“Nee. Ongelukkig nie. Sy is uit. Maar kom gerus ’n oomblik binne. Ek is nie haastig nie; was net op pad na my ander dogter. Dié verwag en haar man is hospitaal toe geroep. Hy is ook ’n dokter. Ons wil Paula nie graag in hierdie stadium lank alleen laat nie.”
“Wat makeer?” Die vraag is skerp.
Kerneels verduidelik en sê dan: “Ek is jammer Petra is vanaand uit. Sy is nou op nagdiens en dis haar nag af.”
“So? Dan het sy weer begin verpleeg? Waar?”
“In haar ou hospitaal. Sy is weer teatersuster. Het sy geweet u kom?”
“Nee. Ek … het sommer skielik besluit om te kom kyk hoe dit met haar gaan.” Hy glimlag vir die ouer man. “My eie skuld dat ek op ’n Saterdagaand hoog en droog sit! Petra sal natuurlik nie ’n tekort aan afsprake hê nie. Ek moes dit vooraf geweet het.”
Kerneels Prinsloo frons, sê amper meer tot homself as tot die dokter: “Dis juis die ding. Ek het haar nog nie een keer met ’n man sien uitgaan nie.”
“Nie? Maar u sê dan sy is vanaand uit.”
“Ja, maar sy is alleen hier weg.” Hy glimlag, voel skuldig dat hy sy dogter met hierdie vreemde dokter staan en bespreek. Dié man het maar net die reeks operasies op sy kind uitgevoer. Dis ál. “As u nie ’n ander afspraak vir vanaand het nie, kan ek u nooi om saam met ons te kom eet. My vrou het gesê sy maak sommer daar by my dogter kos, en ek kan u verseker sy is ’n puik kok. U is baie welkom …”
“Dankie, meneer Prinsloo. Dis vriendelik van u.” Hy frons, dink na. “Ek moet nog ’n draai in die stad maak, maar … gee my die adres. Miskien slaan ek tog daar uit. Ek sal graag Petra se familie wil ontmoet.”
Petra sou nie so gerus in Eugene se geselskap gesit het as sy moes weet watter “draai” dokter Klaus Wagner gemaak het voordat hy by haar suster se huis aanklop nie. Klaus Wagner kan ’n baie innemende mens wees as hy wil. Hy glimlag verskonend, baie sjarmant, toe die deur oopgaan.
“Ons het al by die kliniek ontmoet. Goeienaand, mevrou. Ek is jammer dat ek sommer hier instorm, maar u man het gesê u is ’n baie goeie kok!”
Mara glimlag en nooi hom vriendelik binne. “U is baie welkom, dokter. Kom maak u gerus tuis. Die kos is al gereed, maar ons wag nog om te kyk of my skoonseun nie betyds vir ete sal terug wees nie. Kom, laat ek u solank aan my dogter … my ander dogter voorstel. Sy is in die bed. Sy voel nie so goed nie.”
“So het ek by meneer Prinsloo gehoor. Ek sal haar baie graag wil ontmoet.”
Later eet hulle maar, en nog later staan Klaus op. “Dit was ’n aangename aand. Baie dankie. En mevrou, u man het geensins oordryf nie. U is ’n puik kok. Baie dankie.”
Die Prinsloo-egpaar glimlag hom vriendelik toe. Dit was werklik ’n baie aangename aand. “Kom kuier gerus weer, dokter. U sal Petra seker weer kom opsoek?”
“Baie beslis, mevrou. Ek sal haar beslis weer opsoek.”
Petra trek haar wenkbroue verbaas omhoog toe sy die volgende dag verneem dokter Wagner het onverwags kom besoek aflê. Dan skud sy dit van haar af. Klaus Wagner is nie van belang nie. Tog voel sy haar hart ruk toe sy daardie aand voor die hospitaal stilhou en ’n bekende gestalte reg op haar afgestap kom.
Sy klim uit haar motortjie, onbewus van hoe ’n pragtige prentjie sy in haar wit uniform met die aandskemering agter haar is.
“Ek wil jou spreek.” Geen groetwoord nie. Net die kortaf bevel.
“Ek moet aan diens gaan.”
“Daar is nog ’n kwartier oor. Klim in.” Sy het geen ander keuse nie as om terug in haar motor te klim, en hy skuif langs haar in. “Waar was jy gisteraand?”
Sy kyk hom onskuldig aan.”Ek het ’n afspraak gehad.”
“So het ek verneem … met Eugene Minnaar.”
Haar oë vernou, en dan kyk sy hom spottend aan. “Jy sal ’n swak speurder uitmaak.”
“’n Goeie een. Jy is alleen van die huis af weg en ene dokter Minnaar is nooit gisteraand deur die hospitaal ontbied nie.”
“En dit beteken nou …?”
“Dat hy ’n leuen aan sy vrou en skoonma vertel het, want hy het uitdruklik gesê die hospitaal het gebel en hy sal ’n hele ruk besig wees. Om elfuur was hy nog nie tuis nie. Dit help nie om my so onskuldig te sit en aankyk nie, Petra Prinsloo. Jy het gisteraand ’n afspraak met jou suster se man gehad.”
Sy kyk hom woedend aan, maar ook met ’n vae ongemak en vrees in haar. Toe sy vanoggend hoor Klaus Wagner het nie net na haar kom soek nie, maar ook saam met haar ouers en Paula geëet, tot elfuur die aand daar gekuier, het sy reeds ongemaklik begin voel, wetende dat hy nooit iets sonder ’n rede doen nie. Hy is nie die soort man wat hom sommer aan ander mense sal opdwing nie, nie sonder ’n baie goeie rede nie.
“Hoe ver het hierdie ding al gevorder?” is sy volgende vraag, en dit verg moed om op te kyk in sy oë.
“Ek kan nie begryp …”
“Ek het jou reeds gesê dit het alles met my te doen. Dis deur my toedoen dat jy vandag met ’n mooi gesig en verleidelike liggaam rondloop.”
Sy probeer die skyn van traak-my-nieagtigheid behou. “Dis mý saak. Moet asseblief tog nie vir my sê jy het nou ’n verwronge obsessie oor my ontwikkel nie. Dis heeltemal onnodig én ongevraag. Verskoon my nou …”
Sy hand gryp haar een skouer vinnig vas, hou haar teë.
“Nie voordat ek klaar is nie. Al wat jy besit, is ’n vals uiterlike skoonheid. Eugene Minnaar – en ander mans – sal ’n rukkie daardeur betower word en dan sal hulle deur jou sien – ’n mooi, leë pop. Wanneer die aardigheid van die popspelery verby is, sal jy agterkom ’n man wat sy sout werd is, soek na veel meer in ’n vrou as blote streling vir die oog. Dan gaan jou suster jou een voor wees.”
Sy is bleek toe sy na hom opkyk. “Jy dink nie ek is ook in staat om ’n man ’n kind te gee nie?”
Sy krimp voor die amper openlike bejammering in sy oë. “Jou arme, verdwaalde mens! Dis nie bloot deur ’n baba dat ’n vrou waarlik vrou vir haar man word nie. Daardie kind word groot, gaan later weg … en dan moet sy nóg haar man se lewe kan vul. Jy het geen benul wat dit alles behels om ’n vrou vir ’n man te wees nie. Jou suster weet dit. Sy is glad nie die leë, mooi vlinder waarvoor jy haar al die jare aangesien het nie; die vrou wie se man jy maklik kan steel nie. Jy het ’n sterk teenstander in jou suster, Petra. Dis jy wat eindelik die seerste gaan kry. Jy gaan die aftog moet blaas. Wanneer die toets kom, gaan jy faal en jou suster met vlieënde vaandels slaag. Al waarvan ek nie seker is nie, is of Eugene Minnaar die stryd werd is.”
Sy ruk haar skouer onder sy hand los, klim uit en buk dan weer sodat sy na hom deur die venster kan kyk. Sy sis die woorde uit: “Bly weg van my! Ek wil jou nooit weer sien nie!”
Petra is koel en afsydig daardie aand, selfs toe Eugene ná sy aandronde gou by die operasiesaal inloer. Gistermiddag toe hulle saam tennis gespeel het, en gisteraand toe hulle saam gedans het en diep in mekaar se oë oor die flikkerende kerslig gekyk het, het sy reeds die soet smaak van die komende oorwinning geproe. Dit sou nie meer lank wees nie, dan sou sy begeerte na haar sy skuldgevoel oor Paula oorwin. En dan …
Haar planne was mooi agtermekaar. Die eerste keer sou sy, Petra, die een wees wat iets van haar suster steel … soos sy, Paula, al die jare alles en almal van haar gesteel het. En dan, wanneer Eugene sy vrou, sy kind, sy huis, alles laat vaar het om háár te bekom, sal sy haar rug op hom draai; hom laat voel hoe dit voel om vir die gek gehou te word; hoe dit voel om tot in die stof verneder te wees. Dan sal haar weerwraak volkome wees. Sy sal die rug op hulle almal draai en dan eers haar nuwe toekoms werklik en met oorgawe tegemoetloop. Maar eers die afrekening …
Maar Klaus Wagner sê