Die skaalmodel. Anneli Groenewald. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anneli Groenewald
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624076087
Скачать книгу
Hier word die museum vandag met die broek op die knieë gevang. Dis wat ek gedink het. Skipskop en die gebeure wat hulle daar afgespeel het. Dit is ’n integrale deel van die dorp se geskiedenis, het die vrou aan die ander kant van die lyn gesê. En selfs al het ek my ’n bietjie vir haar vervies, was sy reg. Ek was nou nie dertig jaar gelede hier nie, maar u sal sekerlik onthou hoeveel mense die dorp binnegekom het. Ingenieurs. Geleerde mense. Mense wat groot salarisse verdien het, wat geld hierheen gebring het. Soos ek verstaan, het van die klasse hier onder by die laerskool so te sê oornag uit hulle nate gebars. Die plaaslike koerant, die Suidernuus, het in 1991 oor die sub A-klas van daardie jaar berig. ’n Groep van 86 kinders, die meeste sub A’tjies in die skool se geskiedenis. In nog ’n koerantuitknipsel uit daardie tyd word die nuwe inwoners as ’n ‘reuse- ekonomiese inspuiting’ vir die dorp en omgewing bestempel. Maar dit was natuurlik nie al kant van die verhaal nie.

      “Ieder geval. Terug by my storie. By die ander kant kom ons weldra.

      “Die Dagblad het inligting gesoek en ek het geweet ons het dit nie. Maar ek is nie ’n vrou wat sommerso bes gee nie. Aikona, Meneer. So maklik laat ek my nie van stryk bring nie. Al het ek op daardie oomblik my wange voel brand soos iemand wat uitgevang is sy jok, het ek my pose gehou.

      “Aan die joernalis het ek gesê dat hier weliswaar geen versameling was nie, maar wel ‘beperkte bronne en inligting in ons argief’. Ja, Meneer die Voorsitter, ek hét ’n wit leuentjie vertel. Dalk wil u dit ook sommer by die klagstaat voeg. Miskien is dit daardie leuentjie wat my tot hier gepootjie het. Op papier kan dit seker beteken die hele projek wat daarna gevolg het, was op ’n leuen gebou. Dat ek dit nooit moes aangepak het nie.

      “Die museum beskik ongelukkig nie oor die nodige fondse om items vir uitstallings aan te koop nie, het ek verduidelik. Sou die museum egter van lede van die publiek skenkings ontvang . . . ou meubelstukke, foto’s, en dies meer, enige vorm van aandenking, dán! Dan kan ons van ’n versameling begin praat. Dán eers kan ’n mens ’n uitstalling bou.

      “‘Kry jou storie agtermekaar, Berdina,’ het ek vir myself gesê. ‘Dink flink. Jy kan mos!’

      “Meneer die Voorsitter, enigeen wat op daardie oomblik hier sou instap, sou die spreekwoordelike rook by my ore gesien uittrek het. ’n Geleentheid om die museum in die koerant te sien. Dit kón ek nie laat verbygaan nie! Ek is seker u stem met my saam, Meneer. Publisiteit. Publisiteit in ’n koerant wat op meer plekke as net in die Overberg gelees word. Dit is wat die Skeepswrakmuseum nodig het! Dat invloedryke mense van die museum te hore kom. Van die museum én van sy lot. Invloedryke mense met ’n stem. Met geld. Mense met diep sakke wat saak maak. Húlle kan ’n verskil maak.

      “So. Ek sou moes gaan krap, het ek geweet. Ek sou die plek behoorlik moes omdolwe, so veel as moontlik inligting bymekaarkry en dit dan aan die joernalis van Die Dagblad voorlê, of aanbied, of vertel. Hoe die geleentheid hom ook al aan my sou voordoen.

      “Maar eers moes ek probeer tyd wen, want in daardie stadium het ek nog net van die twee prente op die solder geweet. En hulle was beswaarlik iets om oor huis toe te skryf, nevermind koerante toe. Meneer weet mos watter prente ek bedoel? Die twee wat ek intussen daarbinne opgehang het. Ek veronderstel ons sal netnou soontoe stap. Ieder geval. Ek het geweet ek moes hulle gaan haal en ondertoe bring.”

      “Ja, Meneer die Voorsitter, terwyl ek aan die joernalis ’n inventaris van dokumente en voorwerpe belowe het, het ek reeds geweet my lysie sou karig wees. Die prente? Tussen die ou, oortollige foto’s en portrette op die solder was daar die potloodskets van die ou man, dit het ek onthou. En ook die portret van sy vrou. Dit is die prente waarvan ek gepraat het. U moet onthou: Ek het toe nog nie die verhaal geken nie.

      “Maar ná die oproep daardie dag – selfs nog voordat ek die e-pos ontvang het, dié een wat ek aan u oorhandig het – het ek gaan seker maak dat die veiligheidshek op knip was. Ja, dink maar ek is paranoïes, Meneer. Ek maak altyd seker alles is gesluit voordat ek iewers in die museum gaan werskaf. Liewer bang Berdina as dooie Berdina, reken ek altyd. Ek lees my koerante, ek wéét wat aangaan. En ek was immers lank vroualleen op hierdie kolossale erf.

      “Nou ja. Toe is ek met die trap op solder toe. My stofallergie ten spyt. Ja, Meneer die Voorsitter. Dit is waarom dinge hier altyd so geblink het. Ek is allergies vir stof. Ek poets nog voordat dit vuil word. Maar op die solder kom ’n mens mos nou nie so gereeld nie. Daar het ek net elke paar maande gaan skoonmaak. Met besem en mop en toewyding. Ná so ’n skoonmaaksessie sou u daar bo van die vloer af kon geëet het.

      “U wil weet waarom die haas, die dringendheid?

      “U sien, die vrou van die koerant het daarop gesinspeel dat sy dalk besoek wou kom aflê. Mits daar genoeg inligting was wat die moeite en onkoste sou regverdig. Kan u u dit voorstel, soos ek my dit destyds voorgestel het, Meneer die Voorsitter? Ons ou museumpie, hier op Bredasdorp, is skielik die hoofbron van inligting vir ’n reeks artikels in een van die land se grootste koerante! Dalk nog met foto’s en illustrasies daarby. Dit is waaraan ek gedink het. Dit kon ’n gulde geleentheid skep om die museum van finansiële ondergang te red, het ek gedink. Veral indien die reeks artikels tot groter belangstelling in die dorp en sy geskiedenis lei. Dít was my aanvanklike motivering, Meneer. Oorlewing. Nie beskadiging van eiendom, soos wat daar in die brief staan nie. Wat sou u gedoen het, as u in my skoene was? Dalk dieselfde wit leuentjie vertel het? Nee, u hoef my nie te antwoord nie, Meneer die Voorsitter. Dit is immers ék wat onder verdenking staan, ék wat hier ondervra word. Nie u nie.

      “Ek verstaan, Meneer. U wil hê my verhaal moet tot ’n punt kom. Ek moet begin antwoord op die klagtes. Nog net ’n klein bietjie geduld, asseblief. Ek is amper daar.

      “Nou, hier bokant ons op die solder, Meneer, daar staan ’n ry bokse. Al teen die muur af, en ’n klomp prente en foto’s in rame, teen mekaar gestapel in die hoek. Dit is die argief waarna ek oor die telefoon verwys het. Die bokse, het ek geweet, sou niks oplewer nie. Hulle is almal gemerk. Fauna en flora. Ontstaan van Bredasdorp. Bredasdorp Landbouskou. Skeepsnotules. Blignault-geskrifte. En Ander. Dit weet ek, want toe ek jare gelede hier instap, was dit die eerste ding wat ek gedoen het.

      “In my eerste jaar hier het ek seker gemaak ek kry elke ding in die museum onder oë. Ek het ’n inventaris opgestel van elke voorwerp wat deel uitmaak van ’n uitstalling. Bo in elke boks het ek ’n lys van sy inhoud geplaas. Elke lys het ek met my eie hand uitgeskryf. In my kantoor geliasseer was ’n afskrif van elke inventaris. Ek was nog altyd ’n voorstander daarvan om ’n ding behoorlik te doen, of glad nie, Meneer die Voorsitter. Intussen het ek ook ’n elektroniese lys gemaak, maar dit is nie nou ter sake nie.

      “In die Fauna en flora-boks, het ek geweet, is ’n versameling sketse van al die verskillende soorte fynbos wat in die streek voorkom. Volledig met die Latynse naam onderaan elke skets, en onder die Latyn, in dieselfde handskrif, tussen aanhalingstekens, die naam van die plant soos dit in die volksmond bekend staan. Onder ’n skets sal daar byvoorbeeld staan Leucospermum cordifolium, met onderaan, in drukskrif, ‘Speldekussing’. Of Syncarpha vestita, met ‘Sewejaartjie’ daaronder.

      “In die Ontstaan van Bredasdorp-boks is ’n klomp vergeelde wit-en-swart foto’s weggepak, elkeen in ’n smal swart raampie met ’n beskrywing agterop. Onder andere ’n portret van ’n man, in sy laat veertigerjare, as ek moet skat, met netjiese kort hare en ’n effense snor. Gesuit en gestrikdas. Agterop staan: Michiel van Breda, dorpstigter. Ook burgemeester van Kaapstad en pionier van die Overbergse merinoteelbedryf.

      “Nog ’n portret wat my altyd opval, is die een van ’n man geklee in ’n toga wat tot op sy skoene hang. Hy staan voor die deur van wat vandag hierdie einste Skeepswrakmuseum is. Dit was, maar ek hoef dit natuurlik nie vir u te sê nie, die eerste kerk hier op die dorp. Agterop dié portret is daar ’n kort kerkgeskiedenis, ’n lys met die name van die dorp se eerste dominees en die jare waarin elkeen in diens van die kerk was.

      “So kan ek aangaan, Meneer die Voorsitter. Die Bredasdorp Landbouskou-boks bevat notules van vergaderings wat die dorp se skoukomitee in die beginjare van die landbouskou gehou het. Nog daar op die ou skouterrein, in die landbousaal wat intussen platgestoot is om vir die winkelkompleks plek te maak. U sal seker beter weet as ek, maar as ek reg onthou het die saal gestaan presies