Dit is egter nie Wynand nie, maar Schalk Dekker wat praat, en sy het sommer lus en sit die spreekbuis net daar in sy oor neer. Toe hoor sy hom sê, asof hy haar gedagtes kon lees: “Ek sal jou nie aanraai om nou al af te lui nie, Elmarie …”
“Ek kan nie onthou dat ek u toestemming gegee het om my so familiêr aan te spreek nie, dokter Dekker,” sê sy met ’n onpersoonlike stem.
“Ek het nie jou toestemming daarvoor nodig nie, meisie. Jou nefie, Mark, se pa was my neef, en dit maak jou en my familie. Waarom ek eintlik gebel het, is om te hoor of Mark se grootouers hom môreoggend mag besoek. Die twee oumense moes al tuis gewees het, maar hulle het uitsluitlik in Pretoria vertoef met die hoop om Mark darem een keer te sien.”
Etlike sekondes verstryk voordat Elmarie koel sê: “Nou goed, sorg dat julle drieuur môremiddag by my woonstel is. Ek het ’n brief van my ontslape suster wat julle moet lees, sodat julle kan sien wat jou neef, die twee oumense se wonderlike seun, aan haar gedoen het. En nou moet jy my asseblief verskoon. Tot siens, dokter Dekker!”
Sy plaas die handstuk terug voordat Schalk nog iets kan sê, en wonder of sy van haar wysie af is om die Dekkers toegang tot haar woonstel te gee. Elmarie is nog besig om oor haar onbesonne optrede na te dink toe die telefoon weer lui. Dit is weer Schalk, en sy voel hoe ergernis oor die man se vermetelheid vinnig in haar oplaai.
“Wat wil jy nóú weer hê, dokter Dekker?” vra sy met openlike misnoeë.
“Ek wil graag ernstig met jou gesels oor Mark se vader …”
“Ek wil dit nie hoor nie, dankie,” maak sy hom kortaf stil. “Hy het my arme suster skandelik behandel, haar aan haar lot oorgelaat om self die mas op te kom. Wel, sy het, al moes sy en Mark van die hand na die tand lewe. Gelukkig het Mark vandag niks nodig van die ellendeling wat veronderstel is om sy pa te wees nie. My suster het in haar armoede baie goed voorsorg gemaak vir Mark se toekoms. So, moet dit nooit waag om met jou verderflike neef by my en Mark aangesit te kom nie, want ek sal hom op die plek verongeluk.”
“My neef, Markus, is oorlede.”
“My suster ook,” antwoord sy ongevoelig.
“Jy verstaan nie, Elmarie. My neef het in ’n motorongeluk omgekom, ’n paar uur nadat hy jou suster in Johannesburg gegroet het …”
“Bedoel jy op pad na sy ouerhuis, nadat hy die jaar as huisdokter in Johannesburg se hospitaal voltooi het?” wil Elmarie geskok weet.
“Dis reg,” hoor sy Schalk sê. “Die ongeluk het anderkant Kroonstad plaasgevind. Een van die buitebande het glo gebars terwyl hy teen ’n baie hoë snelheid gery het. ’n Paar plaasarbeiders het hom gelukkig uit die motor gehaal voordat die voertuig aan die brand geslaan het, maar hy was reeds dood. Die oumense het geweet dat hy verlief was op ’n meisie, maar hulle het nie geweet wat die meisie se naam is en waar sy woon nie; dus kon hulle haar nie van Markus se dood in kennis stel nie.”
“Ek … ek is baie jammer om dit te hoor, dokter,” stamel Elmarie verward, haar ergernis finaal geblus. “Ek wens net my suster het dit ook geweet. Dit sou vir haar oneindig baie beteken het, die wete dat Markus haar nie opsetlik in die steek gelaat het nie. Ek sal môremiddag vir julle haar laaste brief aan my gee om te lees, dan sal jy begryp wat ek bedoel.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor Markus en Luzaan se verhouding, en groet dan tot die volgende middag.
Elmarie wou net weer begin eet, toe die telefoon weer lui … Wie op aarde sou dit nóú wees? wonder sy met ’n gesteurde frons toe sy weer van die tafel af opstaan om die oproep te beantwoord.
Dit is Wynand, en Elmarie se frons neem dadelik die wyk. “Ek het ’n afspraak en kan nie lank gesels nie, Elmarie,” hoor sy hom sê. “Ek bel net om vir jou te laat weet dat Lafras vanmiddag, voordat hy Johannesburg toe vertrek het, vir jou voorsorg getref het sodat jy ’n jaar lank nie hoef te werk nie.”
“Wynand, jy moes hom nie toegelaat het om dit te doen nie. Ek kan dit bekostig om twee maande sonder werk te wees,” maak sy haastig beswaar teen Lafras se vrygewigheid.
“My liewe Elmarie, het jy vergeet dat dit slegs aan jou te danke is dat Lafras vandag ’n multimiljoenêr is? Wel, hý het dit nie vergeet nie en hy dink die wêreld van jou. Hy sê jy is die eerste meisie wat hom nog ooit gekeer het wanneer hy ’n paar duisend rand aan haar wou bestee, en jy is ook die enigste meisie wat al vir hóm ’n geskenk gegee het.”
“Ag, dit is niks,” onderbreek sy Wynand verleë. “Lafras het gister besluit om vir my en Mark elkeen ’n geskenk te koop, dus het ek gevoel ek moes vir hom ook ’n geskenkie gee. Wat die ander sake betref … Nou ja, ek moes hom keer toe hy vir my ’n baie duur diamantring wou koop.”
“Lafras het jou bankrekening met ’n reusebedrag gekrediteer,” sê Wynand, “en hy het ook jou nuwe woonstel se huurgeld twee maande vooruit betaal.”
Elmarie is vir ’n oomblik sprakeloos, maar dan kry sy die woorde met moeite uit: “Lafras moes nooit so iets gedoen het nie. Hy was my niks verskuldig nie, want dit is uitsluitlik aan hom te danke dat die hof Mark in my sorg geplaas het.”
“Wel, Lafras meen dat jy hom ’n groter guns bewys het, Elmarie. Nou wil ek jou aanraai om vir die volgende twee maande op ’n ver en stil plekkie te gaan vakansie hou. En as jy Lafras ’n guns wil bewys, sal jy daardie geld gebruik.”
“Nou goed, ek sal dan maar so maak, Wynand,” stem sy eindelik in. “Maar ek het ’n brokkie nuus wat ek graag aan jou wil meedeel.” Sy vertel hom van haar en Schalk se telefoniese gesprek en dat Markus oorlede is.
“Ja, dit is tragies, maar sulke dinge gebeur nogal dikwels,” sê Wynand. “In elk geval, ons praat weer later.”
Hulle groet en Elmarie kan eindelik rustig verder eet.
Terwyl Elmarie later skottelgoed was, ry Herman van Coller voor die woonstelgebou verby en sien dat daar lig in haar woonstel brand. Hy voel opnuut bitter onthuts toe hy aan haar skielike huwelik met die vreemde man dink.
Met sy tuiskoms besluit Herman om Elmarie te skakel. Daar is ’n paar dinge wat hy dadelik moet weet. Hy voel hoe warm en vinnig sy hart klop toe hy haar stem in die gehoorbuis hoor sê: “Hallo! Mevrou Zeeman hier!”
“Dis Herman hier, en jy kan die mevrou Zeeman-storie maar laat staan wanneer jy met mý praat, Elmarie,” hoor sy Herman onomwonde sê.
“Ek verstaan glad nie wat jy bedoel nie, en ek het ook nie lus om raaisels te ontrafel nie, Herman. So, kom asseblief tot ’n punt en sê wat jy op die hart het, of anders sit ek die gehoorstuk neer,” waarsku sy duidelik vererg.
“Dis nie nodig om so gou op jou perdjie te klim nie, Elmarie. Ek wil maar net weet wat agter jou haastige huwelik skuil.”
Elmarie vererg haar nog meer vir Herman se vermetelheid, en sê met ’n kil stem: “Wat presies het my huwelik met jóú te doen, Herman? En wie dink jy miskien is jy om jou neus in my en Lafras se sake te steek?”
“O, ek vra maar net, want ek het jou nooit voorheen van Lafras Zeeman hoor praat nie, en ek glo ook nie hy het onder jou vriende getel nie. Ek aanvaar dus nie jou huwelik nie, en ek glo nog steeds dat die seun by sy grootouers hoort …”
“Ek het nie jou mening oor my huwelik of oor Mark se welsyn gevra nie,” maak Elmarie hom met openlike misnoeë stil.
“Jy sê nóú so, maar as jou suster geweet het dat die kind se grootouers in hom belangstel, sou sy hom dalk nog self vir hulle gegee het.”
“As my suster na jou en jou ma geaard het, sou sy dit moontlik gedoen het, maar gelukkig beskik ons Keysers oor ander beginsels, en sal ons nooit daarvan droom om ons verantwoordelikheid op ander af te skuif nie,” sê sy minagtend. “Net selfsugtige swakkelinge sal hulle plig en verantwoordelikheid op ander afskuif …”
“Nee, wag nou, Elmarie,” keer Herman versigtig. “Met so ’n gekyf sal ons niks bereik nie. Ek wil hê jy moet goed nadink oor jou onbesonne huwelik …”