Tant Simone blaas afkeurend deur haar neus. “Gmf! Hoe tipies van die moderne ouers met te veel geld en te min tyd vir hul kinders.” Sy swyg met haar hand op haar mond en gaan sit langs haar tas. “Haai, Sandri, ek klink nes my eie tante! So goed en sondeloos dat ek die hele wêreld kan veroordeel en almal voorsê om so rein en vlekkeloos soos ek te wees. Ek kan goed onthou hoe my tant Alexandrie my tot in my sondige siel geïrriteer het. Ek dink sy is die oorsaak dat ek nog gereeld in my gedagtes vloekwoorde opsê as iemand my die joos in maak.”
“Tant Simone!” protesteer Sandri laggend. “Ek het nie geweet tannie ken enige vloekwoorde nie. Dat my saggeaarde, liefdevolle tant Simone rympies in haar gedagtes vloek … Wie het tannie al die vloekwoorde geleer?”
“Jou pa, Armand, en jou oupa staan nie terug vir hom as hy glo daar is geen vrou in die nabyheid nie …”
Tant Simone val weg met ’n ou storie oor die kattekwaad wat sy en Sandri se ma op onderwyskollege aangevang het en wat groottante Alexandrie daaroor te sê gehad het, maar Sandri luister net met ’n halwe oor. Sy hou haar hand op en staar daarna, onthou weer hoe dit getintel het nadat Marko Waalstra se groot hand dit omvou het.
Tant Simone is terug by die onderwerp van vloekwoorde. “Dit sal absurd wees as ’n man sy duimnael met ’n hamer raak slaan en ‘stoute kabouter’ sê. Of stem jy nie saam nie, kind?” Sy frons lig en kyk die stilswyende Sandri vraend aan. “Sandri? Sándri!”
Sandri ruk haar reg en gee haar volle aandag aan tant Simone. “E … tannie was besig om te sê …”
“Het jy aan die slaap geraak, my kind? Was dit ’n moeilike dag?” vra tant Simone besorg.
“Nee, glad nie, tannie. Ek … e … het sommer gedroom … e … gedink aan die ouerpaar w … wat … Wat is so snaaks? Tannie se glimlag laat my kriewelrig voel.”
“Kriewelrig of skuldig, Sandri? Hoekom deel jy nie jou groot geheim met my nie?” vra tant Simone, ’n tikkie verwyt in haar stem.
“Watter geheim? Ek het nie die vaagste benul waarna tannie verwys nie,” antwoord Sandri eerlik.
“Dan het Poppie soos gewoonlik die storie uit haar duim gesuig? Snaaks, sy was so opgewonde dat ek nie anders kon as om haar te glo nie.”
“Waaroor, my liewe tannie, was Poppie opgewonde?”
“Jou besoeker – die voog van Jean-Pierre se meisie, Christiane Friskin. Toe ek Jean-Pierre vertel Marko Waalstra gaan jou uitneem vir ete, het die stout seun my ’n klapsoen van blydskap gegee. Foei tog, een-en-twintig is nie werklik oud nie, veral nie vir ’n man nie. Jean-Pierre sal oneindig dankbaar wees as jy en Marko goed bevriend kan raak, want dan sal Marko makliker die erns van die kinders se verhouding aanvaar.” Tant Simone sug teleurgesteld en vervolg verwytend: “Maar as jy sê Poppie het die storie uit haar duim gesuig, is dit maar tot daarnatoe.”
Sandri sit regop op die bed en kyk tant Simone gekrenk aan. “Hoekom weet ek niks van die ernstige verhouding tussen Jean-Pierre en Christiane nie? Vanoggend in my kantoor het hy my vir die eerste keer van Christiane vertel. Ek het hom gevra hoe ernstig hul verhouding is, maar hy het nie my vraag beantwoord nie.” Sy frons afgehaal. “Ek en Jean-Pierre is nog altyd vertrouelinge, veral sedert hy matriek behaal het. Hy het my nog altyd van sy meisies vertel en my dan geterg omdat ek so selde saam met Henk Oosthuizen uitgaan. Dalk sou hy my meer vertel het as ek nie laat deurskemer het dat die man wat na hom soek moontlik Christiane se vorige kêrel kon wees nie. Dus is dit alles daardie ongeskikte vent se skuld.”
“Wat ’n ontaktvolle suggestie aan ’n jong man wat tot oor sy ore verlief is,” betig tant Simone, maar glimlag dan tog. “Is die ongeskikte man na wie jy verwys dalk Marko Waalstra?”
“Ja, tannie. Ek, Poppie en hy het ’n derde wêreldoorlog gevoer voordat Poppie by die sekuriteitswagte die knorrige en uiters onbeskofte man se naam en van gekry het.”
“Werklik?”
“Ja, hy het my kantoor binnegestorm en my daarvan beskuldig dat ek en Jean-Pierre sy hulpelose voogdogter ontvoer het en haar êrens versteek. Hy het my boonop met die polisie en sy sekuriteitswagte, selfs marteling, gedreig.” Sandri merk met genot die toenemende skok op tant Simone se gesig.
“Ek glo dit nie!”
“Dit was rêrig nie so erg nie, tannie. Ek gee toe, ek het meneer Waalstra ook met die polisie en ons sekuriteitswagte gedreig en gesê hy is die leier van ’n kriminele sindikaat, ’n rampokker en ’n bendeleier. Ek het selfs geïnsinueer dat sy voogdogter ’n dwelmslaaf en ’n slegte invloed op Jean-Pierre is. Noudat ek daaraan dink, moet ek erken: Ek het ons rusie terdeë geniet, want ek kon na hartelus beledigend en onbeskof wees, nes hy. Gewoonlik moet ek waardig en met die grootste respek teenoor die ouers optree, maak nie saak hoe irriterend hulle is nie. Toe nou, tant Simone, moenie my aangaap asof ek ’n rits vloekwoorde opgesê het nie.”
“Jy verbyster my, Sandri. Maar waar kom Poppie aan die storie dat jy en Marko saam gaan eet as julle sulke aaklige dinge vir mekaar gesê het?”
“Toe ek en meneer Waalstra eindelik die misverstand opgeklaar het, het hy my om verskoning gevra en my genooi vir ete,” vertel sy gelykmatig.
“O! So hy het darem om verskoning gevra.”
“Ja, tannie. Maar ek het vanselfsprekend die ete geweier. Ek wil nie nog ’n dominerende, befoeterde man in my lewe hê nie. Oupa Everard is reeds genoeg,” antwoord sy beslis. Sy kyk ’n rukkie hoe tant Simone werskaf en vra verstom: “Hoekom pak tannie weer die tas uit?”
“Ek doen dit die afgelope week, net om my te oortuig ek gaan werklik maande lank met vakansie. Maar dis nie nou belangrik nie. Ons eerste prioriteit is Jean-Pierre en Christiane se jong liefde vir mekaar.”
“My liewe tannie! Jean-Pierre is nog ’n bogkind en Christiane kan nie ouer as agtien wees nie. Hul liefde is soos die seisoene: vandag hier en môre weg. Ek weier om my breinselle of my tyd op net nog ’n meisie van Jean-Pierre te mors. Lees my lippe: Ek gaan nie saam met Marko Waalstra uit bloot om ’n goeie woordjie vir Jean-Pierre te doen nie. As hy glo hy is volwasse genoeg om aan trou te dink, kan hy daardie diktator persoonlik konfronteer.”
“Hy het,” sug tant Simone bedruk.
“Wát? Ekskuus. Het tannie gesê my kleinboet het reeds met meneer Waalstra gepraat?”
“Ja, Sandri. Op pad na die personeelkamer het Poppie hom vertel as hy gou maak, kan hy sien hoe lyk jou nuwe kêrel, meneer Marko Waalstra. Ek dag die seun gaan sy nek breek, so haastig is hy die trap af om Marko op die parkeerterrein voor te keer.”
“Ek begryp. En nou is my broer en meneer die voog boesemvriende,” sê Sandri kwaad, nie seker waarom sy eintlik kwaad is nie.
“Nie boesemvriende nie. Marko het verduidelik dat hy ten gunste van Jean-Pierre en Christiane se verhouding is, maar hy vermoed jy sal die kinders se liefde afkeur omdat jy nie van hom hou nie. Jy sal tog nie so gemeen wees nie, my kindlief?”
“Nee, tant Simone. Dit raak my nie hoeveel harte Jean-Pierre nog gaan breek nie, solank hy nie soos my pa met ’n meisie trou en sy kinders aan my pos nie. Tannie was lief genoeg om my en Jean-Pierre groot te maak, maar ek maak nie ander mense se kinders groot nie. Ek sal my lewe aan die onderwys toewy, maar ek stel nie belang in babas nie – nie syne óf myne nie.”
“My liewe kind, waarom sê jy so? Is dit oor wat met jou ma gebeur het? Jy het mos nie haar gesondheidsprobleme nie. Jy kan sonder vrees ma word. Of is jy nogtans bang jy sal nie die geboorte van ’n baba oorleef nie?”
“Ek … e … ek is nie seker nie, tant Simone. Ek het nog nooit regtig belanggestel om Henk se kinders te hê nie. As ek enigsins trou, sal dit tog met hom wees, want ek hou meer van hom as van enige ander man.”
O,