Dr. Eve se Seksboek. Marlene Wasserman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene Wasserman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Руководства
Год издания: 0
isbn: 9780798171984
Скачать книгу

      •Maak seker jy het maklike toegang tot die kos wat jy geniet. So kan jy vergryp-eet vermy. Jy sal meer dink en beter keuses uitoefen oor jou kos, eerder as om spontaan te reageer op jou hongerkrampe.

      •Begin elke dag met ’n groot, gesonde ontbyt – jy moet daardie breinselle van jou voed!

      •Voedingkundiges stel voor jy moet elke paar uur ’n happie eet, eerder as om jou liggaam tussen maaltye te laat honger ly. Hou gesonde peuselkos byderhand vir tye wanneer jy hongerig voel.

      •Vrugte en groente is gesond, so maak seker jy eet elke dag daarvan.

      •Vermy vetterige en ongesonde kitskos. Nou en dan is dit lekker as jy baie lus word daarvoor, maar dit moenie deel van jou gereelde eetpatroon vorm nie.

      Sien Alkohol

      •Drink baie water. Kies vrugtesap en gebottelde water bó gaskoeldrank en kafeïne. Probeer om minder koffie en tee te drink, maar kruietee is wonderlik. Alkohol is baie ongesond en maak beslis vet.

      •Maak seker jy eet ’n verskeidenheid, gebalanseerde kosse en hou matigheid voor oë by die hoeveelhede wat jy eet.

      •As jy ’n vegetariër is, maak seker jy neem vitamien- en mineraalaanvullings.

      Oefening

      Dis ’n moet! Oefening hou soveel voordele in dat dit moeilik is om hulle almal op te noem. Kom ons begin by die belangrikste, naamlik dat dit soos ’n voorkomende medisyne is. As jy gereeld sedert jou tienerjare oefening doen, verminder jy jou kanse op hartprobleme, vetsug, hoë bloeddruk en osteoporose.

      Sien Men­struasie-manewales

      Wanneer jy oefening doen, word endorfiene in jou bloedstroom afgeskei wat jou goed laat voel. Dit is ’n goeie teenmiddel vir depressie. Oefening verlig ook premenstruele pyne en krampe. Die belangrikste is hoe jy voel ná ’n oefensessie: lewendig, vol vertroue en trots op jouself dat jy in ’n gesonde lewenstyl belê. Boonop gaan jy ’n wonderlike, welgevormde lyf hê waarop jy trots is as jy mooi aantrek en uitgaan.

      Oefening moet lekker wees, so maak dit vir jouself lekker: sorg dat jou vriende saam met jou gym toe gaan of aan sport deelneem.

      Oefening moet konstant en doelbewus deel word van jou lewe. Maak dit deel van jou weeklikse program. Dit is moeilik om gereeld te gaan oefen, maar as dit deel is van ’n gesonde lewenstyl, sal dit makliker wees. Kies ’n tipe oefening wat jy geniet – dit sal verseker dat jy wel gaan oefen. Dit is nou baie gewild (en boonop beter vir jou) om weekliks verskillende soorte oefening te doen. Net soos met enige aktiwiteit (insluitende seks) kan oefening vervelig word as jy presies dieselfde roetine volg. Gaan byvoorbeeld twee maal per week gym toe, doen ’n sport een maal per week en gaan dans of probeer krygskunde (karate, judo, tai chi). Oefening moet lekker wees, so maak dit vir jouself lekker: sorg dat jou vriende saam met jou gym toe gaan of aan sport deelneem. As gymlidmaatskap vir jou te duur is, of jy het vervoerprobleme, trek jou tekkies aan en val in die pad of sit musiek op en dans by die huis.

      Slaap

      Jy mag dink slaap is vir babas en as ’n tiener steur jy jou nie daaraan nie. Jou liggaam dink wel daaraan – en gereeld ook. Jou lyf gaan deur ’n intense groeifase en slaap is baie belangrik. Navorsing toon tieners wat nie genoeg slaap kry nie, ontwikkel ’n slegte vel, het lae konsentrasievlakke en min energie, en is geneig om emosionele hoogte- en laagtepunte te beleef. ’n Middagslapie is ’n goeie idee, maar nie langer as twintig minute nie. As jy langer as dit slaap, sal jy nie later in die aand behoorlik kan slaap nie. Dit help ook nie om al jou slaap gedurende naweke te probeer inhaal nie – dit is nie so effektief soos gereelde slaap nie. ’n Gesonde lewenstyl sluit nie net oefening en goeie eetgewoontes in nie, maar ook ’n gereelde slaappatroon. Onthou om jou selfoon af te skakel voordat jy gaan slaap. Jou wakker vriende se sms’e kan jou pla en jou slaappatroon versteur.

      ’n Onfeilbare higiëniese roetine

      Dink aan ’n advertensie. Ek is seker die eerste een wat by jou opkom, adverteer skoonheidsmiddels soos seep, sjampoe, tandepasta of parfuum. Ons dink ons ruik nie lekker nie, en dit is hoekom ons outomaties hierdie produkte koop. Volgens Moeder Natuur ruik ons nie regtig sleg nie. Dit is wel belangrik om “heerlik” te ruik – dit beteken nie jy moet skaam wees oor jou natuurlike liggaamsreuke nie, maar dit kan vir pret en verskeidenheid versterk en verander word.

      Tieners se reukproduseerders werk behoorlik oortyd. Hormone produseer verskillende vaginale vloeistowwe, jou sweetkliere werk teen ’n tempo en jy verloor jou onskuldige, baba-reuke. Mense kan jou ruik voordat hulle jou sien ná ’n warm dag, ’n lekker oefensessie of van die liefde wat jou hart vinniger laat klop. Goeie higiëne is belangrik vir ’n goeie selfbeeld. Vroue hou van mans wat hulle liggame respekteer deur aandag daaraan te gee. Dit is nie meer net ’n meisieding om skoon te wees en lekker te ruik nie – dit moet deel vorm van jou daaglikse gesonde lewenstyl.

      Hare

      Ouens moet hulle hare daagliks was en meisies so gereeld as nodig. Hare is baie sexy en een van die eerste dinge wat iemand raaksien. Hou dit mooi netjies, blink en gestileer.

      Mond

      Slegte asem is gewoonlik die skuld van tandbederf of hardlywigheid. Gereelde besoeke aan ’n tandarts en mondhigiënis is nodig. Borsel en flos twee maal per dag vir ’n aangename en vars asem en ’n mooi glimlag. Gebruik mondverfrissers om ontslae te raak van goor kosnasmake en reuke. Dit sal jou glimlag ook sommer helderder maak.

      Vel

      Stort of bad ten minste een maal per dag. Sweet pak saam op jou liggaam en maak nie saak hoeveel parfuum of deodorant jy aanspuit nie, dit gaan nie help om die reuk ná ’n lang dag “heerlik” te maak nie. Dit is altyd lekker om room aan jouself te smeer ná ’n bad of stort. Kies ’n room met ’n kleur en geur waarvan jy hou. Jou keuse kan jou liggaam laat ruik na mango, kiwi, botter – net wat jy wil. Dit sal jou lyf gesond laat voel en beslis sagter. Hierdie daaglikse roetine van room aansmeer, kan ’n sensuele ondervinding wees – dit laat jou toe om agter te kom hoe elke deel van jou liggaam voel. As jy lief is vir jou lyf, sal dit makliker wees vir iemand anders om dit lief te hê wanneer jy reg is om dit te deel.

      Onder die arms

      Ouens, en meisies wat nog nie skeer nie, moet veral maar deeglik onder hulle arms was, want die bedompige sweetreuk klou aan die onderarmhare vas. Gebruik eers seep en water en dan deodorant. Antiperspirant deodorant-op-’n-stokkie werk goed en as jy boonop nog gewone deodorant aanspuit, maak jy sommer dubbeld seker. Dra ’n toiletsakkie met seep, sjampoe en deodorant in jou skooltas saam. Meisies moenie te veel verskillende lekkerruikgoed aanspuit nie – ’n mengelmoes van geure kan aaklig ruik.

      Geslagsdele

      Waar daar hare is, is daar sweet en reuke. Kombineer dit met die natuurlike daaglikse vaginale afskeidings en nattigheid van vroue, of ’n bietjie piepie wat ’n ou nie van sy penis afgeskud het nie en jy sit met geslagsdele wat sleg ruik. Gereelde seep en water is baie belangrik vir geslagsdele. Meisies moenie parfuum of rome vir hulle geslagsdele gebruik nie. En nooit enigiets anders as tampons, seksspeelgoed, vingers of ’n penis in hulle vaginas druk nie. Moet nooit jou vagina uitspoel om dit skoon te maak nie, tensy jou dokter dit voorskryf. Die vagina se spesiale selfreinigende meganisme (suurbalans) sal versteur word, wat kan lei tot slegte reuke en jeukerigheid. Hou die geslagsdele se hare kort en netjies (ja, julle ook, ouens!) – dit is meer higiënies en lyk net soveel aantrekliker.

      Naels

      Dit is jou keuse hoe lank jou naels is en of dit geverf is of nie – alhoewel jy meestal die reëls van jou skool of werkplek moet respekteer. Goedversorgde hande en naels skep altyd ’n goeie indruk. Toonnaels het konstante aandag nodig. Moenie dink jy kan wegkom deur net mooi te lyk nie. As jy lang, slordige en verwaarloosde toonnaels het, is dit allesbehalwe sexy.

      Hande en voete

      Sagte, versorgde