Dr. Eve se Seksboek. Marlene Wasserman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene Wasserman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Руководства
Год издания: 0
isbn: 9780798171984
Скачать книгу

      Pyn en uithongering is letterlik die voorland vir baie ouens en meisies en dit alles as gevolg van hierdie skoonheidsmite. Eetsteurnisse getuig daarvan.

      Wat gebeur as jy jou gunsteling-glanstydskrif oopmaak? Jy is dalk tegelykertyd woedend en verlei. Dalk is jy dankbaar om vir ’n oomblik na hierdie paradys te ontsnap waarin jy die middelpunt van die heelal is. Ek wil hê, ek wil hê … Maar terselfdertyd is jy ook vies oor die onbereikbare standaarde van weelde, rykdom en skoonheid wat jou en meeste mense wat jy ken, uitsluit. Jy wil mooi wees. Terselfdertyd voel jy om beeldskoon te wees, een van die domste ideale ooit is.

      As ’n jong, ontwikkelende volwassene moet jy deur al hierdie boodskappe oor skoonheid sif, dit bevraagteken en hiperbewus daarvan wees. Wees dus wakker en paraat en skep ’n gemaklike ruimte vir skoonheid in jou lewe. Ja, fisieke skoonheid is iets om te bewonder, maar dit is tog net veldiep, dit verdwyn met ouderdom en is definitief nie ’n waarborg vir ’n wonderlike lewe as ’n volwassene nie.

      Liggaamswysigings

      Vind meer uit oor liggaamswysiging voordat jy enige besluite neem.

      Voel jy hoe jou oorbel jou nek streel en saggies aan jou oorlel trek? Dis nogal sexy, of hoe? Dit is veronderstel om so te wees. Oorbelle is oorspronklik ontwerp om mense se oorlelle te vergroot, want in sekere kulture word groot oorlelle as aantreklik beskou. Mense het nog altyd maniere gevind om mooier te lyk en om hulself meer eroties en sexy te laat voel deur veranderinge of wysigings aan hulle liggaam.

      Wat word bedoel met “liggaamswysigings” of “liggaamsveranderinge”? Dit is die permanente of semipermanente verandering aan jou liggaam vir niemediese redes – vir skoonheidsredes. Amper elke samelewing het of bedryf steeds een of ander vorm van liggaamswysiging. Dit mag dalk moeilik wees om sekere van die praktyke te verstaan, maar onthou, elkeen van ons is ’n individu en ons het almal die reg om te besluit hoe ons liggaam moet lyk. Ek verkies dit as mense individuele besluite neem, eerder as om die skoonheidsmite blindelings na te volg.

      Maar (en daar is altyd ’n “maar”) definitiewe reëls is van toepassing op die keuses wat jy maak as dit kom by liggaamswysiging.

      •Om verantwoordelikheid te neem vir hoe jou liggaam fisiek lyk, dra sekere gevolge. Vind meer uit oor liggaamswysiging voordat jy enige besluite neem.

      •As jy onder die toegelate ouderdom is, wag eers. As jy ’n “volwassene” is, doen navorsing oor wat jy wil aanpak. Dit kan baie duur wees om iets wat reeds gedoen is reg of ongedaan te maak.

      •Enige veranderinge aan jou liggaam is ’n definitiewe en permanente “statement”.

      •Jou vriende mag jou dalk aanmoedig, maar as jy veranderinge aan jou liggaam bring om ander tevrede te stel of om in te pas, kan jy later spyt wees. Jy moet self daardie besluit neem.

      •Neem al die voor- en nadele in ag voordat jy besluit: die feit dat dit ’n pynvolle proses kan wees en moontlik permanent is, is belangrike faktore.

      •Bespreek die idee van liggaamswysigings eers met jou ouers. Probeer hulle waardes en oortuigings verstaan, want dit kan jou help om ’n besluit te neem. Dit gee hulle ook die geleentheid om te verstaan hoe jou kop werk.

      •Daar kleef steeds ’n stigma aan die meeste vorme van liggaamswysigings. Wees voorbereid daarop dat jy moontlik beoordeel en in ’n kategorie geplaas sal word volgens jou keuse van liggaamsveranderinge. Ander mense se onkunde en vrese kan aanleiding gee dat ’n etiket om jou nek gehang word – en dit sal nie noodwendig ’n goeie etiket wees nie.

      Die verskillende tipes liggaamswysigings

      Grimering

      Neem al die voor- en nadele in ag voordat jy besluit: die feit dat dit ’n pynvolle proses kan wees en moontlik permanent is, is belang­rike faktore.

      Ek is seker jy het nie gedink dit kan deurgaan as liggaamswysiging nie. Wanneer om te begin om grimering te gebruik, kan deur jou vriende bepaal word, jou ouers se houding en natuurlik deur druk om so goed te lyk soos jou gunsteling-popster. Grimering is pret en dit is daar om jou natuurlike skoonheid te beklemtoon. Kyk deur tydskrifte, kry wenke op televisie en in flieks en let op hoe ander mense grimering gebruik. Maar wees krities en skep jou eie, individuele styl. Permanente grimering is presies dit: permanent. Wees baie versigtig as jy besluit om jou wenkbroue swart te kleur of om jou lippe permanent rooi te laat tatoeëer, want soos wat jy ouer word, sal jy wil speel met verskillende kleure, style en effekte.

      Hare

      Ouens mag miskien nie grimering kies om hulle voorkoms te verander nie, maar hulle kan baie kreatief wees as dit kom by haarstyle. Die hare op jou kop kan lank wees, gesny, geskeer, gestileer en gekleur. Jy kan ’n snor, baard of bakkebaardjies laat groei. Het jy dit al ooit oorweeg om jou baardhare te vleg of om jou wenkbroue te kleur? Natuurlik moet jy jou familie en skool se reëls respekteer. Maar wees kreatief as jy jou eie identiteit skep. Kry ’n styl wat by jou pas en jou gemaklik laat voel.

      Plastiese snykunde

      Dit is deesdae die gewildste vorm van liggaamswysiging. Talle jongmense ondergaan duur en pynlike operasies. Borsvergrotings en -verkleinings, vetafsuiging (uitsuig van vet uit die maag- en dy-areas), lipvergroting (oppof van lippe), oog- en neusveranderinge en volle gesigsontrimpelings is van die mees algemene operasies. As jou selfbeeld oormatig beïnvloed word deur ’n deel van jou liggaam wat jy nie met gesonde eetgewoontes of oefening kan verander nie, kan jy plastiese snykunde oorweeg. Anders moet jy maar die spieël, eerder as die mes in die gesig staar.

      Liggaamsvorming (Body sculpting)

      Hiermee bedoel ek gym, dans of enige oefening wat spesifiek ontwerp is om jou liggaamsvorm te verander. Dit vat baie tyd, harde werk en toewyding, so maak seker jy doen dit omdat jy gesond en gelukkig wil wees en meer selfvertroue wil ontwikkel. ’n Mens moet meestal maar aanvaar wat jy nie kan verander nie. Natuurlik, as jy ’n maer en tingerige ou is, sal ’n paar ekstra spiere wondere vir jou selfbeeld doen. Maar te veel oefening kan jou liggaam onnatuurlik laat lyk, so oefen liefs saam met ’n professionele instrukteur.

      Tatoeëring

      Sedert die 1980’s, beleef die Westerse samelewing ’n oplewing in die gewildheid van tatoeëring en gaatjies inskiet of piercing. Tatoeëermerke is ’n permanente en definitiewe stelling (of statement). Soos wat jy ouer word, sal jy meer sê oor jou liggaam hê en as jy doelbewuste veranderinge daaraan maak, sal dit ’n sterk boodskap oor jouself uitstuur. Neem altyd die voor- en nadele in ag as jy ’n tatoeëermerk oorweeg:

      •Dit is seer.

      •Tatoeëermerke is permanent. (Ek kan dit nie genoeg sê nie).

      •Jou ouers en ander gesagsfigure (soos moontlike werkgewers in jou toekoms) kan besware hê wat die lewe vir jou moeilik kan maak – veral as die merke baie sigbaar is.

      •’n Tatoeëermerk vertel ’n storie oor jou wat almal kan sien.

      •As die tatoeëerkunstenaar nie weet wat hy of sy doen nie, kan jy ’n infeksie opdoen.

      •’n Tatoeëermerk is ’n modestelling en modes verander gereeld.

      •Jy loop die gevaar om MIV op te doen as die tatoeëermerk in ’n nie-higiëniese omgewing gedoen word, of as ou naalde gebruik word.

      •Henna- en aanplaktatoeëermerke kan opwindende, niepermanente alternatiewe wees.

      Gaatjies inskiet (Piercings)

      Verby is die dae dat jongmense gaatjies slegs in hulle ore laat skiet. Deesdae word gaatjies ook deur die, tong, neus, wenkbroue, wenkbroubrug, lippe, wange, ken, naeltjie, tepels en geslagsdele geskiet – dit het die nuwe lyfjuwele geword. Juweliersware was nog altyd daar om mans en vroue mooier te laat lyk. Nie net is dit ’n aanduiding van geld en status nie, maar dit word gebruik om ’n mens beter oor jouself en meer sexy te laat voel. Gaatjies op allerhande plekke