’n Vriendin wat by Rape Crisis werk, het vir Monica vertel van die swaarkry van getraumatiseerde kinders. Vroue ook. Wat kan ek doen om te help? wou Monica weet. Maak vir my bere, was die antwoord. Die gevolg was ’n hele klomp terapie-teddies. Veilige vashoubeertjies waarmee ’n bang kindjie kan speel en vir wie ’n mens alles kan vertel wat met jou gebeur het, amper sonder dat jy agterkom jy het nou uiteindelik daaroor begin praat. Want dit is so moeilik om die regte woorde te kry wanneer ’n mens die slegte goed vir grootmense moet oorvertel of probeer verduidelik wat met jou gebeur het. Maar ’n beertjie hoor en verstaan en troos en gee nie om vir gebreekte woorde nie.
Ook vroue wat slagoffers was van gesinsgeweld of verkragting het baat gevind by ’n beertjie. Party van hulle kon daarmee weer iets van ’n lankverlore onskuld en geborgenheid teen hulle vasdruk; ander kon die onverwoordbare teen ’n venynlose teddielyfie uitstamel of uitskreeu.
Daar was eenkeer ’n man, vertel Monica, ’n hawelose gestremde man. Hulle het haar eendag gebel en gevra of sy sou omgee as hulle vir hom ook ’n beertjie gee. Agterna laat weet hulle hoe verstom hy gevra het: Is it really mine? May I keep it for good?
Dan was daar ook die bejaarde weduwee Joubert wat sonder kind of kraai agterbly. Toe hulle vir haar ’n teddie gee, het sy weer iets om vas te hou; gesels sy land en sand met hom. Vernoem hom selfs na haar oorlede man, soos ’n kleinkind.
Ja, erken Monica, sý gesels ook met die beertjies. Terwyl sy hulle maak, ontwikkel elkeen sy eie karakter onder haar hande. Die neusie sit dalk net so effe skeef, of die oortjies spits so kordaat, ene persoonlikheid. Ek weet, ek weet. Ek onthou dan my eie teddie so goed! Hy was perfek. Al was sy een arm ’n bietjie stram en sy pels al kol-kol skif gespeel.
Dié dat ek die dag toe ek my ma se make-up beetkry, maar liewer op my sussie se teddie geoefen het as op my eie. Net ingeval die blou oë en rooi lippe hom so vreemd sou maak dat hy my nie meer kon troos nie.
5. Die soet, sóét genade van klank
Verbeel jou jy sit op ’n Sondagmiddag aan die familietafel. Dis rumoerig. Almal lag en gesels vrolik. Eetgerei klik-klak, glasies klink. Stemme vloei welluidend. Musiek murmel tussendeur; gedemp, strelend. En eensklaps raak alles net morstjoepbotdoodstil. Jy hoor NIKS!
Dit het met Maurien Rautenbach gebeur. ’n Senuwee-doofheid wat so skielik toegeslaan het dat sy die een oomblik nog alles kon hoor en die volgende oomblik, letterlik die volgende sekonde, sien sy net hoe haar familie se monde beweeg, maar sy hoor geen geluid nie. NIKS!
Sy was toe in haar twintigs. Haar tweede kind was maar nege maande oud. En die NIKS het vir 43 jaar geduur …
Haar man, George, was ’n predikant. Sy was die orrelis. Begaafd, en so bevoorreg om by van die bestes te kon les neem. Bladlees is met Bach se fugas vir ewig in haar brein vasgelê: senuweepaadjies wat in haar jong jare gebaan is sonder dat sy geweet het hoe nodig sy hulle later in haar lewe sou kry.
Toe die doofheid kom, het sy vir twee jaar ophou orrel speel. Sy kon dan nie hoor nie. Dit sou mos nie werk nie. En die lewe het aangegaan. Hulle het nog twee kinders gehad, maar toe is daar een Kersfees nie ’n orrelis beskikbaar nie en George vra: Sien jy kans om te probeer speel?
Sy was eers ’n bietjie skrikkerig. Sy wou nie droogmaak vir die Here nie. Maar toe sy begin speel, was sy verstom om te ontdek haar koördinasie, haar gevoel vir die orrel, was steeds daar. Haar vingers was nog ewe vaardig, haar voete ewe vlug. Haar kop en haar hart kon nog steeds die musiek hoor, al kon haar ore nie.
Dit het gewerk. Sy het ’n spieëltjie by die orrel gehad. George het vir haar seine van die kansel af gegee: Begin nou; harder, sagter; mooi so! Sy moes net sorg dat sy die musiek baie goed ken sodat sy hom kon dophou eerder as om heeltyd op haar hande of die note te moet kyk. Later jare het haar musikale kinders gehelp en dit het aanhou werk, vir meer as 40 jaar. Die mense het gesê: Ons sing so lekker!
Maurien se dogter het mettertyd begin wonder oor kogleêre inplantings; of dit haar ma sou kon help om weer te hoor. Dit sou. Wel net aan die een kant en nie albei nie, maar dit sou beslis. Dit sou ook ’n plaas se geld kos. Met ondersteuningsbriewe van die medici het sy begin fondse insamel. Al die gemeentes waar hulle oor die 43 jaar was, al hulle vriende, het ingespring en bygedra om die operasie moontlik te maak.
Die dag toe hulle die apparaat aanskakel, was Maurien se dogter en een seun by. ’n Mens hoor aanvanklik net klanke. Deurmekaar geluide wat galm en nie noodwendig sin maak nie. Jou brein moet eers weer leer om dit te dekodeer. Maar vir die eerste keer in jare kon Maurien weer die stemklank van haar spruite hoor. Sy het altyd gewens sy kon weet hoe haar volwasse kinders se stemme klink.
’n Paar maande later kuier sy by vriende. Hulle speel vir haar musiek, en veral André Rieu se opnames van die bekende melodieë waarmee sy grootgeword het. Iewers, het hulle geglo, sou haar brein helder klanke begin onderskei uit die warboel en weer die wysies herken. Dit gebeur toe op die dag wat hulle luister na Rieu se unieke opname van “Amazing Grace” – die hoendervleis-ene met die begeleiding van 300 doedelsakke wat by die Waldbühne gemaak is. Daardie dag kon Maurien vir die eerste keer ’n melodie weer duidelik, skoon, klinkklaar hoor: Amazing Grace, how sweet the sound!
6. Genade se gelukkige gesig
Só gelukkig is ’n mens nie aldag nie – dat jy betyds en duidelik gewaarsku word oor ’n spoedlokval en dat jy ’n sak vol verlore geld … Wag, wag, wag, ek loop myself nou vooruit. Laat ek eerste vertel van die tydige spietkop-waarskuwing: Beaufort-Wes is berug vir sy spoedkameras, dit weet ons almal. Ook dat hulle jou vir so ver teen 60 kilometer per uur laat ry dat jy soms weer skoon vergeet van die beperking en dat jou voet algaande weer slapper en swaarder raak. En dan klits daai bloubaadjies jou!
So kruie ek een middag die dorp in. Rondkyk-rondkyk na die hordes gaste- en slaghuise en daarom effe spoed-onbedag. Skielik spring ’n man reg voor my kar in. Gelukkig nie die spietkop nie, maar ’n goed gekletterde local. Hy swaai sy arms woes. Beduie vir my: Kyk, kyk hier reg langs die pad onder die boom, verskuil in die skadukol – hier sit die spietkop, kamera en al. Ek vang die verraaide verkeersman se oog. Hy is nie kwaad nie. Hy lag.
Die storie van die sak vol geld is ’n ander een. Dié hoor ek toe ons langbeen op ’n plaasstoep buite Sutherland sit. Johan vertel hoe sy jonger suster, wat in die Strand woon, haar kar verkoop het. Sommerso uit die hand uit. Die koper bring vir haar die R20 000 kontant in ’n plastieksak toe hy die aand die kar kom haal. Sy, dierbaar en goedgelowig, tel dit nie eens nie. Vat dit net so.
Die volgende oggend stuur sy hulle ouer suster met die geld bank toe. In die sak met die klomp kontant sit sy ’n inbetaalstrokie – volledig ingevul met, onder andere, haar naam en telefoonnommer as verwysing. Ousus gaan egter toe nie dadelik bank toe nie. Op pad soontoe loer sy eers by ’n blommewinkel in, maar die plastieksak is veilig oor haar arm gehaak.
Toe sy ’n rukkie later by die bank kom, besef sy skok-skielik: Die sak is weg! Dit hang nie meer aan haar arm nie! Sy vlieg terug blomwinkel toe. Ja, sê die vrou wat daar werk, sy onthou die dame het ’n plastieksak by haar gehad. Maar, nee, sy het dit nooit in die winkel afgehaal of neergesit nie. En sy het beslis weer daarmee by die winkel uitgeloop.
Ousus soek haar simpel. Oral. Sypaadjie-langs, haar hele roete. Die sak is skoonveld. Wat nou? Hoe sê jy vir jou kleinsus jy het haar R20 000 per ongeluk verloor? Toe sy die naarwordnuus uiteindelik aanhoor, vertel Kleinsus, het sy net gebid: Here, hou my kalm.
Toe SMS ’n vrou: “Bel my dringend in verband met pakkie.” Kleinsus het dadelik geskakel; afgespreek waar en wanneer sy en die vrou mekaar