Dis koue kos, skat. Marita van der Vyver. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marita van der Vyver
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624079774
Скачать книгу
>

      DIS KOUE KOS, SKAT

      MARITA VAN DER VYVER

      Tafelberg

      Ek het die sedes en gewoontes van my tyd gesien, en daarom het ek hierdie briewe gepubliseer.

      Jean-Jacques Rousseau

      Voorwoord

      Ons beskou dit as ons plig om die leser te waarsku dat hierdie werk, ondanks die titel, nie ’n kookboek is nie.

      Ons kan ook nie die betroubaarheid van die versameling briewe hierin waarborg nie. Ons het trouens genoeg rede om te glo dat dit net fiksie is. Dit wil vir ons voorkom asof die skrywer, ondanks haar ooglopende pogings tot ’n skynwaarheid, self alle geloofwaardigheid ondermyn het deur die verhaal in die heel onlangse verlede te plaas. Verskeie van die karakters wat hier voorgestel word, tree so onsedelik en onredelik op dat dit moeilik is om te glo dat hulle tussen ons lewe, in goeie buurte en duur huise, in Suid-Afrika vandag.

      Daarom is ons van mening dat, indien die emosionele avonture in hierdie boek enigsins op die waarheid gegrond is, dit lank gelede in ’n ander land moes gebeur het. Die skrywer wou vermoedelik meer lesers vir haar verhaal werf deur dit in haar eie era en in haar eie land te laat afspeel, maar ons wil graag seker maak dat die goedgelowige leser nie onverhoeds betrap word nie. Ons sal selfs so ver gaan om ons mening met ’n onbetwisbare argument te staaf, naamlik dat niemand vandag ’n Suid-Afrikaanse roman kan skryf waarin byna al die karakters behalwe die huishulpe wit is, en verwag om geloofwaardigheid te behou nie.

      Almal weet tog ons lewe nie meer so nie.

      Die Uitgewer

      April 2010

      “La vengeance est un plat qui se mange froid.”

      Toegeskryf, sonder rede, aan Pierre Choderlos de Laclos,

      Les Liaisons Dangereuses,

      1782.

      “Revenge is a dish which people of taste prefer to

      eat cold.”

      Die rolprent Kind Hearts and Coronets,

      met Alec Guinness in verskeie rolle, 1949.

      “Revenge is a dish best served cold.”

      Mario Puzo, The Godfather, 1969.

      Resep vir ’n ramp

      Junie 2007

      Kaapstad

      My liewe Bernard

      Wie sou dit nou kon dink? Tien jaar later sit die twee van ons weer saam aan ’n tafel, soos die dag van ons egskeiding toe jy jou gewete wou sus deur my vir ’n drankie te nooi. Ek het die uitnodiging aanvaar, teen die raad van my prokureur en sonder om dit te bespreek met my baasspelerige terapeut, en nooit daarna vir enige van my vriendinne van die petalje vertel nie. Wat was daar om te vertel – behalwe dat ek my soos ’n snuiwende pateet gedra het?

      Jy het valse trooswoorde geprewel en sneesdoekies aangegee en kort-kort ongemerk na jou horlosie probeer loer, haastig om van hierdie huilende homp voor jou ontslae te raak en jou stralende toekoms met jou nuwe geliefde aan te durf.

      Nou is ek die een wat probeer troos. Pas vir jou ’n taai, verkreukelde sneesdoekie vol lipstiffiemerke aangegee. (Jy het afkeurend gefrons en dit ongebruik opsy geskuif. Sommige dinge verander nooit.)

      Die verskil is dat ek nie my horlosie dophou nie. Ek is nie haastig om weg te kom nie. Ek geniet elke oomblik van hierdie konsert. Ek het ’n dekade lank gespaar, kan jy seker sê, vir hierdie sitplek in die voorste ry.

      “Ek het alles verloor,” mompel jy met jou kop in jou hande. “Sy’t my uit die huis gejaag. Ek slaap in ’n vriend se buitekamer. Gewese ‘bediendekamer’.”

      How does it feeeeeel, sing Bob Dylan op die agtergrond, to be all alone? (Nee, nie rêrig nie, maar as dit ’n toneel uit een van jou ewige rolprente was, sou dit die liedjie op die klankbaan gewees het. Of anders ’n aria uit Don Giovanni. Ottavio se “Sê haar haar onreg gaan ek wreek”?)

      Ek skud my kop simpatiek en suig die truffelsous uit die laaste happie biefstuk op my bord. Ek moet nog die man ontmoet, het ’n kosskrywer in die vorige eeu opgemerk, wat nie verbeter wanneer hy ’n goeie tournedos Rossini in sy maag het nie. Of die vrou, kan ek vandag byvoeg, want hierdie vrou voel fantasties. Des te meer omdat ’n stukkie foie gras – danksy die formidabele vegters vir diereregte in hierdie land – deesdae moeiliker bekombaar geword het as vele dwelmmiddels. Gaaf vir die ganse, seker, maar wat sê jy van ’n samelewing waar ’n gans se ganswaardige bestaan hoër geag word as miljoene goedkoop menselewens? Gelukkig ken ek nog ’n paar Franse restauranteienaars wat die kulinêre kuns as die hoogtepunt van ons aardse bestaan beskou, en as ganse en paddas en slakke en ander wesens opgeoffer moet word vir hierdie kuns, nou ja, tant pis, soos Michel sal sê. En terwyl die vet ganslewer in my mond smelt, kan ek saam met die ryk toeriste die skitterblou see van die Kaapse Waterfront bewonder, en probeer om nie te wroeg oor wat hierdie koningsmaal my gaan kos nie.

      Maak nie saak nie. Vir sekere operas moet jy bereid wees om te betaal.

      Die fraai flentertjie vis wat jy bestel het, lê amper ongeskonde voor jou. (Dink jy waaragtig visse word meer bedagsaam doodgemaak as beeste of skape?) Jy het waarlik álles verloor. Selfs jou eetlus.

      “Ek het my kinders weke laas gesien.”

      “Jy’t Paula gisteraand gesien,” herinner ek jou met my allerliefste glimlag.

      “Ek bedoel die kleintjies. Sy sê hulle is te jonk om op hulle eie by my te kom kuier.”

      “Wel, hulle ís skaars twee jaar oud . . .”

      Ons praat nou van Die Onmoontlike Tweeling, jou laatlammers by Die Ander Vrou, Siesa en Gagga, soos ek hulle aanvanklik genoem het, omdat Sasha en Graça vir my te veel na pretensie geruik het. Nou het ek groot genoeg geword om die arme bloedjies uit te los. Hulle het immers nie hulle name – of hulle ouers – self gekies nie. En vandag, van alle dae, kan ek bekostig om groothartig en genadig te wees. Ek skuif my leë bord weg en wink die kelner nader om die rekening te bring. Selfs die beste konsert kan nie vir ewig aanhou nie. Ons het by die sterftoneel gekom. Die mes is diep in jou binnegoed gesteek, die bloed vloei, nog net ’n laaste draai van die lem.

      “Dit gaan vir hulle swáár wees om sonder ’n pa groot te word,” sê ek met ’n simpatieke sug.

      “Clara! Dis ’n nagmerrie! Klap my dat ek kan wakker word.”

      Tien jaar terug sou ek jou graag wou gehoorsaam, Bernard. Maar nou, nee wat, die bitter smaak van woede het lankal uit my mond verdwyn. Selfs die vleis wat ek pas verorber het, het pure poeding geproe. Ek was nog altyd nuuskierig oor daardie befaamde bessie wat die smaakkliere flous. Onthou jy, ek het jou daarvan vertel, ure ná jy dit geëet het, smaak enigiets wat jy sluk, van asyn tot semen, suikersoet? Maar nou het ek geleer dat wraak waaragtig ’n beter versoeter as selfs die vreemdste bessie kan wees.

      5 WONDERLIKE GEREGTE VIR WRAAKGIERIGE VROUE

      Die rare rooi mirakelbessie van Wes-Afrika (eet dit voor jy die res eet)

      Tournedos Rossini (oor dit jou laat beter voel)

      ’n Bloederige biefstuk (oor die bloed, natuurlik)

      Tripes à la mode de Caen (dis binnegoed, liefie)

      Skaappeertjies (need I say more?)

      Ek het daarop aangedring om die uitspattige rekening te betaal, ’n vrou het haar trots, al beteken dit dat ek die res van die maand op brood en kaas moet lewe. Boonop ’n rojale fooitjie vir die kelner gelos. (Het ek jou ooit gesê dat ek my jare lank geskaam het vir jou suinigheid as dit by fooitjies kom?) Toe het ek jou op die wang gesoen en jou gelos om die bottel Allesverloren op jou eie leeg te drink. Ek belowe jou ek het nie met voorbedagte rade juis dáárdie bottel op die wynkaart gekies nie. Waarskynlik net nog ’n bewys van die wonderbaarlike werking van die onbewuste.