“Ek móét jou vanaand sien, Petra.”
“Ek is die hele nag aan diens.”
“Dan môreaand.”
Sy knik. “Goed. Ek werk ’n halfnagskof. Ek kom twaalfuur van diens.”
“Bel huis toe en sê die hospitaal soek my. Ek sal jou hier kry.”
Sy knik, kyk hom agterna. Hy eet klaar uit haar hand.
Toe sy die volgende oggend van diens gaan, ry sy nie reguit na haar ouerhuis nie. ’n Ruk later stap sy by Paula se kamer in, kyk af op haar suster wat duidelik nie gesond is nie.
“Môre. Ons het mekaar lank laas gesien. Hoe gaan dit?”
Paula kyk haar moeg aan, en Petra voel haar hart eienaardig saamtrek. Sy lyk so weerloos! Dis vreemd om Paula so kwesbaar te sien. “Goed. Dis nou nog net ’n maand. Eugene sê hulle sal probeer om die baba net oor agt maande aan te bring.” Dan rek haar oë. “Jy … jy verpleeg weer?”
“Ja.” Petra kyk haar verbaas aan. “Lankal. Het Eugene jou nie gesê nie?”
“Nee.”
“O, wel, ek het net kom inloer. Gaan jou goed. Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”
“Nee, niks nie, dankie.”
“Dan stap ek maar.”
“Petra …”
“Ja?”
Die twee susters se oë ontmoet. “Toe ek met Eugene getrou het, was ek nie blind vir sy swakhede nie. Maar ek het hom opreg liefgehad. Ek het hom nie sommer net getrou om … om hom van jou te steel nie. Ek het my man lief … en ek gaan nie toelaat dat jy hom van my wegneem nie … Jy wil hom nie regtig hê nie … nie omdat jy hom liefhet nie. Petra, ek weet nou hoekom jy jou laat mooi maak het. Maar wat jy nie weet nie, en wat ek geleer het sedert ek getroud is, is dat ’n vrou nie hoef mooi te wees om ’n vrou vir haar man te wees nie. Die bande wat ’n man en vrou werklik bind, lê veel dieper as die vlees, het eintlik niks met uiterlike skoonheid te doen nie. Dit lê binnekant … en binnekant kon Klaus Wagner jou nie mooi maak nie.”
10
Paula se oë is stil en verraai niks van haar gevoelens terwyl sy kyk hoe haar man vinnig aantrek nie.
Dit was pas middernag en daar was ’n oproep van die hospitaal. Een van sy pasiënte het dadelik sy aandag nodig. Dan sê sy skielik: “Ek het nie geweet Petra het weer begin verpleeg nie.”
Sy sien sy kop omhoog ruk, maar sy hou haar blik op hom. Hy lyk so skuldig! Ten spyte van die pyn in haar hart verteder haar blik. My arme man, hoe goed ken ek jou nie …
“O, dit … het my net ontgaan om jou te vertel.”
Sy glimlag selfs effens. “Sy is seker op nagdiens, want sy was vanoggend hier by my.”
Sy vinnige, bekommerde blik ontgaan haar nie. Sy hoor sy ongeërgde stem, effens te ongeërg: “Ja.” Hy buk oor haar, soen haar vlugtig. Maande lank is sy liefkosings al beperk tot ’n piksoentjie. Sy het dit begryp. Uit die aard van die saak kon hulle nie meer ’n normale huwelikslewe lei tot ná die geboorte nie, en sy het van haar kant moeite gedoen om dit nie vir hom moeiliker te maak nie. Maar nou wonder sy tog …
“Tot siens. Ek sal probeer om gou terug te wees,” groet hy.
Sy kyk hom agterna en sluit haar oë toe sy die voordeur hoor toegaan. Hoe magteloos en weerloos is ’n vrou in haar posisie. Sy weet sy lyk glad nie meer soos die meisie met wie Eugene ’n paar maande gelede getrou het nie. Sy glimlag – ’n effens bitter glimlaggie. Teen sy sin! Hy het geglo ’n meisie soos sy sal nie ’n goeie vrou vir haar man kan wees nie. En nou?
Binne-in haar kook en woel die onrus. Nou lyk dit of die bordjies skielik verhang is. Is Eugene ’n goeie man vir ’n vrou? is die vraag wat eerder gestel moet word.
Miskien was dit ’n fout dat sy so onmiddellik ná hul huwelik swanger geraak het. Maar hulle was tog albei so in ekstase daaroor. En as Petra nie op die toneel verskyn het nie, sou dit geen verskil gemaak het nie. Maar nou … Hy kon die pragtige Paula nie weerstaan nie. En nou weer nie die pragtige Petra nie!
In elke getroude vrou se lewe kom hierdie oomblik van openbaring – dié oomblik wanneer sy besef die man met wie sy getrou het, is nie die volmaakte godjie waarvoor sy hom aangesien het in haar verliefdheid nie. Dié oomblik wanneer sy besef hy is maar net ’n mens met swak kante soos enige ander mens. Dié oomblik wanneer sy besef hy is nie anders as enige ander man nie.
Haar gesig is bleek en klein teen die wit kussing. Dit help nie om haarself te probeer wysmaak dat hierdie gevoel in haar net op vermoedens berus nie, want die Skepper het ’n spesiale radar in elke vrou ingebou, iets wat haar vertel ’n ander vrou het in haar man se lewe verskyn, sonder dat sy enige bewyse daarvoor hoef te hê. Jy wéét dit net, soos sy dit meteens nou weet …
Sy skuif haar swaar liggaam omhoog en reik na die telefoon. Haar hand aarsel. Is dit nie beter om liefs in die hel van onsekerheid te lewe as om die verdoeming van sekerheid te smaak nie? Is dit nie beter om liefs die marteling van daardie intuïtiewe wete in jou rond te dra as om dit as ’n voldonge feit te ervaar nie? Is dit nie verstandiger om jouself wys te maak dat jy verkeerd gehad het nie, eerder as om dit wat jy hierbinne wéét aan jouself te bewys?
Maar dan skakel haar vingers tog die nommer, en toe sy die gehoorbuis weer ná ’n oomblik terugsit op die mik, weet sy dat sy nie moes nie … maar dat dit nou te laat is. Sy het haar vermoedens bevestig. Die hospitaal sê dokter Minnaar is nie daarheen ontbied nie en suster Prinsloo is ’n paar minute gelede van diens.
Sy lê roerloos. Die lang wag het begin … die lang wag van ’n vrou wat weet haar man is by ’n ander vrou.
Petra kyk op daardie oomblik na die man se gesig hier naby hare en sy kan nie begryp hoekom sy so koud gelaat word deur dít wat sy hoor nie. Dis tog wat sy wou hoor. Dis dieselfde woorde wat sy meer as ’n jaar gelede uit sy mond gehoor het en wat haar hart op daardie oomblik verguis het, want dit was woorde wat toe aan haar suster, die pragtige Paula, gesê is. En op daardie oomblik het sy gesweer: Eendag, eendag sal hy daardie woorde ook aan háár sê. Nóú hoor sy dit … en dit laat haar vreemd koud.
“Petra, hoor jy wat ek sê? Ek kan aan niemand anders as jy dink nie. Jy is soos ’n vuur in my!”
Haar stem is eienaardig beheers, amper sonder emosie. “Wat van Paula?”
Dis ’n oomblik stil – ’n swaar, swanger stilte, met net sy harde, onegalige asemhaling hoorbaar. “Ek … weet nie. Ek weet nie! Ek weet net een ding en dis dat ek jou begeer soos ek nog nooit ’n vrou begeer het nie. Petra!” Hierdie kilheid van haar dryf hom tot raserny. “Moet my nie verstoot nie. Jy weet ek het jou eens liefgehad. Jy weet ons was amper verloof en toe het jy …”
Sy luister skaars. Hy het haar nooit werklik liefgehad nie, want soos die meeste mans kon hy nie iets liefkry wat lelik en oorgewig is nie. Hy kon nie ’n vrou net om haar innerlike liefhê nie. Nee. Dit was haar mooi suster met haar pragtige liggaamsbou wat sy liefde gewen het. En daarom kan hy nou so maklik sy liefde, soos hy dit noem, verplaas na ’n mooier een – ’n uiterlik mooier een, want van binne hét sy lelik geword. Paula het gelyk gehad. Sy het innerlike skoonheid ingeboet vir die uiterlike. Sy het die kalm waters van Silóa verruil vir die stormwaters van die Eufraat …
Sy kyk op na die verwronge gesig bokant haar, maar sy sien hom skaars. Wat het Klaus nou weer gesê? Silóa was ’n fontein; ’n stil, kalm fontein waar die volk van God koel waters vir hul daaglikse lewe in Jerusalem kon gaan put. ’n Fontein wat nooit opgedroog het nie. ’n Fontein wat altyd daar was, wat van ’n onuitputlike bron diep uit die aarde sy stil vloeiende waters na bo laat styg het vir hulle om