Sandri hoor die gekwelde ondertoon in tant Simone se stem en vra verwonderd: “Maak dit saak, tannie? Jean-Pierre besit tog ’n gerieflike woonstel naby die universiteit en hy’s reeds mondig. Hy kan seker kom en gaan soos hy wil?”
“Ja, maar hy het altyd twee of drie keer per week huis toe gekom en naweke was hy gewoonlik tuis. Is dit nie vir jou ook vreemd dat hy nou net op oupa Everard se aandrang ’n Saterdag of Sondag saam met ons deurbring nie?”
“Nie werklik nie. My kleinboet is aantreklik en hy het nog altyd van meisies gehou. Miskien het hy vir die soveelste keer verlief geraak op ’n medestudent.”
“Sedert sy eerste dag op kleuterskool is Jean-Pierre verlief, maar hy was nog altyd verknog aan sy eie mense. Dalk juis omdat sy pa en ma hom hierheen ‘gepos’ het – soos hy sê – toe hy maar net ’n paar maande oud was. Buitendien, een-en-twintig is so bitter jonk om in ’n ernstige verhouding met ’n meisie betrokke te raak. As hy na jul pa aard, Sandri … Ek is te oud om nog ’n kind groot te maak.”
“Genade, toggie … Jean-Pierre het nog nie eens sy meisie aan ons kom voorstel nie, maar tannie maak al kinders groot! Tannie het beslis ’n baie lang vakansie nodig!”
Sandri kyk gesteurd op van die dokument voor haar op haar lessenaar toe Paula van Zyl, haar persoonlike assistente, se stem skriller as gewoonlik deur die soliede houtdeur van haar kantoor hoorbaar word. Op sulke dae pas Paula se bynaam, Poppie, beter by haar, dink Sandri geamuseer. Sy weet die leerders noem vir Paula van Zyl “juffrou Poppie” … Paula is goed opgelei en volkome betroubaar, maar die liewe Poppie, wat Sandri heimlik as Paula se alter ego beskou, is ’n beproewing van gees en vlees.
Die kantoordeur swaai na ’n haastige klop oop en Poppie struikel oor haar eie voete in haar haas om Sandri se lessenaar te bereik.
Ja, dis vandag Poppie, besluit Sandri en leun op haar stoel terug. Poppie dra graag pienk rokke met frilletjies en valletjies, pienk oorbelle en vyf goue armbande wat soos windklokkies rinkel. Sy het nou ’n ontstelde uitdrukking op haar gesig en met haar vingers verander sy haar deftige haarkapsel in ’n wilde, vlamrooi boskasie.
“Sit, Paula,” nooi Sandri gemoedelik. “Ek waarsku jou elke keer jy moenie met jou hoë-hakskoene aan probeer hardloop nie. Niks kan so dringend wees dat jy ’n been of ’n arm breek as jy sou neerslaan nie.”
“Dis erger as dringend, doktor Blanchet!” verklaar Poppie kortasem van verontwaardiging en ergernis. “Hy …” Sy beduie met ’n kwaai wysvinger na die foon op die lessenaar en vervolg diep beledig: “Daai man het nou al drie keer gebel en gesê hy moet dringend met meneer Jean-Pierre se pa praat. Ek het hom al drie keer vertel Jean-Pierre se pa woon oorsee, vriendelik gegroet en die gehoorbuis neergesit. Nou het die onbeskofte man weer gebel en gesê hy wil met Jean-Pierre se ma of oupa of ouma of broer of suster praat. Ek het hoflik verduidelik Jean-Pierre se pa en ma is oorsee, sy oupa werk, sy ouma is dood en hy het nie ’n broer nie, net ’n ouer halfsuster. Toe wil die man met u praat, doktor Blanchet. Maar toe vra ek hom sy naam en van en verduidelik hy kan nie tydig en ontydig bel nie, want u is besig met belangrike werk en ek kan u nie steur nie. Ek dink hy het gevloek, maar ek kon nie mooi hoor nie. Toe skree hy my byna doof en … en toe hardloop ek weg … e … kom lig ek u in, doktor.”
Sy haal ’n spieëltjie agter die valletjies van haar rokhals uit en staar verdwaas na haar eie spieëlbeeld. “En kyk hoe lyk ek nou,” stamel sy oorstelp en vat aan haar deurmekaar haredos.
“Het die man geweier om sy naam te gee, Paula?”
“Ja, doktor. Of dalk het hy gesê wie hy is, maar hy het so hard geskree dat ek bang was my oortrom bars, toe los ek eers die gehoorbuis sommer net so,” antwoord Paula bedruk en wend wanhopige pogings aan om orde in haar weerbarstige boskasie te bring.
“Vergeet nou eers van jou hare en gaan vra die man weer wie hy is en waarom hy ’n afspraak met my wil maak, Paula. Bly te alle tye kalm en hoflik, asseblief.”
“Poppie, seblief, doktor. Ek lyk soos ’n Poppie en ek voel soos ’n Poppie. My ma sê in elk geval nog al die jare my pa was dronk toe hy my as Paula geregistreer het, want sy het uitdruklik gesê my naam is Petronella, soos haar ma. Moet ek rêrig weer met daardie ongeskikte man gaan praat, doktor Blanchet?”
“Asseblief, Poppie. As dit jou beter sal laat voel, sal ek by jou in jou kantoor kom staan terwyl jy met hom oor die foon praat,” troos Sandri.
“O, dit sal, dankie, doktor! Ek weet hoe om vroumense te hanteer, maar mans maak my altyd senuweeagtig, seker omdat my pa so ’n ou bullebak is.”
Dié storie oor Poppie se pa het sy ook al male sonder tal gehoor. Sandri sug en loop deur na Poppie se kantoor om te luister na die voortgesette foongesprek.
“Is meneer nog daar? Ek is baie jammer ek het meneer laat wag, maar ek het net gou gaan navraag doen oor hoe lank doktor Blanchet nog besig sal wees. As meneer net meneer se naam en van … Nee, meneer. Ek móét weet wie meneer is en wat die probleem is voordat ek doktor Blanchet kan vra om u te bel of ’n afspraak met …” Poppie kners hoorbaar op haar tande. “Ag, sies! Hoor net hoe vloek die mansmens, doktor! En toe plak hy sommer die foon in my oor neer. Die onbeskofte lummel! Ek wed hy mishandel sy vrou en kinders en skop die hond ook as die bure nie kyk nie.”
“Poppie, jy is ’n tonikum!” paai Sandri gerusstellend. “Jy het heeltemal reg opgetree, Paula. As die man nie gewillig is om te sê wie hy is of wat sy probleem is nie, laat ons die saak net daar. As jy wil, kan jy jou hare in die ruskamer gaan tem terwyl ek vir ons tee maak. Toe, weg is jy, Paula!”
“Poppie, doktor, Poppie,” pleit die rooikop. “Net my pa noem my Paula en ek hou net so min van hom as van daai naam. Ek en my arme ma het elke dag onder sy skerp tong deurgeloop. Die ou blikskottel! Haai, ekskuus, doktor, nou gebruik ek ook lelike woorde soos daardie onbeskofte lummel.”
“Toemaar wat, Poppie, ek verstaan volkome. Hoekom het jy my nie lankal vertel jy hou nie van jou doopnaam nie?”
“Ek wou eers die kat goed uit die boom kyk, doktor verstaan? Doktor lyk so … e … deftig, maar ek het al agtergekom doktor is net so gaaf soos juffrou Simone,” bloos Poppie verleë.
“Dankie, Poppie. Ek sal jou net as ‘Paula’ aanspreek as een van die ouers of lede van ons skoolraad teenwoordig is. As jou probleem oor jou naam opgelos is, kan jy nou iets met jou hare gaan aanvang.”
“Ja, voordat een van die meisies my sien. Doktor weet hoe hulle my siel kan uittrek,” kla Poppie selfbejammerend en drafstap die kantoor uit. “Ek gee nie om as hulle my juffrou Poppie noem nie, maar ek het al gehoor hoe die klein snippe vir my ‘Volstruisie’ sê!”
Volstruisie! herhaal Sandri in haar gedagtes, en kyk Poppie se lang, maer liggaam met die groot hande en voete agterna. Dit help natuurlik nie dat Poppie byna kenloos is met ’n lang, spits neus soos ’n snawel nie. Nogtans is sy op haar manier mooi. Sy het vol lippe wat sy graag helderrooi verf, gewoonlik dieselfde kleur as haar lang vingernaels. En haar babablou oë is opvallend, nie net danksy die kleur nie, maar ook die grootte wat aan tafeltennisballe herinner. Dis eintlik haar geaardheid wat haar werklik mooi maak. Sy is so ’n aangename, hulpvaardige vrou, nooit te moeg om lang ure te werk as die skoolraadvergaderings of oueraande dit van haar vereis nie.
“Wat ’n bedrywige ousus!” ruk Jean-Pierre se tergende stem Sandri tot die hede terug.
Hy staan skraal en lenig in die oop deur wat na Poppie se kantoor lei, ’n lui glimlag om sy vol lippe en ’n tergende uitdrukking in sy donkerbruin oë. Hy kom nader, vee sy swart kuif uit sy oë en soen haar op die wang. “Hallo, sus. Ek het nie besef dis deel van ’n prinsipale se pligte om vir haarself tee te maak nie. Wat het van die konsternasie van ’n Poppie geword?”
“Hallo, Jean-Pierre,” groet Sandri geamuseer. “Die arme Poppie lyk omtrent soos ’n konsternasie ná haar gesprek met