Dit is reeds na middernag toe Lafras Elmarie tuis besorg. Hy vereffen die kinderoppasser se fooi en reël dat sy die volgende oggend weer ’n paar uur by Mark kom bly.
“Ek gaan jou nie langer uit die slaap hou nie, Elmarie, want ek kan sien jy is nie aan laat nagte gewoond nie. Jou oë dreig al om toe te val,” glimlag Lafras tergerig. “Ek wil net vir jou dankie sê vir die aangename aand en vir jou morele ondersteuning. Ek dink alles het vlot verloop. Dit het nie vir my gelyk of een van my vriende aan die egtheid van ons verhouding twyfel nie.”
“Hulle het nie. Ek dink jou rede vir ons stil troue was nogal oortuigend, Lafras. En die feit dat jou verlowing en voorgenome huwelik in môreoggend se koerant aangekondig word, behoort die skok vir jou familie en sakevriende te versag wanneer hulle môremiddag die trouberig in die koerant sien.”
Lafras knik, glimlag tevrede en wens Elmarie ’n rustige nag toe.
Elmarie se kop het skaars die kussing geraak, toe is sy vas aan die slaap.
Die volgende oggend is sy betyds wakker en gereed toe Lafras en Wynand haar kom oplaai vir die huwelik wat tienuur in die landdros se kantoor voltrek sal word.
Elmarie lyk net so pragtig soos wat ’n bruid behoort te lyk, al voel sy nie soos een nie. Haar hele uitrusting is wit, selfs die breërandhoed wat haar deftig en baie vroulik laat lyk. Haar blink, swart hare is volgens die nuutste mode gekam. Selfs Wynand kan nie help om saggies te fluit nie en sê ernstig: “Jy was nog altyd vir my ’n uitsonderlik mooi meisie, Elmarie, maar vandag is jy inderdaad betowerend. As ek nie reeds verloof was nie, sou ek jou sekerlik vir myself ingepalm het.”
“Dankie vir jou mooi kompliment, Wynand,” sê sy glimlaggend, “al lyk ek maar nog soos altyd – behalwe dat ek ’n hoed dra en my hare in ’n ander styl gekam is.”
“A, dan is dit die nuwe haarstyl wat jou so anders laat lyk,” sê Wynand met ’n vergenoegde glimlaggie. “In elk geval, ek dink ons moet liewer nou gaan, anders is julle laat vir julle eie troue, en jou familie-prokureur wag seker ook al voor die landdroskantoor.”
Die lang, skraal bruidegom lyk self deftig en aantreklik in die swart pak klere, wit hemp, netjiese das en swart skoene. Sy bruin hare is netjies gekam, en sy grys oë gly met welgevalle oor Elmarie se bekoorlike gestaltetjie.
Die huwelikseremonie is kort en saaklik … Net so onpersoonlik soos ons huwelik, dink Elmarie. Wynand en die Zeemans se prokureur is die enigste getuies.
Buite die landdroskantoor wag ’n paar koerantmanne hulle in, en die egpaar word half verblind deur die flitsende ligte van hulle kameras.
Lafras, wat al gewoond is aan verslaggewers en fotograwe, stoot hulle half uit die pad. Hy plaas sy arm beskermend om Elmarie se skouertjies en lei haar versigtig tussen die koerantmense deur.
“Ek het met ’n fotograaf gereël om ’n paar foto’s van julle te neem,” sê Wynand nadat Lafras met sy prokureur, meneer Pentz, afgespreek het om hulle gas te wees vir die noenmaal in die hotel waar Elmarie op die oomblik inwoon.
Die fotograaf neem gelukkig nie lank om die foto’s te neem nie en hulle daag darem betyds by die hotel op, waar meneer Pentz reeds in Elmarie se privaat sitkamer op hulle wag.
Terwyl Elmarie in ’n modieuse liggroen rok verklee, verduidelik Lafras Mark se teenwoordigheid in Elmarie se woonstel aan die middeljarige regsgeleerde. Hy sê egter net dat Elmarie se weduwee-suster drie weke gelede oorlede is en dat sy Elmarie gevra het om Mark in haar sorg te neem.
Elmarie se voorkoms is onverbeterlik toe sy eindelik by Lafras-hulle aansluit. Haar gesig is liggies gegrimeer en die wit hoëhaksandale lyk nie net deftig nie, maar laat haar ook heelwat langer vertoon.
Almal kyk die bruid met welgevalle aan toe sy haar verskyning in die woonkamer maak. Lafras tree dadelik na vore en bied haar ’n stoel aan. Hy bestel sjampanje en stel die kelner in kennis dat hulle maar die noenmaal kan voorsit.
“Ek stel voor dat ons eers op my bruid se gesondheid drink,” sê Lafras met ’n gemoedelike glimlaggie. “Ek is seker almal sal met my saamstem dat sy die mooiste bruid van die jaar is.”
“Ek dink jy kyk deur ’n rooskleurige bril na my, Lafras,” sê Elmarie met ’n verleë laggie. Sy weet hy sê hierdie dinge maar net om meneer Pentz om die bos te lei, maar dit laat haar nogtans skaam kry.
Die drie mans is egter bewus van haar verleentheid. Voordat Lafras weer iets kan sê, klop die drankkelner aan. Nog ’n kelner maak sy verskyning met twee opvoutafels, en ’n ander kelner stoot ’n dientafeltjie binne. Die tafels word oopgevou, langs mekaar geplaas en gedek. Dan word ’n keurige ete aan hulle voorgesit. Meneer Pentz stel ’n kort heildronk op die egpaar in, en die feesmaal neem ’n aanvang.
Dit is byna tweeuur toe die egpaar van die hotel af vertrek, onderweg na Durban waar Wynand vir hulle ’n stel kamers en ’n kinderoppasser vir Mark in ’n luukse hotel bespreek het.
“Dit is salig om te kan ontspan en weer myself te wees, sonder om te vrees dat meneer Pentz, of moontlik ’n verslaggewer, in die nabyheid mag wees,” sê Elmarie met ’n sug van verligting en trek Mark liefdevol in die kring van haar arm. “Word jy altyd so deur verslaggewers lastig geval, Lafras?”
“Nee, darem nie altyd nie; net wanneer ek iets ongewoons aanvang soos vandag,” sê Lafras met ’n glimlag en ’n aangename gevoel van rustigheid. Hy het nog nooit so rustig en ontspanne in ’n meisie se geselskap gevoel soos in Elmarie s’n nie.
“Ek is so bly dat ek in die werkende klas val en nie in julle miljoenêrsklas nie, Lafras,” sê Elmarie met merkbare tevredenheid. “Ek sal nooit by julle uitgelesenes se lewe kan inpas nie. Ek het nog altyd van ’n stil en eenvoudige lewe gehou, waar ’n mens by ’n verslaggewer verbystap sonder dat hy jou eens opmerk.”
“Ek is jammer, meisie, ek het nie besef dat jy die afgelope twee dae so veeleisend gevind het nie,” sê Lafras verskonend. “Maar van nou af kan jy ontspan. Ons gaan nie in die Zeemans se strandhuis bly nie, ons gaan in ’n hotel bly. Wynand is die enigste persoon wat weet waar ons die volgende tien dae sal wees.”
Elmarie sit meteens regop en sê diep bekommerd: “Liewe land, ek het totaal vergeet om my werkgewer oor hierdie … e … nuwe wending van sake in te lig, Lafras. Ek sal hom dadelik met ons aankoms by die hotel moet skakel en intussen hoop dat hy my nie summier uit sy diens ontslaan nie.”
“Ek glo nie dit is nodig dat jy jou in dié verband kwel nie,” hoor sy Lafras gerusstellend sê. “Wynand het gisteroggend al met jou werkgewer gereël dat jy sy diens onmiddellik mag verlaat, en Wynand sal sorg dat jy oor twee maande weer net so ’n pos bekom.”
“Waarom eers oor twee maande, Lafras?” vra Elmarie half verward. “Ons gaan mos net tien dae in Durban vertoef!”
“Dis waar, maar ons huwelik gaan twee maande duur, en jy kan onmoontlik gaan werk terwyl jy met ’n multimiljoenêr getroud is, Elmarie. Sodra Wynand stappe begin doen om ons huwelik te laat ontbind, is jy weer vry om te maak soos jy wil. Voordat dit gebeur, sal ek verkies dat jy en Mark iewers gaan bly wat baie ver van Johannesburg af is.”
“Ek verstaan glad nie wat jy bedoel nie, Lafras. Waarom moet ek en Mark twee maande op ’n afgeleë plek gaan bly?”
“Omdat jy en Mark, wat my mense betref, saam met my in Europa sal wees. Na twee maande keer jy dan terug, en Wynand begin stappe doen om ons huwelik te laat ontbind. As jy en Mark die twee maande by vriende gaan bly, moet jy maar vir hulle sê dat ek onverwags vir sake na Europa ontbied is. Sorg net dat Wynand altyd weet wat jou adres en telefoonnommer is. En as enige probleem opduik, moet jy dadelik met hom in verbinding tree. Intussen moet jy jou oor niks bekommer nie. Ek en Wynand sal sorg