“Ek weet uitbreiding is goed, Meneer, maar as ek vandag my sê mag sê: Ek was lank bitter oor daardie sentrum. Ek gee nie om as dinge verander nie, maar ek hou nie daarvan dat ou geboue platgestoot word nie. Die landbousaal is tot op die grond afgebreek, kompleet met al die herinneringe saam. Dink aan al die troues en onthale wat daar gehou is, al die matriekdanse. Later, nog in die dae toe ek pas hier aangekom het, is dit as lokaal vir die matrieks se eindeksamen gebruik, want dit was stil, weg van die geraas van die hoërskool se klokke en pouses daar bo teen die berg.
“Maar laat ek terugkom by die bokse: In daardie einste fotoboks is ook ’n klomp skoukoninginne – voormalige wenners van die landbouskou se skoonheidskompetisie – voordat die Meganisasie-week in September so groot geraak het. 1982 se meisie poseer in ’n ligblou bikini. Sy vly haar aan teen ’n 1976-Ford Cortina, die hare gedoen in vet krulle, die ooglede swaar onder blougroen grimering. Dieselfde skakering as die bikini.
“Waar ek daar op die solder in die dakvenstertjie se lig tussen die ou skoolverslae en dorpsfoto’s rondgeblaai het, het ek die grootsheid van die geleentheid op hande besef.
“Maar ek het ook geweet dat daar by my, in hierdie museum, behalwe die skets van die ou man met die visserspet en die portret van sy vrou, in daardie stadium niks was wat ek die koerant kon bied nie.
“Wat sou u gedoen het, Meneer die Voorsitter? As u daardie dag in my skoene was? Ek het nie ’n benul gehad wat my te doen staan nie. Maar een ding het, soos ek reeds genoem het, vir my soos ’n paal bo water gestaan: Dit was my kans om die Skeepswrakmuseum – en deur die museum ook die dorp – onder die hele Suid-Afrika se aandag te bring. As ek dáárin kon slaag, kon ek die museum van finansiële ondergang red. Dít was my doel!”
“Meneer die Voorsitter. En toe tref dit my. Tussen die oë! Daardie selfde aand nog het die antwoord na my toe gekom. Of nou nie juis ’n antwoord nie. Eerder net onthou. Was ek in my skik! As daar nou een ding is wat ek hét, dan is dit ’n geheue soos ’n olifant. Al moet ek dit self sê, Meneer die Voorsitter. En die vermoë om probleme op te los. Dít was nog al die jare my behoud. Ek glo dit sal vandag ook my behoud wees. En dit was daardie dag my behoud. Dit het ek geweet.
“Ek sou my storie moes ken. Ek sou moes navorsing doen. Oplees. Oor Skipskop alles uitvind wat ek kon. Vasstel waarom die plek oor die afgelope dekades vir oud-Skipskoppers ’n byna mistieke kwaliteit aangeneem het. Ek sou die geskiedenis moes naspeur en opteken. Ongekarteerde gebied, so het ek aanvanklik gedink. Maar toe nie! Iemand het klaar die optekenwerk gedoen. Ek moes dit net gaan opdiep. Maar dit sou ek eers later uitvind.
“’n Plan, Meneer die Voorsitter. Dit is wat ek nodig gehad het. ’n Haas om van iewers uit ’n hoed te pluk.
“Die boekie hier neffens my. Hierdie een. Ken u dit, Meneer? ’n Vrou het dit eendag hier kom afgee. Dis ’n boek oor Skipskop. Die vrou wou weet of ek, wat juffrou Visagie is, nie ’n paar van die boekies hier op die museumtoonbank wou uitstal en te koop aanbied nie. Die museum sou selfs ’n persentasie van die opbrengs kon kry, het sy gesê.
“Maar ek ken my customers. Ek sal nie nee sê vir ’n moontlike inkomste nie, Meneer, maar ek het mos geweet hoe stil dit hier was. En die besoekers wat wel gekom het, hulle sou nie geld op boeke uitgegee het nie. Maar ek wou die vrou nie in die gesig vat nie. Los een van die boekies hier, het ek gesê, dan kyk ons hoe dit gaan. Ferm. Sodat sy dit nie sou waag of oorweeg om teë te praat of ’n ekstra boekie in te glip nie. U weet mos nou hoe voel ek oor ’n ding wat lê en stof vergaar. Ek hou van ’n geordende lewe. Of, as ek terugkyk op die gebeure van die afgelope ruk – die rede waarom ons vandag hier sit – moet ek seker liewer sê ‘ek hét van ’n geordende lewe gehou’.
“Een ding wat ek oor die jare van geordend leef geleer het, Meneer die Voorsitter, is dat ’n mens beheer moet neem. Beheer oor die groot dinge, maar ook beheer oor die klein goedjies. Soos watter en hoeveel boeke op ’n toonbank uitgestal word. Staan op jou beginsels en staan op jou regte. En die belangrikste: Bly by jou feite!
“Meneer die Voorsitter, van die punt af. Het u al ooit in ’n skakelhuis gewoon? Soos die ene waarin ek bly? Daar is maar ’n dun muur tussen jou en jou bure. Nou verstaan ek die ou dame wat voor my in my kant van die huis gewoon het, was stil en hardhorend. Ek is ook stil, maar ek is beslis nie hardhorend nie.
“Meneer, wat ek jou nou hier vertel moet asseblief maar tussen ons bly. Ek weet u moet hierna ’n verslag met aanbevelings aan die raad voorlê, en dat dit oop sal wees vir besigtiging deur die publiek. Hier in die museum sal hulle kan kom kyk. Daarom vra ek u om u pen asseblief eers neer te sit. Wat ek u nou vertel, vertel ek aan u mens tot mens; nie as juffrou Berdina Visagie wat by die voorsitter van die Museumraad om haar loopbaan pleit nie.
“Meneer, hoe verstaan u die verskil tussen luister en hoor? Soos ek dit verstaan is luister doelbewus. Hoor, daarenteen, is onwillekeurig. Nou, in so ’n skakelhuisie hóór ’n mens baie dinge sonder dat jy daarvoor luister. Onwillekeurig.
“Ek sal byvoorbeeld in my sitkamer sit en my buurman – u ken hom, die horlosiemaker – se gesprekke van die dag woord vir woord hoor.
“Al elf jaar lank, sedert ek hier op Bredasdorp aangekom het, volg ek – en ek moet weer die woord ‘onwillekeurig’ byvoeg – my buurman se weë. Saans, wanneer dit donker word en almal hulle voordeure en vensters digtrek om met hul binnekamerdinge te begin, sit ek daar in my sitkamertjie en hoor ek onwillekeurig die gesprekke tussen my buurman en sy vriende aan.
“Sy boesemvriend, soos u seker weet, is die begrafnisondernemer. Saans is dié gewoonlik maar daar langsaan. Kan u u verbeel hoe ek op die eerste aand ná my intrek rustig agteroor gaan sit het met ’n blokkiesraaisel? Vir ontspanning, sodat ek kon slaap. Ek sukkel tog altyd so, die eerste paar aande in ’n vreemde omgewing. Ek verbeel my aan die onderkant van die raaisel was daar ’n woord wat ek maar net nie kon uitpluis nie. Wat die leidraad was, kan ek nou nie meer onthou nie. Ek onthou net ek het nog so na die leë blokkies gesit en staar toe ek skielik, hier reg langs my, in die vertrek aan die ander kant van die muur, voetstappe hoor. Die gekraak van ’n stoel toe iemand gaan sit. Nog ’n paar voetstappe.
“‘Is sy toe in?’ het ’n stem langs my gevra. Ek het dié stem gou leer ken as die ondernemer s’n.
“‘Lyk so, daar hang gordyne voor die vensters,’ het ’n ander stem, my buurman s’n, geantwoord. ‘En daar staan ’n wit Uno langs die huis.’
“Ek het my wange voel brand. Dit was toe mos vir my duidelik daar word oor mý gepraat. Ek kon seker ’n lawaai gemaak het sodat hulle kon hoor daar is iemand aan die ander kant wat hoor. ’n Stoel geskuif het of so. Ag, maar wat sou dit tog gehelp het. Ek is ’n stil mens. Ek kon tog nie vir die res van my jaar hier – u sal onthou ek sou eers net vir ’n jaar by die museum kom aflos het – in my huis raas sodat ander mense moet stilbly nie. Dit sou nie deug nie. Op die lange duur sou dit net ’n onvolhoubare lawaaimakery afgegee het.
“So, toe bly ek maar so sit met my blokkiesraaisel.
“Die begrafnisondernemer en die horlosiemaker se gesprekke het gewissel van bestekopnames oor die dag se klante tot watter nuwe horlosieonderdele aangekoop moes word.
“Ek het oor die weke en maande, later die jare heen, so gewoond geraak aan die stemme aan die ander kant van die muur – hulle het later soos familie gevoel. Deel van my lewe. Wanneer ek saans die twee so hoor gesels het, het ek ’n gevoel van geborgenheid ervaar. Huislikheid. ’n Gevoel van . . . Kom ons noem dit maar ‘harmonie’.
“Die gesels het altyd by alledaagse dinge begin. Wie in die loop van die dag horlosiebatterye kom vervang het. Wie hulle horlosies se bandjies laat regmaak het. Oom So-en-so wat al weer kom vra het of hulle nie tog asseblief sy bril se armpie kan vasdraai nie. Die skroefie bly uitglip, en sonder die bril kan hy nie sien om dit self vas te draai nie.
“‘Ek bly vir hom sê hy moet ’n nuwe bril kry,’ sê die horlosiemaker, elke keer wanneer hy die storie