Duet. Johan Ferreira. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Ferreira
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318183
Скачать книгу
se uniekheid. Hoe vervelig sou dit nie gewees het as julle altyd van dieselfde goed gehou het nie!

      Here, dankie dat U ons as man en vrou geskep het – elkeen uniek, twee helftes van ’n ronde geheel. Amen

      9 Januarie

      Jou heupe is soos juwele

      Hooglied 7:1 – Die rondings van jou heupe is soos juwele … (NLV)

      Vandat ek kan onthou, pla my gewig my. Het ek maar geweet wat ek nou weet!

      Met die jare word die stryd teen die skaal nie minder nie; inteendeel, dit word net moeiliker. Twee swangerskappe en die natuurlike verloop van tyd het hul tol op my eens vietse lyf geëis. Nie dat ek ooit die tengerigste van vroue was nie en boonop is ek (en my man) lief vir kosmaak en eet!

      Maar as ek vandag terugdink, wens ek ek het my lyf oor die jare meer waardeer en minder gekritiseer. Het ek tog maar minder tyd gemors met ongesonde diëte en negatiewe gedagtes oor myself, my minder met ander vergelyk en meer waardering getoon vir die unieke manier waarop God my gemaak het.

      Ek is sterk en gesond, soepel en lief vir dans en beweeg! In sy Woord gee God, ons hemelse Bruidegom, ons die opdrag om Hom ook met ons liggaam te eer. Dit ís immers die tempel waarin die Heilige Gees woon. As huweliksmaats is ons veronderstel om mekaar ook met ons liggaam te eer en ter wille van ons gesin ons gesondheid op te pas. En te koester.

      As ek goed voel oor myself is ek in staat om liefde in oorvloed uit te deel aan my naaste. In plaas van laatlê vanoggend trek ek my swembroek aan en kies koers na die gim. Terwyl my arms deur die blou water klief en ek my hart diep binne my voel klop, sê ek dankie vir my lyf en my gesondheid.

      Ken die uitdagings vir jou gesondheid in elke lewensfase. Moedig mekaar aan om na julself om te sien.

      Here, laat ons mekaar en U met ons liggaam eer. Herinner my daaraan dat ek ook u beminde is. Amen

      10 Januarie

      ’n Spreuke-vrou soos korale

      Spreuke 31:17 – Sy werk baie hard, haar hande staan vir niks verkeerd nie. (NLV)

      Die vrou met die kort hare en byderwetse klere kom maak ’n draai op kantoor om oor ’n projek te praat wat ons saam gaan aanpak. Sy is ’n reguit mens, sê ’n ding soos hy is en hou nie van nonsies nie. Wat jy sien, is wat jy kry, soos die manier is om te sê. Ek hou daarvan.

      Sy gesels opgewonde oor alles waarmee sy besig is. “Net as jy my R100 000 per maand betaal, sal ek weer heeltyds werk. Net soveel geld kan ’n verskil aan my lewe maak!” Sy is gek daarna om nou tuisteskepper te wees. Vir haar hande staan niks verkeerd nie en sy is bésig.

      Sy is besonder kreatief en gek na handwerk. Sy brei opgewonde uit oor die spesiale masjien waarmee sy papierwerk doen en vertel van die honderde flessies konfyt en ander oulike goed wat sy vir ’n onlangse familiefees berei het. Vir die lang vakansie het sy vooraf ’n presiese spyskaart uitgewerk en is met ’n sleepwa vol kos en vleis af see toe. Sy wys foto’s van haar Kerstafel, pragtig gedek in skakerings van wit en bruingrys, met aardse elemente soos dryfhout en papier.

      Sý is ’n vrou van vele talente. Toe sy groet om te loop, kan ek nie help om aan die vrou uit Spreuke 31 te dink nie.

      Spreek jou waardering vir jou maat uit. Maak ’n lysie van dié dinge wat hy of sy doen om die wêreld ’n beter en mooier plek vir julle as gesin te maak.

      Here, dankie vir die vele talente waarmee U ons geseën het. Help ons om dit ten volle en tot u eer te gebruik. Amen

      11 Januarie

      Dra jou man op die hande

      Jesaja 61:6 – Julle sal genoem word: die priesters van die Here, die bedienaars van ons God. (NLV)

      Elke keer dat ons deur die Vrystaatse dorpie ry en ek die reuseletters “Jesus is Lord” op die dak van ’n skuur by die ingang van die dorp geverf sien, dink ek aan hom en sy gesin.

      Ek het die man wat die kunstige doringdraadwerk doen by ’n kunstefees in Bloemfontein ontmoet. Die kunstenares van Aliwal-Noord wat die mooi tonele van skapies in die veld skilder, en langs hom uitgestal het, het my meer van hom vertel en uitgewys dat hy ’n gelowige man is.

      ’n Tyd daarna vertel hy in ’n tydskrifartikel sy lewensverhaal – dis ’n verhaal van oorwinning en ’n lewe oorgegee aan die Vader. Hy vertel nie net van sy swaarkrydae nie maar ook van sy liefde en afhanklikheid van God. Hy deel hoe God hom gelei het om skinkborde van draad te maak. Hoe hy snags deur God wakker gemaak is om biddend die vloek van armoede oor hul lewe te breek.

      “Hoekom draadskinkborde?” het ’n besoeker aan sy stalletjie by die kunstefees hom gevra. Sy antwoord het oorspronklik van God gekom: “Dis ’n bediening – om mense wat moedeloos is weer hoop te gee.” Hierdie man wat eens amper nie vir sy gesin kon sorg nie, verskaf nou vir talle mense werk. En ou rolle geroeste doringdraad word deur genade tot die mooiste kunswerke omskep – nes weggooilewens. ’n Ware verhaal van weggooigoed wat wonderwerke word.

      Gesels saam oor die man se rol as priester, koning en profeet binne die huwelik en die seën wat dit vir julle as paartjie inhou.

      Here, dankie vir die man in ons huis wat deur harde werk vir ons as gesin sorg. Help hom om sy oë op U te rig. Amen

      12 Januarie

      Andersheid is dubbel lekker

      Genesis 2:23 – Daarom sal sy “vrou” genoem word; sy is uit die man geneem.

      Die getyboek is ’n belangrike deel van die manne se lewe. Elke oggend word dit oor ’n bakkie graanvlokkies en melk bestudeer om die dag se aktiwiteite te beplan. Laagwatertyd is veral belangrik, want dan kan daar op die strand aan die soom van die branders gedraf of fietsgery word. Vakansietye by die see word die ganse dag soms rondom die gang van die getye beplan.

      Vandag was dit weer dieselfde storie. “Ons kan maar afgaan strand toe,” kondig Johan aan, terwyl hy sy drafskoene aantrek. “Dis laaggety.” Soms draf of stap ek saam met hom en die seuns; ander kere verkies ek, soos vandag, om tussen die duine rond te dwaal op soek na spoelklippe, skulpe of stukke mooi dryfhout.

      Hier tussen die hoë duine en die blou branders verloor ek tred met tyd en slenter doelloos met my oë op die sand gerig. Ek buk nou en dan af om iets moois op te tel en gaan staan elke paar minute stil om oor die branders te tuur. Ek volg die fyn spoortjies van strandlopervoëltjies oor die duine en bewonder die wit wolkpatrone. Te gou is ’n uur of wat daarmee heen. Dis gewoonlik ons bruin labrador, Tinder, wat eerste aangedraf kom en dan weet ek dat die manne se missie voltooi is.

      “Dit was nou lekker!” sê Johan toe hy uitasem en natgesweet by my aankom. “Ja, lekker inderdaad,” antwoord ek, terwyl ek die sak met skulpe vir hom aangee om motor toe te dra.

      Vier jou uniekheid as mens. Doen iets vir jouself wat jou maat nie noodwendig sal geniet nie.

      Dankie, Here, vir die vreugde wat my maat se andersheid my bring, en die eiesoortige manier waarop U ons elkeen geskep het. Amen

      13 Januarie

      Vele hande, ligte werk

      2 Korintiërs 12:9 – My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. (NLV)

      Teen drieuur word ons wakker. Ons wil vieruur in die pad val terug huis toe. Ons het reeds die aand vantevore alles wat nodig is, gepak. Nou is dit net opstaan en inlaai. Ons maak vir oulaas die strandhuis se deure en vensters dig toe tot ons volgende kuier.

      Vir die pad het ek flessies koffie en toebroodjies gepak. Ook die varsgebakte pasteitjies wat ons gister by die deli op Bathurst gekoop het. Dis meer as 1 000 kilometer huis toe en ons wil so min moontlik langs die pad stop.

      Johan bestuur, soos die gewoonte is, die eerste stuk van die pad. Dis volmaan toe ons by ons strandplekkie wegry en ons die Vader vir genade en beskerming vir