Al hierdie dinge het hy vir my gesê toe ons al te ver op ons pad was vir omdraai, toe dit te laat was.
Watter pad my kop ook al vat, êrens kom kry ek my altyd maar weer langs Ma, deur die Langkloof op pad. Het die landdros regtig vir Ma op sy wa gelaai? Het die landdros Ma op sy wa genaai? Hy was mos Engels. Wie’s Pa, Ma?
Hier wens ek nou ek kon praat. Ek wil dat Katrien se kli’meid, die een wat nooit vrae vra nie, die dom een, Sêrie, my ore kom toedruk. Dalk sal ek dan my gedagtes nie meer so helder hoor nie. Dan sal ek dalk minder jaloers wees, op Marja, oor sy daai dag darem nog vir Ralie gehad het.
Voel hoe kriewel my kop. Die miere loop die wêreld vol, in een stringetjie loop hulle deur die hele aarde geryg, hier in, daar uit. Net die uitkeersloot is langer as hulle pad. In my drome het dit geen einde nie. Snags, bedags, jaag Sarel my steeds daarin af.
HOOFSTUK 7
Ma. Ek wil na jou toe hardloop, Ma, maar iets hou my vas.
Pa?
Die ompaaie in my kop na Ma toe maak my bang, Pa.
Weet Ma Pa is al halfbegrawe?
Pa weet seker nou als. Kyk. Dis jou wit sakdoek, Pa. Ma vee haar skoene daarmee af. Nou die dag het jy gesê jy blaas nie jou neus nie, jy poets dit. Al waarvoor jy ’n sakdoek dra, is om Ma se skoene blink te hou, en kyk nou.
Ma sal vandag mooi moet trap, die wêreld is die ene modder.
Sy waai mooi, selfs met die vuil sakdoek. Dominee Vos waai terug. Kyk hoe rooi is sy gesig. Wat dink hy? As my gesig so warm word, is dit oor wat ek dink, en Dominee bloos elke keer as hy Ma sien. Ma het self so gesê. Net op die preekstoel bloos hy nie.
Hoekom nie op die preekstoel nie? het ek gevra.
Seker oor hy God daar soos ’n masker oor sy gesig kan trek. Want as die een kant van jou kop se gedagtes alewig met die ander kant s’n baklei en jy jou kopgeveg verloor, slaan die bloed van die verloorgedagte op jou gesig uit, het Pa gesê.
Word Het boek van het leven met rooi geskryf? Ek wens ek het dit ook vir jou gevra, Pa. Pa het geweet hoe graag ek skryf. Maar nooit met rooi ink nie. Niemand, nie eers die Here self, sal eendag my lewensboek lees nie. Ek sal als betyds uitvee. Witter as wit, al die blaaie sal leeg wees. Tot dan skryf ek al my gedagtes neer en bêre ek my boekies diep weg sodat my gesig nooit hoef te lyk soos Dominee s’n nou nie. Al net so rooi soos Ma se lippe. Lyk of sy boordjie hom wurg. Hoe’t Ma gesê? Dominees dra stywe boordjies om te keer dat wat onder hulle broeksband is, opstoot en kop toe gaan. Anders kom hulle nooit in die hemel nie.
“Antie Ralie, ruik jy? Ma ruik altyd lekker, selfs van ver af.”
Hoekom sê ek dit? Ek weet nie, maar ek’s bly ek het. Nou is my gedagtes terug. Netnou sê die oom ek is ’n hus met lang ore. Gelukkig is net antie Ralie naby genoeg om my te hoor. Sy’s heeltyd by my. Sy gaan nog my wind uitdruk! Maar dis lekker as sy my vashou.
“Ja, my kind. Jou ma is voorwaar ’n mooie vrou.”
Antie Ralie vat lank voor sy mens antwoord. Gister het die oom gevra of sy my troos oor Pa, of oor Ma. Sy het nie geantwoord nie, maar elke keer as sy vir Ma sien, praat sy eenasemsinne. Kyk hoe rem sy al klaar aan haar blommetjiesrok. Sy stryk elke kreukeltjie plat, tot oor haar bene. Kyk hoe trek sy haar driekwartmoutruitjie styf om haar lyf. Dis mos nie koud nie. En sy vee haar skoene aan haar kouse af. Al is sy hoe skelmpies-skelmpies. Ek sien haar. En Ma is nog nie eers by die hekkie nie! Ma is nog ver en die antie lyk klaar soos Klein-Sarel wanneer hy die dag régtig vloek. En waarheen mik sy dan nou? Een tree vorentoe. Vier treë terug. Nóg een. Tot agter die sifdeur. Een vorentoe en vyf terug is vier of ses. Dankie, Here. Al lig die antie hoeveel keer op ’n dag haar hande na haar hare, altyd hang haar hande maar weer langs haar sye. Hoeveel ogies het die gaas van die sifdeur? Hier kom die antie weer uit. Een, twee, drie, vier.
Ma is by die hekkie.
Ek moet tel. Dis al wat vir Ma-en-Pa-gedagtes help. En ek moet onthou om bly te lyk. Ma sal dit verwag. Ma bly en bly my wys. Só. Só lyk mens blý. Maar ek kry dit nie reg nie. Dan trek Ma Ma se hartseer gesig, maar ek aap nie “hartseer” na nie. Regte hartseer is soos God. Mens spot nie daarmee nie. Ma sê Ma verstaan nie waarom moedertrane my nie raak nie. Dan lyk Ma teleurgesteld. Met teleurgesteld sukkel ek nie. Ma se teleurgestelde gesig kan ek nes dominee Vos soos ’n masker oor my kop trek. Die laaste keer het Ma gesê Ma kan nie anders as trots op my wees nie. “Ek en jy darem! Ons tweetjies beleef ook ál die seisoene in ’n enkele ou daggie!” het Ma gesê. Hoekom sukkel ek altyd om saam met Ma te lag?
Vandag moet ek op my beste tel.
Ek moet tel. Ma se treë. Ek tel Ma se treë. Een, twee, drie . . .
Tien, tien, tien . . . Wat sukkel Ma so met Ma se kousnaat! As Ma nie loop nie, kan ek nie tel nie. Wat as Ma op ’n onewe getal op die stoep aankom? Of net ’n halwe tree gee? Dan sal ek nie bly lyk nie! Sê iets, Ma. Ek is beter met woorde as met treë.
Spog ek? Maar dis waar. Partykeer probeer ek ’n afgeskeepte woord uitlok. Ek kry dit reg. Net met “jammer” sukkel ek wanneer dit Ma is wat praat. Pa was altyd die een wat jammer gesê het. Hoekom, Pa? Ek het gevra want ek het gehoop Pa sou dan nog ’n “jammer” sê, oor sus of so, om dit ewe te maak. Maar dan was Pa van voor af kwaad. Ek het geweet hoekom. Ek het geweet Pa hoef oor niks jammer te gewees het nie, maar ek het Pa uitgelok totdat Pa sê: “Jammer oor als wat ek van jou ma moet opvreet.” Dan het die bakleiery weer voor begin.
Ek is skuldig, Here Jesus. Vergewe my. Ek wou nie, maar ek het die vuur tussen Ma en Pa gestook. Ter wille van ewe getalle. God, en nou is Pa dood, en Ma se kousnaat is reg. Dankie. Amen. Nou kan ek weer tel.
Nege-en-twintig . . . Wat is dit tog met Ma en die oom se hond? Ma hoef nie te stop nie. Die ketting is te kort. Die teef kan Ma nie bykom nie. Vir wat blaf die hond so vir Ma? Ma ís mos wit.
“My rók! My rók!”
Ma lyk op Ma se mooiste so een-alleen daar. Hoekom raas almal so? Dis onnodig. Die hond hol maar net om haar paal. Nege-en-twintig, nege-en-twintig . . . Hoekom staan Ma juis op nege-en-twintig stil? Net om oor Ma se rok te gil?
Oor nege-en-twintig was Ma vir my verskriklik kwaad. In die poskantoor. Die ry was lank. Onthou Ma?
“Volgende,” het die klerk gesê.
Hy was ’n Engelsman. Ek kon sy woorde nie mooi uitmaak nie. Hoe moet hy geweet het mans kyk op as Ma voor hulle staan, dat Ma nie praat met ’n man wat Ma nie raaksien nie? Ma het keelskoongemaak, maar hy het na sy vorm bly kyk.
“Naam?”
“Ma-Ria.”
Ma het verduidelik van die twee hoofletters, van die koppelteken –
“Van?” het die klerk gevra, asof hy nie hoor nie.
“Fourie.”
“Spel.”
Ek weet hoekom Ma so ontsteld was. Dit was die eerste keer dat Ma “Fourie” soos “Ma-Ria” moes verduidelik. Dit was asof Ma Ma se eie van nie geken het nie. Toe hy opkyk, het Ma Ma se kop skuins gedraai, mooi kant na hom gekantel.
“Ouderdom?” Hy het kliphard gepraat, asof hy Ma steeds nie raaksien nie.
Ma het omgekyk, gefluister: “Vier-en-twintig.”
Ek kón nie anders nie. Ek het daar gestaan en Ma tot by nege-en-twintig afgetel.
Ma het gesis ek moet ophou.
Ek kon nie. Ek wou.
Dankie, Liewe Jesus. Die hond het haar tot teen die paal opgewen. Hier kom Ma nou. Dertig, een-en-dertig . . . Ma loop só stadig.
Twee-en-dertig.
Is dit die middelpunt tussen die stoep en die hekkie? Middelpunte is belangrik. Daar begin die afloop. Ek hoop ek wen rustig af. Vir wat pluk Ma antie Ralie se malva? ’n Rooie. He loves me. Agt-en-dertig treë; een blaar. Liewe