Net soos die berugte operasangeres Florence Foster Jenkins glo Albino X dat hy geseën is met ’n stem van die gode, en dus moet almal dit ontgeld. Hy sal vir jou sing dat jy daarvan bewusteloos wil raak en in jou gedagtes bid dat dit tog net moet verbygaan. Dit is marteling van ’n heel ander aard – veral as jy honger is. Daardie klanke uit Albino X se mond, gepaard met ’n leë maag, is na aan die poorte van die hel. Al wat sy dan kan doen, is om aan haar kop vrye teuels te gee sodat sy kan oorleef. Gelukkig val die eer haar slegs vier maal ’n jaar te beurt, min of meer met elke seisoenswisseling. Die kunstenaars wat vir Albino X begelei, kom van heinde en verre.
Uit die bloedlose ewolusie van digitale DNA het hierdie bleek man, die man wat nie genoeg pigment in sy vel het nie, soos ’n silwer vis die regte stroom op presies die regte tyd geklief. Lank en lenig, met ysblou oë en presies die regte kokkedoor-balans, het Albino X op die rug van Amerikaanse deskundiges foutloos tussen kontemporêre debatte deur ingeskuif met ’n instinktiewe kapasiteit om mense vinnig en akkuraat op te som.
Mens wonder of hy dalk gedagtes kon lees.
Hy het mode en giere goed begryp, met sy bleek, wasagtige gestalte wat altyd blink gepoets was van bo tot onder, en nie ’n wenkbrou uit plek nie. Sy voorkoms en enige vorm van interaksie met die buitewêreld is haarfyn uitgewerk met die hulp van ’n skakelmaatskappy wat sterk kon stoot in die handelsmerk-skrum. Sy regterhand, die androgene Griek Maniatis, is ewe onberispelik geklee, met sy swart boskaas konsensieus weggebind na agter en twee haarstringe voor sy ore gekam, sodat hy mens laat dink aan ’n verlore prinsessie met ’n geslagskrisis.
Die profiel van die man sonder ouderdom (moeilik om te bepaal as gevolg van sy kleurloosheid) in ’n wêreld geobsedeer deur die troop was in die kol. Gekonstrueerde foto’s waar hy uitkyk na die landskap of waar hy talmend met sy vingerpunte uitgestrek staan en effens na links peins, het elke keer die telbord laat vibreer. Daar was nooit ’n kind of kraai saam met hom in die foto’s nie, en sy privaatlewe was dus een lang riemtelegram.
Binne ’n betreklik kort tyd het Albino X sy terrein vernuftig ingekatrol, sodat hy binne drie jaar die magsbasis in die Wes-Kaap laat tuimel het en verder noord kon begin opmars.
’n Beskeie platteland het hom nie juis geprikkel nie. Stede was sy forum; die saamkoek van mense op groot skaal – dit het sy are laat bruis. Op sy reis na diktatorskap het heelparty faktore in sy guns getel. Marikana se onsigbares het hom laat uitblink, gevolg deur ’n reeks stakings wat in verskeie sektore van die land posgevat het. Landbouers was teen dié tyd sorgvuldig uitgedun.
Voortslepende globale ekonomiese insinking het die mens honger gemaak vir vernuwing, en geneig tot ’n blindelingse gryp na halms, want vir die populus was die bestaande templaat uitgedien.
Brother&Co het die stroomvloei op tou gesit oor Albino X se geniale kapasiteit vir moderne tegnologie en die implementering daarvan as teenvoeter vir armoede. Alles ’n illusie, gebaretaal van die swendelaar wie se “sagteware-programme” hom gou een van die rykste mense op die kontinent gemaak het. Eminem se Rap God.
Eertydse mynmagnate se vonkel was uit, die Oppenheimers en Barnato’s se slukderms onder die grond, wurmkos, en hul nasate reeds land-uit. Albino X het Vergelegen vir ’n goeie prys op ’n vendusie aangeskaf en die Kimberley Hotel op die hoek van Buitenkant- en Roelandstraat ingerig as sosiale hoofkwartier. Mens moet hard speel en voorgee dat jy hard werk – sy leuse binnensmonds. Die groep wat geld kon stoot en kon gatkruip, was veilig. Nie veel anders as soortgelyke grepe uit die geskiedenis nie. Net meer verregaande ten opsigte van die sukkelende burgers buite die stadsmure van vrywaring.
Teen die tyd dat Suid-Afrika ’n Facebook-bevolking van twintig miljoen oorskry het, was Albino X reg soos ’n roer om die virtuele wêreld vir die tasbaarheid van gemak te verruil … en siedaar!
Maar selfs Brother&Co was nie opgewasse teen die onversadigbare magshonger van Albino X nie.
Sidney het intussen sy vertrek geneem, teruggespoor deur die bos waarvan die klein, geriffelde blaartjies hierdie keer nie een maal geroer het nie. Sou hy kon sien dat haar vaagheid erger word? Is haar gedrag dalk vir hom iets woordeloos, ’n herinnering aan Mrs Wilson se doilies oor die kanne melk naby Kentani in die Oos-Kaap waar hy grootgeword het?
Haar vergeet sluip nader, dit kom haar haal en dit is ’n bedreiging wat grens aan dié wat Albino X vir haar inhou. Soos in die geval van haar oorlede moeder se sibbe, is amnesie besig om in te tree. Sy kan soms nie meer die musiek op die blad saamsnoer met die uitvoer daarvan nie. Sy vergeet hoe die klank moet vorm, watter bondels hipervinnige note die teerheid en ruim tydbuigings moet volg. Sy moet vlug voordat die vergeet haar heeltemal inhaal. Die laaste konsert is in Maart, daarna sal sy moet vort. Afskeid neem van dit wat hier oor is, die flenterige landskap en herinneringe, en teruggaan na waar sy vandaan kom en haar laaste familie aan die voet van die Magaliesberg.
Wanneer het sy vir die eerste keer begin steel? Was dit as kind reeds met Kersfeeskaartjies uit bure se posbusse gedurende Desembermaand? Later blomme, mense in Bettysbaai se hout, en uiteindelik het sy saam met Sidney by vakansiehuise begin inbreek. Dit het hulle ’n ruk aan die gang gehou.
Sy dink aan lank gelede, aan die plaas buite Vaalharts waar haar oorgrootjies geboer het. Dit was ’n tyd van genoeg. Genoeg vir sommige en te min vir ander. Daar was kos wat so gekraak het, wat was dit nou weer? Kaiings. Sy skrik toe sy besef dat die kwyl by haar mond begin uitloop.
’n Familie muishonde wat in die tuin gehou het – daar was in ’n stadium sewe – moes sy stelselmatig van kant maak vir kos. Dit was ’n stryd – nie om hulle gevang te kry nie, want hulle het haar geken en vertrou, maar wel om hulle vrek te maak. Dit was bitter om die mes te vat en diep in die aorta in te druk, die ogies wat vir haar kyk in totale ongeloof, dan die reuk wat afgeskei word as gevolg van die skok. Sy het elke deel van die diertjies gebruik en vir haarself gesê dat sy hulle baie jare lank gevoer en vertroetel het en dat dit nou payback time was.
Die konsertrok wat Tina vir haar gemaak het, is nou al amper soos papier. Sy het klein stukkies blik in blokkies gesny en aanmekaargeheg om die bostuk meer drabaar te maak. Dit lyk heel skaflik: ’n bostuk van verskeie blokkies roesblik, die kleure daarvan omber en metaalblou, met draad verbind soos ’n lewensreddingsbaadjie. Die lang romp is van kasjmier wat ná tien jaar dof en yl voorkom, maar die vlinders wat in die materiaal geweef is, laat dit verwêrelds lyk. Dieselfde vlinders word herhaal in moue wat tot by haar gewrigte strek.
Wanneer sy vir Albino X gaan speel, sorg sy dat sy teen die omberkleurige muur in die musieksalon staan sodat dit lyk of sy en die muur een en dieselfde is, asof sy die muur word. Dit skep ’n goeie illusie en Albino X hou van illusies.
Mens sal Vergelegen nie herken nie; dit is ’n collage van teenstrydighede wat kruis en dwars geënt is op oorblyfsels uit die VOC-tydperk − moderne konkoksies van glas gemaak langsaan informele strukture, sommige van plaatmetaal, ander van gras en bamboes. Van die ligter konstruksies waai soms weg as die wind straf is. Dit is nie vreemd om ’n grashut deur die lug te sien trek nie, en dit kan etlike kilometers ver waai voordat die stukke uitpluis en deur die wind uitgespoeg word, oorblyfsels soos as − ’n lewe uitgewaai.
Ten spyte van die feit dat die tuin erg geplunder is, staan daar wel nog ’n paar bome en sierstruike, meestal uitheemse spesies soos japonikas, en in Augustus bloei die beddings helder tulpe, die finale asemteug van die Hollanders. Twee van die vyf monumentale kamferbome wat in die jare 1700 tot 1706 deur Van der Stel aangeplant is, is reeds afgekap vir hout.
Albino X is van mening dat kweekhuise die antwoord vir toekomstige tuine is – die ingehoue paradys waar tuinboukunde met binneversiering saamsnoer sodat jy binne reikafstand ’n vergrootglas op jou koninkryk kan rig sonder die ongerief van seisoenale wisseling; iets soortgelyk aan die winkelsentrum-ervaring, waar niemand weet van die storm buitekant nie.
Een van hulle vriende, Albert, het vir ’n wyle op die landgoed geassisteer met sy groen herwinningsprojek. Hy het deur die hele land gereis en mense gehelp om van hulle vullis te leef deur groente daarin te plant. Die konsep was vreemd vir sommige, maar met verloop van tyd het min mense in elk geval ’n keuse gehad.
Magriet besef dat Sidney