Sondag, toe die drie Dekkers hulle opwagting by Elmarie se woonstel maak en vind dat niemand tuis is nie, is al drie diep teleurgestel. Die twee oumense wil sommer die volgende dag teruggaan plaas toe en Mark deur die hof opeis.
Schalk, wat Elmarie se beeld nie uit sy gedagtes kon kry nie en weet dat hy haar weer moet sien, stel egter voor dat hy hulle eers terugneem na die hotel en dan navraag kom doen oor haar skielike vertrek en wanneer sy weer tuis sal wees.
Later die middag hoor Schalk by Wynand dat Elmarie oor twaalf dae vir ’n dag of wat tuis sal wees. Dit is ’n lang tyd vir ’n boer en ’n besige veearts om so ledig te wees, maar hy sal enigiets doen om die oulike swartkop weer te sien en, as dit moontlik is, om haar beter te leer ken.
Die twee oumense besluit om maar in Pretoria te vertoef totdat Elmarie en Mark weer tuis is. Nadat Schalk hulle vertel het dat klein Mark die ewebeeld is van hulle seun, Markus, kan hulle nie wag om die kind te sien en hom saam met hulle plaas toe te neem nie. Tant Hester hoop net Elmarie gaan nie weer moeilik wees wanneer sy hoor dat hulle Mark kom haal het nie. Hulle kan Mark in elk geval baie meer aanbied as sy, wat ’n werkende meisie is.
Die drie Dekkers verwyl die tyd deur Pretoria se besienswaardighede te besigtig. Schalk se gedagtes bly knaend by die pragtige Elmarie … so klein en fyn, maar ook so dapper en moedig.
Dit is egter vir hulle ’n groot skok toe die plaaslike koerant Dinsdagmiddag die huwelik van mejuffrou Elmarie Keyser van Pretoria en die jong multimiljoenêr Lafras Zeeman van Johannesburg aankondig.
“Ek verstaan dit glad nie!” roep oubaas Carl Dekker verbyster uit toe Schalk vir hulle Elmarie se huweliksfoto wys en die beskrywing hardop lees. “Waar kom sy so gou aan hierdie man? Sy het dan maar drie dae gelede haar verlowing met die Van Coller-kêrel verbreek!”
“Ja, ek kan dit ook nie verstaan nie,” laat tant Hester diep teleurgestel hoor, want sy weet dat hulle nou geen aanspraak meer het op hulle kleinseun nie.
“Die Zeeman-vent is bepaald lankal verlief op haar, daarom dat hy so gerieflik byderhand was toe sy haar verlowing beëindig het,” meen Schalk, self bitter teleurgesteld omdat Elmarie so gou en onverwags in die huwelik getree het, voordat hy haar beter kon leer ken – want vanaf die oomblik wat sy oog op haar geval het, het hy geweet dat sy vir hom meer beteken as enige ander vrou op aarde.
“Ek dink jy is reg, Schalk,” sê tant Hester terwyl sy die foto met ernstige waarneming betrag. “Elmarie is so mooi, dit is geen wonder dat die Zeeman-kêrel byderhand was en dadelik met haar getrou het nie.”
“Ja, mooi en vol vuur, tant Hester. Ek was van plan om haar vir myself aan te keer, en nou het die Zeeman-vent my sowaar voorgespring.”
“Dit sou vir ons almal beter gewees het as jý met die meisie getrou het, Schalk,” sê oom Carl grimmig van teleurstelling. “Nou sal ons ons kleinseun natuurlik net kan sien wanneer dit sy tante pas, en die hemel alleen weet wanneer dít sal wees.”
“Waarom nooi oom Carl en tant Hester hulle nie om ’n rukkie op Spitskop te kom kuier nie?” doen Schalk aan die hand en voeg terglustig daaraan toe: “Miskien kan ek die skone Elmarie van haar multimiljoenêr-man afvry.”
“As sy met hom vir sy miljoene getrou het, kan jy maar van haar vergeet, ou seun,” sê die oubaas, nog steeds bitter teleurgestel.
“So, en wie sê vir oom Carl ek is nie ook ’n miljoenêr nie? Afgesien van my praktyk as veearts, boer ek met stoetdiere –”
“Dit is juis waarom jy nooit ’n miljoenêr sal word nie, Schalk, omdat jy sulke astronomiese bedrae aan ingevoerde stoetdiere bestee,” val die oubaas hom ongeërg in die rede.
Schalk is dadelik op die verdediging en dit is nie lank nie of die twee mans stry ewe gemoedelik oor die teling van stoetdiere – Elmarie se huwelik tydelik heeltemal vergete.
Dit is tant Hester wat die twee mans laat terugkeer na die gesprek wat aanvanklik gevoer is, toe sy vererg sê: “Ek wens julle twee wil hierdie ontydige gestry oor julle verskillende metodes van boer nou dadelik staak en my liewer vertel wat ons te doen staan noudat Elmarie so skielik getroud is. Of moet ek maar geduldig wag totdat julle twee dit goed vind –”
“Dit is glad nie nodig om so prikkelbaar te wees nie, vrou,” help die oubaas haar gemoedelik reg. “Ons het mos Sondagaand besluit om hier in Pretoria te bly totdat Elmarie oor tien dae terugkeer, en dit is presies wat ons gaan doen. Jy wil tog seker nie huis toe gaan sonder om eens jou kleinseun te sien nie, wil jy?”
“Nee, natuurlik nie! Jy weet hoe ongeduldig ek al is om die kind te sien, Carl,” sê tant Hester met ’n ligte frons en kom terselfdertyd orent. “Ek gaan maar ’n bietjie rus voordat die klok vir aandete lui.”
Vir Herman van Coller en sy ma is dit nog ’n groter skok toe hulle Dinsdagmiddag Elmarie se huweliksfoto op die koerant se voorblad sien pryk.
“Sien jy nou, Herman, sy het jou al die tyd vir die gek gehou,” sê Matilda woedend. “Terwyl sy aan jou verloof was, het sy al die tyd agteraf met daardie miljoenêr geflankeer …”
“Nee, wag, Ma kan Elmarie nie van dinge beskuldig wat Ma nie kan bewys nie,” keer Herman sy moeder se lasterlike aantygings. “Elmarie sou nie ons verlowing verbreek het as ek bereid was om haar suster se kind in ons huis te neem nie. Dit is my eie skuld dat ons nie meer saam is nie.”
“Nou goed, dit is ons albei se skuld dat sy julle verlowing gebreek het. Maar waar pas die miljoenêr in die prentjie? Elmarie moes hom tog voor hulle troue baie goed geken het. ’n Mens trou mos nie met iemand wat jy nie baie goed ken nie! En voor haar troue, my liewe Herman, was Elmarie aan jou verloof – vier jaar lank,” sê Matilda met ’n betekenisvolle stem.
“Wat help dit tog om oor Elmarie en haar man te spekuleer, Ma? Sy is met die man getroud en vir altyd buite my bereik. Dit maak my net diep seer wanneer ek dink dat sy my bruid kon gewees het, as ek haar nie so maklik deur my vingers laat glip het nie.”
“Dit was die kind wat tussen julle gestaan het, Herman,” probeer sy moeder hom troos. “En jy moenie vergeet nie, die kind het meer vir haar beteken as jy en jou liefde.”
“Elmarie sou nooit ons verhouding verbreek het as ek nie die Dekkers van die kind vertel het nie,” spreek Herman sy ongelukkige gedagtes hardop uit terwyl hy na die koerantfoto staar. “Sy het my daarvan beskuldig dat ek agterbaks is, en sy het gelyk gehad. Ek het beslis agterbaks opgetree deur die Dekkers sonder haar wete van Mark te vertel. Ek besef nou eers dat ek ’n groot fout begaan het toe ek teen Mark se teenwoordigheid beswaar gemaak het.”
Dit begin al donker word toe Lafras voor die luukse hotel op Durban se strand stilhou. Elmarie voel so uitgeput van die afgelope twee dae se bedrywighede en daarna die reis van Johannesburg af, dat die hotel haar nie eens beïndruk nie. Sy wens sy en Mark was alleen sodat hulle dadelik kan bad en gaan slaap.
’n Vriendelike portier neem hulle bagasie na die stel kamers wat Wynand vir hulle bespreek het en wat uit ’n sitkamer, twee slaapkamers en ’n badkamer bestaan.
“Ek hoop jy laat my toe om self vir my en Mark se verblyf hier in die hotel te betaal, Lafras,” sê Elmarie toe hulle drie oplaas alleen in die sitkamer is.
Die jong man nooi haar om te sit en neem ook plaas. Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlaggie aan en sê gemoedelik: “Jy is tog seker nie ernstig nie, Elmarie. Ek is skatryk, en jy is ’n meisie wat vir ’n salaris werk en jou sente sal moet tel noudat jy die kind het om voor te sorg.”
“O, ek gee nie om nie, Lafras. Ek is gewoond aan werk,” sê sy met ’n moeë glimlaggie.
Lafras skud net sy kop en sê beslis: “Dit is my voorreg om vir hierdie vakansietjie te betaal, wat veronderstel is om ons wittebroodsdae