Struisvoël. Johan Fourie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Fourie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624075592
Скачать книгу
Ou-Sarel jaag hulle ook aan omrede hy elke oomblik vir Ma-Ria verwag. Hy sien nie kans vir haar én haar man se lyk so saam-saam in een huis nie. Daarom dat hy Fourie solank wil laat halfbêre, daar in die graf wat hy jare gelede laat grawe het toe Ralie amper dood is, met Klein-Sarel se geboorte.

      Dominee Vos wil nog beswaar maak oor dié beplande halfbegrafnis: “In die ou dae was daar nog respek –” Toe kom die kis kopkant eerste deur die venster.

      Die werksmense stoot van binne af. Klein-Sarel, wat vir sy ma die leë bordjies teruggebring het, anker buite op die stoep. Met haar oë meet Marja dadelik die middelpunt van die kis, dié plek waar dit veilig oor die vensterbank sal kan wipplankwieg sodat Klein-Sarel buitekant allenig die gewig sal kan hou. Oral waar die sluisplanke nie dig pas nie, probeer sy die laken deur die skrefies terugdruk.

      “Kom, Manne! Vandag moet julle vat. Baas Fourie is swaar.” Klein-Sarel lei die stoet. Dié een keer sluk hy tog sy vloeke weg.

      En dié een keer staan Ou-Sarel op sy eie stoep terug. Hy waarsku nie toe die prosessie by die trap afgaan nie, ook nie toe hulle by die toe hekkie kom nie. Hy kyk hulle sonder ’n woord agterna, kyk hoe hulle oor sy werf loop, by die groot hek uit, verby die volstruiskamp, die rantjie uit.

      Marja volg elke tree wat die draers gee en voel saam met die wegkwyn van Klein-Sarel se stem hoe haar pa haar verlaat. “Vat, Manne, vat!” “Vat, Manne, vat!” “Vat, Manne, vat!” Maar al laat die afstand hulle stemme versag, hoor sy wat antie Ralie gesê het, is waar: Die sagste geluide klink soms die hardste. Waar sy staan, hoor Marja duidelik die sakkende kis teen die grafrande kap. “Hou, Manne, hou! Dis dooiegewig!”

      Vir ’n oomblik lyk dit vir Marja of die ses draers versteen. Daar waar hulle agteroor beur aan die rieme om haar pa so saggies moontlik neer te sit, lyk hulle vir haar soos standbeelde wat terugdeins van ’n angswekkende middelpunt.

      Sy wil die laaste neersit nie hoor nie. Daar is ook nog ander grafte in die verte. Sy begin hulle tel. Haar pa gaan agtste aan die wit kant lê. Sy’s verlig. Die bruin kant se getal is onewe. En dan is daar die een alleengraf.

      “Wie lê daar, Antie?” vra Marja vir Ralie en wys na die eenkantgraf.

      “Dis Victoria se ma, my kind. Sy was mos swart.”

      Marja is bly. Nou weet sy eindelik haar naam. Sy besluit om swart by bruin te tel; dinge ewe te maak. Dan hoor sy dominee Vos en Ou-Sarel praat. Hulle stem nie saam oor die rigting waarin haar pa se kop moet wys nie.

      “Die man het tog mos duidelik die hand aan eie lewe geslaan,” hoor Marja vir dominee Vos sê. Dit klink of hy van vooraf geskok is. “Diesulkes se voete móét wes. Sy kop moet oos. Hulle sal vir hom móét omdraai daar, Broer. Selfmoordenaars hoort ewig van die opkomende son wég te kyk; die gesig van die Wederkoms op die wolke, dit mag hulle nie aanskou nie.”

      Al beklemtoon dominee Vos sekere woorde, praat hy deurentyd met sy sagste stem. Tog klap sy woorde soos ’n sweep in Marja se ore. Sy dink: Ma kan ook so sag praat; mens hoor haar net so duidelik.

      Ralie kom agter Marja staan. Sy vou haar hande liggies oor die kind se ore. “Ag my genade, genade toggie, sag praat is erger as vloek,” hoor Marja die antie prewel.

      Dan praat Ou-Sarel skielik hard, op sy klaargepraat-manier. “Fourie is nou genoeg rondgeskuif.”

      Asof gelyk kyk almal op. En daar, op die rivier se anderkantste oewer, staan Ma-Ria.

      Die mans kom soos een man orent. Ralie druk haar lyf terug in haar stoel. Marja wil rivier toe hardloop, maar net soos met haar pa, wil haar voete weer nie doen wat haar kop vir haar sê nie. Sy bly sit waar sy sit.

      Dieselfde man wat dominee Vos deur die rivier gedra het, gaan bied sy dienste vir Ma-Ria aan. Marja sien hoe haar ma doer ver met haar hande nee beduie en eenkant toe loop. Dalk dink sy daar kom ’n wit oom verby wat haar kan dra. Maar sy sal nie lank wag nie. Marja weet. Haar ma kon nog nooit wag nie.

      Die jong man stap op en af langs die rivier en roep. “Tiekie vir ’n dra! Tiekie vir ’n dra!”

      “Nou toe, kom dan tog maar,” roep Ma-Ria hom terug. “Kom dra jy dan tog nou maar vir jou mies.”

      “Wil Mies net een dra hê?” vra die draer toe hy langs haar staan.

      Van ver af sien Marja hoe Ma-Ria se kop kantel sodat haar hare oor een kant van haar gesig val. Vererg haar ma haar? Of is sy verleë?

      “Toe, toe, jong!” jaag Ma-Ria die draer aan. “Jou Mies het gróót sake wat wag. Jy kry jou geldjie anderkant.”

      Die kinders op die wal lag en jil elke keer as die jong man maak asof hy met Ma-Ria gaan val, amper soos wat hy regtig onder die gewig van dominee Vos gewankel het. Marja hoor hom runnik, hy maak selfs poepgeluide soos ’n perd, en sy sien hoe haar ma rondkyk. Is sy benoud? Of kyk sy wie haar daar in die jong man se arms sien?

      “Mies moet eet. Mies is lig,” sê die draer toe hy met Ma-Ria aan die Blanckenberg-kant van die rivier kom. Daar is niemand om haar by hom aan te vat nie, dus draf hy maar die wal uit met sy vrag. Laat die nuuskierige plaaskinders nóú sien hoe sterk hy is.

      “Ek hou sommer jou betaling terug,” dreig Ma-Ria toe hy haar neersit. Maar dis net kamtig, want sy hou reeds die muntstukkie na hom uit. Dan krap sy weer in haar handsak. Sy haal twee humbugs uit, een vir hom; die ander een sit sy in haar mond. “Mens se asem gaan jou vooruit,” sê sy.

      Sonder spieëltjie maak sy haar lippe rooi, en kry koers stoep toe.

      HOOFSTUK 6

      Vanoggend lê ek hier en wonder oor die paaie wat mens so deur jou lewe stap. Toe ek klein was, was die bult voor my ma se huisie ’n berg. Toe word ek groot, en ek sien dis net ’n koppie. En toe ek op ’n dag dink: nou is ek ’n vrou, toe is daardie ou koppietjie skielik weer die steilste bult, maar meer so vir my hart as vir my voete. Elke keer as ek met my oë en ore moes dophou wanneer Sarel dalk na my toe aan’t komme was.

      Toe vat ek die pad deur die poort waardeur Ma na Vrede toe afgedraai het. Vir wie van ons twee sou dit die nouste gewees het? wonder ek. Vir Ma, swanger en alleen te voet? Of vir my in die perdekar, die nag van Wieskris se geboorte?

      Ek het nog verder gedwaal. Deur die poort en in die Langkloof af, op die pad waarlangs my ma se mense, die verhongerde Xhosas, gevlug het, Kaap se kant toe. Was die kloof vir Ma, met my in haar maag, langer as wat dit vir my was, in Klein-Sarel se lorrie? Die dag toe hy my op haar spore wou terugneem, my halfpad wou gaan wys waar ek vandaan gekom het.

      As ek nou so dink, wou ek eintlik iets anders geweet het. Watter gelowige het eerste die pad na Nongqawuse gekry? Dis wat. En ná alles: Watter oorlewende het eerste van háár pad afgedraai? Ek sou graag wou geglo het dit was Ma. Maar daai paaie was maar altyd vir my te ver om behoorlik na te loop; in die donkerste donker van Vrede se grot kon ek hulle maar net versin. Ek hoop ek het dié geskiedenis nou vir goed uit my kop. Ek het nie meer tyd oor om aan verbeel af te staan nie.

      Eendag, nie te ver terug van nou se oudag nie, het ek in die kombuis gekla oor ek so swaar beginne loop. Marja sê toe ek moet ophou om oor voete te kla, die swaarste pad is die pad van die kop. Hoe het sy nou weer gesê?

      Sy het iets gepraat van háár langste pad, wat op die oog af kort was. Sy kon dit inderwaarheid presies vir my sê: vier-en-sestig treë. Nee, sy het hulle nie self geloop nie. Dit was haar ma se treë, het sy gesê, Ma-Ria se treë wat sy daardie dag tussen Vrede se tuinhekkie en die stoep getel het; die dag toe haar pa halfbegrawe is, toe sy oor haar pa en haar ma moes dink. Dít was die langste pad wat sy moes stap, het sy gesê, want dit was ’n pad wat voete nie kon loop nie.

      Noudat ek ook meer op koppaaie as op voetpaaie loop, verstaan ek dit goed. Ook vir mý was die dag ná haar pa se dood ’n groot dag. Dit was my eerste in Vrede se kombuis. Daarom kon ek vir Marja sê: Ek het jou ma miskien nie, soos jy, daardie dag oor die werf sien aankom nie, daarvoor was ek te doenig voor die opwasbak, maar deur die kombuisvenster kon ek haar baie goed hoor.

      Dié Ma-Ria was vir jou ’n anderster een.