Ons dra ons herderspaar aan U op, o Heer, gaan oom Kerneels voort. Neem hulle aan die hand en onderskraag hulle.
Hy bid ook vir die manne en vroue in uniform op die dorp, vir die onderwysers en die onderwyseresse, vir die personeel by die OK Bazaar, en vir die oues van dae in die ouetehuis.
Later is oom Kerneels deur die hele Clanwilliam, maar hy sê nie amen nie. Hy haal net ’n slag diep asem – en begin vir die buurdorp Citrusdal bid. Hy bid later selfs vir dié wat in Citrusdal se koöperasie werk, en toe hy met Citrusdal klaar is, begin hy bid vir die mense van Piketberg, die volgende dorp langs die N7. Die sieklikes en krankes. Die weduwees en die wese.
En toe hy met Piketberg klaar is, sê hy steeds nie amen nie. Hy vat die N7 verder Kaap se kant toe en begin bid vir die mense van Moorreesburg, terwyl almal op hul horlosie begin kyk.
U ken Moorreesburg se koringboere, o Heer, bid oom Kerneels. U weet hulle het nuwe bakkies gekoop, gee tog dat die koringprys vanjaar goed sal wees. En toe hy met Moorreesburg klaar is, toe vat hy vir Malmesbury, van die onderdorp tot die bo-dorp, asook hulle wat onverskillig staan teenoor U, o Heer. En toe hy met Malmesbury klaar is, toe bid hy die laaste tagtig kilometer tot in die Kaap.
U was self al in die Kaap, o Heer, bid oom Kerneels, hou u hand van bewaring oor elkeen wat ’n mouterkar daar moet ry, en wees ook met hulle wat op die skepe en op die treine en in die kragsentrales werk. Beskerm en bewaar hulle, ook dié wat hard van hart is.
Later is oom Kerneels op in Adderleystraat, verby die blommeverkopers en die Groote Kerk tot in die parlement met sy gebed. Wees met hulle wat in ons hoogste raadsale oor ons toekoms moet besin, o Vader. Gee dat elke besluit wat daar geneem word, tot eer en verheerliking van U sal wees.
Toe, opeens, bly oom Kerneels stil. ’n Hele ruk bly hy net so stil staan, en toe sê hy: Goed, dan sê ek eers totsiens, Here.
Toe gaan sit hy weer, vinnig.
Ná die biduur, vertel Tolla, sê oom Ollie, toe kom die predikant glo by oom Kerneels en sê vir hom: Oom het darem vir ons gebid vanaand, hoor.
Oom Kerneels glimlag toe glo so half verleë, en sê: Dit was vir jou ’n aardigheid, Dominee. Ek bid nog so en toe ek wil klaarmaak, toe vergeet ek vir amen.
Daar kan ek toe glad nie vir amen onthou nie.
Amulet
Touwsrivier-stasie. Laatmiddag. Ons staan met ons gesigte na die weste gedraai, ek en Johnny April. Hy wag vir ’n trein.
Ek is bang vir nog ’n aand in nog ’n vreemde kroeg.
“Meneer rook seker nie,” sê hy en haal ’n pakkie BB-tabak en ’n opgevoude stuk koerantpapier uit sy broeksak. Hy sit die pakkie op die perron neer en vou die papier oop. Hy skeur ’n reep papier hier teen die kant af. Die res vou hy op en druk dit terug in sy broeksak. Nou begin hy werk aan sy zol. Eers lê hy die papier op die perron neer, dan lig hy die pakkie BB, maak dit oop en strooi ’n netjiese walletjie tabak op die papier.
Tydsaam, afgemete, begin hy die papier toerol met sy benerige vingers. “Jou twak moenie te styf wees nie.” Dis asof hy dit meer vir homself as vir my sê. “Jou twak moet lekker los wees.”
Hy laat gly die toegerolde buisie papier deur sy mond, laat sak dit weer, druk-druk weer aan die tabak daar binne. Hy doen dit saggies, amper liefderik. “Jou twakkies moet bymekaarkom daar binne. Kom jou twakkies nie bymekaar nie, suig jy lug.”
Hy sit die zol op die perron neer, versigtig, amper asof hy bang is dit gaan breek. “Waar’s my metsjies?” Hy klap op sy sakke op soek na sy vuurhoutjies.
Hy wikkel ’n vuurhoutjie uit die dosie, lig die zol weer, en stamp-stamp met die vuurhoutjie by die zol se punt in. “Jou vuur moet kan deurhardloop. As jou vuur nie deurhardloop nie, help dit jou niks.”
Hy skraap die vuurhoutjie se kop oor die dosie en toe is daar ’n vlammetjie, wankelend tussen sy vingers. Ek gee ’n tree of twee na links om die koel luggie wat van die dorp se kant af stoot te help afskerm.
Johnny April se lyf buig vooroor, na die vlammetjie toe. Toe raak sy wange hol, en daar is die wilde reuk van zol in die lug terwyl die rook in slierte rondom ons hang, talmend, voor die donker kom.
Happy hour
Maandagaand. Nog ’n vreemde dorp. Nog ’n vreemde kroeg. Ek sit op die stoeltjie in die hoek. Soms, ná ’n lang dag alleen op die pad, wil ’n mens stemme rondom jou hoor.
Die vrou agter die toonbank is so vyftig jaar oud, dalk veertig. Haar naels is kortgekou.
Bokant die bottels wat kop onderstebo teen die rak hang, is ’n handgeskrewe kennisgewing geplak: “Tussen 6 en 7 dertig persent afslag op alle drankies.”
Skuins onder die pyltjiebord sit ’n oom agter ’n rooi neus vol gebarste aartjies. Dit lyk of hy al sedert 1976 daar sit in sy geruite hemp met ’n Parker-pen in die bosak.
’n Man kom by die swaaideure in. “Yes, yes, yes.” Dit lyk of hy op sy dag haker vir sy skool se eerste span kon gespeel het. Dik nek. Harige arms. Snorrerige snor.
“Yes, Sarge,” groet die oom met die neus hom.
Die man gaan staan by die stoeltjie langs die oom s’n en sit sy selfoon en sy kar se sleutels op die toonbank neer. “Maak dit maar ’n Castletjie, Truia,” sê hy in die kroegvrou se rigting en hys hom tot op die stoeltjie. “Sjoe.” Hy vee met sy hand oor sy voorkop. “Wat ’n kak dag.”
“Besig?” vra die oom met die neus.
“Besig, my oom. Besig. Hier was vyf inbrake die naweek op die dorp, én ’n selfmoord. Kom nou net daarvandaan.”
“Nee, wat sê jy my nou?” Die oom se stem is vol skok. “Wie?”
“’n Swarte, Oom. In die township.”
“O, amper laat jy my skrik.”
Die barlady sit die botteltjie Castle voor die Sarge-ou neer. Hy tel dit op en neem ’n diep sluk.
“Ek’t nie geweet hulle pleeg ook selfmoord nie,” sê die oom. “Hoe’t hy dit gedoen?”
“Homself gehang, Oom. Aan ’n boom.” Die Sarge-ou voel deur sy sakke en haal ’n opgevoude vel papier te voorskyn. Hy vou dit oop. “Ken Oom ’n swart taal? Hier’s die briefie wat hy agtergelos het.”
Die oom vat die brief by hom, kyk ’n hele ruk daarna, en gee dit terug. “Nee, fok, ek verstaan nie ’n woord nie.” Hy beduie na die deur agter die toonbank. “Hoekom vra jy nie vir Alpheus nie? Truiatjie, roep ’n bietjie daar vir Alpheus.”
Die kroegvrou stap by die deur uit en kom ’n paar oomblikke later terug met ’n ouerige swart man in ’n wit koksbaadjie by haar.
“Is jy ’n Sotho, Alpheus?” vra die Sarge-ou vir hom.
“Ja, Ntate. Ek’s Sotho.”
“Kan jy lees?”
“Ja, Ntate. Ekke kan lees.”
“Nou wat staan hier?” Hy gee die brief vir die ouer man aan.
Die man hou die brief naby sy oë. “Hierdie is Zoeloe, Ntate,”