Dr. Eve se Seksboek. Marlene Wasserman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene Wasserman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Руководства
Год издания: 0
isbn: 9780798171984
Скачать книгу
land het letterlik kulture vir Afrika. Wat meer is, elf amptelike tale, elk met hulle eie dialekte, maak Suid-Afrika een van die lande met die mees diverse en fassinerende boustene. ’n Wonderlike geleentheid vir jongmense om oor verskille tussen mense en leefstyle te leer. Ongelukkig veroorsaak hierdie diversiteit ook dat ons leer oor vooroordele, verkeerde oordeel en onverdraagsaamheid, en dit ook self ondervind – nie juis goeie boustene vir jou selfbeeld nie. As jy in ’n skool, buurt of gemeenskap is waarin jy en jou familie die minderheid vorm, kan jy dalk geweld en diskriminasie ondervind. Maar, dit kan jou ook die geleentheid gee om sterker te word, en vol vertroue oor wie jy is en op dié manier ’n baie sterk selfbeeld en selfvertroue ontwikkel.

      Geloofs- en kulturele boustene kan positief tot jou selfbeeld bydra, omdat dit jou in ’n groep plaas. Elke familie beoefen hulle geloof en kultuur anders. Sekere families is dogmaties en baie fundamenteel, wat kan beteken dat jy na ’n religieuse skool gestuur word en selde kontak het met mense van ander kulture en gelowe. Ander families beoefen hulle kultuur weer op ’n informele manier. As jongmens aanvaar jy dalk jou kultuur en geloof sonder enige twyfel, maar onthou: tieners eksperimenteer, ondersoek en raak opgewonde. Jy kan dalk skielik baie van die idee hou om ’n Moslem te word, met verwoestende gevolge vir jou Christengesin.

      Of jy raak verlief op iemand uit ’n ander kultuur of met ’n ander geloof. Dit maak dit dalk moeilik vir die hele familie.

      Sorg dat jou geloofs- en kulturele boustene vir jou werk. Leer genoeg daaroor om tergery, bespotting en selfs geweld te weerstaan. As jy ’n lae selfbeeld het, sal dit help om ’n sterk bousteen in hierdie afdeling te hê. Ek bedoel nie spesifiek dat jy religieus moet raak nie, ek bedoel net dat jy jou eie unieke identiteit moet ontwikkel. Wat jy ook al doen – aanvaar jou huidige oortuigings of skep ’n nuwe een – laat dit ’n positiewe plek van aanvaarding word waar jy tuis voel. Terselfdertyd moet jy leer om ander se verskille te verdra, selfs die van jou eie familie.

      Geldelike boustene

      Geld laat jou trots voel, as jy dit wettig verdien het. Geld kan ook vir jou moeilikheid maak as jy dit onwettig in die hande gekry het. Geld koop sekuriteit. Geld is koning.

      Geld laat die wêreld draai. Geld koop vir jou “goed” – klere, selfone, motors, wat ook al. Geld gee jou status. Jy loop regopper, jy het meer selfvertroue, mense sien jou raak en jy kry aandag. En jy kry die meisies! Geld gee jou mag om situasies te beheer, selfs seksuele situasies. Dit is moeilik om nee te sê vir ’n ou wat jou skoolgeld betaal, vir jou mooi goed koop en jou rondry in sy motor (hierdie persoon kan selfs jou pa wees). Geld laat jou trots voel, as jy dit wettig verdien het. Geld kan ook vir jou moeilikheid maak as jy dit onwettig in die hande gekry het. Geld koop sekuriteit. Geld is koning.

      Omdat geld so ’n belangrik plek in ons lewe vul, is dit nodig dat ons respek daarvoor sal hê. Geld, soos seksualiteit, dra ’n enorme verantwoordelikheid.

      Maar jy moet onthou mense wat glo net geld kan hulle gelukkig maak, bly gewoonlik ongelukkig. Daar is min dinge so lelik soos iemand wat sy gewete met geld stilmaak of wat dit probeer gebruik om jou gunste te koop. Net soos wat die geheim om ’n goeie minnaar te wees in ’n positiewe beeld en selfvertroue lê, net so het jy ’n goeie gesindheid en selfvertroue nodig om vaardig met geld te werk, nie arrogansie nie.

      In die 1970’s het ’n vrouerevolusie plaasgevind. Vroue het op hulle regte vir gelykheid aangedring. Hulle het by die arbeidsmag aangesluit en wou gelyke betaling ontvang vir hulle werk. Vroue was nie meer tevrede om by die huis te bly of geringe werk te doen, soos om skoonmakers, bediendes of oppassers vir ander mense se kinders te wees nie.

      Sedertdien was daar ’n aansienlike verbetering in vroueregte. Maar vroue is steeds nie heeltemal aan mans gelyk in die werkplek nie. Baie min vroue verdien dieselfde salarisse as mans vir dieselfde werk. Dit veroorsaak dat vroue finansieel onmagtig is, omdat hulle steeds mans nodig het vir geld, of vir die ekstras. Definitief nie ’n goeie plek vir ’n vrou om te wees nie: jy is so vatbaar vir geweld of misbruik en geneig om ondergeskik aan mans te wees.

      Vroue moet die geleentheid hê om goeie geld te verdien, sodat hulle nee kan sê vir seksuele situasies wat hulle nie wil hê nie, sonder om bang te wees dat hulle hulle huise, motors, geskenke of sekuriteit sal verloor. Vroue met hulle eie geld kan sê: geen kondoom nie, geen liefde nie. Hulle sal nie so maklik versoek en verlei word nie, want hulle weet hulle kan hulle eie “goed” koop en na hulleself kyk. Ek reken verhoudings sal beter werk as vroue meer ekonomies bemagtig word; mans en vroue sal meer seksuele satisfaksie hê en MIV/VIGS/SOS-gevalle sal verminder.

      Dr. Eve sê:

      Elke jong vrou behoort haar eie bankrekening te hê wat sy gereeld kan aanvul met geld wat sy op ’n eervolle en trotse manier verdien het.

      Jou beeld

      Stel jou voor jy loop by ’n partytjie, ’n jol, ’n klub in. Jy kyk om jou rond. Jou oë beweeg oor almal in die vertrek en jy staar so ’n bietjie langer na die mense wat jy aantreklik vind. “Aantreklik” vir jou kan die meisie in die kort rompie en die oop skouers wees; of die een met die jeans en die wit toppie. “Aantreklik” kan die ou wees in die stywerige broek en die T-hemp of die ou in die kakiebroek en baadjie. “Aantreklik” is erg persoonlik. Tog is daar sekere algemene kenmerke wat die meeste mense aantreklik vind. Heel bo aan die lys is liggaamsvorm – meisies moet maer wees met die regte kurwes en ouens moet ’n gespierde maag of “Levi-lyne” hê.

      Die meerderheid mense is nie van nature so perfek nie. ’n Kombinasie van gene, hormone, lewenstyl, emosionele welstand en fisieke gesondheid help om jou liggaamsvorm te bepaal.

      Jy kom dit sekerlik nou agter, maar jou liggaam verander konstant soos jy van puberteit na adolessensie beweeg. Daar sal tye wees dat jy vreeslik onaantreklik voel. Maar die druk om “aantreklik” te lyk, hou nooit op nie. Elke keer dat jy deur ’n tydskrif blaai of na ’n televisieprogram, musiekvideo of fliek kyk, word jy daaraan herinner dat as jy aantreklik is, jy die perfekte ou of meisie sal kry, saam met ’n duur motor en huis en wonderlike seksuele aksie. Jou selfbeeld word deur die media geskep, asook deur jou vriende en die verdraaide beeld wat jy van jouself het as jy in die spieël kyk.

      Die skoonheidsmite

      Die seksuele rewolusie van die sestigerjare en die feministiese beweging van die sewentigerjare het vroue se lewe en die verhouding tussen mans en vroue daadwerklik verander. Blameer die feministiese beweging as ’n vrou vir jou sê sy wil as jou gelyke behandel word of as sy voel sy moet dieselfde salaris as jy vir dieselfde tipe werk verdien. Sy is sekerlik ’n jong vrou wat bewus is van haar eie waarde.

      Die voordele van die seksuele rewolusie en die feministiese beweging word egter ondermyn deur die skoonheidsmite. Nog nooit was daar so ’n aanslag deur die media wat vir ons vertel hoe ons veronderstel is om te lyk nie. Die skoonheidsmite vertel ’n storie: vroue moet die mite verpersoonlik en mans moet vroue wil hê wat dit verpersoonlik. Dink aan enige advertensie. Daar sal ’n beeldskone vrou wees wat baie lyf wys. Sy sal suggestief oor die geadverteerde motor, boot of bed lê. Die media is besig om haar seksualiteit te gebruik om ’n produk te verkoop – wat ’n belediging vir al die trots wat die feminisme vir vroue geleer het!

      Die “ideale” vroulike liggaam word gereduseer tot ’n objek en oral uitgestal. Vroue word grafiese detail van perfeksie voorgehou waaraan hulle hulself moet meet. Sowel ouens as meisies kyk krities na hulle liggame in die fynste besonderhede. Hulle glo hulle moet daardie beeldskone gesig en lyf hê om die ideale maat te kry en suksesvol te wees.

      Ouens verkeer in ’n effense krisis oor hierdie skoonheidsmite. Hulle is meestal net geïnteresseerd in ’n meisie se lyf en maak nie tyd om haar te leer ken vir wie sy regtig is nie. Mans word geleer ’n vrou se waarde lê in haar skoonheid. Hulle sien mans op die televisie wat hierdie skoonheidsmite