Haar voete dra haar amper onwillig nader. Toe sy by die stoel kom, sak sy af op haar hurke, probeer glimlag. “Hallo, Paula.”
Steeds is die ander verbyster. Dan prewel sy: “Paps het my gewaarsku, maar … ek het nie … so iets verwag nie!”
Petra se mondhoeke kry ’n wrang trekkie en haar oë kyk haar suster uitdagend aan. “Ja. Klaus Wagner het ’n goeie stukkie werk gedoen.”
Skielik is die bordjies verhang en besef Mara dat sy, anders as in die verlede, Paula moet beskerm. Sy druk haar dogter terug teen die stoelleuning en sê saaklik: “Rus bietjie, my kind. Ek gaan haal tee.”
Paula gehoorsaam, maar haar oë bly op die vreemde meisie hier voor haar. Kan dit werklik Petra wees? vra sy haarself verstom af.
Die geselskap wil weer nie vlot nie. “Hoe gaan dit met Eugene?”
“Goed.” Paula sluit haar oë ’n oomblik lank. Eugene … Wat gaan Eugene se reaksie wees as hy hierdie meisie sien? Nie met die beste wil ter wêreld kan sy aan hierdie nuwe Petra as haar eertydse suster dink nie. Dit is nie Petra dié nie. Dis ’n vreemde, gevaarlike vrou!
“Hoekom … hoekom het jy dit gedoen?”
Petra glimlag, haar stem koel. “Jy vra nog! Dis tog vanselfsprekend.”
Ná ’n sukkelende gesprek staan Paula eindelik swaar uit die diep stoel op. Petra kyk haar vas aan.
“Sê groete vir Eugene. Ek sal hom baie graag weer wil sien.”
“Ja. Hy sal jou … ook weer wil sien. Tot siens, Mamma. Tot siens, Petra.”
“Tot siens, Paula. Ek sal môre of so kom inloer om te sien waar julle nesgeskop het.”
Daar is ’n vreemde glimlaggie om haar mond terwyl sy die motor agterna kyk. ’n Lig van oorwinning gloei in haar oë en vir die gevoel van bevrediging wat nou in haar lê, sou sy Klaus Wagner dubbel soveel betaal het. Die bordjies is verhang. Die eerste keer in haar lewe het sy vrees vir háár in Paula se oë gesien. Die eerste keer in haar lewe voel sy: arme Paula!
Daar is egter geen glimlag om die ouer vrou se lippe terwyl sy na haar dogter kyk nie. Toe sy Petra se blink oë ontmoet, lê die kommer naak in hare.
“Wat is jou toekomsplanne?”
Petra se gesig verstrak. Haar toekomsplanne? “Ek het nog nie besluit nie.”
“Gaan jy weer werk?”
“O, ek weet nie. Ek is in elk geval nie haastig nie.”
Mara byt haar onderlip vas, waag dit dan: “Dink jy nie dit sal beter wees om op ’n ander plek ’n nuwe begin te maak nie … e … Petra?”
Sy kyk haar ma vas aan. Sy kan raai wat hieragter skuil. Dan glimlag sy weer, maar dit bereik nie haar oë nie. “O, ons sal maar sien wat die toekoms inhou. Ek wil nou eers ’n rukkie lank my nuwe voorkoms geniet. Dan sal ek weer aan werk begin dink. Daar is baie tyd.”
Eugene frons toe hy laatmiddag by sy huis instap en sy vrou op die bed aantref, bleek en duidelik senuweeagtig. Dit lyk selfs of sy aan skok ly, en hy buk vinnig oor haar. Die ginekoloog het dit baie duidelik gestel dat Paula onder geen omstandighede aan uitputting, kommer of skok blootgestel mag word nie.
“Wat makeer, my liefste! Voel jy sleg? Was jy toe vanmiddag by die ginekoloog?”
Sy knik, gryp hom vas en hy voel hoe haar liggaam teen syne bewe. “Hou my vas, Eugene! Ek is bang!”
“Toe nou, liefste. Daar is niks om voor bang te wees nie. Ons gaan ’n keisersnee doen en …”
“Jy moet haar sien! Jy moet haar net sien!”
Hy frons diep, kyk op haar af. “Waarvan praat jy?”
“Petra. Van Petra. Jy moet haar net sien! Eugene, jy sal haar nie herken nie! Sy is … asemrowend pragtig … beeldskoon! En sy is anders … so heeltemal anders as die ou Petra wat ons geken het! Sy maak my bang! Ek sê jou, sy maak my bang!”
Dokter Eugene Minnaar kyk op sy polshorlosie en is dankbaar om te sien sy spreekkamerure is amper verstreke. Hy is haastig om by die huis te kom. Hy voel onrustig oor sy vrou. Hy het eers daaraan gedink om sy skoonma te bel en te vra of sy nie vandag by Paula sal bly nie. Toe het hy daarvan afgesien. Dan kom Petra dalk saam, en dit moet allermins gebeur. Hy het klaar besluit hoe minder die twee susters mekaar in die toekoms sien, hoe beter, veral totdat die kleintjie eers daar is.
Natuurlik ruk Paula hierdie ding van Petra uit verband. Haar senuwees is deesdae skoon op hol en sy voel siek en sleg … ’n seldsame ervaring vir die dartelende vlinder van weleer. Hy glimlag teer. Daar het nie juis veel van die dartelende vlinder oorgebly nie, dit moet hy erken. Maar hy het haar liewer as ooit. Sy gaan die ma van sy kind word.
Hy kyk op toe sy ontvangsdame binnekom. “Dis ál vir vandag, nie waar nie?”
“Hier het nou net iemand ingekom, dokter. Die laaste een.”
“Goed. Stuur hom maar deur.”
Dis egter nie ’n hom nie, maar ’n haar … en Eugene se oë rek effens. Wat ’n pragtige mens!
“Kom sit, dame. Ons het nog nie kennis gemaak nie, het ons?”
Die lippe plooi in ’n glimlag en die grys oë dartel in syne. Sy bly staan, gaan sit nie op die aangebode stoel nie, en hy bly ook besluiteloos staan. Dan frons hy liggies. “Of het ons al? Ek moet sê daar is iets … Nee, ek sou u beslis onthou het as u al voorheen hier was,” laat hy glimlaggend, galant hoor. Nee, hierdie meisie sal ’n mens nie vergeet as jy haar eenkeer ontmoet het nie.
“Moenie sleg voel nie, Eugene. My eie pa en ma het my nie geken nie! Hoe gaan dit?”
Sy glimlag verdwyn. Kan dit wees? “Petra!”
“Die einste. Hallo daar!” Sy begin gewoond raak aan die algehele verstomming wat elke keer op haar eie bekendstelling volg. Sy lag nou, klokhelder, kom nader na waar hy versteen staan, en die grys oë terg en tart hom uit die onbekende gesig. “Ons het mos intussen familie geword. Ons behoort seker te soengroet, of hoe?”
Sy omraam skielik sy gesig met haar slanke hande, trek sy kop nader en soen hom vol en innig op die lippe. Dan lag die grys oë weer in syne op. “Jy het nog niks verander nie, my ou vriend.”
Hy spartel om sy skok te bowe te kom. “Net ’n paar maande ouer en wyser, dis al.” Hy maak keel skoon, stap vinnig terug na sy stoel agter die lessenaar, sy bene lam en bewerig onder hom. Geen wonder Paula was in ’n toestand van skok nie! Hy voel self soos ’n man wat uit die bloute deur ’n weerligstraal getref is.
Sy kom sit op die hoek van sy lessenaar en swaai een goed gevormde been rustig heen en weer. ’n Sagte, verleidelike parfuum prikkel sy neusgate. Duur parfuum … soos wat hy nie vir sý vrou kan bekostig nie.
“Hoe lyk ek vir jou?”
Hy word gedwing om sy blik oor haar te laat gaan, en hy voel skielik ’n beklemming in hom. Hy voel meteens soos ’n vlieg in ’n web … terwyl die spinnekop al hoe nader kom.
“Goed.”
Weer klink haar geamuseerde laggie op. “Net goed? Kom nou, Eugene! Na alles wat ek deurgemaak het en die prys wat ek daarvoor betaal het, kan jy gerus ’n beter kompliment kwytraak! Probeer weer, toe!”
Dis asof daar ’n swaar drukking op sy bors is. Die ou Petra sou nooit só gepraat het nie, sou nooit so duidelik koket gewees het nie, ook nie so vol selfvertroue nie. Daar is niks van die ou Petra oor in die pragtige skepsel hier voor hom nie. Net die oë … maar selfs hulle het verander. Hierdie oë dartel, spot, terg, tart hom … en die ou Petra se oë het sulke dinge nooit geken nie. ’n Fyn wysvingertjie trek skielik teen sy wang af en roer liggies in sy een mondhoek. “Toe nou! Jy is nog dieselfde Eugene. Jy kan tog nog sien wanneer ’n vrou mooi is.”
Hy staan op, stap aan die ander kant