Die kleur van die see aan die einde van ’n dag in Februarie is naamloos. Dit verg ’n nuwe woord, maar daar is nie ’n woord vir hierdie kleur van agtuur op ’n louwarm somersaand nie.
Miskien is dit die timbre van walvisliedere of van visherinneringe of van ’n miljoen getye wat oor eeue heen versamel is. Verbeel jou die stemme wat styg en sink op maat van skakerings soos Auro Metal Saurus (goeie naam vir ’n rock-groep), Munsell, Cool Black, International Klein Blue. Die ink vloei deur die wonder van al die wesens − lewend en dood, diep en vlak: krappe, amfipodes, waaierwurms, sargassumvisse, lintgras.
Die professor laai haar af aan die onderpunt van die Kompanjiestuin, want die Hollanders se mislukte groentetuin gaan haar tuiste wees vir die volgende dag of twee.
“Totsiens, Magriet, pas jouself op.”
Hy is emosieloos, ter wille van sy eie behoud. Dit is hoe dit werk. Elkeen vir homself.
Afrika-termiet (Macrotermes bellicosus). Hierdie termiete se merkwaardige vestings is die sleutel tot hul oorlewing, aangesien die temperatuur binne die nes konstant bly ten spyte van wisselende buitetemperature. Die mierneste is so goed ontwerp dat die mens dit nou van nader bekyk in ’n poging om die ontwerp te probeer ewenaar, sodat minder energie vir menslike strukture benodig word. Termietneste kan tot 9 m hoog strek, is waterdig en gebruik ventilasieskagte wat die temperatuur binne die nes teen ’n konstante 30 ºC handhaaf.
Om in die Kompanjiestuin te slaap is vir Magriet niks nuuts nie. Vanweë die feit dat heelwat mense hier woon, is dit ironies genoeg relatief veilig. Sy begin stadig met Goewermentslaan oploop en haar oë soek na Wilhelmina, wat reeds meer as ’n dekade die derde parkbank regs bewoon. Maar sy is nie te bespeur nie – seker ’n draai gaan loop of kos gaan soek. Dis ook nie meer soos vroeër toe weggooikos volop in die dromme was nie. Nou se dae moet jy ver en wyd snuffel. Die eekhorings is aansienlik minder en van die groot kransduiwe is daar net ’n handvol oor.
’n Kind is deur sy ouma met ’n knopkierie doodgeslaan omdat hy ’n hoenderboudjie gesteel het.
Sy loop langs die wit geboue wat jare laas geverf is. Miniatuurpolitici hang nog hier rond, dis net die binnekring wat saam met Albino X Vergelegen toe getrek het. Van die strook akkerbome staan slegs nog ’n paar. Hulle word bewaak deur skarminkels wat soos veiligheidswagte aangetrek is. Die hout moet in die toekoms na Albino X toe. Dis vreemd om die laning so gestroop te sien, maar ten minste val daar nou heelwat meer son deur. ’n Rot beweeg lui oor die plaveisel, en verder boontoe, naby van wat oor is van Rhodes se afkopstandbeeld, staan die voëlhok leeg. Sy herroep die stemme van die voëls; hulle vokale wat verskillende boodskappe uitgestuur het en wat haar aan die resonansies van die viool laat dink het. Die vywer is leeg en die bodem het al begin opskurf.
Langs die ruïnes van die teetuin staan die inligtingskantoortjie. Van toentertyd se uitstalling is niks oor nie. In die gang was daar ’n swart-en-wit foto van ’n deftig geklede man op ’n bank omring deur ’n lushof van broodbome, strelitzias, wisteria, clivias, palms … hierdie tuin was nie heilig daarop dat die plantegroei inheems moet wees nie. Daar was ’n roostuin en rose met name soos Satchmo, Tineke en Bride’s Dream, want op Saterdae kon jy die gevolge van chiffon oor die grasperk hoor sis. In die lente was daar soms ’n bonsai-uitstalling waar jy jou kon vergaap aan die boompies wat tot diep in hul wortels geknyp is. In die middel van die somer kon mens skoolkinders hoor lag tussen die ontdekkings van ’n opvoedkundige skattejag deur. Almal in blou.
Sy gaan lê op die uitgedorde gras en kyk boontoe. Die wolke word pluimende bome. Hulle blare val en begin soos sirkels rol, hulle stamme bult, dan gaan daar deurtjies in die stamme oop en binne-in verskyn diere wat eens op ’n tyd hier gewei het. Hulle knik en groet haar.
“Hallo, Leeu.” Sy vleg haar vingers deur die oker maanhaar. Leeu is enorm, sy druk haar kop teen sy nek en wil op hom klim en wegry, maar hy brul en sy skrik want sy onthou dat ’n leeu haar niggie Berta se been amper afgebyt het.
“Hallo, Renoster, waarom is jou oë so klein?” Renoster spits sy ore, want hy kan klanke hoor wat slegs vir dowes verstaanbaar is.
“Hallo, Olifant, kom blaas jou trompet vir die dirigent.” Die reus is vandag te swaar om eens ’n slurp te lig.
“Buffel, waar is jou kudde, hoe loop jy dan so alleen?” Buffel staar in die niet en droom van die soet grasvelde waar hy eens op ’n tyd gewei het.
“Luiperd, leen vir my net een van die rosette op jou pels, asseblief, sodat ek vanaand in die geheim kan skitter.” Luiperd is reeds vort, hy het in sy wildste drome ’n vlakvark gewaar.
SPOOKBOOM
Samesweerders van ’n bevoorregte eendersheid; die koning van Suid-Afrikaanse kuns (in sy kenmerkende wit hemp van ingevoerde katoen) beweeg neus eerste deur die gaste terwyl hy telkens met sy handpalm praat. Wanneer hy verby ’n groepie beweeg, is dit asof hulle na hul asems snak en kniebuig soos wat Magriet dink die Wyse Manne uit die Ooste eens in die boek Matteus gedoen het. Sy hou die gaste dop vanuit die laagste hoek van die tuin. Na benede gloei die ligte van ’n stad wat jare gelede vir haar bekoring ingehou het maar nou soos ’n vreemde tor in die donker smeul.
’n Entjie van haar af staan drie mense en gesels. Een is ’n lang, skraal vrou met skouerlengte donker hare. Sy het vroeër gewerk by ’n kunsafslaer waar ’n skildery van eende op ’n dam vir miljoene verkoop is. Die vrou was baie aantreklik toe sy jonger was, maar nou beklemtoon haar swart hare die rimpelings langs haar mond, en die lae hals lyk of dit wil swig onder die swaar juweliersware wat om haar nek gedrapeer is. Wat ’n ander wêreld, dink Magriet. Om te dink sy het eens op ’n tyd relatief goed ingeskakel by hierdie sosiale gewoel, en nou is sy ’n anonieme buitestander.
Haar opdrag behels vier sessies, maar die gaste luister in elk geval nie. Sy herken hier en daar nog iemand uit die verlede, hoewel sy twyfel of hulle haar sal eien. Sy het niks, net ’n viool. Onder die stilte en beskutting van ’n wildekatjiepiering dink sy aan die verhaal van die violiste Ginette Neveu wat volgens oorlewering haar Stradivarius in haar arms gekoester het toe haar lyk in die vliegtuigwrak gevind is.
Blomtyd is van Desember tot Januarie, en die bloeisels dra ’n soet reuk. Die harde, buigsame hout is gewild in die vervaardiging van instrumenthandvatsels, asook vir huisgerei soos houtlepels en roerspane vir pap. Die fyngemaakte wortel kan gebruik word om melaatsheid en rumatiek te behandel deur klein snytjies in die vel te maak en dit in te vryf.
“Waar swerf jy?”
Sy kyk versigtig op. Die man is middeljarig, met donker, reguit hare wat begin yl raak om die slape. Hy kyk stip na Magriet. Sy haal haar skouers op in antwoord.
“Ek hou van jou vernuf met die A mineur-drieklankharmonie.”
“Dankie.”
“Sal jy omgee as ek langs jou sit?”
Sy skuif na links sodat daar vir die vreemdeling plek is langs haar. Hoewel sy haar lyf vanoggend met boegoeblare gesmeer het en ook van die lyfroom in die gastebadkamer aangewend het toe sy gearriveer het, is sy tog bekommerd dat daar ’n klankie uit haar vel opgaan. Mense wat honger is, ruik anders. Sy bad gereeld in die see en probeer skoon bly, maar haar higiëne is nie wat dit was nie.
“Verskoon, ek het effe verkoue,” sê die vreemdeling.
Halleluja, dink Magriet, hy sal my nie juis kan ruik nie.
“Skuus, ek is nalatig. Benedikt Burger. Ek woon hier langs die Heydenrichs, eintlik in hulle werkerskwartiere.”
Sy reik haar skraal hand uit. “Magriet Vos.”
Hy kyk af en lyk vir ’n oomblik verskrik. “Ah, I feel it, it is vanished.”
Magriet glimlag. “Pamina in die vierde toneel. Jy is ’n Towerfluit-man, lyk dit my.”
Tot haar verbasing brei hy nie verder uit oor Mozart se opera nie maar val weg met ’n relaas oor ’n artikel wat hy pas geskryf het. Dit handel oor die oorsprong van Maleise