Skyfievertoning, 1972
Ons sit in oom De Wet en tannie Rina se sitkamer. Dis donker buite. Ons het klaar in die eetkamer geëet, nou gaan ons na die skyfies kyk wat oom De Wet in die Heilige Land geneem het. Israel.
Oom De Wet en tannie Rina was saam met ’n toergroep soontoe met ’n vliegtuig.
In die middel van die vertrek staan oom De Wet se skyfieprojektor op ’n tafeltjie. Teen die muur voor die showcase is die wit skerm reeds opgeslaan.
Elke skyfie is ’n foto, een wat oom De Wet met ’n skyfiefilm in sy kamera geneem het. Die mense by die filmplek in Kimberley waar hy sy films ingegee het, het die ontwikkelde foto’s dan in ’n kartonraampie geplaas. Dit is jou skyfie. Om na die skyfie te kyk druk jy dit in die projektor, wat dit groot op die wit skerm wys.
Oom De Wet gaan sit op ’n stoel by die tafel waarop die projektor staan. “Goed, Mammie,” sê hy vir tannie Rina. “Sit maar vir ons die lig af.”
Die sitkamer raak donker, dan skakel oom De Wet die projektor aan. Die eerste skyfie is een wat oom De Wet op die lughawe geneem het van hul Israel-toergroep, maar net ’n gedeelte van die skyfie wys op die skerm. Die ander gedeelte wys op die mat voor die skerm.
“Ons sal die projektor ’n bietjie moet lig,” sê oom De Wet. “Bring gou vir ons die foonboek, Mammie.”
Tannie Rina bring vir oom De Wet ’n telefoongids en hy skuif dit onder die projektor se voorkant in. Nou kan ons die hele toergroep op die skerm sien staan, met hul toerleier, ’n dominee van Johannesburg, voor in die middel in ’n hemp en ’n das. Dis soos om ’n fliek te kyk waarin niemand praat of beweeg nie. Ek gaan lê op die mat langs die projektor. Oom De Wet wys vir ons die lughawegebou in Israel waar hulle geland het. Hy wys vir ons Jerusalem se strate, smal stegies met ou geboue aan weerskante.
“Om te dink,” sê Ma. “Jesus het die stad daar, presies daar, op die rug van ’n donkie in gery.” Sy praat in Pa se rigting in die donker. “Dis tyd dat ons ook begin spaar vir ’n Israel-toer, Gogga.”
Op die skerm is die beeld van ’n brood, so ’n plat brood van naby afgeneem. “Dis een van die ongesuurde brode waarvan ons in die Bybel lees,” sê oom De Wet. “Dit was in Bethlehem.”
“Was dit nie in Nasaret nie, Pappie?” val tant Rina hom in die rede.
“Nee, dit was Bethlehem, Mammie.”
Oom De Wet wil ’n volgende skyfie in die projektor druk, maar hy huiwer. “Ek dink ek moet hierdie een vir laaste hou.” Hy sit dit eenkant neer. “Dis Golgota.”
“O ja,” sê tannie Rina. “Hulle moet Golgota laaste sien. ’n Ongelooflike plek.”
Hy druk ’n ander skyfie in. Op die skerm werk ’n klomp mense in ’n groentetuin. “Dis op een van hul kibboetse geneem,” sê oom De Wet. “Dis hul plase. Die Jode doen al hul werk self. Daar’s mos nie naturelle nie.”
Dan is daar ’n hoë muur op die skerm met ’n klomp mense voor. “Dis die Klaagmuur in …” Oom De Wet maak sy sin nie klaar nie. Die sitkamer is skielik donker. “Dis die bulb,” sê oom De Wet. “Die projektor se bulb het geblaas. Ai.”
“Het jy ’n spaar een?” vra tannie Rina.
“Nee, Mammie. Jammer. Ek sal een kry wanneer ons weer Kimberley toe gaan.”
Tannie Rina skakel weer die sitkamer se lig aan. Ons kyk deur nou ogies na mekaar. “Ek’s nou jammer, mense,” sê oom De Wet, “maar ’n mens is deesdae so uitgelewer aan die tegnologie.”
Tannie Rina haal ’n bottel water uit die showcase. Hulle het dit in Israel volgemaak met water wat uit die Jordaanrivier kom. Hulle volgende kleinkind gaan met daardie water in die kerk se doopvont gedoop word.
Die grootmense se stemme dreun en dreun.
Later raak Ma liggies aan my arm. “Kom, kom,” sê sy. “Oom De Wet sal volgende keer vir ons Golgota wys.”
Oom Ollie Viljoen (1939 – †2014)
Oom Ollie se hande lê stil voor hom op die duvet. Hande wat trekklavier gespeel het. Hande wat liefgehad en kos gemaak het en motor bestuur het.
Hande wat oud en krom van die jig geword het.
Hy trek hom effens teen die kussing op. “Het ek jou al die storie vertel van die dronk ou in die doodskis?” Sy stem is moeg. Hy was in die hospitaal met hartversaking, maar nou lê hy hier op die bed in die spaarkamer van sy seun se huis op Gordonsbaai. Hier kan hy minstens die see en die voëls buite hoor, en kosreuke uit die kombuis kry, en elke keer op pad badkamer toe, skuifel-skuifel verby die ou hoederak waaraan sy hoedjies en kepse hang, al sewentien daarvan.
Hy is een van die land se bekendste musikante, ’n trekklavierspeler wat saam met Hugh Masekela by president Mandela se inhuldiging in 1994 by die Uniegebou opgetree het. Oom Ollie is ook die man wat die TV-program Spies & Plessis begin het en ’n storieverteller soos Tolla van der Merwe ontdek het.
“’n Oom van Moorreesburg het my die storie vertel.” ’n Flou glimlaggie op oom Ollie se gesig. “Die oom sê daar by hulle was ’n ou wat so gedrink het. Die dominee het probeer om hom reg te kry, maar dit was ’n gesukkel.
“Eendag bel iemand die dominee. Dominee moet kom help, die ou het uitgepaas. Hy’t gedrink tot hy getiep het. Die dominee gaan soontoe. ‘Vandag moet julle my help, manne,’ sê die dominee. ‘Ons moet hierdie man regkry.’
“Die dominee bel ’n begrafnisondernemer op Piketberg en reël ’n doodskis. Toe ry hulle met die omgetiepte ou soontoe. Hulle sit hom in die kis en vat hom na ’n grot in die berg naby die dorp.
“Hulle sit daar in die donkerte van die grot by die kis en wag. Later hoor hulle die ou in die kis begin beweeg. En later toe vra die ou uit die kis uit: ‘Wat gaan aan? Waar’s ek?’
“Die dominee sit daar – en die grot het so ’n hol klank – en hy sê: ‘Jy’s dood, broer.’
“Die ou raak weer stil in die kis, maar ná ’n rukkie vra hy weer: ‘Nee, man, sê my nou: Waar’s ek?’
“‘Jy’s dood, broer,’ sê die dominee weer. ‘Jy’s in die doderyk.’
“Die ou lê weer ’n rukkie, en toe sê hy weer uit die kis uit: ‘Nee, jene, dis onmoontlik, ’n ou wat so ’n groot pis het soos ek nou het, kan nie dood wees nie.’”
Oom Ollie begin onder die komberse lag, geluidloos lag hy. Sy lyf skud en sy ogies trek klein.
Hy sak weer terug teen die kussings, asof die storie hom uitgeput het. Hy trek die kombers op tot teen sy ken.
“Ek’s moeg, man.” Sy stem is sag. “Die dokter sê my hart is gedaan.”
Hy kyk stil na die plafon. Die gordyne is toegetrek. Op die bedkassie langs hom is ’n selfoon, ’n pen, ’n paar blokkies sjokolade en Ferdinand Deist se boek Tussen angs en sekerheid.
In die hoek van die kamer staan sy drie trekklaviere waarop hy nooit weer sal speel nie.
Ons gee nou geleentheid vir gebed
Hy glo nie Tolla het ooit die storie van die oom wat so gebid het oor die TV vertel