Wonderboom. Lien Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lien Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800962
Скачать книгу
soos sy langs die pad, mense wat hulle lewe lank loop. Mense wat sy altyd bejammer het wanneer sy en Wim verby hulle gery het in hulle wit Honda, Bill Frisell se improvisasies in die lug. Wim het gesê dit klink soos die klankbaan vir The Grapes of Wrath.

      Stap aanmekaar en wanneer jy moeg word, maak jy ’n gat in die grond en trek jou kop in soos ’n slak of ’n skilpad. Sy verdwyn tussen die ander voetgangers wat elkeen besig is om ’n bestaanstryd uit te meet. Soos miere beweeg hulle, tussen sink en rook, met die hoofweg eenkant ’n verkalkte aar en hulle aan die rand daarvan soos afwesiges want hulle bydrae is gering.

      ’n Ent voor haar beweeg ’n man met ballonne, net sy bene steek uit en dit lyk asof hy enige oomblik gaan opstyg. Waarheen is hý op pad?

      Daar was ’n foto by ’n tentoonstelling in die Franse dorpie Arles waar sy een somer moes speel. Dit was van ’n ballonverkoper langs die puinhoop van ’n teehuis in Kaboel. Ballonne was onwettig onder die Taliban.

      Die ruimte waar die uitstalling plaasgevind het, was in ’n gerehabiliteerde sanatorium waar Vincent van Gogh behandel is. How buildings learn. Toe Magriet by die gebou uitstap, diep ingedagte, het sy uit die bloute ’n oproep gehad van Guy Faure, maar min het sy geweet dat dit die laaste keer was dat sy met hom sou praat. ’n Week later is hy dood, moeg geword vir die antiretrovirale behandeling en armoede, die sukkelbestaan van ’n dramaturg wat nie die sale kon volpak nie. “Starry, starry night.”

      Naby die R300 is ’n oop veld waar mense gereeld sokker speel langs die N2. Magriet stap ál stadiger, so stadig nou dat haar voete en die grond een word. Met elke tree tel sy aarde op en sleep die gewig daarvan saam met haar, want wat sy gadeslaan is vir haar loodswaar. Hulle skop ’n uil. Heen en weer. Die pootjies is vasgebind met ’n tou en die arme wysgeer is ’n pluimbol wat nie kan vlieg nie. Sy kan niks doen nie. Sy stop nie, maar hou aan stap met die skok en hartseer in haar hakskene asof sy en die uiltjie een is. Dalk is die uiltjie genadiglik reeds dood. Indien hy hierna wel nog leef, sal hy geestelik versteurd wees. Watse klankies sal uit sy keel kom? wonder Magriet.

      Die Portugees-Oos-Indiese vaarder het op 16 April 1686 in die omgewing van Kaap Agulhas gestrand. Aan boord was ’n Siamese afvaardiging op pad na die hof van Louis XIV van Frankryk. Tydens hul staptog na Kaapstad was die oorlewendes so honger en dors dat die Mandaryne later verplig was om hul skoene te eet. Slegs ’n klein groepie oorlewendes het Tafelbaai ná 24 dae bereik.

      Voor Monkeytown stop iemand langs haar. Sy kyk twee keer om seker te maak, want die persoon agter die stuurwiel lyk soos Inge Heydenrich.

      “Aarde, mens, ek dog ek herken jou!” blaker die vrou met die joviale stemtoon van iemand wat heeldag sit en voetjie klop.

      Magriet wil in die aarde insink.

      “Ek het vergeet dat jy langs Seafarm woon. Jy moes net gepraat het, want ek is in elk geval op pad soontoe om te kyk na die stoffering wat ons laat oordoen het. Spring in!”

      Magriet klim in die passasiersitplek. Haar voete is geswel en sy hoop nie Inge Heydenrich sien dit raak nie. Die twee Ierse wolwe sit agter. Hulle waai hulle sterte en die een sit sy kop op haar skouer. Die hond se asem is warm, dit ruik na kompos. Magriet vou haar arms om die viool.

      TROOSTELOOS, DIE DOOIE BOOM

      Dáárdie oggend het die foon om kwart voor agt gelui. Dit was Elena, die vrou by wie Wim se broer Arnold al amper ’n jaar gebly het nadat hy sy vrou, kinders, huis, besigheid en motor verloor het, grotendeels vanweë sy onhoudbare bestaan tussen die resessie en die bottel.

      Die skoonsuster vertrek. Sy neem die twee kinders: ’n seun (12) en ’n dogter (8) en sy sê vir haar man dat sy hom nie meer liefhet nie en sy stap na buite (moontlik met ’n handvol besittings), klim in die motor (met die twee kinders) en ry weg. Die seun kyk een maal terug en sien hoe sy pa vooroor buig en kots. Verlaat sy ’n sinkende skip of verlaat sy die afwesigheid van liefde, jare van vlottende bates wat te veel geword het? Wanneer asem nie meer die ligboei kan ophou nie, ’n dryfmyn waarvoor jy nie meer kans sien nie. Wat het haar tot hierdie presiese moment voortgedryf? Want dit moes moed geverg het. Is daar iemand anders? Iewers? Of is dit haar eie gefrustreerde bestaan, die denkbeeldige betekenisloosheid van ’n onbevredigde lewe? Moeilik om te sê.

      My swaer ontmoet ons vir aandete by die Wild Fig. Die plek vlek ou herinneringe oop van ’n tyd wat mens eerder sou wou vergeet, maar daar sit ons, die drie van ons met ons middelmatige loopbane, elkeen besig om in ontgogeling te versink, en in sy geval − ’n oorblyfsel. Hy is vrek kwesbaar en dit laat my die drostervrou verfoei. Maar ek is per slot van rekening veronderstel om bevry genoeg te wees om haar kant van die saak te probeer begryp. Waarom kan ek nie? Arnold se gesig het ’n voosheid. Hy glo dat God aan sy kant is en dat hy dus sal lewe. Die Bybel karteer gewoonlik hierdie soort landskap, want die ander opsie is ’n ysterboek. Yster kom na my toe deesdae; die reuk daarvan, die klank daarvan wanneer dit op sement val, hoe koud dit is. Van welke grond dit opgeroep word en in watter eeu dit vir die eerste keer in ’n sleutel uitgekarring is. Hy praat, meestal oor homself, soos altyd, en hy eet sy bord skoon: geroosterde eend en groente. Ek vertel vir hom dat hy kos moet eet wat in botter gaargemaak is, omdat dit sal dien as maagsalf vir die leed en die pyn wat na sy ingewande afsak en dit sal help beskut. Dis totale twak. Wat probeer ek sê? − hierdie beuselagtige poging tot gesprek.

      Wim is onvermurfbaar in sy renons in die drostervrou en hy werk deur ’n inventaris van onafgehandelde insidente in ’n poging om Arnold die lig te laat sien en te laat besef dat hy beter af is sonder haar. Maar Arnold sit vasgenael tussen sy liefde vir die drostervrou en sy eie gekrenkte eer. Wim glo dat haar beeld gou sal vervaag omdat haar bydrae weinig meer was as ’n kanttekening. “Binnekort sal ons nie eens die kleur van haar hare onthou nie. Jy sal sien.”

      Hulle het agt maande lank asem opgehou om te sien of dit sou hou, en daar was dit nou: verby met ’n botsing, en reeds die tweede motor wat hy afgeskryf het onder die invloed. Dwarsdeur ’n rooi lig, reguit in ’n ander voertuig in gejaag teen honderd-en-tagtig kilometer per uur. Die bestuurder van die ander voertuig, ’n vrou, was genadiglik ongedeerd. Bloedmonsters geneem? Weet nie, Elena was nie seker nie, en sy het nie geweet wat om te doen nie. Hierdie vrou wat van ’n klein dorpie naby Dracula se kasteel afkomstig was, was ontnugter tot in haar skedel. Hulle moes kom help, hy is ontslaan maar sy kon nie meer met die verhouding voortgaan nie, haar kind Lea met die sprokiesgesig het vir Arnold op die draagbaar gesien en histeries aan die gil gegaan, beide haar broer en seun het haar aangeraai om “die man” so spoedig moontlik uit haar lewe te kry. Sy het agt maande lank pop gespeel met die blondekopmannetjie met die blou ogies wat hom verbeel hy lyk soos Robert Redford en nou was sy sat. Nie dat mens haar enigsins kon kwalik neem nie. Geheel en al nie. Alles en almal wat in aanraking met hom was, het tweede gekom. Hy het Wim se lewe vir die grootste gedeelte daarvan hel gemaak, en nog steeds dit reggekry om in sy broer se kop te klim.

      Die dag het ontaard in ’n gestry oor wedersydse familiekwessies, soos wat dikwels die geval was en gedreig het om hul verhouding van koers te bring. Vyftien jaar al. Dieselfde storie. Haar stamvader was Duits, Wim s’n Skots; sy kryt Wim se familie uit as Schweinebaches en hy roep haar mense as Dunderheads … ping-pong heen en weer. Later het sy en Wim op mekaar gegil, dit was so erg dat sy uit die huis wou hardloop, weg … oor Blesberg se spits en tot in die niet, weg van Wim se geskree en van al die issues. Tussen vieslike kragwoorde deur het sy Wim met die halwe bakkie ontbytkos gegooi. Dit het hóm skrams gemis, maar agter hom was die muur gevlek met melk, rosyne en hawermout, die bakkie aan skerwe.

      “Ek gaan myself eet,” het sy gegil, “ek gaan myself eet sodat daar niks van my oorbly nie. Kýk …” Sy byt op haar vioolvinger en proe bloed.

      Wim het omgedraai, gereed om sy broer vir die soveelste maal te gaan red. Alle lewe het uit Magriet gedreineer en die monster het in haar keel kom sit terwyl haar maag ’n magtelose draai gemaak het. Sy het vooroor gebuig met haar kop op haar arms, maar sy kon nie huil nie.

      Wim het nooit sy broer kon red daardie dag nie. Hy het die naamlose, verraderlike kontoer skerper gevat as gewoonlik en die motor is by Clarence-weg af; oor rotse en deur gras, sodat Wim, saamgepers