Zip!. Nataniël. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nataniël
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798174251
Скачать книгу
was ’n pragtige baba, het Ouma gesê, Wat het die wêreld met hom aangevang?

      Toe alles verby is en daar niemand meer was nie, het ek en die niggies teruggeloop swembad toe. In ons rokke. Ons het in­gespring. Ons kon nie swem nie en ons kon nie sink nie. Ons het gedryf soos hartseer ballonne ná ’n verskriklike partytjie. Ons het nie gepraat nie, ons het agteroor gedryf en dié met hare het hulle s’n nat laat word, ek het ’n klein bietjie gepiepie.

      Ons het geweet ons sou eendag hieroor praat, maar nie nou nie, vir nou het dit net gevoel soos reën.

      (uit die Factory-verhoogproduksie, 2013)

      HONDJIE

      Een van die eerste reekse wat ooit op Suid-Afrikaanse televisie gewys is, was ’n oorgeklankte reeks uit Duitsland. Dit het ge­handel oor die mense wat deel was van ’n sirkus, die hoofrolle was die trapeze-kunstenaars, Die Vlieënde Trocaderos. Ons het in Langenhovenstraat gewoon en ons bure was die heel eerste mense in die buurt met ’n televisie. Saterdagaande het hulle stoepkamer gelyk soos ’n dwelmkommune, want daar was omtrent sestig mense op hulle mat.

      Ek was op hoërskool en tot op daai stadium ’n baie gehoor­same tiener sonder buie of behoeftes. Totdat die sirkus­program verskyn het. My lewe het begin draai om Saterdagaande, ek kon nie wag om voor daai televisie te sit nie. Dit was nie die ver­haal wat my geboei het nie, maar die feit dat die Trocaderos die hele tyd tights aangehad het. Nie net as hulle in die tent rondswaai nie, maar ook in hulle karavane, as hulle eet, of gesels of baklei. Die hele televisie was net vol liggaamsdele. So ook my gedagtes, elke dag, heeldag. En snags my drome.

      Ek het begin opstandig raak. Ek kon met niemand regkom nie, ek het met alles fout gevind. My ouers was gedaan, maar ek wou niks weet nie. Ek wou net Duitsland toe, ek soek tights. En liggaamsdele.

      Daardie tyd het my pa los werkies gedoen naweke want hy was mal oor handwerk. Hy was gedurig besig om iemand te help met sweis of meubels afskuur of enjins regmaak. Op ’n dag hoor ek hy sê vir my ma sy moet asseblief nie daaroor praat nie, maar hy moet die Swede gaan help om ’n groter bed te sweis vir die ouma, sy woon by hulle maar kan nie meer regkom op ’n gewone bed nie, siestog die mense sukkel al klaar om aan­vaar te word, niemand weet eens hulle werk by die sirkus in Goodwood nie.

      Ek val amper flou. Ek strompel duiselig kombuis toe, al wat ek kan sien is Swede in tights. Ek het nooit geweet hulle is by die sirkus nie.

      Meneer en Mevrou Swakkerboel was ’n Sweedse egpaar wat net ’n blok van die Suidkerk gebly het, maar niemand het met hulle gepraat nie, want hulle het nie kerk toe gekom nie. Nie­mand het daaraan gedink dat hulle nie ’n woord sou verstaan nie. Hulle het drie kinders gehad wat nie skool toe gegaan het nie. Twee seuns, Afdak en Kagon, en ’n dogter, Sweedkol. (’n Mens spel dit met ’n d.)

      Sweedkol was baie lank en kon haar liggaam in enige rigting buig. Partykeer het sy heeltemal slap oor hulle heining gehang, dan het motors by tuine in of in mekaar vasgery. Niemand het geweet dit gaan oor die sirkus nie. Afdak en Kagon was net ouer as ek, maar het baie groot arms gehad, partykeer terwyl die kerkdiens aan was, het hulle van die motors kom oplig, dan het die koster kom skree hulle steel weer parte. Niemand het geweet dit gaan oor die sirkus nie.

      Ek vra toe my pa of ek kan saamry as hy die bed gaan sweis. My pa skrik so groot dat ek in iets anders as televisie belangstel dat hy my eers dokter toe vat en toe ry ons na die Swede. Swede is baie geheimsinnige mense, behalwe vir Ursula Andress, Björn Borg en Ryk Neethling weet ek tot vandag toe niks van hulle af nie.

      Ons ry drie keer verby die huis voor ons dit herken. Voor in die tuin staan nou ’n reusetent. In my maag begin eenduisend skoenlappers met die volkslied. Tent beteken trapeze en trapeze beteken tights. Ons hou stil. Meneer en Mevrou Swakkerboel kom uit die tent. Hulle praat saggies met my pa.

      Hulle sê jy kan nie in die tent kom nie, sê my pa, Dis nie vir kinders nie. Hulle sê die ander kinders is agter die huis, jy kan soontoe gaan.

      Ek is vies, maar ek loop om die huis. Agter in die tuin is Afdak en Kagon aan die oefen. Hulle breek bakstene met hulle oogkasse. Sweedkol is opgefrommel in ses verskillende rigtings binne-in ’n baie klein hoenderhok. Ek stap nader, maar ek kan nie Sweeds praat nie. Ek beduie: JY IS BAIE GOED.

      Is hy doofstom? sê Kagon.

      Nee, dis seker ’n mofkind, sê Afdak.

      Ek gaan sit op ’n boomstomp. Afdak kom sit langs my. Hy het baie groot spiere, ’n baie bleek vel en spierwit wenkbroue soos ’n jong kweper.

      Ek beduie net vir haar sy’s baie goed, sê ek.

      Sy’s nie goed nie, sê Afdak, Sy’s gehok. Dis oor Nanna Snuifer­jak.

      Ek het gedink julle praat net Sweeds, sê ek.

      Ons is hier gebore, sê Kagon.

      Wie is Nanna? sê ek.

      Ons ouma, sê Afdak.

      Wat makeer sy? vra ek.

      Sy’t Alzmeisters, sê Afdak, Sy kan niks onthou nie, toe’t ons suster ons steroids en hormone in die verkeerde blik gelos, toe’t Nanna Snuiferjak alles opgeëet. Nou is sy baie groot.

      Hoekom het julle hormone? vra ek.

      Ma en Pa Swakkerboel balanseer op mekaar se koppe en ons twee lig karre, sê Afdak, Ons moet sterk wees. Suster is vies want sy kan net buig soos ’n hoepel, dan spring die hond deur haar.

      Ja, sê Kagon, Sy wil ook gevaarlike truuks doen. Met ’n baie groot hond.

      Die grootste hond in die wêreld! skree Sweedkol uit die hok.

      Toe begin sy ons pille vir die hond voer, sê Afdak, Ek dink haar brein is ook gebuig, want sy steek dit weg in die koekblik, toe vrek die hond en Nanna dink dis sweeties.

      Is julle ouma baie groot? vra ek.

      ’n Kar kan onderdeur haar ry, sê Kagon, Ons moes ’n tent koop. Dis ’n groot gemors.

      ’n Baie groot gemors, sê Afdak, Sy eet nou twee emmers vis op ’n dag.

      Is sy ook in die sirkus? vra ek.

      Afdak staar na my. Toe kyk hy na Kagon. Toe spring al twee op en hardloop om die huis. Ek het vir ’n tydjie bly sit, toe’t ek die hoenderhok gaan oopmaak. Sweedkol het oopgerol soos toiletpapier in ’n koshuis en toe’s sy ook om die huis.

      Ek het hulle nooit weer gesien nie, maar drie weke later het ons ons uitgaanklere aangetrek en toe’s ons in die kar Goodwood toe. Dit was ’n ongelooflike aand. Daar was meer tights en lig­gaams­dele as in enige televisieprogram, daar was mans met lang messe en ongelooflike mantels, ’n vrou met een oog het ’n emmer vol gehuil en ’n dwerg met groot voete kon ’n fak­kel op 20 meter doodspoeg. Toe het ’n verskriklike groot hond verskyn. Die mense het na hulle asems gesnak en benoud agter­toe gesit, maar ek het geweet dis ’n ouma met ’n koekblik se hor­mone. Afdak en Kagon het in klein Sweedse broekies verskyn en allerhande toertjies gedoen. Sweedkol het gebuig dat die vrou agter ons gevra het hoeveel kos ’n ruggraat en kan ’n mens dit kom aflaai.

      Ek het ’n groot les geleer, die les wat my gemaak het wie ek nou is. As mense na jou staar of jou nie aanvaar nie of snaaks praat oor jou is dit heeltemal in die haak. Solank hulle net vir jou hande klap.

      (uit die Factory-verhoogproduksie, 2013)

      REVEREND H

      The world changes all the time and more and more people or situations become acceptable every day. But although we might not always say it out loud, we are still not really comfortable dealing with people who are the opposite of what they do, like a very thin chef, a bald