg aangeteken en jou gaan soek: by kajuitdienste, doeane en toe in die kafeteria, maar jy het jou rug op my gedraai en weggestap.”
Wat het hy verwag – dat sy hom moes omhels? Arabel dwing haarself om kalm te bly. “Daar het koffie op my romp gestort, wat ek moes gaan skoonmaak.”
Hy lyk nie oortuig nie, maar aanvaar haar verduideliking.
“Ná opstyging was ons te besig dat ek die kontroles kon los, daarom het ek gevra jy moet asseblief stuurkajuit toe kom, maar jy wou nie. En toe ek in die BBP-sitkamer tyd gemaak het om met jou te praat, het jy in die toilet weggekruip.”
“Ons was besig om te daal,” verweer sy haarself.
“Ek weet, ja, dis hoekom ek nie vir jou kon wag nie. Op Plaisance was jy nêrens in sig nie, nie op die bus of by die hotel nie … Tess het gesê jy gaan stap graag langs die see, toe vat ek ’n kans, gehoop ek sal jou hier kry waar dit stiller is.”
“Stiller?” vra sy.
“Ja, sodat ons rustig kan gesels.”
“Hoekom?”
“Hóékom?” Hy klink ongeduldig. “Magtag, Arabel, wat dink jy? Dit was sés jaar! Vanselfsprekend omdat ek jou wou sien en met jou wou praat. Wat anders?”
Nee, dis nie ’n droom nie, want dis Henning soos sy hom onthou. Tipies hy, om die hele ent pad te loop net om weer ’n argument te wen. Sy kyk na die verbleikte denimbroek langs haar op die sand. Lang bene en kaalvoet. Hy het altyd graag kaalvoet geloop. Die eerste ding wat hy gedoen het as hy tuis kom, was om sy skoene uit te skop. Soos nou …
“Waaroor te praat?”
Hy kyk fronsend na haar. “Arabel? Hoe klink jy so vreemd? Wat makeer?”
“Niks.”
Hy leun oor en druk sy hand teen haar voorkop, soos daardie dag op Clifton. “Is jy koorsig?”
Sy aanraking voel soos ’n gloeiende yster wat haar brand. Maar sy ruk nie weg nie. “Ek het pille gedrink, dié dat ek skimme sien. Ek sal netnou beter voel.”
“Pille?” vra hy skerp. “Is jy nou op pille? Watse pille?”