Sy kyk hom magteloos aan, sê dan verbete: “Ek gaan nou aantrek en dan …”
“Wat?” Sy knip haar oë en hy vra weer: “Wat gaan jy aantrek?” met sy blik steeds op die papier voor hom gerig.
“My klere natuurlik, en dan gaan ek ry …”
“Jy het nie klere nie.” Vlugtig rus sy oë op die groot kamerjapon. “Jy sal verdrink in jou ou klere …”
“Dit maak nie saak nie!”
“En ek het gedink jy sal nie omgee as ons die hele ou spul op ons maandelikse rommelveiling verkoop nie.”
Sy kyk hom met groot, geskokte grys oë aan en het geen benul watter pragtige prentjie van vroulike skoonheid sy in haar algehele verbystering slaan nie. Maar die man voor haar se oë bly uitdrukkingloos.
“Jy het my klere op ’n … rommelveiling gaan verkoop?”
“Ja, die hele onooglike spul. Ek moet jou nog bedank vir jou bydrae.”
Sy sluk vinnig die spontane woorde terug wat na haar lippe borrel. “Jy bedoel ek het nie ’n draad klere om aan te trek nie?” vra sy dan afgemete.
“Nee. Behalwe jou nagklere en daardie … e … ding wat jy nou daar dra.”
Haar lippe sluit op mekaar. “Baie slim, dokter Wagner, maar nie slim genoeg nie. Ek sal klere vir my oor die foon bestel en …”
“Wat net ’n verkwisting van geld sal wees, want jy is nie ontslaan nie.” Hulle oë meet kragte met mekaar en hy glimlag byna toe hy byvoeg: “Jou motor se battery is vanselfsprekend ná soveel maande se stanery pap.”
Sy hyg na asem. Haar pa het op ’n dag haar motor gebring vir ingeval sy dit nodig sou kry. “Ek sal ’n taxi ontbied. As jy dink ek gaan jou meer betaal, begaan jy …”
“Ek sal jou ontslaan sodra jy my vertel wat jy van plan is om te gaan doen – as dit natuurlik my goedkeuring wegdra.”
Die snork wat opklink, pas gans en al nie by die fyn, nuwe meisie wat voor hom staan nie.
“Jy het niks met my te doen nie …”
“Jy is verkeerd. Ek is die man wat jou ’n nuwe gesig gegee het, en daarom voel ek verantwoordelik. Daarom stel ek belang in wat jy met daardie nuwe gesig gaan doen en het ek ook ’n sê daaromtrent.”
Sy is totaal verbyster. “Luister, ek hét jou betaal. Jy het my nie gekoop nie!”
“Nog nie.”
“Ekskuus?”
“Jy het my nog nie betaal nie.”
’n Lig gaan vir haar op. Natuurlik! Hy is bang sy gaan nou verdwyn en hy kry nie sy geld nie. Die geldwolf!
“Ek sal jou nou dadelik ’n tjek vir die hele bedrag gee, dokter Wagner,” sê sy styf. “Ek veronderstel jy is bekommerd dat jy deur jou eie nalatigheid nog nie daardie eerste tjek inbetaal het nie en dit het reeds verval. Ek sal jou gerusstel. Ek sal nou dadelik my tjekboek gaan haal …”
“Geen haas nie. Jy kan my betaal die dag wanneer jy ontslaan word.”
Sy bal haar vuiste en roep uit: “Nou wat wil jy hê?”
“Ek wil weet wat jy van plan is om te doen wanneer jy hier uitgaan.”
Ten einde raad sis sy deur haar tande: “As jy dan móét weet, ek wil vir my eers gaan klere koop. Dan wil ek ’n kursus gaan volg …”
“Watse soort kursus?”
“’n Modelkursus – hoe om reg te grimeer, reg aan te trek en so meer.”
Hy knik. “Dit klink veilig genoeg. Wat nog?”
As sy haar sonde nie ontsien nie! “Ek wil by ’n dansskool aansluit en ook leer tennis speel.”
Hy trek sy oë op skrefies. “Baie wys, veral die tennis; dit sal jou help om jou figuur te behou, maar …”
“Maar wat?”
“Dis alles ter voorbereiding van iets groters, nè?” Sy swaai in haar spore om, maar voordat sy die deur woedend kan oopruk, druk ’n hand dit vas en Klaus Wagner sê hier bokant haar kop: “Jy kan al daardie dinge vanuit die kliniek doen. Ek gee jou toestemming om al die kursusse te volg, maar jy bly steeds my pasiënt hier.”
“Maar hoekom? Ek is tog al gesond …”
“Dis wat jy dink. Miskien is jy nou op jou siekste.” Sy oë flikker waarskuwend. “Moenie probeer wegloop nie, Petra. Dit sal niks help nie. Ek sal jou deur die polisie laat terugbring.”
“Jy sal dit nie waag …”
Hy kyk peinsend op haar af. “Jy was en is bereid om tot elke uiterste te gaan. Ek stel dit nou baie duidelik aan jou: ék ook. As jy wegloop, sal ek net eenvoudig die polisie in kennis stel dat ’n vrou wat geestesversteurd is uit my kliniek weg is en dat hulle jou onmiddellik moet opspoor en terugbring. Dit het al in die verlede gebeur en ek verseker jou ek het nog altyd die volle samewerking van ons polisie gehad.”
“Jy is van jou sinne beroof!” sê sy afgemete en tot haar verdere skok glimlag hy vir haar.
“Seker, so effens. Maar nie so erg soos jy nie. Daarom bly ons albei maar nog ’n rukkie lank in hierdie kliniek aan.”
“Dis ’n kliniek vir plastiese snykunde dié – nie ’n neurokliniek nie!”
“Jy sal jou verbaas! Ons begryp mekaar goed, nè?”
As antwoord gee sy hom ’n moordende kyk en stap so statig as wat die wye, lang kamerjas haar toelaat die gang af, en hy kyk haar geamuseerd agterna. Maar toe die deur weer agter hom toegaan, is die diep frons terug tussen sy oë, ’n frons wat niks goeds vir die pasiënt in kamer 44 voorspel nie.
Tog vind sy in die daaropvolgende dae dat dokter Wagner se eienaardige, onverklaarbare optrede haar planne uitstekend pas. Nie net verg dit ’n rukkie om aan te pas by haar nuwe uiterlike nie, maar is sy bly dat sy die laaste afrondingswerk aan haarself liewer vanuit die veiligheid van die kliniek as haar ouerhuis kan doen. Sy besef maar te goed dat daar nog baie skaafwerk aan haar is voordat sy met volle selfvertroue weer in die openbaar sal kan verskyn. Daar moet niks oorbly van die ou Petra wanneer dit gebeur nie. Daar moet niks wees waaroor sy skaam of selfbewus voel wanneer sy die dag haar verskyning voor Eugene en Paula maak nie.
Die nuwe belangstelling laat ’n interessante wêreld vir haar oopgaan. Tot haar verbasing ondervind sy ook, saam met die nuwe selfvertroue, geen moeite met haar kursusse nie. Sy word ’n uithalerstudent in die modelskool, en hoewel sy nooit ’n briljante tennisspeelster sal word nie, is haar leermeester heeltemal tevrede met haar vordering. Ook by die dansskool is sy baie gewild.
Dat haar kom en gaan baie stip vanuit die voorste kantoorvenster betrag word, is sy heeltemal onbewus van. Eers toe sy een middag rooi in die gesig van die tennis en vergesel van haar leermeester die voorportaal van die kliniek binnekom, kry sy ’n vermoede dat haar bewegings deeglik dopgehou word. Die afgelope twee weke het sy net glimpe van die enigmatiese chirurg gekry. Sy word nie meer by sy formele kliniekrondes ingesluit nie, iets waaroor sy baie dankbaar is. Hoe minder sy daardie man sien, hoe beter vir haar bloeddruk.
Vanmiddag kom sy van aangesig tot aangesig met hom, en soos gewoonlik voel sy iets in haar verstyf. Moet die man altyd lyk asof hy haar wil vermorsel?
“Dis Henk Naudé, my tennisafrigter. Dokter Wagner,” stel sy hulle bekend, maar laasgenoemde erken kwalik die bekendstelling. Sy blik gaan ontevrede oor haar rooi, warm gesig.
“Ek het geweet jy het nie veel verstand nie, maar ek het darem gedink jy sal genoeg hê om te weet jy kan nie op ’n bloedige warm middag soos vandag gaan tennis speel nie. Gaan dadelik na jou kamer toe en gaan rus.”
Verontwaardig blits haar oë. Sy is nie ’n kind om só