Duet. Johan Ferreira. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Ferreira
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318183
Скачать книгу
verhoudings en is moontlik nie dieselfde as jou maat s’n nie – wat natuurlik ook reg mag wees!

      Dis nou hier waar my geduldnota gevolg word met die geduldgesprek. Skuif jou fokus weg van wat jou maat doen, en vra jou af wat jy kan doen om die situasie te verbeter. Onthou, bly weg van reg wil wees. Die meeste verhoudingsituasies het weinig met reg te doen. Geluk vloei nie uit reg wees nie, maar uit diens aan die verhouding. Soms dien jy, en soms dien ek.

      Dien ek my maat in my verhouding?

      Vader, help my om weg te bly van wil reg wees met my maat. Amen

      23 Januarie

      Wie jaag … kry niks

      Galasiërs 6:9 – Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes. (NLV)

      “Net stadig, Seun,” hoor ek my ma vandag nog. Groot, vinnige planne, onhaalbare tydlyne en uitdagings groter as die aardbol lyk nog altyd vir my doenbaar. Hierin lê natuurlik ook van my seerkry en teleurstellings. Dankie tog vir die middeljare wat jou pas verstadig!

      Hoe wonderlik om te ontdek sekere kosbaarhede is slegs bereikbaar deur stilstaan en wag, sit en peins. Die verskil in natuurlike lewenspoed sorg natuurlik vir behoorlike vassit en baklei in die huwelik. Sommige mense sit van nature makliker as ander. Die spul wat so woel deur die lewe sien maklik hierdie rustiger siele as stadig, lui of nie ambisieus nie. Albei persoonlikheidstipes kan by mekaar leer.

      Ek, Christine, ons huishoudster en tuinman is van die woel-variasie. Nou kan jy dink hoeveel gesprekke daar al met ons seuns was. En toe lees ek ’n joernaalartikel uit een van my vaktydskrifte. Die skrywer reken ouers met dieselfde temperament moet waak om nie as span teen hul kind (of kinders) op te tree nie.

      So begin ’n lang en geduldige proses van leer by ons kinders. Hulle maak ’n reël: by ons seehuisie mag ons nie woel nie. Ma kan een maal per dag vee, as sy moet. Pa kan heeldag in die tuin spit, maar hy spit alleen. Ons eet wanneer ons honger is en staan op wanneer ons wil. Ná vyf jaar van so vakansie hou, glip ek en Christine alleen weg see toe. Ons lag lekker toe ons daadloos en sonder toesig net kan sit.

      Neem ek my maat en my gesin se persoonlikhede in ag?

      Vader God, laat my u skepsels met groot respek aanvaar en koester. Amen

      24 Januarie

      Volhard – ook in jou huwelik

      Jakobus 1:2-3 – My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. (NLV)

      Te midde van uitdagings in jou lewe wil jy natuurlik niks van volharding hoor nie. Ek weet ek wou nie. Ons wil eerder hê die uitdaging moet weggaan of ophou. God kan mos enigiets doen.

      As terapeut wat elke dag met die wonderwerk van emosionele genesing en groei werk, het ek ook in my eie lewe leer aanvaar dat moeilike tye die grootste groei in my lewe bring. Dit is gewoon net so dat die meeste mense nader aan God leef wanneer hulle Hom baie nodig het. En ons leef mos maar reg by Hom verby wanneer alles voorspoedig verloop.

      Ek dink Jakobus verwys nie net hier na tye van groot uitdaging nie, maar ook na die alledaagse pogings om reg en goed te leef. Om mooi te praat met my vrou, en elke dag daaraan te werk. Om elke dag die beste poging aan te wend om jou man te eer vir sy pogings en oorwinnings.

      In die sielkunde pas ons die beginsel toe dat die beste voorspeller vir toekomstige gedrag, huidige gedrag is. Indien ons dan binne die huwelik geduldig en met toegewydheid die hier en nou kan beïnvloed met regte keuses, kan ons mos die toekoms van verhoudings rig na geluk en respek toe. Kies gewoon om vandag, nou, so op te tree.

      Dan kan ons hierdie insig van Jakobus op sy woord neem, dat ons ons lewensdoelwitte sal bereik en ook binne die huwelik geestelik gesond kan leef.

      Leef ek geestelik gesond binne my huwelik?

      Vader, ek begeer geduldige kommunikasie met my maat sodat ons geestelik gesond kan leef. Amen

      25 Januarie

      Hande vol onverdiende genade

      Johannes 1:16 – Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

      ’n Halfuur by die St John-kerkie op Bathurst gister laat my gees geskuur voel vanoggend. Ons wou Bill Charmers se stasies van die kruis gaan beleef.

      ’n Helderoog man ontmoet ons binne, fyn vel strek glad oor die kaal kop en laat die gesig ouer lyk as wat die oë sê. Sy sagte stem nooi ons na die belewenis van die terrein en die gebou. Sy knieë pla en hy sal nie saamstap in die kerkhof nie. Hy wag geduldig by die voordeur op ons terugkeer.

      Terug in die kerk gesels hy soos ’n ingeligte toergids. Ek sien die gat in sy baadjie se rug en wonder oor die modderstewels en kaal bene. Hy praat orrels en kuns, kansels en klokke.

      En êrens praat hy sy eie storie. Sy pa wat die Anglikaanse priester was, sy eie pad met sy God, sy woonwa en sy belewenis van die koue van die Oos-Kaap.

      Te gou staan ons by ons motor, en hy by die hekkie. Ek voel hy hou ons nog net een oomblik saggies vas. Die laaste sien is sy rugkant soos hy deur die oop deur van die kerk loop.

      Op pad terug na ons eie strand gesels ons oor die ervaring. Die eenheid van die huwelik blyk duidelik in die ooreenkoms van ons belewenis; die man se helder gees ons blywendste indruk.

      Ek wonder oor sy lewe, hoe hy daar beland het en of hy snags koud kry. Waar is sy mense en hoekom is daar vir my soveel genade dat my baadjie nie ’n gat op die rug het nie?

      Is ek bewus van God se genade in my lewe?

      Vader, gee dat ek die volheid van U genade in my lewe beleef. Amen

      26 Januarie

      Sy seën sal weer reën

      Psalm 37:7 – Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. (NLV)

      Vir ’n maand lank wag ons vir die reën, voel ons stukkie aarde dit het sy guns by die Reënmaker verloor. Maar vandag, van donkervroeg af, val daar dik, silwer water.

      So dikwels beleef ek die frustrasie van die tydlyn. My tydlyn en God se skepping en voorsiening val dikwels nie in dieselfde tydsone nie.

      Moedeloos gewag, kom ek elke keer weer by dieselfde vraag uit: Wie is God werklik? Sy karakter is onveranderbaar. Hy kan nie iets of iemand anders word omdat my lewensomstandighede uitdagend of moeilik is nie. Dit verander nie aan my vertwyfeling wanneer die uitdagings van die lewe groot is nie.

      Heel dikwels word ons uithouvermoë en geloof gelyktydig die uitdaging. ’n Moeilike konteks kan lank aanhou. Ons voel God hoor nie ons stem nie, of vergeet van ons. Die klem hier is dat dit so voel. God se karakter laat Hom nooit toe om van ons te vergeet nie.

      In hierdie tye is die teenvoeter vir negatiewe emosies om te lees wie God is. Oorspoel jou denke en emosies met die feite van wat jy glo oor jou hemelse Vader. Uiteindelik gaan alle seisoene verby, sommiges te lank, ander te kort.

      Die spruit agter ons huis raas met diep, lewegewende water. Die geute beur en bruis, die swembad loop oor en die grasperke blink van damme water. Vandag gee God baie. Ons drink sy seën in terwyl die honde al ure by my voete lê en ek in my slaap glimlag.

      Sien ek God se seën in my lewe raak?

      Vader, ek wil u wil in my lewe soek en met geduld vir u tydsberekening wag. Amen

      27 Januarie

      God, ons heel eerste liefde

      Johannes 6:27 – Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem. (NLV)

      God